• No results found

LITERÊR-TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP LITERATUUR EN OP DIE BYBEL-AS-LITERATUUR

2.2 DIE BYBEL AS/EN LITERATUUR

2.2.2 Historiese oorsig oor die Bybel-as-literatuur

2.2.2.1 Die Bybelse tyd

2.2.2.1.1 Die Bybel oor sy eie literariteit

As die Bybel vir uitsprake oor of aanduidings van sy eie literariteit ondersoek word, is dit moontlik om na heelwat tekste te verwys en/of aan te haal. Daar word egter volstaan met twee direkte uitsprake van die Bybel wat tussen ander verbandhoudende tekste uitge- sonder kan word (onderskeidelik 2.2.2.1.1.1 en 2.2.2.1.1.2 hieronder).

2.2.2.1.1.1 Ou Testament: Prediker 12:9-10

Die eerste voorbeeld van ʼn belangrike uitspraak van die Bybel in verband met sy eie lite- rariteit is Pred. 12:9-10. Afrikaanse weergawes van die Hebreeuse teks in twee vertalings lui soos volg:

Die Prediker was nie net ʼn man met wysheid nie, hy het ook die volk onderrig. Hy het nagedink, nagevors en baie spreuke gemaak. Hy het daarna gestrewe om hom raak uit te druk en die waarheid getrou op te teken. (1983-vertaling).

En behalwe dat die Prediker ʼn wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel. Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is – woorde van waarheid. (1933/‟53- vertaling).

ʼn Viertal literêre aspekte kan in hierdie uitspraak van Pred. 12:9-10 onderskei word. (i) Redigering

Daar kan eerstens opgemerk word dat hierdie slotwoord van die boek Prediker, soos ook die openingswoord in Prediker 1, moontlik dui op ʼn be- werking deur die hand van iemand wat die Prediker se teks later uitgegee het. Die woorde van Pred. 12:9-10 is dan in die trant en styl van ʼn redaksionele naskrif. Moontlik is die bewerking deur ʼn student/leerling van die wyse leermeester gedoen (Gemser, 1958:1445). Dit op sigself dui al op ʼn bekende literêre gebruik wat reeds in die Bybelse tyd bestaan het.

45 (ii) Aandag aan literêre detail

Dit is duidelik dat die Prediker ʼn navorser en ondersoeker van spreuke was, en dat hy nie sommer maar net „gepubliseer‟ het nie. Hy het eers “nagedink”, “nagevors (oorweeg, ondersoek)” voor hy die spreuke opgestel het (of „bewerk‟ het – Gemser, 1958:1445) – voor hy met ander woorde “…vele spreuken in orde…steld” (State-vertaling), “set in order many proverbs” (The New International Version). Hy het alles eers geweeg. “In this context it may mean that he paid close attention to literary details and how things were expressed” (Ogden, 1998:434; beklemtoning van literary details is van JPB). Hy was ‟n samesteller („composer‟ – vgl. Ryken, 1993b:50) en bewerker van spreuke vir wie die wyse van uitdrukking (naas die inhoud) ook van belang was. Sy teks was dus ‟n literatuurteks wat hy saamgestel het nadat hy wys- heidsmateriaal wyd ondersoek, noukeurig geweeg en in eie styl „geformateer‟ het.

(iii) Styl

Die Prediker was verder ingestel op ʼn woordkunstige vorm van uitdrukking. Dit word weerspieël in die „welgevallige woorde‟ wat hy vir sy spreuke wou vind. “He used words of strength and style, of some aesthetic value” (Murphy, 2002:128). Dit spreek daarvan dat hy hom in appellerende, kunstige, maklik onthoubare en boeiende woorde wou uitdruk (Hubbard, 1991:249). Hy was ʼn egte wyse wat sowel op styl (“die skoon vorm” – Gemser, 1958:1445) as op inhoud ag gegee het.

(iv) Genre

Die Bybelskrywer was bewus daarvan dat hy in ʼn definitiewe literêre genre skryf, naamlik die genre wysheidsliteratuur, genoem spreuke. Dié genre sluit nie alleen die pittigheid en wysheid van die verlede in die vorm van kernspreuke in nie, maar ook vergelykings, waarhede in metaforiese gedaante, raaisels, leringe en allegorieë – dus alle vorme wat in die Bybelboek Spreuke aangetref word (Spence-Jones, 2004:303). Ook uit die tipering van die Bybel- boek Prediker as spreuke is dit duidelik dat Bybel die boek/geskrif as literatuur aanbied.

Dit is uit die Ou-Testamentiese teks wat hier bespreek is, duidelik dat die Bybel(skrywer) self sy uiteindelike produk as literatuur beskou.

46 2.2.2.1.1.2 Nuwe Testament: Openbaring 1:1

In aansluiting by die laaste literêre element waarna hierbo in 2.2.2.1.1.1(iv) by die behandeling van Pred. 12:9-10 verwys is, word nou ook op ʼn voorbeeld van direkte genre-benoeming deur die Bybel self van ʼn Nuwe-Testamentiese boek gelet. Daar word gewoonlik vier literêre vorme/tipes/genres in die Nuwe Testament onderskei, naamlik evangelie, acta/handelinge, brief en apokalips (Van Aarde, 2006:660; Vorster, 1992:354; Bailey & Vander Broek, 1992:13-14). Die vier tekstipes korrespondeer met kon- temporêre literatuursoorte wat in die Bybelse tyd in omloop was, naamlik biografiese, historiografiese, brief- en apokaliptiese literatuur (Aune, 1987b:13). Die boek Open- baring word in Op. 1:1 en 1:3 onderskeidelik met die twee Griekse woordeἀπνθάιπςηο (apokalips/openbaring) en πξνθεηεία profesie) aangedui. Hier word verder net op die woord apokalips ingegaan.

Ἀπνθάιπςηο in Op. 1:1 verwys volgens Aune (1987b:226-227) na ʼn „revelatory experience‟ en nie na ʼn literêre werk nie. Hy wys daarop dat Paulus dieselfde woord in Gal. 1:12 gebruik en dat dit daar ook bloot verwys na ʼn openbaring wat hy ontvang het. ʼn Belangrike feit wat egter in gedagte gehou moet word, is dat apokalips nie voor die Openbaringboek dit in sy openingsvers gebruik het, êrens vir ʼn spesifieke literêre genre of in die titel van ‟n geskrif gebruik is nie. Dit is eers later deur Joodse apokalipse soos 2 Barug en 3 Barug as ʼn literêre aanduiding gebruik. In die vyfde eeu n.C. verwys die Cologne Mani Codex na die werke van onder andere Adam, Enos en Enog as apokalipse (Aune, 1987b:227).12 Die feit dat ἀπνθάιπςηο eers later as ʼn (tegniese) literêre term in gebruik gekom het, skakel nie die moontlikheid uit dat ἀπνθάιπςηο in Op. 1:1 reeds die aard van die boek aandui nie. Dit is waarskynlik dat dit na ʼn literatuurtipe verwys as in aanmerking geneem word dat die Griekse woord ἀπνθάιπςηο later in die sin gevolg word deur die woorde: δεῖμαη ηνῖο δνύινηο αὐηνῦ ἃ δεῖ γελέζζαη ἐλ ηάρεη(om aan sy dienaars te toon wat gou moet gebeur).

Die apokalips word dus deur die doel van die geskrif gekwalifiseer: dit is/word ʼn ontsluiering van eskatologiese gebeurtenisse. Die hele Openbaringboek word van hierdie beginwoorde af verder daardeur bepaal, nie net wat inhoud betref nie, maar ook wat vorm (d.i. uitdrukkingswyse) betref. Die term word in Op. 1:1 nie net as ʼn tegniese term vir openbaring of openbaarmaking gebruik nie, maar vir ʼn besondere vorm daarvan. So gesien, is dit ʼn term wat wel op literêre bepaaldheid en strekking betrekking het. Dit is nie ʼn woord wat in Op. 1:1 deur sy kontemporêre kultuurkonteks se literatuurtiperende nomenklatuur (waarin die woord apokalips in daardie stadium nog ontbreek) bepaal is nie, maar dit verkry ʼn spesifieke literatuurtiperende betekenis juis binne sy konteks in die

12 In ʼn vroeëre artikel van Aune toon hy aan dat die boek Openbaring wel ʼn apokalips is, aangesien dit wat

47

boek/geskrif Openbaring. Dit lei daartoe dat die nomenklatuur van die literatuur reeds in Op. 1:1 ʼn nuwe genre-term in gebruik stel (Collins, 1984a:3), wat later ook in ander apokaliptiese geskrifte beslag sou kry. So het die Bybel met sy literatuur ook die kontemporêre literatuurkonteks beïnvloed, en het dit nie noodwendig (ten minste wat die Openbaringboek betref) andersom gebeur nie.

Die Nuwe-Testamentiese teks wat hier bespreek is, laat vermoed dat die Bybel in sy literariteit invloed op die nomenklatuur van die kontemporêre en latere (sekulêre) literatuur uitgeoefen het. Dié uitwerking wat die Bybel op literatuur in die algemeen gehad het, dui daarop dat die Bybel nie net as literatuur beskou is nie, maar inderdaad ook literêr-beïnvloedend gefunksioneer het, waardeur sy eie literariteit verder bevestig is.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN