• No results found

4.1 ’n Langverwagte partytjie – deel 1 (A Long-expected Party)

(Tolkien 1993:41-3)

Soos vroeër aangedui, verskil die eerste deel van die boek se skryfstyl van die res. Met die eerste twee vertalings demonstreer ek hierdie verskil. Vertaling 1 vang die lighartige luim van Bilbo se partytjie vas, met al die verskillende hobbits daar vergader. In vertaling 2 word hierdie luim aanvanklik voortgesit, maar word vervang deur die interaksie tussen Bilbo en Gandalf wat op ’n ligte noot begin en dan tot ’n onverwagse konfrontasie eskaleer. Die skryfstyl is steeds dié van The hobbit maar dit bied insig in die ernstiger en donkerder rigting wat die res van die boek gaan inslaan. Verder bied dit ook dialoog van Gandalf – wat verskil van die dialoog wat hy met Saruman voer in vertaling 4, “Die Raad van Elrond” – en dit sluit Bilbo se liedjie in. Desnieteenstaande die eenvoudiger skryfstyl, bied die teks reeds insig in Tolkien se dinamiese gebruik van taal, deur byvoorbeeld die woordspeling in Take care … I don’t care, en make up my mind en mine … is quite made up.

Ná die feesmaal (so min of meer) kom die toespraak. Maar die meeste van die gaste is nou in ’n verdraagsame luim, in daardie vreedsame stadium wat hulle ‘gaatjies volstop’ noem. Hulle teug aan hulle gunstelingdrankies en peusel aan hulle gunstelinglekkernye, hulle vrees vergete. Hulle is gereed om na enigiets te luister, en die spreker met elke blaaskans toe te juig.

“My liewe mense,” begin Bilbo terwyl hy opstaan.

“Hoor! Hoor! Hoor!” roep hulle en herhaal dit soos ’n koor, asof hulle traag is om hulle eie raad te volg. Bilbo verlaat sy plek en klim op ’n stoel onder die verligte boom. Die lig van die lanterns val op sy stralende gesig, die goue knope skyn op sy geborduurde sy-onderbaadjie. Almal kan hom daar sien staan; hy waai sy een hand in die lug, die ander is in sy broeksak. “My liewe Buidlers en Boffins,” begin hy dan weer. “En my liewe Toeks en Brandeboks, en Dolfs, en Mols, en Hollemans, en Trompermans, en Bolgers, Bindemans, Goedharts, Meerhuise en Barrevoets.”

“BarreVOETE!” roep ’n ouerige hobbit van die agterkant van die markiestent af. Sy van is

natuurlik Barrevoet en dis heel gepas want sy voete is groot en kaal, hoewel buitengewoon harig. Al twee sy voete is op die tafel.

“Barrevoets,” herhaal Bilbo. “Ook my Pakendorf-Buidlers wat ek uiteindelik weer terug verwelkom by Buidelpunt. Vandag is my honderd en elfde verjaardag: Ek is een en elftig vandag!”

72 “Hoera! Hoera! Mag daar nog baie wees!” roep hulle, en hamer jolig op die tafels. Bilbo vaar uitstekend. Dís die tipe goed waarvan hulle hou: kort en op die hobbit af.

“Ek hoop julle almal geniet julself soos ek myself geniet.” ’n Dawerende gejuig. Krete van “Ja!” (en “Nee!”). Die klanke van trompette en horings, pype en fluite en ander musiekinstrumente. Soos reeds gesê, is daar baie jong hobbits teenwoordig. Honderde musiekklappers word getrek. Die meeste van hulle het die merk DAL op, wat vir die meeste hobbits nie juis veel beteken nie; maar hulle almal stem saam dit is wonderlike klappers. Die klappers bevat instrumente – klein, maar perfek gemaak en met betowerende klanke. Trouens, onder die indruk dat oom Bilbo klaar is (omdat hy al alles gesê het wat nodig is), begin sommige van die jong Toeks en Brandeboks met ’n spontane orkes in die een hoek, en trek weg met ’n vrolike danswysie. Meester Everard Toek en mej. Melilot Brandebok klouter op ’n tafel en begin met klokkies in hulle hande die Lenteling te dans – ’n mooi rondedans, en nogal lewendig.

Maar Bilbo is nog nie klaar nie. Hy gryp ’n horing by ’n jong hobbit naby hom en blaas drie keer hard daarop. Die geraas bedaar. “Ek gaan julle nie lank ophou nie,” sê hy hard. Al die gaste juig. “Ek het julle almal bymekaargeroep vir ’n doel.” Iets aan die manier waarop hy dit sê, maak indruk. Daar is byna stilte, en een of twee van die Toeks spits hulle ore.

“Trouens, vir drie doeleindes! Eerstens, om vir julle almal te sê ek hou verskriklik baie van julle almal, en dat een en elftig jaar eintlik te kort is om tussen sulke uitstekende en wonderlike hobbits te woon.” ’n Geweldige uitbars van goedkeuring.

“Ek ken die helfte van julle nie halfpad so goed soos ek graag sou wou nie; en ek hou van minder as die helfte van julle die helfte so min as wat julle verdien.” Dít is onverwags en nogal moeilik. Daar is ’n bietjie verdwaalde applous, maar die meeste van hulle probeer dit uitredeneer om te sien of dit dalk ’n kompliment kan wees.

“Tweedens, om my verjaardag te vier.” Weer ’n gejuig. “Ek behoort te sê: óns verjaardag. Want dit is natuurlik ook die verjaardag van my erfgenaam en nefie, Frodo. Hy is vandag mondig en neem sy erfenis in ontvangs.” ’n Beleefde applous deur die ouer garde, en ’n paar uitroepe van die jonger geslag: “Frodo! Frodo! Goeie ou Frodo!” Die Pakendorf-Buidlers frons, en wonder wat met “neem sy erfenis in ontvangs” bedoel word.

“Saam is ons een honderd vier en veertig. Julle getal is gekies om hierdie merkwaardige totaal vol te maak: Een gros, as ek die uitdrukking mag gebruik.” Geen toejuiging nie. Dit is belaglik. Baie van die gaste, en veral die Pakendorf-Buidlers, is beledig; hulle voel hulle is net uitgenooi om die vereiste getal vol te maak, soos appels in ’n kardoes. “Een gros, sowaar! Vulgêre uitdrukking!”

73 “Dit is ook, as julle my sal toelaat om na antieke geskiedenis te verwys, die herdenking van my aankoms per vaatjie by Esgaroth op die Langemeer, alhoewel die feit dat dit my verjaardag was my destyds ontglip het. Ek was toe net een en vyftig, en verjaardae het nie so belangrik gelyk nie. Die banket was egter uitstekend, al het ek ’n slegte verkoue gehad en skaars “baie dakkie” kon uitkry. Ek herhaal dit nou meer korrek: Baie dankie dat julle na my beskeie partytjie toe gekom het.” Hardnekkige stilte. Almal is bang dat ’n liedjie of een of ander gediggie op hande is; en hulle is besig om verveeld te raak. Hoekom kan hy nie ophou praat sodat hulle op sy gesondheid kan drink nie? Maar Bilbo sing nie en dra niks voor nie. Hy talm ’n oomblik lank.

“Derdens en laastens,” sê hy, “wil ek ’n AANKONDIGING maak.” Hy sê die woord so hard en skielik dat almal wat nog kan, regop sit. “Dit spyt my om aan te kondig dat – hoewel, soos ek reeds gesê het, een en elftig jaar gans te kort is om tussen julle deur te bring – hierdie is die EINDE. Ek gaan nou. Ek verlaat julle NOU. VAARWEL!”

Hy klim van die stoel af en verdwyn. Daar is ’n verblindende flits lig, en die gaste knip hulle oë. Toe hulle dit oopmaak, is Bilbo nêrens te sien nie. Een honderd vier en veertig oorblufte hobbits leun sprakeloos terug. Ou Odo Barrevoet haal sy voete van die tafel af en stamp-stamp daarmee op die grond. Dan is daar ’n doodse stilte totdat skielik – ná verskeie diep asemteue – elke Buidler, Boffin, Toek, Brandebok, Dolf, Mol, Bolger, Meerhuis, Goedhart, Barrevoet, Holleman, Bindeman en Tromperman skielik gelyk begin praat.

Basies almal is dit eens dat die grap van uiters swak smaak getuig, en dat nog kos en drank nodig is om die gaste van skok en ergernis te genees. “Hy’s mal. Ek sê nog altyd so,” is waarskynlik die gewildste opmerking. Selfs die Toeks (buiten ’n paar uitsonderings) dink Bilbo se gedrag is absurd. Op daardie oomblik aanvaar die meeste van hulle dit as vanselfsprekend dat sy verdwyning niks meer as ’n verspotte grap is nie.