• No results found

Die slag van die Pelennor Veld (The Battle of the Pelennor Fields)

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

4.11 Die slag van die Pelennor Veld (The Battle of the Pelennor Fields)

(Tolkien 1993:879-882)

Taalgebruik in die vertaling van “The Battle of the Pelennor Fields” moet duidelik van dié in die eerste twee vertalings onderskei word, en dit moet die doel dien om ’n somber luim van desperaatheid uit te beeld, soos wat in die bronteks die geval is. Maar dit is spesifiek gekies omdat dit die keerpunt van die veldslag kenmerk, en beeld die oorgang van nederlaag na oorwinning uit.

En nou neem die stryd verwoed toe op die Pelennor Veld; en die galm van wapentuig styg omhoog saam die geskreeu van manne en die gerunnik van perde. Horings word geblaas en trompette skal, en die mûmakil trompetter terwyl hulle na die stryd aangehits word. Onder die suidelike muur van die stad dryf die voetsoldate van Gondor nou in teen die legioene van Morgul wat daar steeds in groot getalle saamdrom. Maar die perderuiters snel ooswaarts tot Éomer se hulp: Húrin die Lange, Bewaarder van die Sleutels, en die heer van Lossarnach, en Hirluin van die Groen Heuwels, en prins Imrahil die aantreklike met sy ridders om hom. Vir die Rohirrim daag hulp net betyds op want Éomer se geluk het teen hom gedraai en sy drif versaak hom nou. Die groot toorn van sy aanslag het algehele verwoesting onder sy vyand se voorste linie gesaai, en op verskeie plekke het sy ridders ’n groot wig in die geledere van die Suiderlinge gedryf en reg deur hulle beweeg, en laasgenoemde se perderuiters verslaan en hulle voetsoldate vermorsel. Maar waar die mûmakil ook al gaan, wil die perde nie gaan nie, maar hulle deins terug en swaai weg; en die groot monsters bly onbestrede, en staan soos torings van teenstand, en die Haradrim skaar om hulle. Waar die Rohirrim tydens hulle aanval teen ’n oormag te staan gekom het waarvan slegs die Haradrim drie keer soveel as hulle was, het hulle lot nou vinnig vererger. Versterkings vir die vyand stroom na die slagveld vanuit Osgiliath, waar hulle in afwagting op hulle kaptein se bevel saamgetrek het om die Stad te plunder en

108 Gondor te stroop. Hulle kaptein is nou vernietig, maar Gothmog, die luitenant van Morgul, het hulle in die stryd gewerp: Oosterlinge met byle, en Wariaghs van Khand, Suiderlinge in skarlaken, en vanuit die Verre Harad, swart manne soos halftrolle met wit oë en rooi tonge. Sommiges haas hulle agterom die Rohirrim en ander hou aan weswaarts om die magte van Gondor af te weer en te verhoed dat hulle by Rohan aansluit.

Dit is juis toe die dag hierdie somber wending teen Gondor begin neem en hulle hoop begin wyk dat ’n nuwe kreet vanuit die stad verrys. Dit is die middel van die oggend en ’n sterk wind waai, en die reën wyk noordwaarts, en die son skyn. In daardie helder lug sien die wagte op die muur ’n angswekkende nuwe gesig in die verte, en hulle laaste bietjie hoop verlaat hulle.

Want Anduin vloei vanaf die draai by die Harlond sodat die mense in die stad vir etlike myle met die lengte van die rivier kan opkyk en vêrsiendes enige skip kan sien wat nader. En toe hulle derwaarts kyk, uiter hulle ’n kreet van ontsteltenis want swart teen die glinsterende stroom bespeur hulle ’n vloot wat deur die wind aangedryf word: kaapvaarders, en skepe van groot diepgang met baie spane en met swart seile wat bol in die bries.

“Die kapers van Umbar!” roep mans uit. “Die kapers van Umbar! Kyk! Die kapers van Umbar is op pad! Belfalas is dus beset, en die Ethir, en Lebennin is daarmee heen. Die kapers is op ons! Dit is die laaste slag van verdoemenis!”

En sonder bevel – want niemand kan in die stad gevind word om hulle aan te voer nie – hardloop sommiges na die klokke en lui alarm, en sommiges blaas op die trompette om die terugval aan te kondig. “Terug na die muur!” roep hulle. “Terug na die muur! Kom terug na die Stad voordat almal oorweldig word!” Maar die wind wat die skepe voortdryf, waai al hulle krete weg.

Die Rohirrim benodig nóg tyding nóg alarm. Hulle kan self die swart seile al te goed sien. Want Éomer is nou skaars ’n myl van die Harlond af, en tussen hom en die hawe daar is ’n groot gedrang van sy eerste vyand, terwyl nuwe vyande agterom maal en hom van die prins afsny. En nou kyk hy na die rivier en in sy hart sterf die hoop, en die wind wat hy geseën het, noem hy nou vervloek. Maar die leërskare van Mordor is bemoedig en, gevul met nuwe oorloglus en woede, val hulle skreeuend aan.

Nou is Éomer stroef van gemoed en sy gedagtes weer helder. Hy laat die horings blaas om al die manskappe wat herwaarts kan kom onder sy krygsbanier te skaar. Sy idee is om ’n groot skildmuur te vorm en te staan, en te voet te veg totdat almal gesneuwel het, en op die Pelennor Veld liederdade te verrig, hoewel geen mens in die Weste sal oorbly om die laaste Koning van

109 die Perk te onthou nie. Derhalwe ry hy na ’n groen koppie en plant sy banier daar, en die galoppende wit perd rimpel in die wind.

Vanuit twyfel, vanuit duister, na die breek van die dag, kom ek singend in die son, met swaard ontbloot.

Na hoopseind’ ry ek en na hartebreek:

Nou vir weerwraak, nou verderf, en ’n rooi skemering!

Hierdie strofe spreek hy en tog lag hy terwyl hy dit sê. Want weereens het die krygslus hom beetgepak, en hy is steeds ongedeerd, en hy is jonk, en hy is koning: die heer van ’n forse volk. En so waarlik, terwyl hy lag vir die wanhoop, aanskou hy die swart skepe, en hy lig sy swaard om hulle uit te daag.

En toe word hy gevul met verwondering, en ’n groot vreugde; en hy werp sy swaard in die sonlig en sing toe hy dit vang. En alle oë volg sy blik en sowaar! Op die voorste skip ontplooi ’n groot standaard, en dit vertoon in die wind toe die skip na die Harlond draai. Daar ontvou ’n wit boom en dit is vir Gondor; maar sewe sterre is daar rondom, en ’n hoë kroon daarbo – die tekens van Elendil wat geen heer vir tallose jare vertoon het nie. En die sterre vlam in die sonlig want dit is met juwele afgewerk deur Arwen, dogter van Elrond; en die kroon glinster in die oggend want dit is afgewerk met mithril en met goud.

Sodoende kom Aragorn, seun van Arathorn, Elessar, Isildur se erfgenaam, vanuit die Paaie van die Dood, gedryf deur ’n wind van die see af na die koninkryk van Gondor; en die vreugde van die Rohirrim is ’n storvloed gelag en glinsterende swaarde, en die vreugde en verwondering van die stad is musiek met trompette en die gebeier van klokke. Maar die leërskare van Mordor maal oorbluf en dit kom vir hulle soos groot towerkuns voor, dat hulle eie skepe met hulle vyande gevul moet wees, en ’n swart afgryse pak hulle beet, met die wete dat die gety van die noodlot teen hulle gedraai het en hulle ondergang op hande is.

Die ridders van Dol Amroth ry ooswaarts en dryf die vyand voor hulle uit: trolmanne en Wariaghs en orke wat die sonlig haat. Éomer en sy manskappe stryk suidwaarts aan en manne vlug voor sy aangesig, en hulle word vasgevang tussen die hamer en die aambeeld want by Halrond spring manskappe nou van die skepe op die kaai en ruk op noord en vee soos ’n storm alles uit hulle pad. Daar kom Legolas, en Gimli wat sy byl inlê, en Halbarad met die standaard, en Elladan en Elrohir met sterre op hulle voorhoof, en die felhandige Dúnedain, Swerwers van die Noorde, aan die voorpunt van ’n moedige leërskaar krygers van Lebennin en Lamedon en die leenstate van die Suide. Maar voor hulle almal beweeg Aragorn met die Vlam van die

110 Weste, Andúril soos ’n nuwe vuur wat ontvlam, Narsil weer gesmee soos van ouds; en op sy voorhoof is die Ster van Elendil.

En ten einde laaste ontmoet Éomer en Aragorn te midde van die stryd, en elkeen leun op sy swaard en kyk na mekaar en is bly.

“So ontmoet ons weereens, hoewel die hele leërskare van Mordor tussen ons gestaan het,” sê Aragorn. “Is dit nie wat ek by die Horingburg gesê het nie?”

“Jy het inderdaad,” sê Éomer, “maar hoop is dikwels misleidend, en ek het toe nie geweet jy is heldersiende nie. En tog dubbel geseën is onvoorsiene hulp, en die ontmoeting tussen vriende was nog nooit meer vreugdevol nie.” En hulle hande omklem. “Of tydiger nie,” sê Éomer. “Jy kom net betyds, my vriend. Baie verlies en leed is ons berokken.”

“Nou kom ons wreek dit, eer ons daaroor praat!” sê Aragorn, en saam ry hulle terug na die stryd.