• No results found

LITERÊR-TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP LITERATUUR EN OP DIE BYBEL-AS-LITERATUUR

2.2 DIE BYBEL AS/EN LITERATUUR

2.2.2 Historiese oorsig oor die Bybel-as-literatuur

2.2.2.3 Die Middeleeue

2.2.2.3.0 Inleidend: konteksbepaling van die Middeleeue en uiteensetting van die ondersoek na die Bybel-as-literatuur in dié tyd

Die Middeleeue word dikwels gereken as die tydvak in die geskiedenis wat AD 476 met die val van die Wes-Romeinse Ryk aangebreek het en tot die vroeë sestiende eeu geduur het. Kerkhistories kan die oorgang van die sogenaamde Oudheid (die Klassieke, Bybelse en Patristiese tye) na die Middeleeue volgens die meeste historici egter eerder verbind word aan die ampstermyn van pous Gregorius I (die Grote) wat van 590-604 pous was (Bingle, 2000:92; Praamsma, 1977:304). Gedurende die Middeleeue is daar nie direkte en definitiewe uitsprake gemaak oor die literariteit van die Bybel en die verhouding tussen die Bybel-as-literatuur en literatuur in die algemeen nie. Die benadering tot die literariteit van die Bybel en die literêre invloed wat die Bybel gehad het is hoogstens gedeeltelik en slegs tentatief afleibaar uit moontlike tendense wat aan enkele persone uit dié tydperk gekoppel kan word. Dit is opvallend dat wat wel van die benadering tot die

57

literariteit van die Bybel in dié tyd vasgestel kan word, veral rondom liturgiese en himno- grafiese aangeleenthede sentreer en daarom van dié besondere hoek benader moet word.13

Wat rondom dié persone en hulle optrede in die Middeleeuse tydvak met betrekking tot die plek en invloed van die Bybel-as-literatuur gereflekteer word, werp nogtans lig op die beskouing van en benadering tot die literariteit van die Bybel in dié periode en word daarom nou bespreek (2.2.2.3.1 tot 2.2.2.3.3). Die bespreking van die Middeleeue word daarna in ‟n samevattende konklusie afgesluit (2.2.2.3.4).

2.2.2.3.1 Pous Gregorius I (Gregorius die Grote; 540-604)

Pous Gregorius I, by wie die oorgang van die Oudheid na die Middeleeue gekom het (vgl. 2.2.2.3.0 hierbo), het gebou op die teologie van Augustinus (Edwards, 1997:184), maar by hom het die breuk met die teologie van Augustinus ook gekom. Hy het die teologie van die Middeleeue beslissend beïnvloed (Noll, 1997:114-116). Die leer van die goeie werke, boetedoening, die mis as ʼn herhaling van die kruisiging van Christus, beeldeverering en die leer van die vagevuur het deur sy denke en invloed burgerreg in die kerk verky (vgl. Van Andel, 1968:25-26; Praamsma, 1977:304).

Die moontlike afleiding wat by die bespreking van hierdie pous in verband met die literêre waarde en invloed van die Bybel gemaak kan word, kan egter nie uit sy leerstellings gemaak word nie, maar moet eerder vasgestel word deur te let op sy praktiese en besondere invloed op die liturgie van die Middeleeue.

Die Gregoriaanse liturgie kan beskryf word as die eenvoudigste, mees kernagtige en soberste van alle liturgieë tot in daardie stadium (Strydom, 1994:37). Gregorius het bestaande liedere wat in die Christelike kerk in gebruik was, versamel en georden, waaruit die sogenaamde Gregoriaanse koraalsang tot stand gekom het. Met dié benaming word die onberymde, resiterende Latynse psalmsang bedoel wat ʼn terug- gryping was na die psalmodiërende sang soos dit in die Joodse tempelkultus en sinagogale dienste in die eerste ses eeue van die Christelike kerk beoefen is. Hierdie eenstemmige en onbegeleide koraalsang kan esteties as van die mees verhewe en sublieme kerksang in die loop van die kerkgeskiedenis beskou word (Strydom, 1994:37- 38; Bingle, 2000:92). Monodie was die mees perfekte en bevredigende simbool vir die

13

Die leser word vir ʼn behandeling van liturgiese lieddiversiteit deur die loop van dieselfde historiese tydspan as wat in hierdie historiese oorsig bespreek word (naamlik van die Bybelse tyd tot die resente tyd) verwys na ʼn studie waarin die beskouing van en benadering tot die literariteit van die Bybel in elke periode ook ter sprake is. Die fokus van die genoemde studie is wel primêr himnologies/himnografies ingestel, maar aangesien die liturgiese lied meestal ʼn literêre artefak met ʼn Bybelse basis is, is die literêre aspekte van die Bybel noodwendig by die studie inbegrepe. Sien Bingle (2000:61-142).

58 eenheid van Christengelowiges.14

Die sogenaamde graduaal-psalms, wat direk aangesluit het by voorgeskrewe Skriflesings in die liturgie, is antifonaal voorgedra. Die antifoon (keervers) wat ʼn sleutelvers uit ‟n bepaalde psalm was (of uit ʼn ander Skrifuitspraak wat die intensie van die betrokke psalm weergee), is deur die solis voorgedra en deur geoefende sangers, die schola cantorum genoem, herhaal. Daarna is die psalm vers vir vers voorgedra deur die solis, telkens onderbreek deur die sangers se vokale antifoon. Die toevoeging van die sogenaamde Klein Gloria (ʼn trinitariese doksologie) het aan die psalm ‟n Christelike stempel gegee (Strydom, 1994:39).

Uit die bogenoemde wyse waarop liturgiese handelinge deur Pous Gregorius 1 vir die eredienslewe van die Christelike kerk saamgevoeg en georden is, kom ‟n mens onder die indruk daarvan dat die Bybel as ʼn literatuurteks ‟n besondere invloed op die liturgiese – en dan spesifiek die himniese – literatuur van die kerk uitgeoefen het. Dit kan aanvaar word dat dit nie bloot om suiwer teologiese redes gebeur het nie. Daarvoor was die liturgies-vasgelegde himnografie van dié tydperk te musikaal kreatief en woordkunstig eenvoudig-skoon verweef – tipies volgens die styl van die artistieke aard wat literatuur kenmerk (vgl. weer 2.2.1.2(iii) vir die bespreking van die artistieke aard van literatuur). Daar moet dus ʼn besliste literêre element in hierdie aanwending en bewerking van die Bybel se himniese stof gesien word. Die himniese rykdom van die graduaal-psalms was wel nie komplementerende byvoegings tot die betrokke psalm of tot die ander gepaard- gaande Skrifuitsprake wat die intensie van die bepaalde psalms weergegee het nie, maar dit was voortvloeiende produksie van literatuur uit die Bybel se himniese gedeeltes. Samevattend kan gestel word dat die wyse en styl van die Gregoriaanse liturgiese vaslegging van koraalsang ʼn benadering tot die Bybel-as-literatuur reflekteer waarin die woordkunstigheid van die Bybel se literatuurteks as aanleiding geneem is vir die produk- sie van verdere woordkunstige literêre tekste in die vorm van kreatiewe himnografiese literatuur.

2.2.2.3.2 Bernard van Clairvaux (1090-1153); Thomas van Aquino (1225-1274) Alhoewel Bernard van Clairvaux en Thomas van Aquino meer as ʼn eeu uit mekaar geleef en gewerk het, is daar tussen hierdie twee bekende teoloë uit die middel-Middeleeue se benadering van die Bybel-as-literatuur duidelike ooreenkoms waar te neem. Dit is belangrik om ʼn tendens van hulle tyd met betrekking tot die literariteit van die Bybel, soos dit in ʼn gemeenskaplike aspek van hulle werk teenwoordig is, raak te sien. Wat belangrik vir hierdie historiese oorsig is, is om naamlik kennis te neem van hùlle gebruik van die Bybel in ʼn himnografiese voortbewerking van Bybelse gegewens, teenoor die Gregoriaanse vorm van bewerking van die Bybelteks. By hulle was daar ʼn bepaalde

14

59

ontwikkeling nog verder weg van die Bybel se (literatuur)teks as by die Gregoriaanse koraalsang. Hulle himnografie was nogtans steeds gekoppel aan die Bybel se literêre eienskappe. Twee voorbeelde werp lig op hulle tipe literêre liedbewerking.

Die twee liedere van Bernard van Clairvaux en Thomas van Aquino wat tiperend van die middel-Middeleeue se beskouing en benadering tot die literariteit van die Bybel is, is onderskeidelik die lied Rosa sine spina en die nagmaalshimne Adoro te divote. Beide liedere is vol gelaai met analogieë van die verhouding tussen Christus en sy kerk as ‟n verhouding tussen koningbruidegom en -bruid, versmelt in die aankondiging wat Maria in Lukas 1 ontvang, en les bes ook met die metafoor van die bruilofsmaal van die Lam (die slotgedeelte van die Openbaringboek; Openbaring 19-22). In hierdie twee voorbeeld- liedere doen hulle as himnograwe wat ander digters van hulle tyd ook gedoen het. Dit word nou kortliks verwoord (vgl. Jeffrey, 2005:841-842, vir ‟n vollediger uiteensetting).

▪ Die rol of funksie van die artistiek-estetiese – in hierdie geval literêr-liedmatige – bewerking van die Bybel se metaforiese taal is om die Bybel op so ʼn wyse te interpreteer dat dit ʼn poging is om die mens se verstaan van die Bybel te verhoog of te versterk.

▪ Sodoende word die himniese literatuur wat na aanleiding van ʼn Skrifgedeelte of -uitspraak deur ʼn literêr-artistieke bewerking daarvan voortkom, ʼn lectio (letterlik vertaal: ʼn lesing) van daardie teksgedeelte(s), maar dan ʼn lectio wat ingekleur is deur ʼn konteks en predisposisie betreffende die status en die karakter van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

▪ Die simboliese reikwydte van die (lied)digter se taalaanwending hang in die metafoor van die koningbruidegom, die bruid en die huweliksmaal (ʼn metafoor wat reeds in die Ou Testament aanwesig is) volledig af van die bewerker se tipologiese lesing van die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament. Hy antisipeer met ander woorde dat die historia humanae salvationis (letterlik: „heilsgeskiedenis van die mensdom‟) sy voleindigde vervulling sal vind in Christus wat as koningbruidegom sal kom.

Afgesien daarvan dat hier sekerlik teologiese aangeleethede soos verallegorisering en tipologisering in die spel is, is dit „suiwer‟ literêr-gesproke ʼn geldige gebruikmaking van die literatuur van die Bybel.

Wat in elk geval samevattend gesê kan word van die verdere literêre bewerking van die Bybelliteratuur in die Middeleeue (dus verder as die aanvanklike Gregoriaanse koraal- sang), is dat die Bybel in dié tyd ʼn aanwysbare invloed op verdere literêre „voort-

60

bewerkring‟ van sy eie metaforiese uitdrukkingswyse en -styl gehad het. Dit sluit aan by 2.2.1.2(iv) waar onderskeidende eienskappe van literatuur behandel is, naamlik dat litera- tuur ‟n besondere, spesiale gebruik van taal as sy uitdrukkingsmedium vertoon, onder meer in figuurlike, beeldende seggingswyses soos metaforiese taal.

Wat Bernard van Clairvaux en Thomas van Aquino in hulle literêr-himnografiese omgang met die literariteit van die Bybel gedoen het, sou deur die bekende en beroemde Italiaanse digter Dante in sy digwerk verder verfyn en uitgewerk word.

2.2.2.3.3 Dante Alighiéri (1265-1321)

Dante Alighiéri, bekend as Dante, het geleef en gewerk in die tyd kort ná die dood van Thomas van Aquino. Hy het duidelik voortgebou op die literêre voortbewerking van die Bybelteks en -taal soos deur Bernard van Clairvaux en Thomas van Aquino in hulle himnografiese tekste gedoen is. Naas die himnografiese bewerking van die Bybel deur dié twee (soos pas in 2.2.2.3.2 uiteengesit is) het die sogenaamde siklusdramas van die Middeleeue bekend en gewild geword. Daarin is die Bybelse narratief van Genesis tot Openbaring oor die verlossing van die mens verinheems, geparafraseer en dramaties vertolk. Die verdere literêre bewerking van die Bybelse narratief is as ʼn vorm van verklaring van die Bybel aangebied toe die Bybel in sy literêre teksvorm nog nie toeganklik vir die sogenaamde leke was nie (toe die Bybel met ander woorde nog net ʼn onvertaalde Klassieke geskrif was). Die eindproduk was ʼn vrye parafrasering in die taal en beeld wat vir Mideeleeuse Europeërs kultureel verstaanbaar was (Jeffrey, 2005:842). Die besondere betekenis en bydrae van Dante in dié opsig was veral sy werk Divina Commedia (J. Spoelstra, 1977:362-363). Hy wou deur allegorisering ‟n kodering van ʼn teologie vir „ingewydes‟ daarstel en tegelykertyd ʼn minder tekstuele verstaans- moontlikheid skep vir hulle wat nie in die gemeenskap van die „ingeligte‟ Christelike geloof was nie. Van hierdie tegniek, wat in die Middeleeue ‟n hoogs-ontwikkelde tegniek geword het om mense van verskillende geestelike en teologiese vlakke van ontwikkeling en rypheid te bereik, is Dante se Divina Commedia dan dié voorbeeld. Alhoewel die Bybel nie onmiddellik sigbaar is in die weefwerk van Dante se teks nie, is die Bybel as‟t ware ʼn „afwesige‟ teks wat tog in ʼn mate rigtinggewend teenwoordig is. Die digter se teks is eintlik niks meer as ʼn verklarende kanttekening by of ʼn „situated reading‟ van die Bybelse teks nie (Jeffrey, 2005:843). Vir Dante is alle literatuur, vanuit ʼn Christelike gesigshoek gesien, “chiosata da altro testo” – tekste wat deur ‟n ander teks, naamlik die Bybelteks, glans en essensie ontvang.

Die Bybelse teks het dus vir Dante die onderbou en aanleiding geword vir ‟n verdere literêre bewerking van die Bybel se globale narratief (Genesis tot Openbaring).

61

Sodoende was die Bybel se literatuur en literatuurvorme die „àfwesige‟ teks wat in alle literatuurproduksie tog implisiet áánwesig is, daaraan glans gee en dit in ‟n bepaalde styl stempel.

Die verdere literêre bewerking van die Bybel wat gedurende die Middeleeue deur die Bybel self geïnisieer is, het volgens die bewerkers gelei tot die verklaring van die Bybel op verskillende vlakke van verstaansontwikkeling.

2.2.2.3.4 Samevattende konklusie in verband met die beskouing en benadering van die Bybel se literariteit in die Middeleeue

Samevattend kan nou gekonkludeer word dat die Middeleeue tog wel ‟n bepaalde ontwikkeling vertoon wat die beskouing van en benadering tot die literariteit van die Bybel betref. Die Bybel se woordkunstigheid was die aanleiding tot die produksie van verdere woordkunstige literêre tekste in die vorm van kreatiewe himnografiese en ander literatuur. As grondliggend-teenwoordige „afwesige‟ teks het die Bybel literatuur wat uit hom voortvloei, beslag gegee en dit gestempel. Daaruit wou die voort-bewerkers in die literêre styl van die Bybel ‟n bepaalde verklaringsmetode vir die verstaan van die Bybel op verskillende vlakke van verstaansontwikkeling vestig.

Dié vorm van teksbewerking bring dus ‟n retoriese dimensie in die aanwending van die Bybel. En die merkwaardige is dat dit spesifiek die literêre faset van die Bybel is wat funksioneel in ‟n oorredingstrategie ingespan word.

Outline

GERELATEERDE DOCUMENTEN