• No results found

HOOFSTUK 4: Fokofpolisiekar

4.2 Fokofpolisiekar se lede, ontstaan en naam

Aan die begin van 2004 berig veteraan-musiekjoernalis Theunis Engelbrecht (2004b:11) soos volg in Rapport:

’n Wilde Afrikaanse punkgroep van Kaapstad is besig om die land op horings te neem met hul anargistiese energie – en hulle gee baie ouer mense behoorlik grys hare.

Hierdie wilde punkgroep is Fokofpolisiekar, ’n groep vriende49 wat bestaan uit voorsanger Francois van Coke (eers Badenhorst50), Hunter Kennedy (liriekskrywer, ritmekitaarspeler en agtergrondsanger), Jaco “Snakehead” Venter (tromme), Wynand Myburgh (baskitaarspeler en woordvoerder) en Johnny de Ridder (hoofkitaarspeler). Volgens ’n berig in Die Burger (in dieselfde jaar) is dié groep “aan die spits van ’n nuwe subkultuur onder rebelse jong Afrikaners” (Brümmer, 2004:12). Retief (2006:10) beskryf hulle as:

[G]awe knape. Mooi vriendelik. Ordentlik. Bied koffie aan. Dra tekkies en Motorhead-T-hemde. In Bellville grootgeword. Onder die dak van goeie huise, goeie skole en die NG Kerk.

Die lede van Fokofpolisiekar is dus almal afkomstig vanuit die Kaapse middelklas. Dit was ook hoofsaaklik jongmense uit die middelklas wat in die 1960’s deur middel van musiek gerebelleer het in die VSA en Brittanje, aangesien middelklasjongmense kan bekostig om te rebelleer. Bezuidenhout (2006:8) wys daarop dat die meeste Afrikaanse rock uit die voorstede kom waar “pappa vir boetie ’n amplifier koop”.

Ten spyte van hulle middelklasbestaan, het die lede van Fokofpolisiekar egter as tieners nie tuis gevoel met middelklaswaardes en in die NG Kerk nie – ’n ongemaklikheid wat deurskemer in die groep se lirieke. In ’n onderhoud (Wiechers, 2005) vertel die lede van Fokofpolisiekar hoe daar tussen 1997 en 1999 ’n Christelike oplewing in Bellville was waartydens die groeplede mekaar in die charismatiese Focal Point-kerk in Bellville ontmoet het. Van Coke het op die ouderdom van 16 tot bekering gekom (Brümmer, 2004:12) en in ’n onderhoud met Wiechers (2005) sê hy:

49

Die groep verwys dikwels na hulleself as “die bende” (vergelyk Schoeman, 20046:4 en Swarts, 2007:3).

50

Van Coke het klaarblyklik besluit om sy van te verander op grond van die feit dat sy pa ’n dominee is (Badprop, 2004).

Die club scene was dood. En toe was daar hierdie revival. Groot paarties waar moerse baie kinders bekeerd geraak het. Christen death metal en punk bands. Ek dink nie Johnny was ooit rêrig so into dit nie. Maar somehow het al vier van ons [Van Coke, Kennedy, Myburgh en Venter] involved geraak daarby. Die vier laasgenoemde lede het dié charismatiese Engelse kerk bo die NG Kerk verkies en was baie betrokke daarby deur onder meer die musikale leiding van die musiekaanbidding. Kennedy vertel: “[D]it was ’n full-on mense-gooi-hulle-hande-in-die-lug, praat-in-tale, healings tipe van vibe. As ons jou toe ontmoet het, sou ons jou probeer bekeer het.” (Wiechers, 2005). Hulle het hier ’n kennis van die Bybelse Skrifte opgedoen – iets wat deurskemer in hulle lirieke.

Aan Brümmer (2004:12) vertel Van Coke: “Dis deur die Christen punk thing wat ek

into punk gekom het.” Van Coke en Kennedy het ’n Engelse Christelike punkgroep,

New World Inside, gestig, terwyl die lede ook betrokke was by die Christelike punkgroepe 22 Stars en 7th Breed (Davis, 2004:1). Maar die charismatiese Christelike kultuur kon vir hierdie groep vriende slegs ’n tydelike behorendheid bied. Venter het “gou besef dat dit ’n pot kak is” (aangehaal in Wiechers, 2005). Van Coke noem dit ’n “emosionele trip” (Brümmer, 2004:12), terwyl Myburgh (aangehaal in Retief, 2006:10) meen: “Eendag het ons net besef: dis als cool en dit wérk, maar as jy God uit die dinge haal, bly dit nog steeds all the same. Dit bly maar net jyself en wat jý dink.” In dieselfde onderhoud word Kennedy aangehaal:

[Die charismatiese kerk] was ’n ánder plek waar jy kon behoort. Maar ná twee, drie jaar het ons besluit: dis nie hoe ons ons lewe wil lei nie, ons is nie happy in hierdie revival mode nie.

Na afloop van hierdie ontnugtering en verwerping van eers die NG Kerk se beginsels en daarna ook dié van die charismatiese Christelike kerk, het hulle in April 2003 besluit om Fokofpolisiekar te stig.

Fokofpolisiekar is bekend vir ’n religieuse inversie wat hul verwerping van die Christelike leefwyse en moraliteit uitbeeld. Dit is duidelik in die lirieke (soos in die volgende afdeling gesien sal word), maar ook in hul optrede en die kuns wat rondom die groep se musiek geskep word. By die 2004-KKNK het hulle gedurende ’n optrede in die Bowline-teater op Oudtshoorn rooi “jeugsangbundels” (met Fokofpolisiekar se

lirieke daarin) in die gehoor ingegooi. Van Coke sou ’n dominee naboots deur byvoorbeeld aan te kondig: “Ons blaai nou na bladsy tien.” (Brümmer, 2004:12) voordat hy ’n liedjie sing. Die groep het ook T-hemde laat druk en verkoop waarop die groep se naam en ’n uitbeelding van ’n Christusfiguur met vlermuise wat om sy kop fladder, pryk.

Buiten ’n kennis van die Christelike geloof, het die lede van Fokofpolisiekar ook iets anders geleer tydens hulle geestelike herlewingsfase. Myburgh vertel aan Wiechers (2005): “[E]k dink almal van ons het moerse baie geleer met hierdie hele kerk mission. Oor mense.” Met Kennedy wat inval: “En hoe maklik dit is om hulle te beheer.”

Die naam van die groep het volgens Myburgh (in ’n onderhoud met Grundling, 2003) ontstaan toe ’n paar van die lede van die groep een aand op die hoofweg ry en ’n kar voor hulle inswaai: “Een van die ouens het geskreeu ‘Fokof familiemotor!’ waarna ons besluit het dat dit ’n great naam sal wees vir ’n punkband”. Later het hulle egter besluit op Fokofpolisiekar (Grundling, 2003), “omdat almal daarmee kan relate,” aldus Van Coke in ’n onderhoud met Brümmer (2004:12). Van Coke sê in dieselfde onderhoud (Brümmer, 2004:12): “Almal moes al gevoel het hulle wil in opstand kom teen outoriteit … mense wat vir jou sê wat om te doen.” Myburgh sê dat die groep se naam nie te letterlik opgeneem moet word nie. Grundling (2003) skryf: “[Myburgh] meen dit gaan oor baie meer – oor die vrees waarmee ’n jong generasie rondloop, en die bevryding van instellings en strukture wat van kindsbeen op mens afgedwing word.”

Oor die inhoud van die groep se liedjies vertel Myburgh tydens ’n onderhoud met Engelbrecht (2004b:11):

Dit handel oor goed wat ons bevraagteken en goed waaroor ons wonder. Dit gaan oor die constrictions wat op ons lewe gesit is en die narrow mindset van die mense in die suburbs.