• No results found

HOOFSTUK 3: Die opkoms van Afrikaanse rock

3.5 Die 1980’s

3.5.1 Die eerste jare van 80

Met Musiek en Liriek op dreef, was David Kramer (’n Engelssprekende Suid-Afrikaner) ook teen die begin van die 1980’s besig om Afrikaanse musiek te vernuwe. Hy het deel geneem aan van die Musiek en Liriek optredes en word beskou as die vader van die Boland blues met lirieke wat dikwels ’n satiriese blik op die samelewing openbaar (Andersson, 1981:150-151). Sy album Bakgat (1980) is gesensureer deur die SAUK, vermoedelik hoofsaaklik omdat Engels en Afrikaans in die lirieke vermeng word (Kapp & Beukes, 2008). Kramer sê in ’n onderhoud met Andersson (1981:152) oor sy liedjies:

I hope that while people find it funny, at the same time it will make them question their own value system. I have no great expectations about changing society – I might have had when I was younger – but I don’t have any great faith in art to transform society. I think it should have content and should be relevant to the society that generates it, but I personally don’t think that my songs will make the world a better place to live in.

Alhoewel Kramer se lirieke bygedra het tot ’n ontwikkeling in Afrikaanse musiek na meer relevante lirieke (met betrekking tot die sosiopolitieke omstandighede), het hy nie noodwendig probeer om by te dra tot die transformasie van hierdie omstandighede deur middel van sy musiek nie. Hy het wel ’n groot geloof gehad in die trefkrag van humor in musiek (Andersson, 1981:152).

Volgens Baines (2008:105) het die persona of karakter wat Kramer geskep het van ’n “Boland joller” aan hom die geleentheid gegee om wittes te satiriseer vanuit die wit “laer”. Hierdie karakter van Kramer as “almal se pêl” (soos uit sy liedjie “ Die Royal Hotel”) het aanklank gevind by die konserwatiewe wit gemeenskap (Drewett in Baines, 2008:105). Frith (1988:115) wys op die rol van humor in musiek deur te sê dat humor ’n vorm van weiering is – dit gaan oor die aanvaar van die werklikheid met behulp van ’n spottery daarmee. Volgens Baines (2008:105) het Kramer deur middel van sy lirieke nie slegs kommentaar gelewer op beide Engelssprekende en Afrikaanse identiteite in Suid-Afrika nie, maar op wit identiteit oor die algemeen. Sy dikwels

satiriese blik op die wit samelewing het egter nie ontwikkel tot protes nie. Hoewel Kramer se tergende houding verbloem was deur humor, het hy tog bygedra tot ’n uitdagende houding in Afrikaanse musiek wat later in die 1980’s duideliker tot uiting sou kom.

3.5.2 Voëlvry: ’n Draaipunt vir Afrikaanse musiek

Die 1980’s is gekenmerk deur die laaste snikke van formele Afrikanernasionalisme. Faktore soos die noodtoestand en internasionale veroordeling van apartheid het die tyd ryp gemaak vir ’n protes teen die orde van die dag vanuit die geledere van kunstenaars, akteurs, skrywers, sangers en die jeug, aangesien ’n hernieude gees van verset teen apartheid oor Suid-Afrika gespoel het (Kitshoff, 2003:iii; 65-66; 82). Volgens die historikus Dan O’Meara (1996:368) was die Afrikanergemeenskap gedurende die laat-1980’s as geheel vasgevang in ’n gevoel van onbehaaglikheid en selftwyfel. Hierdie selftwyfel en kollektiewe skuldgevoel van middeljarige Afrikaners het ’n begeesterde verwerping van apartheid deur baie van hul kinders veroorsaak – iets wat gelei het tot groeiende protes by Afrikaner-universiteite, wat voormalig slaafs lojaal jeens die Nasionale Party was. Die tyd was dus ryp vir die ontstaan van ’n populêre sosiale beweging onder die jeug, gekant teen die regering van die dag en sy beleid. Dit het gekom in die vorm van die Voëlvry-beweging. O’Meara (1996:368-370) stel dit soos volg:

Younger Afrikaners rejoiced in a new anarchistic, angry and satirical Afrikaner punk rock music and poetry. This Voelvry36 (Feel free) music flayed

the middle-aged Afrikaners who religiously followed the NP [...]. Their work was often deeply moving denunciation of the obscenities of apartheid, and a longing for a South Africa freed from both the fact and the fruit of NP rule [...]. These artists delibarately set out to change the outlook (and politics) of the Afrikaner youth.

Grundlingh (2004:484) sluit hierby aan wanneer hy oor die Voëlvrybeweging skryf: “Central to the protest was an attempt to question, and even reformulate through the medium of music, what it meant to be an Afrikaner during the latter phases of

36

O’Meara gebruik hier met opset die woord “Voelvry” in plaas van “Voëlvry”, waarskynlik om die dubbelsinnige gevoelswaarde van hierdie benaming uit te lig.

apartheid.” Hierdie sogenaamde ‘alternatiewe’ musiek het veral onder die jeug posgevat (Kitshoff, 2003:81).

Onder leiding van Johannes Kerkorrel (pseudoniem van Ralph Rabie), Koos Kombuis (ook bekend as André Letoit) en Bernoldus Niemand (alias James Phillips) met Dagga-Dirk Uys aan stuur van sake, het die Alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging of Voëlvrybeweging in die laat 1980’s37 die lig gesien – met die hoogtepunt die Voëlvry-toer in 1989 (vergelyk Grundlingh, 2004:491). Hulle het gesing oor “apartheid and racism, about the cosy mediocrity of white middle class suburbia, about patriarchy, about white and Afrikaner ethnic identity.” (Du Preez, 2006:7).

Lede van die Voëlvrybeweging het uit respektabele middelklaswonings gekom. Hulle het grootgeword met die SAUK, Sondagskool, “Slegs Blanke”-strande en sensuur, maar hulle het besef dat die tyd ryp is vir verandering en dat Afrikaanse rockmusiek die wapen sou wees waarmee hulle Afrikanernasionalisme oor die kop sou slaan. Deur in Afrikaans te sing en bekende kulturele elemente uit die Afrikanerdom te satiriseer en te parodieer, kon hierdie wapen juis slaan op die plek waar dit die seerste sou maak: Die Afrikanerjeug se oordromme (Klopper, 2009:210).

Oor die gevolge en effek van hierdie musiek - wat verban en gekritiseer is deur onder meer die SAUK en die FAK (Kitshoff, 2003:81) - het Max du Preez (2006:8) die volgende te sê in die voorwoord van Pat Hopkins se boek Voëlvry: The Movement

that Rocked South-Africa:

It’s tempting to overemphasise the political impact of Voëlvry. [...] It’s social and cultural impact was undoubtedly significant. It certainly helped undermine the unholy traditional Afrikaner culture of respect for authority and older people. It boosted the Afrikaans language like few events before it, and that a few years before Afrikaans lost its priviledged official status. And it proved that Boere can rock in their taal.

37

Die 1980’s het ook die oplewing van Afrikaanse proteskabaret gesien, wat proteselemente in Afrikaanse lirieke help vestig het (vergelyk Byerly, 1998:15). Hier was rolspelers soos Hennie Aucamp, Etienne van Heerden en Johannes Kerkorrel self belangrik.

Du Preez (2006:8) gaan verder deur te sê dat Voëlvry se duidelikste impak lê in die feit dat dit die begin van ’n ontploffing in Afrikaanse musiek was: “Would we otherwise have had Karen Zoid?”

Ná Voëlvry sou Afrikaanse musiek dus nooit weer dieselfde wees nie. Met hulle snerpende sosiopolitieke kommentaar het die Voëlvryers ’n sekere vorm van Afrikaner-identiteit verwerp en terselfdertyd Afrikaans-wees geherformuleer deur musiek as medium in te span (Grundlingh, 2004:484, 494-495). Afrikaanse musiek was nie meer passief jeens politieke en sosiale kritiek teen apartheid nie (Kitshoff, 2003:82). Die rebellie het ’n nuwe identiteit aan die taal gegee. Kitshoff (2003:82) meen dat hierdie ‘alternatiewe’ musiek geslaagd was in ’n akkurate identifikasie met die gevoel van onsekerheid en verwerping van die “aanvaarde konserwatiewe Afrikaanse denke en gepaardgaande lewenswyse” onder ’n ontnugterde Afrikaner-jeug. Afrikaans was skielik cool en die jeug het nou besef dat hulle geliefde rockmusiek ook in Afrikaans gesing kon word, soos Du Preez (2006:6) dit stel:

Voëlvry helped liberate Afrikaans from the clammy paws of the Broeders and other grey-shoed ooms of Afrikaner nationalism, the kultuurkoeke, the dominees and Bles Bridges. Afrikaans suddenly became sexy.

Krog (1989) verwys ook na die gevoel van bevryding wat die Voëlvry-konserte gebied het en hoe protes een aand (tydens ’n konsert) vir almal moontlik was om mee te maak. Maar juis vanweë hierdie proteskarakter van dié musiek, wat as die eerste volwaardige Afrikaanse rockbeweging beskou kan word, is die fut van die beweging gedemp toe dít waarteen daar geprotesteer is, tot ’n val gekom het.