• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

4.7 Die ruiters van Rohan (The Riders of Rohan)

(Tolkien 1993:451-5)

Vertaling 7 is om twee redes gekies: dit beeld die dialoog tussen hoofsaaklik Aragorn en Éomer uit, sowel as die onderliggende spanning met hulle ontmoeting. Verder dien dit die doel om ’n indruk van die ruiters van Rohan te skep wat ooreenstem met die indruk wat in die bronteks geskep word.

Naderhand kan selfs Gimli die ver-af ritme van galoppende hoewe hoor. Die ruiters, op die spoor, het weg geswenk van die rivier en nader nou die rûens. Hulle ry soos die wind.

Die geroep van helder, sterk stemme weerklink nou oor die vlakte. Skielik swaai hulle kortom en kom met die gedreun van donderweer aangejaag, en die voorste ruiter swaai weg; hy beweeg met die voet van die heuwel langs en lei die ruitery teen die westelike rand van die rûens terug suidwaarts. Agter hom ry hulle aan: ’n lang linie geharnaste mans – vlug, fel, glansend en goed om te aanskou.

Hulle perde is groot van gestalte, sterk en mooi gebou; die grys velle glinster, hulle lang sterte stroom in die wind en die maanhare op die trotse nekke is gevleg. Die mense wat hulle ry, pas goed by hulle: lank met lang ledemate, en vlasblond vloei hulle hare van onder hul ligkleurige helms, en stroom in lang vlegsels agter hulle; hulle gesigte is vurig en gedug. In hulle hande is lang spiese van essenhout, geverfde skilde is oor hulle rûe geslinger, langswaarde hang aan hulle gordels, en blink gepoetstemaliekolders kom tot by die knieë.

Twee-twee galop hulle verby, en hoewel een elke dan en wan hom in die stiebeuels lig, en vorentoe en na weerskante tuur, blyk hulle nie die drie vreemdelinge te bespeur wat hulle stil sit en dophou nie. Die ruitery het byna verby beweeg toe Aragorn skielik opstaan en in ’n harde stem roep:

“Watter nuus uit die noorde, ruiters van Rohan?”

Met verbysterende spoed en vernuf teuel hulle hul rosse in, swenk en kom om die drie gejaag. Spoedig bevind die drie metgeselle hulle in ’n sirkel ruiters wat om hulle beweeg, op met die helling agter hulle, en dan weer af, om en om, met die sirkel wat nouer en nouer word. Aragorn staan stil; die ander twee sit sonder om te beweeg, en wonder watter wending sake gaan neem.

95 Eensklaps, sonder woord of kreet, kom die ruiters tot stilstand. ’n Ruigte spiese rig op die vreemdelinge; sommige van die ruiters hou ’n boog vas, die pyl reeds teen die styfgespande koord. Dan ry een man vorentoe. Hy is ’n lang man, langer as al die ander, en van sy helm vloei ’n wit perdestert as pluim. Hy beweeg nader totdat die punt van sy spies minder as ’n voet van Aragorn se bors is. Aragorn roer nie.

“Wie is julle, en wat doen julle in hierdie land?” sê die ruiter. Hy gebruik die Omgangstaal van die Weste, in wyse en toon soortgelyk aan die spraak van Boromir, man van Gondor.

“Ek word Stryker genoem,” antwoord Aragorn. “Ek kom vanuit die noorde. Ek jag orke.” Die ruiter spring uit sy saal. Hy gee sy spies vir ’n ander ruiter wat nadergery het, en nou langs hom afklim; dan trek hy sy swaard en staan aangesig tot aangesig met Aragorn terwyl hy hom stip betrag, hoewel nie sonder verwondering nie. Oplaas praat hy weer.

“Ek het eers gedog julle is self orke,” sê hy. “Maar ek sien nou dit is nie so nie. Julle weet maar min van orke, as dít is hoe julle te werk gaan om hulle te jag. Hulle was vinnig en goed bewapen, en daar was baie. Julle sou van jagter in prooi verander het, sou julle hul ooit ingehaal het. Maar daar is iets vreemds omtrent jou, Stryker.” Hy rig sy helder, skerp oë op die Swerwer. “Daardie naam wat jy my gee, is geen Mens s’n nie. En julle gewaad is ook vreemd. Het julle vanuit die gras ontspruit? Hoe het julle ons sig ontwyk? Is julle Elwemense?”

“Nee,” sê Aragorn. “Net een van ons is ’n Elf – Legolas van die Woudryk in verafgeleë Skimwoud. Maar ons het deur Lothlórien gekom, en die geskenke en guns van die dame gaan ons mee.”

Die ruiter kyk na hulle met hernude verwondering, maar sy oë verhard. “Dan ís daar ’n dame in die Goue Woud, soos die verhale van ouds vertel!” sê hy. “Hulle sê daar is min wat haar nette ontsnap. Dit is vreemde dae hierdie! Maar as julle by haar in die guns staan, dan is julle moontlik óók netwewers en towenaars.” Hy werp skielik ’n koue blik na Legolas en Gimli. “En julle twee se swygsaamheid?” eis hy.

Gimli staan op en plant sy voete ferm uitmekaar; sy hand klem die hef van sy byl stewig vas, en sy donker oë blits. “Gee my jou naam, perdemeester, en ek sal jou myne gee, en nog meer daarby,” sê hy.

“Wat dít betref,” sê die ruiter terwyl hy af gluur na die Dwerg. “Die vreemdeling behoort hom éérste bekend te stel. Ewenwel, my naam is Éomer, seun van Éomund, en ek word die Derde Maarskalk van die Ruiterperk genoem.”

“Nou maar, Éomer, seun van Éomund, Derde Maarskalk van die Ruiterperk, laat Gimli die Dwerg, seun van Glóin, jou waarsku teen dwase woorde. Jy praat boos van dit wat aanskouliker is as wat jou gedagtes ooit kan begryp, en slegs dwaasheid kan jou verskoon.”

96 Éomer se oë gloei heftig, en die manne van Rohan mompel ergerlik, en beweeg dreigend nader met hulle spiese. “Ek sou jou kop afkap, baard en als, meester Dwerg, as dit net ’n bietjie hoër van die aarde gestaan het,” sê Éomer.

“Hy staan nie alleen nie,” sê Legolas; blitsig span hy sy boog en glip ’n pyl teen die koord met hande vinniger as sig. “Jy sterf voor die eerste haal van jou swaard.”

Éomer lig sy swaard en sake kon ’n rampspoedige wending geneem het, maar Aragorn spring tussen hulle in, en lig sy hand. “Verskoning, Éomer!” roep hy uit. “Wanneer jy meer weet, sal jy verstaan waarom jy my metgeselle ontstel het. Ons koester geen kwade bedoelings jeens Rohan, of die inwoners nie – nóg mens nóg perd. Wil jy nie ons verhaal aanhoor voordat ons slaags raak nie?”

“Ek sal,” sê Éomer, en lat sak sy swaard. “Maar swerwers in die Ruiterperk sal wys wees om in hierdie dae van twyfel minder arrogant te wees. Sê my eers jou regte naam.”

“Sê my eers wie jy dien,” sê Aragorn. “Is jy vriend of vyand van Sauron, die donker vors van Mordor?”

“Ek dien slegs die Heer van die Perk, Théoden Koning, seun van Thenghel,” antwoord Éomer. “Ons dien nie die mag van die verafgeleë Swart Land nie, maar verkeer ook nog nie openlik in oorlog met hom nie; en as julle van hom vlug, moet julle hierdie land eerder verlaat. Daar is moeilikheid op al ons grense, en ons word bedreig; maar ons verlang slegs om vry te wees, en om te leef soos ons geleef het, en na onsself om te sien, en om geen vreemde heer, goed of boos, te dien nie. In beter dae het ons gaste vriendeliker verwelkom, maar in hierdie tye vind die ongenooide gas ons hard en heet. Kom nou! Wie is julle? Wie dien júlle? Op wie se bevel jag julle Orke in ons land?”

“Ek dien geen mens nie,” sê Aragorn; “maar ek vervolg die dienaars van Sauron in welke land hulle ook al gaan. Onder sterflike Mense is daar min wat meer van Orke af weet, en dis nie uit vrye keuse wat ek hulle op hierdie manier jag nie. Die Orke wat ons agtervolg, het twee van my vriende gevange geneem. In sulke nood reis ’n man sonder perd te voet, en hy vra nie toestemming om die spoor te volg nie. En hy tel ook nie die koppe van die vyand nie, behalwe met ’n swaard. Ek is nie wapenloos nie.”

Aragorn skuif sy mantel terug. Die elfskede glinster toe hy dit omklem, en die helder lem van Andúril skyn soos ’n onverwagse vlam toe hy dit uittrek. “Elendil!” roep hy uit. “Ek is Aragorn, seun van Arathorn, en word Elessar genoem – die Elfsteen, Dúnadan, die erfgenaam van Isildur, Elendil se seun, van Gondor. Hier is die swaard wat gebreek was, en weer gesmee is! Bied jy my hulp, of bied jy my teenstand? Kies vinnig!”

Gimli en Legolas kyk met verwondering na hulle metgesel want in hierdie luim het hulle hom nog nooit aanskou nie. Hy blyk in gestalte te gegroei het terwyl Éomer gekrimp het; en in sy

97 besielde gesig bespeur hulle vlugtig ’n visie van die mag en majesteit van die konings van klip. Vir ’n oomblik kom dit vir Legolas se oë voor of ’n wit vlam soos ’n glansende kroon bo Aragorn se voorhoof flikker.

Éomer tree terug en op sy gelaat is ’n uitdrukking van ontsag. Hy slaan sy trotse oë af. “Dit is inderdaad vreemde dae hierdie,” prewel hy. “Drome en legendes ontspruit vanuit die gras.” “Vertel my, heer,” sê hy, “wat bring julle hierheen? En wat is die betekenis van die donker woorde? Boromir, seun van Denethor is lank gelede al weg op soek na ’n antwoord, en die perd wat ons hom geleen het, het ruiterloos teruggekeer. Watter lot bring julle vanuit die noorde?” “Die lot van keuse,” sê Aragorn. “Dít kan jy wel vir Théoden, seun van Thenghel sê: Openlike oorlog lê vir hom voor – sáám met Sauron, of teen hom. Niemand kan nou leef soos hulle geleef het nie, en min gaan dít behou wat hulle hul eie noem. Maar oor hierdie belangrike sake sal ons later praat. As die noodlot dit so beskik, sal ek self na die koning gaan. Nou het ek iets allernodigs, en ek vra om hulp, of minstens vir tyding. Jy het gehoor ons agtervolg ’n Ork- leërmag wat ons vriende ontvoer het. Wat kan jy ons vertel?”

“Dat julle hulle nie verder hoef te agtervolg nie,” sê Éomer. “Die orke is vernietig.” “En ons vriende?”

“Ons het niemand buiten orke gevind nie.”

“Dit is voorwaar vreemd,” sê Aragorn. “Het julle deur die gesneuweldes gesoek? Was daar geen liggame buiten dié van orke nie? Hulle sal klein wees – slegs kinders in julle oë – ongeskoeid, maar in grys geklee.”

“Daar was nóg dwerge, nóg kinders,” sê Éomer. “Ons het al die gesneuweldes getel, en hulle gestroop, en daarna die karkasse op ’n hoop gegooi en verbrand, soos ons gewoonte is. Die as is steeds aan’t rook.”

“Ons praat nie van dwerge of kinders nie,” sê Gimli. “Ons vriende was hobbits.” “Hobbits?” sê Éomer. “En wat is dit nogal? Dit is ’n vreemde naam.”

“’n Vreemde naam vir ’n vreemde volk,” sê Gimli. “Maar hierdie hobbits het ons baie na aan die hart gelê. Dit lyk of julle in Rohan gehoor het van die woorde wat Minas Tirith gekwel het. Dit maak melding van die halfling. Hierdie hobbits is halflinge.”

“Halflinge!” lag die ruiter wat langs Éomer staan. “Halflinge! Maar hulle is net mensies in ou liedjies en kinderverhale uit die noorde. Bewandel ons legendes of die groen aarde in die daglig?”

“’n Man kan albei doen,” sê Aragorn. “Want nie ons nie, maar diegene wat ná ons kom, gaan die legendes van ons tyd skep. Die groen aarde, sê jy? Dit is die magtige maaksel van legendes, hoewel jy dit in die daglig vertree.”

98 “Die tyd stap aan, heer,” sê die ruiter, sonder om ag te slaan op Aragorn se woorde. “Ons moet suid haas. Kom ons lewer hierdie wilde mense aan hul giere uit. Of kom ons bind hulle vas en neem hulle na die koning.”

“Vrede, Éothain!” sê Éomer in sy eie taal. “Laat my ’n wyle alleen. Sê vir die éored om in die pad aan te tree, en maak reg om na die Entwade te ry.”