• No results found

HOOFSTUK 1: Oriëntering

1.5 Werkswyse

1.5.5 Die interpretasie van lirieke

Soos kortliks reeds na verwys in 1.5.1, is die huidige tendens in die studie van populêre musiek die poging om ’n dialoog te skep tussen kultuurstudies en musikologie en om sodoende ’n semiotiese verbinding tussen musikale strukture en kulturele betekenis te formuleer (Moser, 2007:279). Hierdie tendens in populêre musiekstudie is die gevolg van die besef dat lirieke en musiek nie noodwendig van mekaar geskei kan word ter wille van analise nie, aangesien lirieke geskep word om gesing te word. Literêre studie is veral geneig om lirieke bloot as geskrewe tekste te benader vanweë die beskouing van poëtiese kommunikasie binne ’n oorheersende paradigma van geskrewe tekste en ’n leserspubliek (Moser, 2007:277-278; vergelyk ook Frith, 1996a:115).

Moser (2007:278) lê egter klem daarop dat liedjies ’n multisensoriese modus van linguistiese kommunikasie is en dat lirieke oorgedra en ontvang word in verskillende mediamodaliteite, naamlik mondelings (byvoorbeeld op ’n CD of die radio), gedruk (byvoorbeeld in CD-boekies of gebundelde lirieke) en oudiovisueel (byvoorbeeld op musiekvideo’s). Daarbenewens kan lirieke ook deur middel van ’n kombinasie van hierdie modaliteite waargeneem of ontvang word – ’n persoon kan byvoorbeeld die lirieke van ’n liedjie lees terwyl hy of sy na die CD luister. Ook kan die luisterondervinding geskied in ’n uiters persoonlike omgewing (soos deur middel van die oorfone van ’n iPod) of daarteenoor sosiaal, soos byvoorbeeld tydens ’n konsert. Soos Moser (2007:283) tereg uitwys: “popular songs represent an ‘intermedia practice,’ which enacts and thus embodies the interplay and integration of oral, literate and audiovisual modes of linguistic communication”. Voorts voer Moser (2007:282-283) aan dat ’n wisselwerking tussen individuele kognisie- en kommuni-kasieprosesse hierdeur plaasvind (vergelyk ook Odendaal, 2008). Mense absorbeer musiek in hulle eie liggame, maar dit is ook ’n kollektiewe ervaring (Frith, 1996a:121).

In hoofstuk 2 (veral 2.4) word die benadering van lirieke as literatuur (en ook met spesifieke inagneming van die Afrikaanse konteks) meer breedvoerig bespreek, maar in verband met my werkswyse kan die volgende reeds hier genoem word:

In die lig van Moser (2007) se sienings en bevindinge oor die intermediale praktyk van lirieke, word lirieke in hierdie studie nie bloot gelyk gestel aan slegs teks-op-papier en as sodanig deur byvoorbeeld ’n stipleesmetode (of enige suiwer literêre metode) ondersoek nie. Daar word eerder in ag geneem dat lirieke in die eerste instansie (binne ’n konteks) geskep word om gesing te word en dat dit ook binne ’n sekere konteks en op intermediale wyses ontvang word.

Aangesien my studie steeds primêr ’n literêre studie is, en ek nie ’n opgeleide musikoloog is nie, en ter wille van afbakening, sal daar tog steeds gefokus word op lirieke as tekste, maar Moser (2007) se voorstelle word in hierdie benadering in ag geneem. Een van haar voorstelle wat inslag vind, is byvoorbeeld dat navorsing oor die resepsie van lirieke moet fokus op betekenisvolle reëls of woorde en die “overall relevance of a song rather than asking for a coherent metalinguistic interpretation of the lyrics as a whole” (Moser, 2007:296). Moser (2007:295-296) baseer hierdie genoemde voorstel op die bevindinge dat mense se persepsie van liedjies (tydens prosesse van kognisie) beperk is wanneer daar na ’n liedjie geluister word; dat nie-verbale oorheersing van die resepsie plaasvind (dit wil sê die musiek oorheers soms die vlak van die verbale betekenisvorming en het dus ’n emosionele respons tot gevolg); die tempo van ’n liedjie benadeel ook soms teksresepsie (Moser, 2007:291). Kortom, alle mense luister nie noodwendig na die lirieke met die aanhoor van ’n liedjie nie en, vanselfsprekend, ervaar almal dit nie op dieselfde manier nie.

Frith (1988:120) wys ook in hierdie verband op die feit dat sangers verbale sowel as nie-verbale tegnieke gebruik om sekere boodskappe oor te dra en gevolglik kan liedjies selfs sodanige boodskappe oordra aan mense wat nie eens die woorde verstaan nie. Wanneer die musiek se boodskap bespreek word, word daar soms spesifieke melding van die sanger se stem in verband daarmee gemaak, soos wanneer Herholdt

(2004:6) oor die voorsanger van Fokofpolisiekar skryf: “Francois Badenhorst15 dra bitterheid en frustrasie oor met sy sang.” Hier word spesifiek melding gemaak van die voorsanger se stem wat die bitterheid en frustrasie van die lirieke eggo deur middel van intonasie en nie-verbale tegnieke. Bob Dylan se sang word ook dikwels op soortgelyke wyse beskryf, soos byvoorbeeld wanneer Pascall (1978:133) skryf oor die fassinerende “directness and rawness of his delivery”. Pascall (1978:133) vervolg oor Dylan: “He sang and played in a harsh, untutored manner. The rasp of his harmonica was a reflection of the cold, angry edge on his voice.” Let op die woorde wat sy oordrag beskryf, byvoorbeeld “harsh”, “cold” en “angry”. Alreeds hier word iets van ’n boodskap gesuggereer, nog voordat daar melding gemaak word van die poëtiese kwaliteite van sy lirieke.

Moser (2007:295) bevind onder meer dat die nie-verbale dimensies van taal – soos klank en ritme – ’n onontbeerlike rol in die resepsie van lirieke speel. Volgens hierdie beskouing van Moser (2007:295) word taal as ’t ware ’n instrument in liedjies, net soos enige ander instrument – soos tromme, kitaar, ensovoorts. Dit is nie net wat gesê word wat ’n rol speel in die boodskap wat die lirieke oordra nie, maar inderdaad hoe dit gesê word. Dit beteken nie dat lirieke se tekstuele betekenis niksseggend is nie, maar dit beteken wel dat dit sou kon wees.

Dit is dus die uitgangspunt van hierdie studie om lirieke te interpreteer as literêre tekste, maar met inagneming van die unieke werking van lirieke. Lirieke word dus nie bloot as woorde-op-papier (soos gedrukte poësie) beskou nie. ’n Tradisionele literatuur-teoretiese benadering sou dus nie deug nie. Myns insiens maak die intonasie en optrede van ’n sanger, asook die manier waarop lirieke deur middel van musiekvideo’s16 en albumomslagontwerpe vergesel word, die lirieke meer tasbaar vir ’n luisteraar, veral met betrekking tot identifikasie. Beide musiekvideo’s en albumomslagte (CD-boekies) dra by tot die visuele versterking en dus nuwe interpretasiemoontlikhede van die lirieke – met ander woorde dit dien as toevoeging of uitbreiding van kunstenaars se uitdrukking in musiek en lirieke (vergelyk Drewett,

15

Francois Badenhorst het later sy van verander na Van Coke.

16

Die musiekvideo’s van Fokofpolisiekar wat geïnkorporeer word in hierdie tesis, is almal beskikbaar op die Antibiotika- DVD wat saam met die kortspeler Antibiotika (2008) uitgegee is.

2008:116). So ook besit die resepsie van lirieke onder meer ’n sosiale dimensie wat nie noodwendig ooreenkomstig is met die resepsie van ander literatuurvorme nie.

Buiten die inagneming van die verskillende modaliteite waardeur lirieke waargeneem word, staan die konteks waarbinne lirieke geskryf en ontvang word, voorop in hierdie tesis. Wanneer lirieke hier geïnterpreteer word, word die teks dus nooit heeltemal losgemaak van die konteks nie. Antjie Krog (2006:458-462) se benadering tot die lirieke van Fokofpolisiekar en Karen Zoid dien ook as voorbeeld van hoe lirieke binne konteks ondersoek word (vergelyk ook Swarts, 2007 en Opperman, 2007 se werkswyse).

Buiten dat die interpretasie van lirieke in hierdie studie onderhewig is aan ’n konteksgerigte benadering, is dit ook onderhewig aan ’n skrywersgerigte benadering. Die skrywer is immers die skakel tussen die konteks en die lirieke – die skrywer is in die konteks. Daarbenewens word lirieke beskou as ’n beïnvloeding – wat ’n ontvangsgerigte benadering ook nodig maak.

Interpretasie, in hierdie studie, is die poging om die betekenis van lirieke duidelik te maak. Dit kan slegs geskied deur ’n kombinasie van tegnieke. Denzin (1984:13) se beskrywing van interpretasie kan voorgehou word as voorbeeld:

Interpretation is the clarification of meaning. It occurs through the process of

translating, describing, dissecting, recording, and piecing together the meanings of another’s actions and placing those actions within a meaningful sequence or totality. To interpret is to give meaning to an act, event or object.