• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

4.5 Die brug by Khazad-dûm (The Bridge of Khazad-Dûm)

(Tolkien 1993:344-9)

Vertaling 5 beeld die vlug deur die myn van Moria uit. Dit is ’n dramatiese toneel wat hoofsaaklik uit handelinge bestaan, maar wat deur dialoog van verskillende karakters afgewissel word. Die bevat een van die mees ikoniese tonele in The fellowship of the ring, naamlik die stryd met die Balrog op die nou klipbrug, wat heelwat grafiese beskrywing verg om die toneel en die aksie uit te beeld.

Die gang word nie deur ’n skag verlig nie, en is heeltemal donker. Hulle voel-voel hulle pad met ’n lang trap af, en kyk dan terug, maar buiten die dowwe skynsel van die towenaar se staf

86 ver bo hulle kan hulle niks sien nie. Hy blyk steeds by die toe deur te waak. Frodo haal swaar asem en leun teen Sam, wat sy arms om hom vou. Hulle staan en tuur teen die trap op, die donkerte in. Frodo dink hy hoor Gandalf se stem daar bo wat woorde prewel wat soos ’n sug met die helling van die dak af weerklink. Hy kan nie uitmaak wat gesê word nie. Dit voel of die mure bewe. Elke dan en wan pols en rol die tromslae: doem … doem.

Eensklaps is daar ’n spleet wil lig aan die bopunt van die trap. Dan is daar ’n dowwe gerommel en ’n harde slag. Die tromslae gaan woes te kere: doem-boem, doem-boem, en dan stop dit. Gandalf kom die trap af gestorm en stort in die middel van die Geselskap op die grond neer. “Nou toe! Dis klaar!” sê die towenaar terwyl hy sukkel om orent te kom. “Ek het als gedoen wat ek kon. Maar ek het my rieme styfgeloop, en is byna vernietig. Moenie daar staan nie! Gaan verder! Julle sal ’n rukkie sonder lig moet klaarkom; ek is nogal vermoeid. Gaan voort! Gaan voort! Waar is jy, Gimli? Kom vorentoe saam met my! Bly kort agter ons, almal van julle!”

Hulle strompel agter hom aan, en wonder wat gebeur het. Doem, doem, slaan die tromme weer: dit klink nou gedemp en ver weg, maar dit volg hulle. Daar is geen ander klank van agtervolging nie – nie die gestamp van voete, of enige stem nie. Gandalf draai glad nie af nie, nie regs of links nie, want die gang blyk die rigting te volg waar hy wil gaan. Elke dan en wan gaan dit met trappies af, vyftig of meer, na ’n laer vlak. Op die oomblik is dit hulle grootste gevaar, want in die donker kan hulle nie ’n afdraand sien totdat hulle feitlik by dit is, en hulle voete in die niet steek nie. Gandalf voel-voel die loopvlak met sy staf soos ’n blinde man. Nadat ’n uur verloop het, het hulle ’n myl gevorder, of miskien ’n bietjie meer, en met baie trappe af gegaan. Daar is steeds geen klank van agtervolging nie, en hulle begin amper hoop dat hulle moontlik kan ontsnap. Onderaan die sewende trap steek Gandalf vas.

“Dit raak warm!” hyg hy. “Ons behoort nou minstens onder op die hekke se vlak te wees. Ek dink ons moet binnekort uitkyk vir ’n draai na links om ons oos te neem. Ek hoop nie dit is ver nie. Ek is baie moeg. Ek moet ’n oomblik hier rus, al is elke orkgebroedsel agter ons aan.” Gimli vat sy arm, en help hom om op ’n trappie te gaan sit. “Wat het daar bo by die deur gebeur?” vra hy. “Het jy die tromslaner teëgekom?”

“Ek weet nie,” antwoord Gandalf. “Maar ek het gevind ek bied skielik iets die hoof wat ek nooit vantevore teëgekom het nie. Ek kon aan niks anders dink om te doen buiten om ’n sluitspreuk op die deur te probeer plaas nie. Ek ken baie, maar om iets van daardie aard rég te doen, verg tyd, en selfs dan kan die deur met brute krag afgebreek word.

“Terwyl ek daar staan, kon ek orkstemme aan die ander kant hoor; ek het gedink hulle gaan die deur enige oomblik oopkloof. Ek kon nie hoor wat gesê word nie; dit het geklink of hulle in

87 hul eie afgryslike taal praat. Al wat ek kon uitmaak, is ghâsh: dit beteken ‘vuur’. Toe kom iets die vertrek binne – ek kon dit deur die deur voel – en die orke was self bang en het stil geraak. Dit het die ysterring beetgekry, en toe my en my towerspreuk bemerk.

“Ek kan nie raai wat dit was nie, maar ek het nog nooit so ’n betwisting gevoel nie. Die teenspreuk was ongelooflik; dit het my amper gebreek. Vir ’n oomblik het ek beheer oor die deur verloor, en dit het begin oopgaan! Ek moes ’n bevelswoord spreek. Blykbaar het dit te veel spanning veroorsaak: die deur het aan stukke gespat. Iets donkers soos ’n wolk het al die lig binne-in geblokkeer, en ek is agteroor gegooi, met die trap af. Die hele muur het ingestort en ek dink die vertrek se dak ook.

“Ek’s bevrees Balin is diep begrawe, en miskien is iets anders ook daar begrawe. Ek kan nie sê nie. Maar ten minste is die gang agter ons heeltemal geblokkeer. Genade! Ek het nog nooit so uitgeput gevoel nie, maar dit is besig om oor te waai. En wat van jou, Frodo? Daar was nie tyd om dit te sê nie, maar ek was in my lewe nog nooit meer verheug as toe ek jou hoor praat nie. Ek was bevrees dit is ’n brawe maar dooie hobbit wat Aragorn dra.”

“Wat van my?” sê Frodo. “Ek’s lewendig, en heel, dink ek. Ek is gekneus en het seer, maar dit is nie te erg nie.”

“Wel,” sê Aragorn “Ek kan maar net sê hobbits is van ’n stoffasie gemaak wat so taai is dat ek die gelyke daarvan nog nooit teëgekom het nie. Het ek dit geweet, sou ek sagter gepraat het by die herberg in Bree! Daardie spiessteek sou ’n wildevark deurboor het!”

“Wel, ek is bly om te sê dit het my nie deurboor nie,” sê Frodo; “hoewel dit voel of ek tussen ’n hamer en ’n aambeeld beland het.” Hy sê niks meer nie. Hy vind dit pynlik om asem te haal. “Jy aard na Bilbo,” sê Gandalf. “Daar steek meer in jou as wat mens dink, soos wat ek lank gelede vir hom gesê het.” Frodo wonder of hy meer met die opmerking bedoel as wat hy te kenne gee.

Hulle gaan weer verder. Kort voor lank praat Gimli. Hy het skerp oë in die donker. “Ek dink,” sê hy, “daar is lig daar voor. Maar dit is nie daglig nie. Dit is rooi. Wat kan dit wees?”

“Ghâsh!” prewel Gandalf. “Ek wonder of dit is wat hulle bedoel het: dat die laer vlakke aan die brand is? En tog, ons kan net verder gaan.”

Spoedig raak die lig onmiskenbaar en kan almal dit sien. Voor hulle flikker en gloei dit teen die gang se mure af. Hulle kan nou sien waar hulle loop: voor hulle hel die pad nogal skerp af, en ’n ent vorentoe is daar ’n lae gewelfde deurgang, waardeur die gloeiende lig kom. Die lug raak baie warm.

Toe hulle by die deurgang kom, beduie Gandalf hulle moet wag, en gaan deur. Hy staan net anderkant die opening, en hulle sien hoe sy gelaat deur ’n rooi gloed verlig word. Vinnig tree hy terug.

88 “Hier is een of ander nuwe duiwelary,” sê hy, “ongetwyfeld bedink om ons te verwelkom. Maar ek weet nou waar ons is: Ons het die Eerste Diepte bereik, die vlak reg onder die hekke. Dit is die Tweede Saal van Ou Moria; en die hekke is naby: anderkant die oostelike punt, links, nie verder as ’n kwartmyl nie. Oor die brug, teen ’n breë trap op, met ’n breë pad langs deur die Eerste Saal, en uit! Maar kom kyk!”

Hulle loer uit. Voor hulle is nog ’n massiewe saal. Dit is hoër en baie langer as die een waarin hulle geslaap het. Hulle is naby die oostelike punt; weswaarts strek dit die donkerte in. Twee rye suile troon in die middel af. Dit is uitgekap soos die stamme van magtige bome wat bolangs vertak om die dak met ’n loofwerk steen omhoog te hou. Die stamme is glad en swart, maar teen hulle oppervlak weerkaats ’n donkerrooi gloed. Oor die breedte van die vloer, naby die basis van twee yslike suile, het ’n groot skeur oopgegaan, en daaruit skyn ’n vurige rooi lig; elke dan en wan lek vlamme aan die rand, en krul dit om die suile se basis. Slierte donker rook draal in die warm lug.

“As ons met die hoofpad van die boonste sale af gekom het, was ons nou hier vasgekeer,” sê Gandalf. “Kom ons hoop die vuur lê nou tussen ons en ons agtervolgers. Kom! Daar is geen tyd om te verspil nie.”

Terwyl hy nog praat, hoor hulle weer die tromslag wat hulle volg: Doem, doem, doem. Van anderkant die skaduwees aan die westekant van die saal kom krete en die geblaas van horings. Doem, doem: dit lyk kompleet of die suile bewe en die vlamme sidder.

“Nou vir die laaste wedloop!” sê Gandalf. “As die son buite skyn, kan ons moontlik nog ontsnap. Agter my aan!”

Hy draai links en snel oor die gladde vloer van die saal. Die afstand is groter as wat dit gelyk het. Terwyl hulle hardloop, hoor hulle agter hulle die ritme en weerklank van talle hasende voete. ’n Skril kreet weerklink: hulle is gesien. Daar is die klink en kletter van staal. ’n Pyl fluit oor Frodo se kop.

Boromir lag. “Hulle het nie dit verwag nie,” sê hy. “Die vuur het hulle afgesny. Ons is aan die verkeerde kant!”

“Kyk daar voor!” roep Gandalf uit. “Die brug is naby. Dit is gevaarlik en nou.”

Skielik sien Frodo ’n swart afgrond voor hom. Aan die einde van die saal verdwyn die vloer ’n onbekende diepte in. Die deur na buite kan net bereik word deur middel van ’n smal klipbrug, sonder rand of reling, wat die afgrond in een boog van vyftig voet oorspan. Dit was die Dwerge van ouds se verdediging teen enige vyand wat moontlik die Eerste Saal en die buitenste gange verower. Hulle kan dit slegs in enkelgelid oorsteek. Gandalf gaan staan op die rand, en die ander bondel agter hom saam.

89 “Neem die voortou, Gimli!” sê hy. “Pippin en Merry volgende. Reguit aan, en op met die trap anderkant die deur!”

Pyle val tussen hulle. Een tref Frodo en bons terug. Nog een deurboor Gandalf se hoed, en steek vas soos ’n swart veer. Frodo kyk agter hulle. Anderkant die vuur sien hy ’n gewemel van swart figure: daar blyk honderde orke te wees. Hulle swaai spiese en kromswaarde rond wat in die lig van die vuur so rooi soos bloed skyn. Doem, doem rol die tromslae, en word harder en harder; doem, doem.

Legolas draai om en hoewel dit ’n ver skoot vir sy klein boog is, plaas hy ’n pyl teen die koord van die boog. Hy span die boog, maar sy hand ruk, en die pyl tuimel na die grond. Hy uiter ’n kreet van misnoeë en vrees. Twee groot trolle kom te voorskyn; hulle dra groot plat blokke klip, en gooi dit neer om as loopplanke oor die vuur te dien. Maar dit is nie die trolle wat die Elf met vrees gevul het nie. Die geledere van die orke het oopgegaan, en hulle maal om weg te kom, asof hulle self bang is. Van agter hulle nader iets. Wat dit is, kan nie gesien word nie: dit is soos ’n groot skaduwee, met ’n donker vorm in die middel, moontlik mensagtig, maar groter; en daar blyk ’n krag en verskrikking daarin te wees wat dit vooruit gaan.

Die vorm kom tot by die vuur se rand, en die lig vervaag asof ’n wolk oor die vuur gebuk het. Met ’n skielike beweging spring dit oor die skeur. Die vlamme dawer opwaarts om dit te begroet, en krul om die vorm; en ’n swart rook warrel in die lug. Die vorm se stromende maan ontvlam, en slier brandend agterna. In die regterhand is ’n lem soos ’n priemende tong vuur; in die linkerhand hou dit ’n sweep met talle rieme.

“Ai!” weeklaag Legolas. “’n Balrog! ’n Balrog is onderweg!”

Gimli staar met wydgesperde oë. “Durin se Vloek!” roep hy uit; hy laat sy byl val en bedek sy gesig.

“’n Balrog,” prewel Gandalf. “Nou verstaan ek.” Hy aarsel en leun swaar op sy staf. “Wat ’n bose lot! En ek is reeds so vermoei.”

Die donker figuur snel na hulle, met vuur wat agterna stroom. Die orke skree en stroom oor die kliploopplanke. Toe lig Boromir sy horing en blaas daarop. Die uitdaging weerklink luid, en dreun soos die uitroep vanuit talle kele onder die massiewe dak. Die orke deins vir ’n oomblik terug, en die brandende skaduwee kom tot stilstand. Dan sterf die eggo’s so skielik soos ’n vlam wat deur ’n donker wind gesmoor is, en die vyand beweeg weer vorentoe.

“Oor die brug!” roep Gandalf onderwyl hy sy krag herwin. “Vlug! Dit is ’n vyand bo enige van julle se vuurmaakplek. Ek moet die smal weg verdedig. Vlug!” Aragorn en Boromir slaan nie ag op die bevel nie, maar staan steeds vas, sy aan sy, agter Gandalf by die verste punt van die

90 brug. Die ander gaan staan net binnekant die deuropening by die punt van die saal en draai om, nie in staat om hulle leier te los om die vyand alleen die hoof te bied nie.

Die Balrog bereik die brug. Gandalf staan bo die middel van die brugboog; hy leun op die staf in sy linkerhand, maar in sy ander hand glim Glamdring, koud en wit. Teenoor hom kom sy vyand weereens tot stilstand, en die skaduwee daarom sprei uit soos twee ontsaglike vlerke. Die vorm lig die sweep, en die rieme knetter en kras. Vuur kom vanuit die neusgate. Maar Gandalf staan geanker.

“Jy kan nie hier oorsteek nie,” sê hy. Die orke staan stil, en ’n doodse stilte daal neer. “Ek is ’n dienaar van die Geheime Vuur, draer van die vlam van Anor. Jy kan nie hier oorsteek nie. Die donker vuur gaan jou niks baat nie, vlam van Udûn. Keer terug na die skaduwee! Jy kan nie hier oorsteek nie."

Die Balrog antwoord nie. Die vuur binne dit blyk dood te gaan, maar die duisternis raak groter. Die Balrog tree stadig vorentoe, tot op die brug, en strek dit skielik uit tot ’n groot lengte, en die vlerke sprei uit van muur tot muur; maar Gandalf kan steeds gesien word, ’n skynsel in die skemering; hy kom klein voor, en heeltemal alleen: grys en geboë, soos ’n verdorde boom voor die aanvang van ’n storm.

’n Vlammende rooi swaard kom meteens vanuit die skaduwee te voorskyn. Glamdring glinster wit as antwoord.

Daar is ’n klinkende kletter en ’n flits wit vuur. Die Balrog val terug en die swaard spat aan smeltende skerwe. Die towenaar wankel op die brug, neem ’n tree terug, en staan dan weer stil. “Jy kan nie … oorsteek … nie!” sê hy.

Die Balrog spring vorentoe en land heeltemal op die brug. Die sweep kolk en sis.

“Hy kan nie alleen staan nie!” roep Aragorn skielik uit, en hardloop met die brug langs terug. “Elendil!” roep hy. “Ek staan by jou, Gandalf!”

“Gondor!” roep Boromir en hardloop agter hom aan.

Op daardie oomblik lig Gandalf sy staf, en slaan die brug voor hom met ’n luide kreet. Die staf spat aan stukke en val uit sy hand. ’n Verblindende vlaag wit vlam skiet op. Die brug kraak, en verbrokkel aan die voete van die Balrog. Die klip waarop dit staan, tuimel die afgrond in terwyl die res oorbly, oorgehaal soos ’n kliptong wat die nietigheid in steek.

Met ’n verskriklike kreet val die Balrog vooroor, en toe tuimel die skaduwee na benede en verdwyn. Maar in die val klap dit die sweep, en die rieme krul om die towenaar se knieë, en sleep hom na die rand. Hy steier en val, gryp vergeefs na die klip, en gly die afgrond in. “Vlug, julle dwase!” roep hy uit, en verdwyn.