• No results found

HOOFSTUK 2: Lirieke as literatuur

2.3 Die posisie van lirieke binne die literêre sisteem

2.3.3 Die polisteemteorie en Afrikaanse lirieke

In haar navorsing oor performances en happenings gebruik Adendorff (2006b:130-131) as teoretiese agtergrond die polisisteemteorie van Itamar Even-Zohar, wat die studie van onbekende fenomene as een van die toepassingsmoontlikhede van sy teorie beskou (Even-Zohar, 1990a:10). Die polisisteem(teorie) is ’n analisemodel binne die sisteemteoretiese aanpak en het sedert die 1970’s bekendheid begin verwerf vanweë die navorsing van ondersoekers soos Even-Zohar en Gideon Toury van die Porter Institute te Tel Aviv (Van Gorp et al.,1998:344). Volgens die sisteemteorie word verskynsels nie in isolasie bestudeer nie, maar as behorende tot ’n groter komplekse, maatskaplike en kulturele sisteem (Viljoen, 1992:495; Van Gorp et al., 1998:425). Om semiotiese fenomene as sisteme eerder as opeenhopings van ongelyksoortige elemente te beskou, word daarvolgens voorgehou as ’n meer geskikte manier waarvolgens hierdie fenomene begryp en bestudeer kan word (Even-Zohar, 1990a:9). Die studieveld word deur middel van hierdie teorie oopgestel “en enige studie-objek is bestudeerbaar binne die kader van die polisisteemteorie”. (Adendorff, 2006b:130). Aangesien performances en happenings nie behoort tot gekanoniseerde literatuur nie, lê Adendorff (2006b:130) daarop klem dat sogenaamde nieliterêre of randelemente van die literêre sisteem erkenning kan kry binne die polisisteem: “Daarom kan ook gay-literatuur, populêre of boekklubromans en orale literatuur (waaronder ook

performances) tot die literêre sisteem gereken word.”

Deur middel van haar navorsing oor performance poetry in die Afrikaanse en Nederlandstalige poësiesisteme beveel Adendorff (2006b:130) aan dat die populêre manifestasies van die poësie in die hoofstroom van literêre studie ingebring moet word; “of ten minste: om dit onder die aandag van die literêre establishment te bring”. (Adendorff, 2006b:130). In die lig van hierdie aanbeveling, bespreek en inkorporeer

ek vervolgens ook die polisisteemteorie ten einde Afrikaanse rocklirieke nader aan die hoofstroom van literêre studie en onder die aandag van die literêre establishment te bring, aangesien dit my uitgangspunt is dat lirieke ook ’n populêre manifestasie van die poësie28 is, of as sodanig beskou en bestudeer kan word.

Volgens die polisisteemteorie vorm iets soos literatuur ’n polisisteem wat sigself enersyds posisioneer ten opsigte van ander kulturele sisteme en andersyds op interne vlak differensieer in ’n aantal kleiner komponente (Van Gorp et al., 1998:425), soos byvoorbeeld poësie, prosa en lirieke. Van Gorp et al. (1998:344, 425) wys daarop dat die polisisteemteorie afleidings maak uit die idees van Tynjanov, wat in die jare twintig herhaaldelik geskryf het dat literatuur nie in terme van essensies bestudeer moet word nie, maar eerder in terme van relasies:

Binnen een systeemtheoretische benadering wordt onderzocht hoe – via een complex netwerk van relaties, actoren en handelingen, en types van discours – iets als ‘literatuur’ geleidelijk aan gestalte krijgt en nader wordt geprofileerd en gelegitimeerd ten opzichte van andere culturele systemen (kunst, filosofie, religie ...).

By kuns, filosofie en religie, kan populêre kultuur ook as kulturele sisteem gevoeg word. Iets soos lirieke uit die populêre kultuur kan dus deur middel van interaksie met ander sisteme geleidelik gestalte kry as literatuur.

Die polisisteemteoretiese aanpak is dus nie een wat wegspring met ’n soeke na die wese of ’n essensiële omskrywing van literatuur nie (wat, soos in 2.3.2 bewys is, uiters moeilik is). Hierdie aanpak benodig eerder ’n funksionalistiese werkswyse wat veral ondersoek hoe literatuur daadwerklik funksioneer in bepaalde kontekste (Van Gorp et al., 1998:425). ’n Onderskeid moet dus getref word tussen ’n wesensdefinisie en ’n gebruiksdefinisie van literatuur. ’n Wesensdefinisie van literatuur sou, volgens Viljoen (1998a:32), beantwoord aan die volgende vrae: Wat is literatuur of wat is die wese van literatuur? Hierteenoor sou ’n gebruiksdefinisie die vraag beantwoord: Wanneer gebruik mens die woord literatuur? Faktore uit die werk se konteks bepaal op die ou end of dit as literatuur beskou kan word al dan nie, byvoorbeeld waar,

28

In 2.4 word daar uitgebrei oor hierdie stelling om te bewys dat lirieke, alhoewel dit beskou kan word as populêre manifestasie van die poësie, ook sigself is: lirieke is lirieke.

wanneer en binne watter omgewing ’n teks gelees word (Viljoen, 1998a:32). Dit skakel met wat vroeër genoem is, naamlik dat literatuur nie staties is nie (vergelyk Van Gorp et al., 1998: 256) en ook nie as sodanig ondersoek kan word nie. Literatuur is nie bloot ’n kwessie van tekseienskappe nie, maar dit is ’n “komplekse sosiale

instelling [en is die] resultaat van prosesse van evaluering en kanonisering” (Viljoen,

1998a:51).

Dit is hierdie prosesse van evaluering en kanonisering wat volgens Viljoen (1998a:51) “verklaar waarom een geslag lesers ’n werk as ’n meesterwerk kan beskou, maar ’n volgende geslag dit kan verwerp as prul”. Dit sou dus ook verklaar waarom meesterwerke misken kan word deur ’n sekere geslag of waarom sogenaamde nieliterêre tekste, soos byvoorbeeld die werk van Freud en Marx (asook ander essays, geskiedenisboeke, wetenskaplike studies, ensovoorts) ook vandag tot die literatuur gereken word (Viljoen, 1998a:51). Wanneer musiek hierby betrek word, sou hierdie beskouing van literatuur as komplekse sosiale instelling ingespan kon word as verklaring waarom Bob Dylan onlangs die Pullizer kon wen. Lirieke wat deur een geslag gesien word as ‘lae’ literatuur, word deur ’n volgende toegereken tot ‘hoe’ literatuur.

Die dryf van lirieke vanaf die periferie na die sentrum, soos in die geval van Dylan, toon dat literatuur nie staties is nie, maar geleidelik (en voortdurend) gestalte kry. Daarom kan onbekende of periferale fenomene volgens Viljoen (1998a:51) binne die literatuur deur middel van ’n polisisteembenadering ondersoek word, want elke sisteem bestaan onder meer uit literêre norme en konfigurasies waarin sommiges dominant is en ander ondergeskik. Voorts is die norme, modelle, strategieë en postulate binne so ’n sisteem veranderlik as gevolg van sisteemprosesse wat hierdie verskuiwings moontlik maak (Viljoen, 1998a:51). Die studie van onbekende fenomene of randelemente sal help om begrip van die Afrikaanse literêre sisteem te verbreed, aangesien sentrumverskuiwings (as gevolg van druk deur randelemente, oftewel subkulture soos musiek) te bespeur is (vergelyk Adendorff, 2003:26).

Volgens Even-Zohar (1990a:16) het kulturele sisteme – net soos in die geval van die natuursisteem – ’n regulerende balans nodig ten einde die voortbestaan daarvan te verseker. Hierdie regulerende balans manifesteer in die gestratifiseerde opposisies.

Die gekanoniseerde repertoriums29 van enige sisteem sal waarskynlik met verloop van tyd stagneer indien die nie-gekanoniseerde mededingers geen uitdaging bied as moontlike plaasvervangers nie. Die evolusie van die sisteem word verseker deur hierdie druk wat uitgeoefen word deur die nie-gekanoniseerde mededingers, aan-gesien gekanoniseerde repertoriums in die proses nie onveranderd kan bly nie (Even-Zohar, 1990a:16). Of ’n bepaalde verskynsel ’n literêre feit is al dan nie (aldus Tynjanov) word deur sulke literêre evolusie(s) bepaal (vergelyk Van Gorp et al, 1998:255).

Even-Zohar (1990a:16-17) gaan voort om daarop te wys dat subkulture (populêre literatuur, populêre kuns en ander vorme van ‘lae’ kultuur) noodsaaklik is vir die vitaliteit van gekanoniseerde literatuur. Sonder voldoende stimulasie deur die uitdaging van ’n sterk subkultuur, sal enige gekanoniseerde aktiwiteit geleidelik verstar of stagneer. Laasgenoemde stagnasie word aangedui deur ’n hoë mate van gebondenheid en stereotipering. Dit is in die lig van sodanige gebondenheid en stereotipering wat Krog (2006:455) skryf dat die jonger geslag wil wegbly van die dinge waaroor konserwatiewe Afrikaners in hoofletters dink, soos byvoorbeeld “Digter”. Uiteindelik sal hierdie stagnasie verhoed dat die sisteem voldoen aan die behoeftes van die samelewing en die posisie van literatuur binne die kulturele sisteem word dan bedreig: dit kan uitgeskuif word na die periferie waar dit ontoereikend is (Even-Zohar, 1990a:17). Adendorff (2003:26) lewer die volgende kommentaar hierop in verband met die Afrikaanse literêre sisteem:

In Afrikaans, byvoorbeeld, is die sogenaamde onverstaanbare digkuns van sekere digters na die periferie geskuif, terwyl die verskyning van meer gebruikersvriendelike tekste ’n naderbeweeg na die sentrum probeer teweegbring. Die aansluiting van die poësie by ander uitvoerende produkte, soos musiek, kan ook wys op ’n sentrumverskuiwing wat besig is om plaas te vind.

Na aanleiding van hierdie stelling van Adendorff is dit duidelik dat die studie van subkulturele randverskynsels soos populêre Afrikaanse musiek moontlik sal kan bydra tot ’n beter begrip van verskillende evolusies binne die Afrikaanse literêre sisteem.

29

Die woord repertorium verwys volgens Even-Zohar (1997:20) na die somtotaal van die reëls en materiale wat beide die maak en hanteer (of produksie en verbruik) van enige gegewe produk beheer.

Die studie van onbekende fenomene (wat randverskynsels insluit) is volgens Even-Zohar (1990a:10, 13) nie slegs een van die toepassingsmoontlikhede van die polisisteemteorie nie – die integrasie daarvan is juis ’n voorvereiste vir ’n voldoende begrip van enige semiotiese veld. Die polisisteemhipotese impliseer die verwerping van waardeoordele as noodsaaklike kriterium vir die seleksie van studie-objekte bloot op grond van dit wat voorheen bestudeer is (en dus meer bekend is). Even-Zohar (1990a:13) hou vol dat hierdie aspek van die hipotese veral belangrik is vir literêre studie waar kritiek en navorsing volgens hom nog verwar word. Net soos die studie van geskiedenis vandag nie slegs kan fokus op die lewens van konings en generaals nie, so ook is die elitistiese beperking van literatuurstudie tot slegs sogenaamde meesterwerke nie versoenbaar met die literêre histiografie nie (Even-Zohar, 1990a:13).

Bostaande uitgangspunt van Even-Zohar dien as verdere stawing vir die argument dat die studie van Afrikaanse lirieke (behorende tot ‘lae’ kultuur en dus op die periferie van die Afrikaanse literêre sisteem) nodig is ten einde tendense, verskuiwings, ontwikkelinge, ensovoorts in die literêre sisteem te ondersoek. Op grond hiervan is dit duidelik dat Fokofpolisiekar se woorde oor die opheffing van die idee van “normaal” toegepas kan word as dit kom by die beskouing van lirieke as literatuur. Dit is sonder twyfel tyd dat lirieke se posisie in die literêre sisteem ernstig in oënskou geneem moet word.