• No results found

LITERÊR-TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP LITERATUUR EN OP DIE BYBEL-AS-LITERATUUR

3.1 VERSKILLENDE BENADERINGSHOEKE TOT LITERÊRE TEKSTE

3.1.2 Relevante literêre teorieë in die bestudering van die Bybel-as literatuur

3.1.2.0 Inleidende opmerking

By die bespreking van afsonderlike teorieë binne die drie hoofbenaderings tot literêre tekste wat deur ‟n integrering van Longman (1987), Du Plooy en Viljoen (1992), Stevens en Stewart (1996) en Van Deventer (2001) se hoofgroeperings vasgestel is (3.1.1.3 hierbo), is dié bronne in besonder ook van groot nut en waarde. Daar word egter van al tien die bronne waarvan die indelings die basis vorm vir die ordening van die hoof- indelings in die literatuurstudie (vgl. 3.1.1.2), asook van ander aangehaalde bronne, gebruik gemaak in die oorsig, samevatting en bepaling van die relevansie van die literêre teorieë vir hierdie studie. Die verskillende literêre teoretici wat met hulle basiese en invloedryke werk die drie hoofbenaderings verteenwoordig en hier in 3.1.2 bespreek word, se oorspronklike publikasies is egter deurgaans as die primêre bronne gebruik en verwerk.

Die historiese benaderings, tekssentriese benaderings en lesersentriese benaderings wat in 3.1.1.3 hierbo as die hoofbenaderings tot literêre tekste georden is, word nou onderskeidelik in 3.1.2.1, 3.1.2.2 en 3.1.2.3 beskryf en bespreek, terwyl die invloed daarvan op Bybelwetenskaplike navorsing deurentyd aangetoon word.

149 3.1.2.1 Teorieë vanuit historiese benaderings

3.1.2.1.1 Beskrywing van teorieë met ’n historiese benaderingshoek

Teorieë wat literêre tekste hoofsaaklik benader vanuit die historiese faktore en aspekte wat binne die ontstaanskonteks van die tekste figureer, is lank vir die interpretasie van veral Bybeltekste belangrik geag. Vroeëre navorsers het Bybeltekste feitlik uitsluitlik in hulle historiese kontekste bestudeer (Barton, 1996:155; 2003:14).

Die volgende studies kan as verteenwoordigend van teorieë wat in ‟n historiese benaderingswyse hulle vertrekpunt het, genoem word (vgl. Stevens & Stewart, 1996:46- 66):

• Historiese studies wat konsentreer op die intellektuele en sosiale konteks van die tyd waarin ‟n bepaalde literatuurteks geskryf is;

• Biografiese studies wat veral op die skrywer van die teks gerig is; • Literêr-historiese studies wat literêre tradisies se rol beklemtoon.

Daar word vervolgens op historiese, biografiese en literêr-tradisionele studies gelet wat teorieë verteenwoordig wat hulle vertrekpunt in historiese aspekte van literatuur neem.

(i) Historiese studies

Historiese studies sluit onder meer studies in verband met die volgende aangeleenthede in: sentrale konsepte, temas en/of motiewe; sosio-historiese konteks; historiese (tradisionele) instellings. Volgens Stevens en Stewart moet New Historicism ook in hierdie kader geplaas word (Stevens & Stewart, 1996:47-48, 51-55; vgl. ook Van Deventer, 2001:56-57). Du Plooy en Viljoen beskou New Historicism egter as ‟n benadering of teorie wat deur tekssentriese opvattings onderdruk was (Du Plooy & Viljoen, 1992:33, 35).55

55

New Historicism word hieronder in (i.iv) as ‟n benadering uit ‟n historiese vertrekpunt bespreek – soos Stevens en Stewart hulle behandeling daarvan ook in die historiese benaderingswyse plaas. Verder moet opgemerk word dat die New Historicism nie doelbewus deur teksssentriese benaderinge onderdruk is nie, maar dat dié soort analise eers na vore kan kom as tekssentrisme afgelê word. Dié literêre benadering word hieronder in (i.iv) en later by die sogenaamde lesersentriese benaderings (3.1.2.3.1(iii)) weer ter sprake gebring.

150

(i.i) Sentrale konsepte, temas en/of motiewe

Binne algemene literêre verband kan verskillende konsepte in literatuur bestudeer word, uitgaande van die historiese konteks waarin die betrokke literatuur sy ontstaan het. Temas soos die gemeenskap, of etiese sake soos reinheid of geregtigheid kan nagegaan word. Dit geld ook die bestudering van die literatuur van/in die Bybel self. Verbond, verkiesing, koninkryk, heiligheid, belofte, openbaring is byvoorbeeld bekende sentrale motiewe in die Bybel waarin diepgaande openbaringshistoriese studies onderneem is (vgl. onder meer Hasel, 1987:117-143, veral 138-139; Ridderbos, 1950; Floor, 1974; Perrin, 1975; Jensen, 2002:31-43, 85-94, 95-118 – om met enkeles te volstaan). So kan talle Bybelse „teologieë‟ in ‟n historiese kader geplaas word, in baie gevalle nie net binne die ontwikkeling en gebruiksomgewing van die begrippe in die Bybel self nie, maar ook binne die wyer historiese raamwerk en konteks waarin die Bybelboeke staan. Volgens die historiese be- nadering word die betrokke motiewe of konsepte dan binne die grammatiese en literêre kontekste waarin dit voorkom, histories bestudeer.

Paulien (1995) behandel vanuit die gesigshoek van die Hebreeuse kultus, heiligdom en tempel die plot en struktuur van die Openbaringboek. ‟n Voor- beeld van ‟n begrip of tema wat as ‟n teologiese motief in die himnes van Openbaring vanuit openbaringshistoriese perspektief bestudeer word, is die koningskap van God. Letseli (2001) beskryf die geskiedenis van dié motief vanuit Ou-Testamentiese en Nuwe-Testamentiese boeke en spits dan toe op die besondere plek wat dit in die verstaan van Openbaring in die algemeen en die liedere in die besonder inneem. In ‟n artikel van Song en Du Rand (Du Rand & Song, 2003) word ‟n Christologiese verbondseskatologie volgens die Openbaringboek aangedui as ‟n afbakening van openbaringsgeskiedenis.

(i.ii) Sosio-historiese (kultuurhistoriese) konteks

ʼn Bekende fokus in die verklaring van tekste is die inagneming van die sosio- historiese of kultuurhistoriese konteks waarin die tekste tot stand gekom het. Argeologiese vondste is in hierdie opsig insiggewend, maar die primêre bronne vir ‟n konstruksie van die sosio-historiese konteks van die vroeë Christendom is steeds literêre bronne (De Klerk & Van Rensburg, 2005:56). Insigte vanuit die gegewens wat kulturele antropologie en ander sosiaal- wetenskaplike bronne oplewer, word ook aangebied vir die interpretasie en verstaan van die Bybelteks. Die publikasie van Malina met die titel The New Testament world: insights from Cultural Anthropology (2001) is, wat Nuwe-

151

Testamentiese studie betref, ‟n voorbeeld van die inageneming en ontginning van kontemporêre sosiale kultuurgebruike en -konsepte vir die (beter) verstaan van die Nuwe-Testamentiese dokumente.

Wat die Openbaringboek betref, kan verwys word na verskeie publikasies wat as voorbeelde kan dien van studies wat op die sosio-historiese konteks van die ontstaanstyd van die boek fokus. Blevins (1980 en 1984; vgl. ook in dié verband Voortman & Du Rand, 1997) gee besondere aandag aan die beskry- wing van die Griekse teateropset en die jaarlikse opvoerings van hulle tragedies. Dit is duidelik dat dit Blevins se interpretasie van die Openbaring van Johannes beslissend bepaal. Die Romeinse imperiale kultus word deur Friesen (2001 en 2005) interaktief betrek in sy lesing van die laaste Bybel- boek, terwyl hy die sosiale plasing van die boek laat meespreek in die verstaan van die apokaliptiese teksmateriaal (2004 en 2005). Frilingos (2004) plaas die boek midde-in die konteks van die monsters en die martelare van die Romeinse „empire‟, terwyl Zimmerman (2003) besondere aandag gee aan sosio-historiese gegewens in verband met die huwelik in sy verklaring van die bruilofsmetafoor in Openbaring. Aune (1981) skryf ‟n insiggewende artikel oor die sosiale matriks van Openbaring. Hemer (2001) gaan in diepte in op geografiese en sosiale data in verband met die sewe stede aan wie se gemeentes briewe gerig word (Openbaring 2 en 3). Bybelkommentare ver- reken oor die algemeen ook inligting oor die sosio-historiese konteks van Openbaring en ander Bybelboeke, dikwels net as agtergrond- en nie as konteksgegewens nie (sien vir die verskil tussen die twee begrippe: De Klerk & Van Rensburg, 2005:52-54; Breed et al, 2008:50-52; asook die bespreking van die New Historicism by (i.iv) hieronder). ‟n Kommentaar wat as ‟n goeie voorbeeld van ‟n deeglike analise van Openbaring binne sy sosiale konteks kan dien, is dié van Adele Yarbo Collins: Crisis and catarsis: the power of the Apocalypse (1984).

(i.iii) Historiese (tradisionele) instellings

ʼn Verdere vorm van studies vanuit ‟n historiese benaderingshoek is op bepaalde instellings gerig. Die instellings sou ook vanuit ‟n sosio-historiese konteksbenadering bespreek kon word, soos Friesen (2001 en 2005) dit byvoorbeeld met betrekking tot die boek Openbaring binne die historiese konteks van die Romeinse imperiale kultus doen (vgl. weer (i.ii) hierbo), of selfs vanuit ‟n studie van bepaalde konsepte ((i.i) hierbo), aangesien dit volledig te make het met die sosiale en politieke denke in bepaalde tye. ‟n Besondere en intensiewe bestudering van bepaalde historiese instellings is

152

volgens Stevens en Stewart (1996:51) nodig om goeie en juiste begrip van onderliggende beginsels en waardes te kan hê om sodoende gebeure en verhale rondom die bepaalde instelling reg te verstaan. Om prosa- of poësie- tekste wat handel oor ridderskap byvoorbeeld reg te verstaan, sê hulle, is dit noodsaaklik om die historiese sosiale instelling bekend as ridderskap en die ridderstand in die Middeleeue volledig te begryp.

Profetisme is ‟n instelling in die Bybelse tyd wat lig op tekste in die Ou Testament werp en vir die verstaan daarvan noodsaaklik is (Van Deventer, 2001:53-56). Dit geld ook die verstaan van apokaliptiese stof. Die koninklike hof en troon was ook in Bybelse tye ‟n bekende instelling. Davis (1992) toon in ‟n omvangryke studie aan dat die troongesig in Openbaring 4 en 5 vanuit deeglike sosio-historiese kennis van die koninklike hof en troon as instelling (en die verbond as motief) geïnterpreteer moet word.

(i.iv) New Historicism

New Historicism is min of meer die Amerikaanse ekwivalent van die Britse Cultural Materialism, en ook andersom (vgl. onder meer Bertens, 2003:176; Peck & Coyle, 2002:197-202).56

Dié rigting met sy Amerikaanse en Britse variante is ‟n historiese benadering tot literêre tekste wat in belangrike opsigte van die bostaande (i.i, i.ii, i.iii) benaderings verskil, maar wat tog binne die kader van die historiese benaderingswyse geplaas kan word. New Historicism is eintlik ‟n soort dekonstruksie van die historiese konteks van die teks sodat die ideologiese onderbou van die teks aangetoon kan word. Dit is ‟n kritiese en selfs ideologie-kritiese benadering waarin die kulturele, politieke en sosiale aspekte van die historiese tydperk waaruit die teks kom, gedekonstrueer word. Dit wil die magsverhoudinge onderliggend aan die historiese lewensuitkyk en wêreldbeskouing ontmasker of ondermyn.

Die New Historicism is nogtans wel deeglik met historiese temas gemoeid. Dit is ‟n terugkeer na die geskiedenis ná die (latere) era waarin die teks- sentriese benaderings (3.1.2.2 hieronder) die teks as selfstandige entiteit beklemtoon het. Dit is “...a reintroduction of the substantiality of the past...” in die interpretasie van die teks (Peck & Coyle, 2002:198-199). Die terugkeer is egter nie ‟n terugkeer na ‟n historiese benaderingswyse waarin die intellektuele en sosiale geskiedenis bloot die agtergrond van ‟n onafhanklike entiteit (die teks) gevorm het nie, of waarin literatuur (net) as ‟n refleksie van die lewens- en wêreldbeskoulike karakteristieke van ‟n historiese tydperk

56

Hierdie fynere onderskeid is nie vir die doeleindes van hierdie studie nodig nie; verderaan word die term New Historicism gebruik.

153

beskou is nie. Inteendeel, die New Historicism aanvaar die literêre teks as gesitueer in die totaliteit van sosiale instellings en praktyke van sy ontstaanstyd waarin dit interaktief is, ‟n produk van, maar tegelykertyd ook ‟n produseerder van kulturele kragte en kodes (Abrams, 2005:190-191). Die historiese plasing van die teks is dus nie teen ‟n dooie agtergrond (dekor) waarvan dit geïsoleer is nie, maar is “...geïntegreerd deel van die volledige buite-tekstuele konteks” van die teks (De Klerk & Van Rensburg, 2005:53; vgl. Breed et al, 2008:51).

Die New Historicism ontwikkel vanuit hierdie terugkeer na die geskiedenis na ‟n groter interaksie wat ook tussen teks en leser moet plaasvind. Alhoewel die fokus nog wel grootliks histories bepaald is, is die verdieping van die verhouding tussen leser en literêre teks die doel (Stevens & Stewart, 1996:51- 52; Van Deventer, 2001:56-57; vgl. ook 3.1.2.3.1(iii) by die lesersentriese benaderings die verdere verwysing na die New Historicism as ‟n referensiële benadering).

Die literatuur oor die Openbaringboek waarna in (i.ii) hierbo verwys is, asook heelwat ander resente bronne wat later in hierdie navorsing verwerk word by die bepaling en beskrywing van basisteoretiese beginsels vir liedskrywing vanuit die himniese dele van Openbaring (vgl. Hoofstukke 5 en 6 van hierdie studie), weerspieël in ‟n groot mate die beklemtoning van die sosio-historiese as die konteks van die laaste Bybelboek en nie as die blote agtergrond daarvan nie.

(ii) Biografiese studies

Tradisionele historiese kritiek het voor die twintigste eeu oor die algemeen groot belangstelling in die skrywer van die literêre teks getoon. Daar is gemeen dat die sleutel tot teksinterpretasie lê in kennis van die lewe (aktiwiteite) en die gedagtewêreld van die skrywer ten tye van die skryf van sy teksdokument. Daar is daarna gestreef om die skrywer se bedoeling, outeursintensie („authoral intent‟) genoem, vas te stel (Longman, 1987:19). Veral sedert die veertigerjare van die twintigste eeu het daar egter ‟n groot verandering gekom ten opsigte van die groot waarde wat aan hierdie „agterliggende‟ kennis geheg is. Met die koms van die New Criticism (sien 3.1.2.2.1(i.i) hieronder) wat vir ruim ‟n halwe eeu, van 1910 tot 1960, die literatuurstudie oorheers het, het die historiese benaderings van literatuur- tekste in die algemeen en die biografiese benaderings in besonder (as deel van

154

die historiese benaderings) algaande in diskrediet gekom (Du Plooy & Viljoen, 1992:27). Outeursintensie is as „intentional fallacy‟ gebrandmerk, as irrelevant vir die interpretasie van die teks, omdat betekenis in die voltooide en opsigselfstaande teks geleë is – aldus die New Criticism. Waar daar in biografiese studies ‟n anker vir betekenis gesien is in kennis van die outeur te midde van onvaste interpretatiewe relatiwiteit, is (vaste) betekenis voortaan meer in die literatuurteks self gesoek.

Dit ten spyt, besit biografiese kennis wel eksegetiese waarde, al moet ‟n biografiese benadering saam met die ander historiese benaderings as teks- ekstrinsieke benaderings tot literêre tekste gesien word (vgl. Hugo, 1992:43- 45).

ʼn Biografiese studie oor ʼn/die Nuwe-Testamentiese skrywer wat as Johannes bekend is, is die publikasie van Culpepper: John, the son of Zebedee: the life of a legend (1994). Daarin word deur Culpepper diep ingegaan op die problematiek of die Openbaringboek wel aan die Johannes wat die Evangelie met dié naam en die drie algemene sendbriewe wat die naam dra, toegeskryf kan word. Culpepper verwerk (veral in hoofstuk 1; Culpepper, 1994:10-16) buite-Bybelse of teksekstrinsieke gegewens rondom die Nuwe-Testamentiese tyd. Sy fokus is egter nie soseer daarop gerig om lig in die konteks van die Nuwe Testament vir die opheldering van die literêre tekste wat aan Johannes toegeskryf word, te vind nie, maar om vanuit die eksterne konteks sowel as die innerlike faktore en eienskappe van die sogenaamde Johannese geskrifte vas te stel wie die skrywer(s) van die geskrifte was. Hierdie biografiese werk kan minstens gedeeltelik as ‟n biografiese studie (volgens die tipering van sodanige studies in bostaande paragraaf) bestempel word. ‟n Studie waarin Johannes, die dissipel-apostel, as die skrywer van Openbaring beskou word en waarin volledig ingegaan word op die lewe en gedagtewêreld van Johannes, is onder meer dié van MacKenzie (1997). ‟n Resente kommentaar waarin die leser deurgaans ingelei word in die „mental and spiritual world‟ van die skrywer Johannes, is dié van Lupieri (2006), ‟n Italiaanse historikus wat fokus op die geskiedenis van die Christendom. Sy verklaarde hoofdoel met die kommentaar is om historiese en kulturele aspekte te belig waardeur die boek van die skrywer Johannes verstaan moet word (Lupieri, 2006:xi). Dit is dus ‟n „biografiese‟ kommentaar, of dan ‟n kommentaar waarvan die gerigtheid bepaal is deur die verstaan van die skrywer binne die konteks van sy historiese leefwêreld.57

57

Longman 1987:19-25 beskou en behandel Bronnekritiek, Vormkritiek en Redaksiekritiek ook as biografiese studies. Dit het dié verband met biografiese studies dat dit wel ook op die ontstaansgeskiedenis van tekste ingaan waarin die outeur ‟n sentrale rol speel (volgens ‟n biografiese benadering) en daarom ook

155 (iii) Literêr-historiese studies

Met die benaming literêr-historiese studies word breedweg die verhouding tussen ‟n vorige teks en ‟n huidige teks verstaan, asook die verhouding waarin dit tot opvolgende tekste staan (Stevens en Stewart, 1996:62). Reeds by 2.2.2.6.0 waar ‟n beskrywing van die konteks van die eerste deel van die twintigste eeu (tot ongeveer die sewentigerjare) gegee is en ‟n verkenning van die erkenning van die Bybel-as-literatuur in dié tyd onderneem is, het dit duidelik geword dat die teologiese ondersoekmetodes van die Bybel in dié tydvak deur die sogenaamde Bronnekritiek, Vormkritiek, Tradisie-historiese Kritiek en Redaksiekritiek oorheers is. Van die vier „criticisms‟ vertoon veral eersgenoemde twee, Bronnekritiek en Vormkritiek, ‟n mate van ooreenkoms met ‟n literêre benadering tot die Bybel. Beide se wortels is in vorige eeue ingeslaan: Bronnekritiek in die agtiende en Vormkritiek in die negentiende eeu. Van Deventer bespreek egter slegs Bronnekritiek, Tradisiekritiek (Tradisie-historiese kitiek) en Redaksiekritiek onder die noemer literêr- historiese studies as deel van teorieë met ‟n historiese benaderingshoek (Van Deventer, 2001:62-68).

Bronnekritiek word weer kortliks afgebaken (sien 2.2.2.6.0 vir ‟n vollediger bespreking), terwyl Tradisiekritiek en Redaksiekritiek vanweë hulle visier op historiese faktore in teksontwikkeling en -bewerking ook nou nader aangedui moet word.

(iii.i) Bronnekritiek

Source criticism (Bronnekritiek) probeer om die bronne vas te stel waarvan die Bybelskrywers gebruik gemaak het in die samestelling van hulle boeke. Die fokus is dus daarop ingestel om die wêreld „agter‟ ‟n teks te ontdek (Powell et al, 1992:13). Die soektog na agterliggende bronne was veral op die Ou-Testamentiese boeke gemik, met name die Pentateug, alhoewel die bronnehipoteses wat in verband met die Sinoptiese Evangelies se ontstaan ontwikkel is, die aandag van Nuwe-Testamentici in beslag geneem het. Dit is gemotiveer uit ‟n poging om die aanvanklike woorde van Jesus en die oorspronklike verhale oor Hom te ontdek (Barton, 2003:11).

histories bepaald is. Dit word (saam met Tradisiekritiek) egter onder literêr-historiese studies in (iii) (wat hieronder volg) bespreek, aangesien fyner onderskeiding nodig is as om dit bloot as biografies van aard te beskou en te verstaan.

156

Bronnekritiek se debatte bevat voorbeelde van wetenskaplike vernuf, maar die benadering het in ‟n groot mate esoteries gebly en navorsing dikwels nie nader aan die interpretasie van tekste gebring nie (Van Deventer, 2001:63). Bronne is eindeloos opgedeel in meer en meer veronderstelde agterliggende tekste agter die Bybeldokumente. Interesse in historiese ontstaansaspekte van Bybelboeke volgens die Bronnekritiek het gedurende die twintigste eeu begin taan.

Ten opsigte van die die Openbaringboek se samestelling kan waargeneem word dat klassieke Bybelinterpreteerders die boek oor die algemeen as literêre eenheid benader. In die Bronnekritiek, veral binne Duitse navorsingsverband, is ook dié Bybelboek se eenheid egter later bevraagteken. Daar is beweer dat die boek saamgestel is uit ‟n verskeidenheid bronne, veral van Joodse (en nie Christelike nie) oorsprong, òf dat dit ‟n mengsel van verskillende redaksies is (vgl. Redaksiekritiek, (iii.iii) hieronder). In resente beskouings word redelik algemeen aanvaar dat Openbaring wel ‟n literêre eenheid uitmaak, watter fragmente van vroeëre tradisies en bronnemateriaal ook al in die boek geïnkorporeer mag wees (vgl. Mazzaferri se 1989-publikasie, The genre of the book of Revelation from a source-critical perspective; vgl. ook McGinn, 1988:524). Die literêre integriteit is daarom nie werklik meer wesenlik in gedrang by die wetenskaplike ondersoek van die laaste Bybelboek nie.

(iii.ii) Tradisiekritiek

Tradisiekritiek was nie ‟n radikale breuk met Bronnekritiek nie, maar wou ‟n poging tot verdere teoretiese ontwikkeling wees. Dit is deur die Duitse Ou- Testamentikus Gerhard von Rad geïnisieer. Hy het na tradisieblokke in plaas van bronne verwys. Daarmee wou hy die ongemak van die atomisering van die Pentateug deur die groot aantal bronne wat in die Bronnekritiek ‟n rol sou speel, teëwerk (Van Deventer, 2001:64).

Tradisiekritiek staan ook algemeen bekend as die histories-kritiese metode en is verstaan en toegepas as ‟n verdere diachroniese benadering van tekste. Diachronies beteken in dié verband die nagaan van die historiese ontwik- keling van literatuur. Die aandag word gewy aan veranderinge wat met die loop van tyd by die literatuurteks ingetree het (Longman, 1987:22; vgl. ook weer 2.2.2.7.1.2(ii) vir die onderskeid tussen diachronies en sinchronies in teksbenadering, waar dit volledig uiteengesit is).

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN