• No results found

Hoofstuk 3: Literatuurstudie 3.1 Inleiding

3.5 Vervreemdende vertaling

Soos vroeër aangedui, is die skopos van my Afrikaanse vertaling van LotR drieledig: (i) om Tolkien se taalgebruik te repliseer waarmee ek beoog om (ii) ’n ekwivalente effek by die doelteksleser te skep as wat die bronteks onder brontekslesers skep, en (iii) om by te dra tot die groei van Afrikaans deur die blootstelling daarvan aan vreemdetaalelemente. Ek verduidelik in hierdie afdeling waarom ’n vervreemdende vertaling die geskikste benadering is om al drie elemente van hierdie skopos, nou verweef met mekaar, te laat slaag.

Die onderskeid tussen nougesette, byna blinde getrouheid aan die bronteks aan die een kant en vryer vertaling aan die ander kant, dateer eeue terug. Lorna Hardwick (2011:35) noem dat Cicero reeds in die eerste eeu voor Christus op die onderskeid tussen letterlike en vry vertaling gewys het. Wenfen Yang (2010:1) verwys na die “word-for-word [or] sense-for-sense”- vertaling wat die spilpunt vorm van die Heilige Hieronimus se Bybelvertaling. Nida onderskei tussen formele en dinamiese ekwivalensie, en Venuti identifiseer foreignization en domestication as terme vir die twee benaderings. Die seminale werk waarin die verskil tussen dié twee soorte vertalings breedvoerig uiteengesit word, is Schleiermacher se lesing ‘On the different methods of translating’ wat hy in 1813 aangebied het. Schleiermacher is nie net besorg oor eksegetiese getrouheid aan die bronteks nie; vir hom behels vertaling meer as die oordra van die boodskap of verryking van doeltaallesers. Sy referaat is gelewer teen die agtergrond van die Napoleontiese oorloë, toe Duits as nasionale taal na vore getree het en Duitsland as nasie ontluik het. Schleiermacher koester ’n groot bewustheid van die ontwikkelingspotensiaal en -behoefte van sy moedertaal. Sy werk openbaar die hoë premie wat hy plaas op die ontwikkeling van Duits deur interaksie met ander tale, en die integrering en inburgering van vreemdetaalelemente in sy moedertaal; vir hom is vertaling ’n onontbeerlike middel tot hierdie doel. Die verryking van sy moedertaal is nie die enigste funksie wat hy aan vertaling koppel nie; twee hoofdoelwitte word gedien: (i) die ontwikkeling van die doeltaal deur interaksie met vreemdetaalelemente integraal aan die bronteks, en (ii) die behoud van die andersheid om lesers te verryk. Met die lewer van sy referaat was ’n vertaalbenadering gekenmerk deur ’n vlot skryfstyl die gewildste benadering tot vertaling maar hy, soos Venuti byna twee eeue later, keur hierdie “work of wantonness and presumption” (Schleiermacher 2007:61) af. Om in die doeltaal reg te laat geskied aan die vreemdetaalelemente van die bronteks, sal so ’n benadering

59 allermins werk. Hy is ten gunste van ’n benadering wat die andersheid van die bronteks aksentueer eerder as om dit te verberg. Gevolglik stel hy twee opsies vir vertalers: “Either the translator leaves the author in peace as much as possible and moves the reader toward him [the author]; or he leaves the reader in peace as much as possible and moves the writer to him [the reader]” (Schleiermacher 2007:49). Vandag staan eersgenoemde benadering bekend as ‘vervreemding’ (foreignization) en laasgenoemde as ‘domestikering’ (domestication). Volgens domestikering word lesers alle ‘onnodige’ inspanning en arbeid gespaar om die doelteks te lees, en die doelteks word op so ’n wyse aangebied dat dit voorkom of die outeur doeltekslesers se taal magtig was en daarin geskryf het – “doing what the author would have done if he had belonged to the target culture” (Pym 1995:1). Maar ’n teks wat vlotter lees maar die uitheemse aard van die bronteks negeer, is nie vir Schleiermacher ’n prioriteit nie; hy streef die interaksie met die vreemde na. Derhalwe fokus hy op die

inquisitive reader, who is drawn in the first place by the otherness of the author and his text … [who] prefers a foreignising form of translation which preserves something of the spirit of the source language … [t]his kind of translation assumes a discerning reader who is willing to put in a certain effort for the sake of understanding

(Turner 2005:65)

Hierdie “inquisitive … discerning reader” is aangetrokke tot die andersheid van die teks en is bereid om die energie te investeer wat dit verg om die vreemdheid van nader te ondersoek, en dit in sy/haar verwysingsraamwerk te inkorporeer. Maar hoe kan die vreemdheid van die bronteks aan doeltekslesers gebied word op ’n manier wat die weetgierige en ondersoekende brein prikkel en stimuleer? Beantwoording van hierdie vraag vorm die spil van Schleiermacher se argument. Hy spekuleer oor die wyse waarop die “sense of encountering the foreign” (Schleiermacher 2007:53) aan lesers oorgedra kan word wanneer die gedagtes van die bronteksouteur in ’n vreemde taal verwoord en die natuurlike habitat ontneem word waarbinne dit saadgeskiet, ontkiem en volwassenheid bereik het.

Vir hom is die antwoord voor die hand liggend: ’n benadering moet gevolg word waartydens die vertaler die “turns and figures of the original” aankleef – hoe getrouer dit gedoen word, hoe meer uitheems of vervreemdend sal dit vir die leser voorkom (Schleiermacher 2007:53). Sekere kenmerke van die teks moet doelbewus as vreemd uitstaan “as a means of enabling the reader to come to grips with the ‘spirit’ of the foreign text” (Turner 2005:19). Die rede hiervoor is die verband tussen die outeur se gedagtes en die taal waarin oorspronklik daaraan uitdrukking gegee is. Schleiermacher (2007:46) wys op die dinamiese wisselwerking wat tussen iemand se taal en die persoon self bestaan:

60 Every human being is, on the one hand, in the power of the language he

speaks; he and all his thoughts are its products. […] On the other hand, every free-thinking, intellectually independent shapes the language in his turn.

Paz (1992:153) beaam hierdie simbiose tussen kultuur, taal en spreker waarvolgens elke persoon die produk van sy/haar taal is en terselfdertyd help om vorm aan daardie taal te verleen9 wanneer hy daarop wys dat “each language is a view of the world, each civilization is the world. The sun praised in an Aztec poem is not the sun of the Egyptian hymn, although both speak of the same star”. Om ’n teks wat oorspronklik in een taal geskep is uit daardie milieu te verwyder, en dit te ontkoppel van die geskiedenis en kultuur wat tot die vorming daarvan aanleiding gegee het, laat nie geregtigheid aan die teks óf die skrywer geskied nie. Gilliver, Marshall en Weiner (2006:46) skryf “[t]he study of texts, whether ‘literary’ or not, leads naturally both ‘out’ to the study of the society and culture to which the texts belong, and ‘in’ to the study of the language in which the text it is written”.

Hierdie behoud van die bronteksvorm – die “turns and figures” waarna Schleiermacher verwys – word in Antoine Berman se artikel ‘Translation and the trials of the foreign’ bepleit. Hy koppel vertaling aan die ontwikkeling van die doeltaal maar waarsku “[t]ranslation stimulated the fashioning and refashioning of the great western languages only because it labored on the letter and profoundly modified the translating language” (Berman 2007:289). Hy waarsku teen die betekenis van die bronteks wat ten koste van die “letter of the works” (Berman 2007:289) in die doeltaal oorgedra word. Hierdie “letter of works” verwys na onder andere die sintaktiese struktuur van die oorspronklike, die helderheidsvlak van woorde en die betekenis daarvan, die vervanging of behoud van terme en uitdrukkings waarin die rykheid van die bronteks uitdrukking vind. Berman (2007:288) maan teen die skeiding van brontekselemente soos “spirit and letter, sense and word, content and form, the sensible and the non-sensible” vir die produksie van helderder, eleganter, vlotter, suiwerder tekste as die oorspronklike – alles om te verseker die betekenis word oorgedra. Venuti se argument teen vlot vertaling en maklik leesbare tekste klink, sowel as Ortega y Gasset (2004:62) se aandrang op “a form of translation that is ugly … that does not wear literary garb; that is not easy to read but is very clear indeed”. Deur middel van vervreemding word lesers deurentyd herinner aan die ander wêreld waarin die outeur leef/geleef het en die ander taal waarin die bronteks geskryf is.

9 Die Sapir-Whorf-hipotese, ook bekend as die beginsel van linguistiese relatiwiteit, is meer as honderd jaar later

eers geformuleer, maar daar is ’n korrelasie met Schleiermacher se woorde. Die hipotese voer aan dat mense se gedagtes en hulle wêreldbeskouing deur hulle taal gevorm word, eerder as die teenoorgestelde, sodat “speakers of different languages think and perceive reality in different ways and that each language has its own world view” (Hussein 2012:642).

61 Walter Benjamin deel nie hierdie navolging van die bronteksvorm nie. Hy is vurig daarteen gekant en waarsku dit is “self-evident how greatly fidelity in reproducing the form [of the original] impedes the rendering of the sense” en “no translation would be possible if in its ultimate essence it strove for likeness to the original” (Benjamin 2007:80; 77). Volgens hom moet replisering van die bronteks se fisiese vorm – wat taalgebruik insluit – nie as maatstaf vir vertaalsukses dien nie. Die taal van die vertaling, benadruk hy, “[should] let itself go, so that it gives voice to the intentio of the original” (Benjamin 2007:79). Dit is die intentio – die bedoeling – van die bronteks waaroor Benjamin besorg is en die replisering daarvan wat hy bepleit. Benjamin koppel wel die bedoeling van die bronteks aan die taal van die doelteks wanneer hy skryf “the task of the translator consists in finding that intended effect … upon language into which he is translating which produces in it the echo of the original” (Benjamin 2007:79). Vir Benjamin is taal bloot ’n middel tot ’n doel, nie ’n doel op sigself nie, maar die vraag is, hoe word die “intended effect” van die bronteks bepaal, en hoe gaan ’n vertaler te werk om die “echo of the original” in die doelteks te produseer?

Venuti (2007:487) vra dieselfde vraag: “[c]an a translation ever communicate to its readers the understanding of the foreign text that foreign readers have?” en Nord (2002:36) wys daarop dat “[a]t different times and in different parts of the world, people have had, and still have, different conceptions of the relationship that should hold between an original text and the text that is called its translation”. Met verwysing na die “totality of intended meaning” van vertaling, beaam George Steiner (1975:407) daar is geen manier om dit werklik te bevestig nie: “For how would we know?” wonder hy, en Schäffner en Wiesemann (2001:19) stem saam dat “[n]either authors nor clients are usually in a position to check whether translators work in accordance with these norms”. Die norme waarna verwys word, het betrekking op die verhouding tussen die bron- en doelteks, die verwagtinge gestel deur die doelteksgehoor, aanspreeklikheid van die vertaler en kommunikasie. Hoe inderdaad kan die vertaler of enigiemand weet of doeltekslesers die vertaling dieselfde as brontekslesers ervaar? En die Afrikaanse vertaler van LotR kan hom/haar met reg afvra wié die bronteksgehoor is wat in ag geneem moet word met wie die doelteksgehoor vergelyk moet word: lesers in Brittanje van die 1950’s wat eerstehands kon identifiseer met die elemente waarna Tolkien in sy parallelle wêreld verwys; hedendaagse Engelssprekende lesers (in enige land, wêreldwyd); of Engelssprekende Suid-Afrikaanse lesers? Indien laasgenoemde, watter een want Engelssprekende Suid-Afrikaanse lesers kan moedertaalsprekers wees met ’n nou verbintenis met die Engeland waarop Tolkien se Shire geskoei is, of moedertaalsprekers wat Brittanje nog nooit besoek het nie; of dit kan tweedetaalsprekers wees wat Engels goed magtig is en moontlik

62 ’n liefde en respek vir die taal (en die boek) het wat dié van Suid-Afrikaanse moedertaalsprekers oorskry. Daar is geen manier hoe die effek vergelyk kan word nie. Wat die vertaler wel kan doen, en dit vind aansluiting by die Funksionalisme, is om die funksie van die bronteks in die doelteks te bepaal en na die beste van sy/haar vermoë te repliseer.

Maar wat ís die funksie van LotR, met watter doel is dit geskep? Die antwoord is nie moeilik nie – Tolkien was baie uitgesproke daaroor. Hy skryf die boek se oorsprong lê in sy liefde vir taal en dat die verhaal en die karakters en die wêreld daarom vorm aangeneem het. “[T]he Word comes first and the story follows,” merk Poveda (2003:18) tereg op. Terselfdertyd was Tolkien ontsteld dat die Engelse so min mites van hulle eie gehad het. Hy verwys daarna as sy “Atlantis-haunting … This legend or myth or dim memory of some ancient history has always troubled me” (Tolkien 1981:365) en gevolglik besluit hy om ’n mite van sy eie te skep – “schooling an entire generation to a renewed perception of an ancient value and truth” (Helms 1974:ix). Dit is dan die funksie van die bronteks: (i) gee uitdrukking aan die skrywer se liefde vir taal en (ii) skep ’n mitiese wêreld waarbinne lesers die heldedade van weleer verwant aan Noorse legendes kan herleef – “present[ing] a kind of legendary and history of a ‘forgotten epoch’” (Tolkien 1981:204). En hoewel dit nie spesifiek genoem word nie, glo ek ’n derde funksie kan daarby gevoeg word, en dit is die ontwikkeling van die Engelse taal – nie soseer ’n uitbreiding van die taal deur interaksie met ander tale nie maar eerder ’n herinnering aan die herkoms van die taal, die wortels by wyse van spreke, ’n fortifisering van die struktuur waarom Engels later vorm aangeneem het.

Die aanvanklike funksie(s) van die beoogde doelteks is dieselfde: (i) om Tolkien se taalgebruik te repliseer (ii) om sodoende ’n ekwivalente effek by die doelteksleser te skep, en (iii) om by te dra tot die groei van Afrikaans deur die blootstelling daarvan aan vreemdetaalelemente. Die ooreenkoms in effek, soos hierbo verduidelik, sal nooit gemeet kan word nie. Maar hierdie funksie is nou geskakel met die replisering van die taalgebruik. Benjamin (2007:77) waarsku teen “confus[ing] the root cause of something with its essence” maar in die geval van LotR is die “root cause” (Tolkien se taalgebruik) dieselfde as die “essence” (Tolkien se taalgebruik en sy benutting daarvan om ’n grootse verhaal te vertel) daarvan. Derhalwe is LotR se funksie – sowel dié van die bron- as van die doelteks – onlosmaaklik aan die taalgebruik verbind, en wanneer ’n vertaler daarvan lesers na die outeur verplaas, noop dit lesers om die wêreld van Tolkien se taalgebruik te betree.

Volgens Benjamin (2007:75) is “[no] poem … intended for the reader, no picture for the beholder, no symphony for the listener”. Digters dig om uiting te gee aan gevoelens en

63 skrywers skryf om ’n storie te vertel; wie die gedig lees en daarby aanklank vind, is vir die skepper daarvan nie ’n prioriteit nie en beïnvloed nie die wyse waarop gedagtes uitgedruk word nie. Maar anders as Benjamin se digters, skilders en komponiste, is LotR uit die staanspoor vir lesers geskep met die doel/funksie om ’n liefde vir taal met hulle te deel, en hopelik met iets in hulle te laat resoneer; die taal wat Tolkien implementeer om met lesers te kommunikeer, is onontbeerlik in sowel die skryf van die oorspronklike boek as ’n vertaling daarvan. Benjamin (2007:80) se waarskuwing dat “it is self-evident how greatly fidelity in reproducing the form [of the original] impedes the rendering of the sense” is ’n vermaning om nie die bronteks goedsmoeds na te volg nie, maar by LotR is die form en die sense so nou geskakel met mekaar dat laasgenoemde nie sonder fidelity aan eersgenoemde oorgedra kan word nie. Die implikasies hiervan vir my vertaling van LotR is om die replisering van Tolkien se taalgebruik te beklemtoon vir algehele sukses van die vertaling van die boek. Dit is nie net om te kyk of dit wel gedoen kan word en wat die potensiaal van Afrikaans is nie; Tolkien se taalgebruik is so belangrik in LotR dat om dit nié te repliseer nie, is om nié die boek te vertaal nie. Rainer Nagel (2011:22) som hierdie vereiste baie goed op wanneer hy daarop wys dat “any translation of The Lord of the Rings is to be judged by the way it treats Tolkien’s use of language”.

Hierdie behoud van vreemdetaalelemente is nie sonder gevaar nie en Schleiermacher (2007:53) maan teen die risiko wat die vertaler loop indien daar nie op “that finest of lines” ag geslaan word nie. Hierdie gevaar sluit taalgebruik in wat waarskynlik vreemd op lesers se ore sal val, maar wat noodsaaklik vir die behoud van brontekskenmerke is. Schleiermacher (2007:53) gebruik die frase “bent to a foreign likeness”, waarmee hy verwys na die hantering van die doeltaal, en hoe dié op so ’n wyse aan lesers gebied word om as’t ware ’n ewebeeld van die brontaal in die doelteks te skep om sodoende die outeur ‘met rus te laat’ en doeltekslesers ‘na die outeur te bring’. Mary Snell-Hornby (2006:9) verwys na ’n “special sub-language for use in translation” – die vertaler moet so met die doeltaal omgaan dat ’n vorm van uitdrukking geskep word waarmee uiting aan die andersheid van die bronteksouteur se woorde gegee word, maar op so ’n wyse wat steeds onderhorig aan die voorskrifte van die doeltaal is – “striving to adhere so closely to the foreign tongue as his own language allows” (Schleiermacher 2007:53). Steiner waarsku die taal wat die vertaler as instrument van vertaling gebruik “has its own status of vulnerability, of unhousedness, of elucidative strangeness because it is an instrument of relation between the foreign tongue and one’s own” (Steiner 1975:395) en die vertaler – sowel as die doelteks en -kultuur – loop die risiko om oorweldig en lamgelê te word deur die invoer van vreemdetaalelemente; Steiner (1975:299) verwys na die “inhaled voice of the foreign text” wat dié van die vertaler kan versmoor. Sy vermaning weerklink in Schleiermacher (2007:54)

64 se woorde dat “even [the translator’s] own freely composed, original writings could be invaded by coarse and improper elements originating in his own translations, and his delicate sensibility for the native well-being of his own language blunted”. Schleiermacher identifiseer (2007:60) nie verniet hierdie verbuiging van die taal as waarskynlik die grootste struikelblok wat ’n vertaler moet konfronteer nie: “[The translator] is bound … to the admittedly difficult art of supplying this knowledge of the foreign world … while allowing the greater lightness and naturalness of the original to shine through everywhere”.

Bogenoemde vrese is nie ongegrond nie. Die gevare verbonde aan vervreemdende vertaling is voor die hand liggend: In die poging om lesers bloot te stel aan die vreemdheid van die teks kan die vertaler die bronteks so nougeset repliseer dat doeltekslesers eerder ’n afkeer in die taalgebruik ontwikkel as om daardeur meegesleur te raak. Volgens Turner (2005:46) demonstreer Tolkien

the difficulties of conveying the sense of a culture so remote in time from our own in words which will be comprehensible to a modern readership without betraying the integrity of the source, making it appear shallow or ridiculous, given the huge changes in language and poetics

Alhoewel die vertaler behoud van bronteksintegriteit moet nastreef, moet dus daarteen gewaak word om die vreemde karakter van die bronteks só getrou te vertaal dat lesers steier onder die onnatuurlikheid van die doelteks en glad nie met die narratief of dialoog kan vereenselwig nie. Schleiermacher (2007:52) gee toe die vertaler “will have to be content to achieve in the particular what he cannot on the whole” – m.a.w. om soms die verlies te erken waarna Eco verwys, en elders daarvoor te kompenseer. Een van Tolkien se sterkste punte, soos dit onder andere in LotR manifesteer, is juis die daarstel van ’n wêreld wat lesers nie eerstehands ken nie