• No results found

Hoofstuk 3: Literatuurstudie 3.1 Inleiding

3.4 Venuti en die sigbaarheid van die vertaler

Hierdie sigbaarheid van die vertaler – of die gebrek daaraan – is sentraal aan Venuti se The translator’s invisibility (1995). Venuti plaas die verantwoordelikheid van vertaalkeuses op die vertaler se skouers, en hy is hewig gekant teen die “regime of fluent translating” (Venuti 1995:5) wat die botoon gevoer het in vertaling in die Angel-Saksiese wêreld. Hy argumenteer vir groter sigbaarheid van vertalers. Die twee redes vir sy teenkanting teen die ‘kanonisering van vlotheid’ in doeltekste, en die gevolglike onsigbaarheid (invisibility) van die vertaler, is: (i) dit ontneem vertalers van hulle regmatige erkenning en (ii) dit doen afbreuk aan die bronteks met dié dat linguistiese en kulturele aspekte van die oorspronklike werk en die bronteksouteur

54 nie ten volle in die doelteks en doeltaal oorgedra word nie. Turner (2005:67) som dit soos volg op:

… by subtly domesticating the texts they translate, translators have unwittingly allowed target language readers to persist in the illusion that they are reading the original. As a result [the translators’] creative contribution goes unacknowledged and they have become largely invisible […] they have low status and are economically subservient to publishers.

Venuti noem verskeie aspekte van vertalings wat positiewe kommentaar onder kritici ontlok het, met vlotheid (fluency) en deursigtigheid (transparency) die twee kenmerke waarop die meeste gefokus is en altyd gunstig ontvang is. Hy skryf “[a] translated text … is judged acceptable by most publishers, reviewers, and readers when it reads fluently, when the absence of any linguistic or stylistic peculiarities makes it seem transparent” (Venuti 1995:1). Die klem val dus op die gemak waarmee die vertaling gelees word en die inhoud daarvan deur lesers geassimileer word. Weerstand teen teksbegrip moet tot die minimum beperk word; enige vreemde elemente wat integrasie van doelteksinhoud by lesers se raamwerk belemmer, moet tydens vertaling geëlimineer word. Venuti (1995:4-5) identifiseer sekere kenmerke waaraan “fluent translation” moet voldoen om deur resensente as ‘aanvaarbaar’ beskou te word:

• kontemporêre (moderne) taalgebruik wat algemeen gebruik word, pleks van argaïese of gespesialiseerde taalgebruik;

• gebruik van standaard- eerder as omgangstaal; • vermyding van vreemde woorde; en

• idiomatiese sintaksis wat eerder getrou aan die doel- as bronteks is, “that unfolds continuously and easily”

Volgens hierdie maatstawwe word vlot vertaling aangemoedig wat maklik verstaanbaar is en lesers “unobstructed ‘access to great thought,’ to what is present in the original’” (Venuti 1995:5) gee. Derhalwe moet vertalers hulle werk rig volgens die gemak van doeltekslesers en so vertaal dat die vertaler se teenwoordigheid as skepper van ’n nuwe teks in die doeltaal skaars manifesteer.

Under the regime of fluent translating, the translator works to make his or her work ‘invisible,’ producing the illusory effect of transparency that simultaneously masks its status as an illusion: the translated text seems ‘natural,’ i.e., not translated.

(Venuti 1995:5)

Gevolglik word lesers toegang gegee tot die teks van vreemde herkoms sonder enige krediet aan die persoon wat primêr tot daardie tekstuele, linguistiese en kulturele oordrag bygedra het – die vertaler. Venuti maak kapsie hierteen omdat vertalings as ondergeskik aan die bronteks

55 beskou word terwyl dit aan die doelteks die gesag van die outeur verleen, maar sonder dat lesers ‘verontrief’ word deur vreemdetaalelemente eie aan die taal waarin die outeur se persoonlikheid en bedoeling oorspronklik gereflekteer word, en waarin die bronteks gevorm is (Venuti 1995:7). Alhoewel vertalers ’n sleutelrol speel in die verplasing van die bronteks in die doeltaal, en die verryking van laasgenoemde, word hulle – en hulle vertaling – grotendeels misken; Venuti (1995:8) verwys na die vertaler se “shadowy existence”.

Maar dit is nie net die onsigbaarheid van die vertaler waarteen Venuti gekant is nie, maar ook die tipe vertaling wat die bydrae van die vertaler geringskat, en die implikasies van so ’n soort vertaling. Venuti onderskei tussen twee soorte vertalings: domestication (domestikering) en foreignization (vervreemding). Hierdie onderskeid is nie nuut nie, maar Venuti word gekrediteer met die benaming wat vandag daaraan geheg word. Hy beskryf die twee tipes met verwysing na Schleiermacher se lesing ‘On the different methods of translating’ wat in afdeling 3.5 bespreek word:

Domesticating method: an ethnocentric reduction of the foreign text to

target-language cultural values, bringing the author back home [Tydens vertaling word die bronteks by die doeltaal en -kultuur aangepas om die leeservaring vir doeltekslesers te vergemaklik; daar is so min moontlik aanduiding dat die doelteks se oorsprong in ’n vreemde taal is.]

Foreignizing method: an ethnodeviant pressure on those values to register

the linguistic and cultural difference of the foreign text, sending the reader abroad [Die verskille tussen die bron- en doeltaal word beklemtoon eerder as verbloem; lesers word meer blootgestel aan vreemdetaalelemente. Die lees van die doelteks verg meer inspanning en toewyding maar lesers ervaar meer van die andersheid kenmerkend aan die bronteks.]

(Venuti 1995:20)

Venuti (1995:81) is gekant teen domestikering se “ethnocentric reduction of the foreign text to dominant cultural values”, ingevolge waarvan die bronteks nie die erkenning geniet waarop dit geregtig is nie maar ‘vertroebel’ word om by die doeltaal in te pas. Sodoende word die eienaardigheid en onderskeidende kenmerke van die bronteks in so ’n mate gereduseer dat vreemdetaalelemente geneutraliseer word. Dit is veral hierdie miskenning van brontekselemente wat vir die doel van my argument – relevant vir LotR – klink. Volgens Venuti lei domestikering tot ’n inperking van vertalers se kreatiwiteit aangesien hulle nie met “discursive innovations and deviations” (Venuti 1995:116) vorendag hoef te kom om die kultuureie karakter van die bronteks oor te dra nie. Dié heftige kritiek kan nie goedsmoeds na alle domestikerende vertalings veralgemeen word nie aangesien laasgenoemde dikwels gepaardgaan met unieke uitdagings en dikwels ’n groot mate van innovasie en kreatiwiteit verg om doeltaalekwivalente te vind. Venuti is egter besorg oor meer as die aanbieding van die teks

56 aan lesers op ’n ‘gebruikersvriendelike’ wyse waarvolgens hulle so min moontlik verontrief word. Hy argumenteer dat deel van die doel van vertaling juis is om die interkulturele verskille aan lesers uit te wys. Met verwysing na Nott, ’n 18de-eeuse vertaler, vestig Venuti (1995:306) die aandag daarop dat meer as bloot literêre waardering tydens vertaling op die spel is:

Translation is a process that involves looking for similarities between languages and cultures […] but it does this only because it is constantly confronting dissimilarities. It can never and should never aim to remove these dissimilarities entirely. A translated text should be the site where a different culture emerges, where a reader gets a glimpse of a cultural other, and resistancy, a translation strategy based on an aesthetic of discontinuity, can best preserve that difference, that otherness, by reminding the reader of the gains and losses in the translation process and the unbridgeable gaps between cultures.

Die “confronting dissimilarities” vorm die kruks van die tipe vertaling wat Venuti wel voorstaan – foreignizing/vervreemdende vertaling, waarmee “that difference, that otherness” van die bronteks behou word, en in die doelteks inslag vind. Die verwysing na wins en verlies tydens die vertaalproses, en die onoorbrugbare gapings tussen kulture lig die dinamika van vertaling baie goed uit. Dit herinner aan Eco (2004:38) se vermaning dat die vertaler somtyds genoop word om teen ’n verlies te werk en dat “[t]ranslators are frequently aware of having missed a chance or being on the verge of missing one, and thus try to recover their losses.” (Eco 2004:147) Dit is nie noodwendig ’n goeie of ’n slegte ding nie, bloot die realiteit van die vertaalhandeling wanneer ’n verhaal – veral een van sodanige epiese omvang waarvan die skep 12 jaar geneem het – in ’n ander taal verplaas word. Dit is nie ’n taak wat lig opgeneem kan word nie, en dit is hierdie erns van die vertaalhandeling wat Venuti beklemtoon wanneer hy vervreemdende vertaling verdedig op grond daarvan dat “the translator becomes aware of his intimate sympathy with the foreign writer only when he recognizes his own voice in the foreign text”.

Dit bring weereens die lojaliteit van die vertaler teenoor die bronteksouteur te berde. Met verwysing na die skep van LotR, het Tolkien in 1947 vir Stanley Unwin, sy toekomstige uitgewer, geskryf, “[i]t is written in my life-blood, such as that is, thick or thin; and I can no other” (Tolkien 1981:141). Venuti argumenteer die beste manier om tekskenmerke en styl daargestel deur (byvoorbeeld) 12 jaar se toewyding te eerbiedig, is om daardie tekskenmerke en styl wat die outeur as sy lewensbloed beskou, so getrou en herkenbaar moontlik in die doelteks oor te dra; dit nie vir lesers se gerief te negeer nie, maar erkenning te gee aan die volle spektrum van die outeur se skeppingsvernuf en die vrug van sy/haar arbeid. Tolkien die vertaler – hoofsaaklik uit Ou Engels en Middelengels – sou waarskynlik met Venuti saamgestem het. In ’n essay oor sy benadering tot die vertaling van Beowulf, skryf Tolkien

57 If you wish to translate, not re-write, Beowulf, your language must be literary

and traditional: not because it is now a long while since the poem was made, or because it speaks of things that have since become ancient; but because the diction of Beowulf was poetical, archaic, artificial (if you will) in the day that the poem was made.

(Tolkien 1983:54)

As vertaler van eeue-oue gedigte in “something that could be readily understood by speakers of the modern idiom” (Smith 2009:3), is Tolkien nie onredelik in sy verwagtinge van vertalers nie. Turner (2005:46) benadruk dat Tolkien bewus was van die “difficulties of conveying the sense of a culture so remote in time from our own in words which will be comprehensible to a modern readership without betraying the integrity of the source”. Nietemin het hy van lesers verwag “to put in a great deal of effort in order to gain a thorough understanding of what the author is saying”. Vir Tolkien, net soos vir Venuti, het vertaling nie bloot gegaan oor die beskikbaarstel van die bronteks aan doeltekslesers om enige nut daaruit te haal wat hulle behaag nie. Tolkien was besorg oor die behoud van die teks – sy life-blood – en indien dit vertaal moet word, moet dit geskied op ’n wyse wat die bronteks in al die fasette daarvan eerbiedig.

Een van die prominentste van hierdie fasette is taal – die dryfveer agter die skep van Tolkien se magnum opus, die saadjie waaruit die 600 000-woordroman ontkiem het. Hierdie hartstog vir taal, en sy aandrang op die behoud daarvan in vertalings, weerklink onder die afdeling ‘On translation’ in addendum F: “in those days all the enemies of the Enemy revered what was ancient, in language no less than in other matters, and they took pleasure in it according to their knowledge” (Tolkien 1993:1168). Die aanhaling klink amper Bybels, en dit is presies wat Tolkien met sy taalgebruik bereik het – en steeds bereik – en waarom dit so belangrik is dat die tipe vertaling wat vir LotR gebruik word, so ver moontlik geen aspekte afskeep nie. Tolkien het gereken “people could feel history in words, could recognise language ‘styles’, could extract sense … from sound alone” (Shippey 2003:114). Hoe anders kan ’n vertaler van LotR as om ’n benadering te gebruik wat hierdie vreemdetaalelemente repliseer en die wens van die outeur eerbiedig? Domestikering sal nie deug as benadering nie omrede dit nie voldoende – as’t ware geensins – rekenskap van hierdie elemente gee nie; met vervreemdende vertaling kan die vertaler poog om hierdie elemente te repliseer, en die skopos van die vertaling te laat slaag. Poveda (2003:7) beweer “Tolkien’s fiction is built on the foundations of highly stereotyped and traditional narrative forms, far removed from the literary movements of the twentieth century” en Tolkien (1981:452) sê self “I have … no interest at all in the history or the present situation of the English ‘novel’”. Met Nord (1997b:93) se advies dat die vertaler

58 bronteksontleding moet gebruik om te bepaal “whether and to what extent an imitation of the source-text style could be an appropriate way of achieving the intended function and what effect this will have”, spreek dit vanself dat die vertaler geen keuse het as om ’n benadering te volg wat Tolkien se taalgebruik so getrou moontlik repliseer nie.