• No results found

Die onderlinge verhouding tussen die Bybel en (sekulêre) literatuur

LITERÊR-TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP LITERATUUR EN OP DIE BYBEL-AS-LITERATUUR

2.2 DIE BYBEL AS/EN LITERATUUR

2.2.3 Die Bybel en (sekulêre) literatuur 0 Inleiding

2.2.3.2 Die onderlinge verhouding tussen die Bybel en (sekulêre) literatuur

2.2.3.2.0 Inleiding

Die verhouding tussen die Bybel en (sekulêre) literatuur is logies nie dieselfde in die ontstaanstyd van die Bybel en (ander) literatuur as tussen die Bybel en latergevormde literatuur (later as die literêre en kulturele ontstaansmilieu van die Bybel) nie. Daarom word die onderlinge verhouding tussen die Bybel en die kontemporêre literatuur van sy onstaanskonteks eers bespreek (2.2.3.2.1). Dit bring noodwendig ook ‟n kort terug- verwysing na 2.2.2.1.3 mee, waar die Bybel as deel van die historiese ondersoek na die erkenning van sy literariteit in sy eie kontemporêre konteks geplaas is. Daarna, in die tweede plek (in 2.2.3.2.2), volg ‟n uitgebreider bespreking van die Bybel en latere literatuur se onderlinge verhouding (literatuur later as die Bybel se ontstaanskonteks). Derdens word ‟n samevattende konklusie in verband met die onderlinge verhouding tussen die Bybel en (sekulêre) literatuur afsluitend in 2.2.3.2.3 gegee.

2.2.3.2.1 Die Bybel en die kontemporêre literatuur van sy ontstaanskonteks

Dat die Bybel binne die konteks van sekulêre literatuur sy ontstaansmilieu gevind het en daarom ook ooreenkomste daarmee vertoon, het reeds vroeër in hierdie navorsing geblyk. In 2.2.2.1.3(i) is aangetoon dat die Bybel die kontemporêre nomenklatuur van sy literêre ontstaanstyd reflekteer. Verder, in 2.2.2.1.3(ii), is byvoorbeeld aangetoon dat die literêre genre evangelie ‟n verwantskap met die populêre genres van die komtemporêre Hellenis- tiese literatuurwêreld vertoon, naamlik met die genres wat deur Gabel, Wheeler en York „romance‟, „aretalogy‟ en „biography‟ genoem word (Gabel, Wheeler & York, 2000:184- 185).

Hierdie ooreenkomste kan gesien en verstaan word as ‟n bloot noodwendige realiteit binne ‟n gedeelde historiese konteks, of dit kan ook so beskou word dat die openbaring van God in sy uiteindelike tekstuele vergestalting in die vorm van dit wat ons Bybel noem, die literêre invloed van ander literatuur vertoon. Beide beskouings is geldig, want die Bybel is as literatuur nie ‟n vreemde verskynsel nie, maar is ingebed in ‟n historiese ontstaanskonteks en sal daarom ooreenkomste met kontemporêre literatuur vertoon – of die ooreenkomste as blote noodwendige realiteit òf as invloed van (ander) literatuur beskou word. Die Bybel is immers kommunikasie deur medium van algemene menslike

46

Die Bybel se uniekheid word natuurlik ook bepaal deur die besondere inhoud en betekenis wat dit, vanuit ‟n religieuse oopgpunt gesien, dra. Bostaande opmerking word egter hier vanuit ‟n literêre hoek gemaak.

128

taal, taalpotensiaal, taalkonsepte, taalaanwending en taalvaardighede waaruit enige (ander) literatuur bestaan. Die Bybel is in die wêreld, maar by wyse van spreke vanweë sy religieuse openbaringskarakter natuurlik nie vàn die wêreld nie. David Aune se uitgebreide werk (1987) oor die literêre omgewing waarin die Nuwe Testament tot stand (tot s(S)krif!) gekom het, stel die tyd- en kultuurkontekstuele bepaaldheid van die Nuwe- Testamentiese geskrifte en hulle beïnvloeding deur ander literatuur onomwonde:

Paul‟s letters were written in a popular form of literary Greek using Hellenistic argu- ments, styles and forms. In fact, every book of the New Testament reflects to varying degrees an accommodation between Jewish religious and ethical values and traditions and Hellenistic forms of linguistic, literary, rhetorical and conceptual expression...Four major literary types are represented in the New Testament: gospels, acts, letters, and apocalypse. They obviously correspond to ancient bibliographical, historical, epistolary, and apocalyptic literature. (Aune, 1987:12, 13.)

In die lig hiervan moet dit as ‟n onontkenbare feit gestel word: kontemporêre literatuur het in die Bybel se ontstaanstyd ‟n rol gespeel in die „literatuurwording‟ van die open- baring in die tekstuele vorm daarvan wat in die Bybel gegee is – of dit dan as invloed of as noodwendige ooreenkoms gesien word. Daar bestaan dus ‟n resiproke verhouding tussen die Bybel en die literatuur van sy kulturele ontstaanskonteks.

2.2.3.2.2 Die Bybel en latere literatuur (later as die Bybel se ontstaanskonteks)

Wat die verhouding tussen die Bybel en latere literatuur betref, is die beïnvloeding nie resiprook nie, maar uiteraard net geleë in die rigting vanuit die Bybel na (ander) literatuur. Dit word nou verder kortliks bespreek.

Die waarde-uitsprake oor die Bybel waarna in 2.2.3.1 verwys is en/of daar aangehaal is, roep die volgende vrae op: Uit watter kulturele plasing word hierdie kwalitatiewe hoogskatting van die Bybel wat in die uitsprake gereflekteer is, gemaak? Is dit werklik so dat die Bybel op grond van suiwer literêre gronde so hoog – en daarom uniek – aangeslaan word, of is dit net so omdat die waardeoordeel vanuit ‟n Westerse kultuur- konteks gemaak word waarin die Bybel ‟n sentrale plek inneem (vgl. weer die bespreking van Van Peer se model in 2.1.3) en groot invloed uitoefen/uitgeoefen het? Is die Bybel dan „ons‟ literatuur, en is dit omdat dit „ons s‟n‟ is, uniek tussen ander literatuur?

Deist neem sterk standpunt teen so ‟n beskouing in. Hy stel dat die Bybel nie „ons‟ (d.i. Europese, Amerikaanse, Afrika-) literatuur is nie. Dit is, wat die Ou Testament betref, Hebreeuse literatuur (Deist, 1994:329) – en na analogie van sy standpuntinname moet die Nuwe Testament dan natuurlik as Griekse of Joods-Christelike literatuur in ‟n Grieks- Romeinse kultuurkonteks beskou word. Alleen deur dit as sodanige literatuur te lees, kan

129

daar volgens Deist sinvol en verantwoordelik betekenis uit die oorspronklike Bybelteks vasgestel word.

Hierteenoor kan egter geredeneer word dat die Bybel in sy wyd-vertaalde voorkoms in baie kultuurgemeenskappe as‟t ware „verinheems‟ in die kulturele taalkontekste van gemeenskappe waar dit as ‟n normatiewe geloofsboek ‟n prominente, sentrale plek inneem. Dit is oorspronklik Hebreeuse en Griekse Joods-Christelike literatuur, maar dit bly nie slegs Hebreeuse of Griekse Joods-Christelike literatuur wat net binne daardie oorspronklike kultuurkonteks figureer nie. Die invloed daarvan is so groot dat dit nie net wat tematiek (inhoud) betref ‟n groot en beduidende rol in verwyderde (latere) kulturele taalkontekste speel nie, maar ook op latere literêre vormgewing binne ander kontekste waarin Bybelse tematiek gedra word (metaforiek, argetipes, verhaaltrant, handelings- verloop, ensovoorts) ‟n aanwysbare en onmiskenbare stempel afdruk.

Bestudering van byvoorbeeld die Afrikaanse literatuur bring aan die lig dat die Bybel – ook literêr gesproke – op die werk van digters soos J.D. du Toit (Totius), D.J. Opperman, T.T. Cloete, P.W. Buys, I.L. de Villiers en Tom Gouws (om net enkeles te noem) onteen- seglik ‟n besondere groot invloed het. Studies wat hieroor handel, is byvoorbeeld uitgevoer deur Cloete (Die boek wat laaste uitgepak word: oor die Bybel in die Afrikaanse digkuns, s.j.) en Beukes (Die Bybelse intertekste as Livingstone-spoorbakens in Tom Gouws se Syspoor, 2003) – om maar met twee studies te volstaan.47

Die studie van Cloete oor die Bybel en die Afrikaanse digkuns open besondere perspek- tiewe op die Bybelse uitwerking en inwerking op – en inspraak in – die poësie van die relatief jong Afrikaanse taal. Die volgende kan ter illustrasie in dié verband aangemerk word:

▪ Totius, saam met Leipoldt en Celliers een van die eerste geslag Afrikaanse digters van die twintigste eeu (bekend as die Driemanskap), se digwerk toon omvattende Bybelse invloed. Sy gedigte staan onder Bybelse motto‟s. In sy gedig met die titel Die Palimpsest (Du Toit, 1962:491) spel hy fyn poëties uit hoe hy die verhouding tussen die digterlike woord en die Woord van God sien: agter of onder die digter se woord is daar ‟n subteks, ‟n ander, tweede of derde teks, ‟n simboliese teks – in sy geval die Woord met ‟n hoofletter. Dit is belangrik om

47

Die invloed van die Bybel op ander Westerse literatuurtekste sou ook ten opsigte van ander Westerse literatuur soos die Italiaanse, Engelse, Duitse en Nederlandse aangetoon kon word. Die Bybel se invloed op die woordkunstige Italiaanse literatuurtekste van die digter Dante en op die Engelse literatuur is byvoorbeeld merkwaardig. Daar kan in dié verband weer na die historiese oorsig verwys word, onderskeidelik na 2.2.2.4.3-2.2.2.4.5 en na 2.2.2.5.1 en 2.2.2.5.2. Publikasies waarin die invloed van die Bybel op die Engelse literatuur in redelik uitgebreide besonderhede aangestip word, is onder meer dié van Jasper & Prickett, S. eds. (1999; The Bible and literature. A reader) en dié van David Norton (1993; A history of the Bible as literature). Hier word egter volstaan deur ter illustrasie en stawing van die Bybel se invloed op latere literatuur net na die Bybel se invloed op die Afrikaanse digkuns te verwys.

130

daarop te let dat die Psalmberyming van Totius (ʼn bepaalde vorm van himno- grafie) in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu sy poësie uit daardie tyd duidelik beïnvloed het. (Cloete, s.j.:2-3, 4, 5-6.) Dit is met ander woorde nie net Totius se poësie van die Psalmberyming wat uiteraard Bybels is nie – ook sy ander poësie is via sy berymingspoësie Bybels gestileer.

▪ Dit is nie net gelowige digters soos Totius wat duidelik in ‟n intertekstuele verhouding met die Bybel staan nie. ‟n Digter uit dieselfde tyd, Leipoldt, was nie ‟n uitgesproke gelowige nie, maar dig byvoorbeeld in meer as een van sy gedigte oor die Kersnaggebeure. (Cloete, s.j.:1, 5, 37.)

▪ By die sogenaamde Twintigers (onder andere Visser, Toon van den Heever en Marais) is karakterisering op Bybelse sjabloon en Bybelse vormgewing in die poësie voortgesit. Maar dit is veral die digwerk van die sogenaamde Dertigers (W.E.G. Louw, Elizabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw, Uys Krige) wat ‟n baie duidelike inwerking van die Bybel op die Afrikaanse poësie vertoon – baie diepgaande en intenser as ooit. ‟n Geïntensiveerde en intieme Bybelse interteks- tualiteit ontstaan. Dit was die tyd van gestaltepoësie, waarin Bybelse figure prototipes word. Maar dit is nie net Bybelse tematiek en karakters wat op Bybelse model geknip en gekarakteriseer is wat die Bybel se invloed op die Afrikaanse digkuns kenmerk nie. By ‟n belangrike en invloedryke Dertiger soos N.P. van Wyk Louw is sy idiolek Bybels, ook is sy taal en sy beeldeskat onmiskenbaar Bybels. Die Veertigers, soos D.J. Opperman en Olga Kirsch, enkele digters van die vyftigerjare, soos Ina Rousseau, en dan veral ook die Sestigers, soos Cussons, Small en Walters, sit almal die intertekstuele gesprek met die Bybel voort. Selfs ‟n Sestiger soos Breytenbach, wat nie ‟n Christelike digter is nie, het talle Bybelse verwysings in sy gedigte. (Cloete, s.j.:6-32.)

▪ Afrikaanse digters wat spesifiek Christelike digters is (Christelik blykbaar te verstaan in die sin dat die grootste deel van hulle oeuvre „Christelike‟ of Bybelreflekterende gedigte bevat – JPB), soos I.L. de Villiers, P.W. Buys en Lina Spies (al drie uit die Afrikaans-Calvinistiese tradisie), asook Sheila Cussons en Vader Bonaventure Hinwood (beide uit Rooms-Katolieke tradisie wat ook in Afrikaans dig), dig voort in ‟n intertekstuele verbandlegging met die Bybel. (Cloete, s.j.:32-33.)

▪ Cloete kom tot die slotsom dat die betrokkenheid van die Bybel by die Afrikaanse digkuns algaande eerder toegeneem as afgeneem het, nie alleen kwan- titatief nie, maar ook in intensiteit. (Cloete, s.j.:35-38.)

131

Die oorsig wat hier gebied is oor die invloed van die Bybel op die Afrikaanse digkuns en die intertekstuele verhouding wat tussen die Bybel en latere (dus ná-Bybelse) literatuur bestaan, word as voldoende geag om as bewys- en illustrasiemateriaal aan te toon dat die Bybel wel in latere literatuur „verinheems‟ en deel van „ons‟ literatuur kan word – nie net wat tematiek betref nie, maar ook wat vormgewing, simboliek, metaforiek, arge- en prototipes en ander literêre aspekte betref. Met hierdie stawende illustrasiemateriaal word nie ontken dat die Bybel, streng literêr-gesproke, literatuur is wat pre- of vóór- Westers is en eerstens so gelees moet word nie; dit wil net stel dat dit om ander redes as (net) suiwer religieuse redes wel integraal deel van ‟n latere, in hierdie geval Westerse, kultuur- en taalkonteks kan word en inderdaad geword het.

Die stelling kan dus nou gemaak word dat as die Bybel prominent en sentraal as Kanon (met ‟n hoofletter) in ‟n bepaalde kultuurkonteks leef, is dit onmiskenbaar en onweerleg- baar so dat dit ook prominent in daardie kultuur inburger in die kanon (met ‟n kleinletter) van literatuur in die bepaalde gemeenskap – selfs ook in die literêre werk van woord- kunstenaars wat die Bybel nie noodwendig as ‟n religieuse (hoofletter-)Kanon erken nie. Dit is selfs ook meer as ‟n inburgering: ná die aanvanklike verinheemsing van die Bybel in ‟n kultuur speel dit ‟n bepalende rol in die verdere ontwikkeling van daardie kultuur, sodat dit in daardie gemeenskap deel van „ons‟ kultuur geag, geleef en beleef word en verder onder invloed daarvan so ontwikkel. Die totale Westerse kultuur is in sy ontwikkeling sedert die begin van die jaartelling en deur die loop van die eeue in verskeie opsigte ‟n sprekende voorbeeld daarvan.

By die beskouing deur Frye van die Bybel as belangrikste literêre werk word later (in 1991) deur Van Peer aangesluit in sy artikel (wat in 2.1.3 opgesom is) as hy stel – soos waarna ook hierbo reeds vlugtig verwys is – dat die Bybel as ‟n sentrale teks binne die Westerse gemeenskap beskou moet word (Van Peer, 1991:130).48

Ryken sit ook in ‟n insiggewende artikel die literêre invloed van die Bybel uiteen. Die Bybel is/word onder meer as ‟n literêre bron gebruik vir kernspreuke, onderwerpe vir die digkuns of as temas van verhale (Ryken, 1993c:474, 477-480). Verwysings na en sinspelings op Bybelgedeeltes en -tekste word dus in verskillende vorme in die Westerse literatuur aangetref.

Dié uitsprake oor die Bybel se belangrikheid en posisie van sentraliteit binne die korpus van (Westerse) literatuur bring mee dat aandag nie net toegespits moet wees op die vraag

48

Die Bybel staan dus in die kwadrante-model wat Van Peer van literariteit konstrueer, sentraal binne die kwadrant regs onder. Dit is geskrewe tekste met ‟n hoë graad van tekstualiteit en literêre digtheid (Van Peer, 1991:139; sien weer 2.1.3).

132

òf die Bybel literatuur is nie. Dit is belangrik om daarop te let dat dit duidelik word dat die Bybel ‟n onmiskenbare invloed op (ander) literatuur uitoefen en as gevolg daarvan selfs in die bepaling van wat literatuur is, ‟n beduidende en onontbeerlike rol speel.

2.2.3.2.3 Samevattende konklusie in verband met die onderlinge verhouding tussen die Bybel en (sekulêre) literatuur

Om nou die gegewens en beredenering in 2.2.3.2.1 en 2.2.3.2.2 op te som, kan ‟n samevattende konklusie so verwoord word:

Die Bybel as teksgeworde religieuse openbaring staan eerstens in ‟n resiproke (beïnvloedings-)verhouding tot die kontemporêre literatuur van sy kulturele ontstaansmilieu, terwyl dit tweedens ‟n sterk beïnvloedende rol speel in literatuur wat later ontstaan het, veral ten opsigte van die literêre kanon van kultuur- gemeenskappe waarin die Bybel as gesagvolle, religieuse Kanon erken word en sodanig fungeer. Eersgenoemde (naamlik die resiproke (beïnvloedings-) verhouding tot die kontemporêre literatuur van sy kulturele ontstaansmilieu) impliseer nie ‟n gelykskakeling van die Bybel en (ander) literatuur nie, maar gaan uit van die noodwendigheid dat ‟n gedeelde kultuurhistoriese konteks (waaronder ook literêre konteks verstaan moet word) literatuur sal stempel. Laasgenoemde (die sterk beïnvloedende rol wat die Bybel speel in literatuur wat later ontstaan het) impliseer eweneens nie ‟n gelykskakeling van die Bybel met (ander) literatuur nie, maar dui aan dat die Bybel in wese en in effek uniek is en dien- ooreenkomstig figureer in bepaalde gemeenskappe. Daarmee word die uniekheid van die Bybel soos dit in 2.2.3.1 hierbo waargeneem is, dus geensins in gedrang geplaas nie, maar inteendeel herbevestig.

2.2.3.3 Samevattende konklusie in verband met die Bybel en (sekulêre) literatuur

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN