• No results found

Kenteoretiese oriëntering ten opsigte van die term literatuur

LITERÊR-TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP LITERATUUR EN OP DIE BYBEL-AS-LITERATUUR

2.1 BETEKENISBEPALING VAN DIE BEGRIP LITERATUUR 0 Inleidend: ordening van die ondersoek

2.1.2 Kenteoretiese oriëntering ten opsigte van die term literatuur

Dit is algemeen bekend dat die term literatuur onduidelik en verwarrend is (Cloete, 1975:1). Die bepaling van wat as literatuur kan geld en gereken word – so word deur kenteoretici erken (Van Peer, 1991:127) – is een van die mees ingewikkelde epistemo- logiese probleme in literêre studie.

Sou dit ʼn bevredigende definisie van literatuur kon wees as dit sou lui dat die begrip verwys na enigiets wat geskrewe en gedruk is, “alles Sprachliche, das durch Schrift fixiert ist”, soos Kayser (1968:12) dit stel? Of kan dit enigsins lei tot ‟n adekwate definisie as dit nog wyer gestel word, soos byvoorbeeld in ʼn stelling soos: enigiets kan literatuur wees, maar enigiets waarna verwys word as onherroeplik en onbetwisbaar literatuur – soos byvoorbeeld selfs Shakespeare se werke – kan ook weer onder sekere omstandighede binne ʼn veranderende gemeenskap ophou om literatuur te wees (“can cease to be literature”; Eagleton, 1988:10)? Presies wat is in so ʼn definiëring dan die eienskappe en wesenskenmerke wat van iets onherroeplik en onbetwisbaar literatuur maak as dit as literatuur ook weer kan vervloei en vervlugtig, en dus nie onherroeplik en onbetwisbaar literatuur bly nie? Is literatuurbepalende faktore in iets geleë wat buite die literatuur self in veranderlikhede skuil? Word wat as literatuur geag word, dan (slegs) deur teks-eksterne faktore bepaal en kan dit dalk alleen by die grasie daarvan as literatuur leef, of sterf? Is literariteit of „literatuur-wees‟ dan nie geleë in teks-interne eienskappe, of minstens óók in eienskappe wat tekstueel-bepaald en tekstueel-wesenlik is nie?

24

Hierdie vrae spruit voort uit die feit dat wat as literatuur beskou word, al deur die loop van tyd baie verander, gevarieer en selfs gefluktueer het. Met tye is literatuur met ʼn rekbare en oop houding benader, genoem die pan-estetiese benadering, ʼn soort literêre imperialisme wat soveel moontlik vir die taalkuns wil verower. In ander tye is die ge- slote of engere opvatting van die literatuur, genoem die engere estetisme met sy Franse l‟art pour l‟art („kuns ter wille van die kuns‟), meer prominent en dominant. In die sewentigerjare van die vorige eeu was die houding teenoor literatuur meer oop as geslote (Cloete, 1975:2-3). Dit is vandag nog in ‟n groot en selfs gróter mate die tendens.

Die rede waarom daar wisseling en verskuiwings in die afbakening van die begrip literatuur plaasvind, kan en moet waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat literatuur, alhoewel dit ʼn universele verskynsel is, tog altyd ook kulturele gegewe is wat ingesluit is in historiese en kulturele kaders wat verskillend van mekaar is en waarbinne sekere veranderinge (verskillend) plaasvind. Hierdie gelyktydige algemeenheid én bepaaldheid blyk in ʼn konvergerende verhouding tot mekaar te staan. Dit lei daartoe dat definisies beskrywend en/of evaluerend (vgl. Viljoen, 1998a:31) van aard kan wees. Daar kan dus gepoog word om literatuur in ʼn universeel-beskrywende definisie raak te vat, wat dan ʼn poging sal wees om ʼn grootste gemene deler (of delers) tussen verskillende kulture en tye se literatuur te vind; of daar kan gepoog word om ʼn evaluerende definisie te formuleer van wat binne ʼn bepaalde histories-kulturele konteks as literatuur geag en waardeer word, en hoe dit in dáárdie konteks met sy eiesoortige konstantes en veranderlikes funksioneer. Literatuur kan moeilik deur net die een òf die ander wyse van definiëring volledig en omvattend begrens en afgegrens word. Daar bestaan heelwat terminologiese probleme rondom die term (Cloete, 1984:3-8). As die woord literatuur as ʼn ontologiese term gebruik word waarin ʼn stabiele, vasgestelde, universele essensie van wat literatuur is en sou wees, uitgedruk sou word, is dit wel ʼn geldige wyse van definiëring, maar dit kan nie op volledigheid aanspraak maak nie. „Literature‟ is byvoorbeeld vir Eagleton (1988:9) veel meer ʼn funksionele term wat verskillende gemeenskappe se wyse van gebruik vàn en omgang mèt geskrewe tekste aandui. Vir ʼn bepaling van die werklike wese van literatuur is ʼn evaluerende definisie daarvan egter ook nodig. Indien literatuur gesien word as aanduiding van waardevolle geskrewe tekste, of – volgens ʼn tradisionele definisie – die versameling van die beste en mooiste boeke in ʼn bepaalde taal (Viljoen, 1998b:26), moet onmiddellik besef word dat die waardevolheid daarvan nie uitsluitlik in die tekste as sodanig setel nie, maar bepaal word deur ʼn gemeenskap van lesers in spesifieke kulturele en sosiale kontekste waarin bepaalde kriteria geld (Eagleton, 1988:11). Hùlle (die betrokke gemeenskap van lesers) bepaal dan deur ‟n waardeoordeel die „literariteit‟ van die literatuur.

Uit bostaande aspekte blyk dit dat die term literatuur se betekenisdraagwydte vloeiend en veranderend is, maar dat die begrip tog onderskeidende kenmerke oproep wat te midde

25

van die vloeiende en die veranderende steeds herkenbaar bly – onderskeidende algemene kenmerke wat dan bepaalde aksentueringe binne ‟n historiese kultuurkonteks ontvang en nie daarsonder geïnterpreteer kan word nie.

Deur die loop van die geskiedenis is definisies ook deur ander faktore en kriteria as universele, algemene eienskappe (soos dat literatuur talig van aard is) en kultureel- bepaalde eienskappe (soos dat literatuur binne ʼn spesifieke tyd, plek en kultuur leef) bepaal. Daar kan byvoorbeeld verwys word na die Russiese Formaliste van die vroeë twintigste eeu wat in die benadering en beskouing van literatuur alle klem geplaas het op die intensivering van taal en die transformering deur taal (Eagleton, 1988:2-3).4 Uitgaande hiervan gaan dit in literatuur primêr oor taalorganisasie (Culler, 1997:28-29). Dit beteken dat die sogenaamde vorm die sogenaamde inhoud oorskadu. ʼn Karakter in ‟n verhaal is, so gesien, bloot ‟n entiteit wat verskillende narratiewe tegnieke saamhou. Met die onderskeidinge wat tot dusver getref is in gedagte, kan dit nou verder gestel word dat poësie aanvanklik bo alles en voor alles – én algemeen – as literatuur beskou is. Dit hou waarskynlik verband met die feit dat van die oudste dokumente in verskillende tale en kulture hoofsaaklik in poëtiese vorm geskryf is (Du Plooy, 2006:41). Dit is eers van die middel van die vierde eeu v.C. dat prosa die rol van die poësie in sekere opsigte begin oorneem het en daarnaas ʼn plek in die literatuur gevind het. Tot op daardie tydstip was die belangrikste bestanddele van opvoeding die aanleer en skepping van poësie. Poësie was die bewaarder van die „volksensiklopedie‟ (Henderson, 2004:18). Van Vliet (1998:18) haal Madame de Staël aan, ʼn Franse barones wat rondom 1800 ʼn poëtika gepubliseer het (vgl. Culler, 1997:21), wat hierdie onderskeidende kenmerk, naamlik poësie-as-literatuur (en literatuur-as-poësie!), beskou en beskryf het as die “natuurlike taal van alle kulture”. Culler stel dat die nie-poëtiese, soos die verhaal, vroeër as te naby aan biografie of kroniek beskou is om as werklik literêr beskou te word (Culler, 1997:82). Dit blyk uit die voorafgaande epistemologiese oriëntering moeilik te wees om ʼn statiese omskrywing van die begrip literatuur te gee wat as ʼn definitiewe definiërende vertrek- punt vir elke studie van literatuur kan dien (Van Gorp, 1999:13-14). Dit is ook nie wenslik om so ʼn omskrywing en statiese definisie te probeer gee en vas te stel nie. Literatuur kan nouliks as ʼn stabiele en goed-gedefinieerde of finaal-definieerbare entiteit omlyn word (Eagleton, 1988:10-11). ʼn Sluitende definisie sal telkens weer oopgemaak en òntsluit moet word. In hierdie trant redeneer Peck en Coyle (2002:221) ook as hulle ná ʼn uitgebreide studie oor literêre terme en teorie („criticism‟) verklaar dat die antwoord op die vraag na wat literatuur is, steeds tentatief en voorlopig bly.

4

26

Daar sal dus vanweë die vae en enigsins verwarrende betekenisaanduidings en gebruiks- wyses van die woord literatuur wat tot dusver uiteengesit is (in onderskeidelik die nagaan van leksikologies-etimologiese betekenisaanduidings en die kenteoretiese oriëntering ten opsigte van wat literatuur is), nog ʼn verdere noodsaaklike stap moet wees om tog ʼn verantwoordbare en genoegsame betekenisbepaling vir die doeleindes van hierdie studie van die begrip literatuur te maak. So ʼn genoegsame en bevredigende betekenisbepaling lê waarskynlik in die rigting van die daarstelling van ʼn goed-beredeneerde model van waaruit daar dan gepoog kan word om literatuur beskrywend te definieer.

2.1.3 ʼn Rigtinggewende model vir die formulering van ’n beskrywende

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN