• No results found

HOOFSTUK 3: Die opkoms van Afrikaanse rock

3.4 Die 1970’s

3.4.1 Radio 5

Met die oorname van die FRELIMO-vryheidsbeweging in Mosambiek in 1975, is LM Radio gesluit. Teen dié tyd het die Broederbond reeds al die senior posisies in die

Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) beklee, en kon hulle op uiters onder-drukkende wyse alle moontlik subversiewe note in die doofpot plaas. Hulle het ook die einde van LM Radio gebruik as geleentheid om die SAUK se eie oënskynlike rockstasie, Radio 5 (later herdoop as 5FM), te stig, maar met die streng sensorskap wat deur die uitsaaier gehandhaaf is (vergelyk Drewitt, 2008:115-119), is nie veel meer as ligte popmusiek uitgesaai nie (Hopkins, 2006:51).

Radio 5 het feitlik geen ondersteuning aan plaaslike groepe gebied nie en het veral diskomusiek gespeel, omdat disko die musiek van ’n genotsugtige verbruikersamelewing is. Dit het prettige eienskappe, maar versterk terselfdertyd die ideale van ’n kapitalistiese ekonomie (Andersson, 1981:89) – juis die ideale wat in daardie tydperk deur die Afrikanernasionalistiese regering gekoester is. Tydens die 1950’s is Afrikaners aangemoedig om te spaar vir ’n stabiele toekoms, maar in die 60’s en 70’s is Afrikaners aangemoedig om geld uit te gee ter wille van die vooruitgang van kapitalisme (Grundlingh, 2008:146).

3.4.2 Musiek en Liriek

In ’n onderhoud (Kapp & Beukes, 2008) sê radio-omroeper en joernalis Deon Maas:

Die sewentigerjare sou ek beskou het as die opera-jare. Die mense wat die meeste verkoop het was jou Min Shaws, jou Gé Korstens. Dit was toe die Afrikaner gedink het hulle is deel van Europa. Dit gaan gepaard met die moerse boom en die geld wat mense uit apartheid in die 70’s gemaak het. Baie

grandiose, baie over the top.

Terwyl die mense soos Gé Korsten teen die laat 1970’s bekendheid verwerf het vir films en ballades (in die styl van die Europese en Anglo-Amerikaanse romantiese ballade) en die liefde vir fauna, flora, volk en vaderland nog steeds in baie Afrikaanse lirieke geëggo het (vergelyk Byerly, 1998:14), was vertalings van oorsese trefferliedjies ook aan die orde van die dag (vergelyk Kapp & Beukes, 2008; Bosman, 2003:107). Te midde van hierdie toestand van die Afrikaanse musiek, waar min oorspronklike en vernuwende werke geskryf is, sou daar egter ’n klein revolusie in die hoofstroom van die Afrikaanse musiek plaasvind.

Teen dié tyd het die Afrikaanse jeug veel eerder geluister na oorsese, Engelse groepe se musiek as na stroopsoet Afrikaanse treffers. Tesame met die opbloei van punkrock in Brittanje in die laat-1970’s (die Sex Pistols en The Clash) en onder die invloed van eksotiese acid rock (The Grateful Dead en Jefferson Airplane) het Engelse rockgroepe in Suid-Afrika ontstaan soos Freedom’s Children, Wild Youth, Dog Detachment, Radio Rats, Corporal Punishment en Rude Dementals (Redelinghuys, 2008:46; vergelyk ook Baines, 2008:110). Groepe soos Crosby, Stills, Nash & Young, The Beach Boys en Simon & Garfunkel was ook veral populêr onder die Suid-Afrikaanse jeug, terwyl daar geglo is dat die Afrikaanse taal te gutturaal was om rock ’n roll van te maak (vergelyk Grundlingh, 2004:491). Hierdie opvatting sou verander met die vrystelling van Anton Goosen se Boy van die Suburbs in 1979 en die gepaardgaande fase wat bekend gestaan het as Musiek en Liriek (so genoem na aanleiding van ‘n televisieprogram, Musiek en liriek, geredigeer deur Merwede van der Merwe, wat toe deur die SAUK uitgesaai is) onder leiding van Goosen, Laurika Rauch, Jannie du Toit en Clarabelle van Niekerk. In hierdie tyd het Koos du Plessis ook lirieke geskryf met sterk poëtiese krag. Anton Goosen verwys na Koos du Plessis as die Leonard Cohen van Suid-Afrika (Kapp & Beukes, 2008).

Musiek en Liriek is volgens Andersson (1981:147) Afrikaanse “folk”-musiek en het daarin geslaag om die tradisionele volksliedjie te vernuwe en “lekkerliedjies” te vervang met meer uitdagende lirieke in die vorm van die “luisterlied”. Wat egter steeds ontbreek het, was duidelike sosiale of politieke kommentaar – die sogenaamde luisterlied was steeds gefokus op ’n meer konserwatiewe gehoor (Hopkins, 2006:56-57; Byerly, 1998:15). Volgens Du Plessis (1989:8) was Musiek en Liriek “ten minste ’n stappie weg van die JARE se karakterswak soetsappighede wat Afrikaanse musiek so lank oorheers het”, maar hy sê ook: “Niemand was egter regtig kwaad nie. Niemand het opgestaan en die basiese vrot in die Volk aangepak nie.” Waar elemente van protes wel deurgeskemer het in die lirieke van Goosen, is die betrokke liedjies deur die SAUK verban of het dit beperkte speeltyd op radio gekry (Andersson, 1981:91-92;150).

Die regering se toepassing van sensuur, veral afdeling 47(2) van die Publikasiewet van 1974, was ’n manier waardeur morele instruksies op Suid-Afrikaanse burgers afgedruk is. Deur oordele te vel oor die wenslikheid van publikasies, het die

apartheidsensuurrade die proses van sensuur as gereedskap gebruik om die moreel-politieke beginsels wat hulle besluite beïnvloed het te produseer, te versterk en deur te voer (Drewett, 2008:118-119).

Die Musiek en Liriek-fase as merker in die Afrikaanse musiekgeskiedenis kan nie in twyfel getrek word nie. Hunter Kennedy, liriekskrywer van Fokofpolisiekar, sê tydens ’n onderhoud (Kapp & Beukes, 2008) oor Musiek en Liriek: “Ek scheme dit het dit moontlik gemaak vir mense soos ons om die taal te kan gebruik op nuwe maniere.”

3.4.3 Televisie

Dieselfde onderdrukkende SAUK wat radio-uitsendings streng beheer het, het televisie-uitsendings beheer, nadat televisie in 1976 aan Suid-Afrikaanse wonings bekend gestel is. Die musiek op TV teen die einde van die jare 70 was hoofsaaklik ingevoer, wit en gedwee. Teen 1980/1 het die uitsaai van musiek op SAUK-TV slegs byna vier persent van die programskedule uitgemaak en meer as sewe-agtstes daarvan is afgestaan aan klassiekemusiekprogramme (Andersson, 1981:79). Die ligte musiek wat speeltyd op TV gekry het, is opgevoer deur blanke Suid-Afrikaanse kabaret-kunstenaars soos Annabelle Linder en Richard Loring. Dan was daar die Afrikaans sangers wat lugtyd gekry het, soos Anton Goosen en Sonja Herholdt aan wie daar dikwels volle programme afgestaan is. Die jeug het slegs ’n weeklikse dosis musiek van 12 minute gekry in die vorm van Pop Shop (Andersson, 1981:79).

Nietemin het televisie ’n impak gehad op die Afrikaner se kultuur deur hulle bloot te stel aan ’n wêreld buite Suid-Afrika wat hulle ’n meer globale identiteit laat begin aanneem het. Andries Bezuidenhout (Kapp & Beukes, 2008) meen in hierdie verband: “[Televisie] het net mense aan ’n baie breër wêreld blootgestel as daai klein, eng wêrelde wat hulle tussen die kerk die skool en die woonbuurt wou hê.”