• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

5.5 Teksspesifieke vertaaluitdagings

5.5.1 Alliterasie

Alliterasieverwante vertaaluitdagings is teksspesifiek aangesien die uitdagings – en die oplossings daarvoor – nie na ander tekste veralgemeen kan word nie. Dit gaan hand aan hand met interlinguistiese uitdagings aangesien die vertaler ’n ekwivalent in die doelteks moet vind wat die alliterasie van die bronteks weergee en dit moet doen deur beskikbare taalkundige elemente te gebruik. Die woordeskat van die bron- en doeltaal laat egter nie altyd toe dat die aanvangsklanke van die woorde in die doelteks allitereer soos wat met die woorde in die bronteks die geval is nie. By ’n sin soos byvoorbeeld With that he seized a great horn from Guthláf his banner-bearer, and he blew such a blast upon it that it burst asunder (Tolkien 1993:870) is dit nie noodwendig vir die vertaler moontlik om al die b-klanke te laat allitereer nie. Die vertaler sal so ’n geval as ’n verlies kan reken maar onderneem om vir die verlies te vergoed deur elders in die doelteks alliterasie toe te pas waar dit nie in die bronteks voorkom nie. Afrikaans as Wes-Germaanse taal geniet egter ’n groot voordeel bo Romaanse tale soos Frans en Italiaans aangesien dit baie taalkundige wortels met Engels deel.

Bent and browned by their labour (Treebeard) BT: bent and browned by their labour DT: geboë en gebruin van hulle arbeid

Die klank in geboë en gebruin verskil van dié van die bronteks maar die alliterasie in die doelteks word gerepliseer. Alhoewel dit nie ’n uitdrukking in Afrikaans is nie, klink dit baie idiomaties, soos iets wat na analogie van gebore en getoë moontlik wel in Afrikaans gevestig kan wees. Voorts dui die HAT bruin as werkwoord aan, met die volgende voorbeelde: “deur die son gebruin wees … ’n gebruinde gesig”. ’n Mens sou pleks van arbeid eerder gewerk kon gebruik (geboë en gebruin van hulle gewerk) en sodoende ’n derde g-klank byvoeg, maar ek verkies arbeid.

131 Fair as the Sea and the Sun and the Snow upon the Mountain! (The Mirror of Galadriel) BT: Fair as the Sea and the Sun and the Snow upon the Mountain!

DT: Sierlik soos die see en die son en die sneeu op die berg!

Hierdie voorbeeld illustreer die suksesvolle replisering van alliterasie, met ’n verbetering op die bronteks in dié dat sierlik tot die alliterasie bydra wat nie in die bronteks (Fair) die geval is nie.

Footstep of Doom (The Mirror of Galadriel) (kompensasie) BT: footstep of Doom

DT: voetval van verdoemenis

Tolkien gebruik dikwels alliterasie wat nie op ’n spesifieke plek in die teks deur die vertaler gerepliseer kan word nie omdat die doeltaalwoordeskat dit nie toelaat nie. Turner (2005:150) identifiseer die “compensatory addition of alliteration … in places where it is not present in the source text … whenever appropriate words are available in the target language” as een van die Duitse vertaling se kompensasietegnieke om argaïsme daar te stel. Om dus te kompenseer vir die ‘verlies’ wanneer die alliterasie nie op dieselfde plek in die doelteks gerepliseer kan word nie, moet die vertaler op die uitkyk wees om elders alliterasie toe te pas waar dit nie in die bronteks voorkom nie. Hierdie voorbeeld is een so ’n geval, met drie opeenvolgende woorde wat met dieselfde letter begin.

5.5.2 Herhaling van klanke

Die herhaling van klanke bied ’n teksspesifieke uitdaging omrede die repetisie tot hierdie spesifieke teks beperk is en nie na ander tekste veralgemeen kan word nie. Tolkien herhaal klanke met opset en dit vorm deel van sy strategie om deur middel van argaïsme ’n ouwêreldse atmosfeer te skep. In die meeste ander tekste is die herhaling van klanke moontlik lukraak of per abuis en dien dit waarskynlik geen doel nie, en die vertaler hoef nie daarop te let nie. Die vertaler van LotR is egter daarvan bewus dat die herhaling van klanke doelbewus deur Tolkien ingespan word om ’n bepaalde effek te skep en daarom moet noukeurig daarop gelet word wanneer hierdie verskynsel voorkom en of dit gerepliseer kan word en indien nie, of elders daarvoor gekompenseer kan word. Schäffner en Wiesemann (2001:41) wys daarop dat “[a] decision as to the most appropriate translation strategy will have to be based on a consideration of their relevance for the text”. Hierdie relevansie vir die teks – of die afwesigheid daarvan – moet in berekening gebring word om te oordeel of die herhaling van klanke op ’n bepaalde plek in die teks enigsins in die doelteks gerepliseer moet word en, indien wel, hoe te werk gegaan moet word om dit te vermag.

132 Aid me or thwart me (The Riders of Rohan)

BT: Will you aid me or thwart me?

DT: Bied jy my hulp, of bied jy my teenstand?

Ek repliseer nie die eindklank me van die bronteks nie maar eerder die aanvangsklanke met Bied jy my. My (me) word wel herhaal.

Out of doubt, out of dark (The Battle of the Pelennor Fields)

BT: Out of doubt, out of dark to the day’s rising […] Now for wrath, now for ruin and a red nightfall!

DT: Vanuit twyfel, vanuit duister, na die breek van die dag, […] Nou vir weerwraak, nou verderf, en ’n rooi skemering!

Ek herhaal die aanvangsklanke. Streng gesproke moet die laaste reël Nou vir weerwraak, nou vir verderf wees, maar ek los die vir uit om eerder die ritme te akkommodeer (nog ’n voorbeeld van haplologie – sien ook Mistig Gebergte).

5.5.3 Herhaling van woorde

Ek kategoriseer die herhaling van woorde onder teksspesifieke vertaalprobleme aangesien die herhaling van die spesifieke woorde en die manier hoe ek die vertaling daarvan hanteer het spesifisiek op die LotR-teks betrekking het. Die woorde wat ek herhaal, sal nie noodwendig in ’n ander teks herhaal word nie, maar vir die doel van hierdie teks is dit wel belangrik om herhaal te word. Dit geld ook vir woorde wat Tolkien wel in die bronteks herhaal, maar wat ek goedgedink het om weens welke rede ook al nie te herhaal nie. ’n Voorbeeld hiervan is die hantering van die woord diminish in die Mirror of Galadriel-vertaling waar ek gekies het om twee verskillende doeltekswoorde vir dieselfde brontekswoord te gebruik. My keuse van die woord verbleek in die tweede geval is gerig deur eienskappe wat die teks spesifiek aan Galadriel heg. In enige ander teks is dit onwaarskynlik dat die woord diminish as verbleek vertaal sal word.

Daar is ook ’n interlinguistiese element verbonde aan die uitdaging wat die herhaling van woorde bied aangesien die keuses wat gemaak word op taalkundige keuses gegrond is. Die woorde wat gekies word, is onderhewig aan die betekenis daarvan en die taalkundig korrekte aanwending. Om Take care of yourself as Sien mooi om na jouself te vertaal, is nie noodwendig die eerste keuse van uitdrukking nie maar dit is korrek en onder die omstandighede dien dit die doel baie goed om Tolkien se woorde in die bronteks te herhaal.

133 Diminish (The Mirror of Galadriel)

BT: Yet if you succeed, then our power is diminished DT: En tog, indien jy slaag, sal ons mag afneem

BT: I will diminish, and go into the West, and remain Galadriel. DT: Ek sal verbleek en na die Weste gaan, en ek sal Galadriel bly.

Galadriel verwys vroeër na die power van die Elwe wat sal diminish indien Frodo se sending suksesvol is, en ek vertaal die uitdrukking as hulle mag wat sal afneem. Hier verwys Galadriel egter na haarself wat sal diminish en verkieslik moet die vertaling dieselfde woord in albei gevalle gebruik, om aan te dui dat haar lot dieselfde as dié van die Elwe gaan wees. Ek gebruik egter nie dieselfde woord nie en vertaal Galadriel se woorde soos hierbo. Die redes hiervoor is (i) Ek vind nie ’n vertaling van diminish wat sowel die lot van die Elwe as dié van Galadriel

doeltreffend beskryf nie. Die Elwe se mag wat afneem, is geskik maar Galadriel kan nie afneem nie. Ek kan ook nie haar woorde verdraai en sê my mag/invloed sal afneem om sodoende dieselfde woord te kan gebruik nie want dit is nie wat sy sê nie; om dieselfde rede kan ek dit nie impliseer nie. Die Elwe se power wat diminish is ’n algemene verwysing na die lot van die Elwe maar Galadriel se verwysing na haarself wat diminish, is ’n baie persoonlike refleksie en die uiting word gekenmerk deur ’n ondertoon van weemoedigheid oor ’n onvermydelike en persoonlike lot wat haar in die gesig staar. Haar woorde I pass the test ... I will diminish, and go into the West, and remain Galadriel getuig van haar verligting oor haar triomf oor die mag van die ring wat haar aangebied is maar dit beeld ook die prys uit waarteen daardie oorwinning kom, naamlik dat sy gaan diminish en nie in Middle-earth kan bly nie.

(ii) Ek gebruik verbleek omrede Galadriel dikwels met die kleur wit geassosieer word (“clad wholly in white”, “[t]all and white and fair” en “white arms” [Tolkien 1993:373;380;394]). Verbleek dui daarop dat sy steeds dieselfde gaan bly (remain Galadriel) maar minder gaan wees. Soos wat Tolkien aan die begin van die hoofstuk haar beskryf as “clad wholly in white” (Tolkien 1993:373) sal sy ná die afneem van haar mag, “clad in simple white” (Tolkien 1993:385) wees. Deur verbleek te gebruik, dui ek daarop dat sy steeds Galadriel sal bly, soos geïllustreer deur die simboliese wit wat aan haar gekoppel word, maar minder sal wees.

Take care (A Long-expected Party 2)

BT: “ … Take care of yourself! You are old enough, and perhaps wise enough.” “Take care! I don’t care. …”

134 “Sien om! Ek gee nie om nie! …”

Die algemener uitdrukking is Kyk mooi na jouself of Wees versigtig maar ek wil Tolkien se herhaling van care repliseer en gebruik die uitdrukking omsien na.

5.5.4 Interpunksie en die gebruik van hoofletters

Alhoewel interpunksie en die gebruik van hoofletters eerder aan interlinguistiese vertaalprobleme en -oplossings gekoppel word, bied dit hier teksspesifieke uitdagings aangesien die uitdagings gesetel is in Tolkien se gebruik daarvan in LotR. Tolkien gebruik dikwels hoofletters om na sekere naamwoorde te verwys om eiename aan te dui maar hy is nie altyd konsekwent met sy gebruik daarvan nie. Derhalwe word daar na Minas Tirith verwys as city of the Kings (Tolkien 1993:1099) en City of the Kings (Tolkien 1993:1009), en na dieselfde kruispad as sowel the cross-roads (Tolkien 1993:674) as the Cross-roads (Tolkien 1993:726), met geen ooglopende verduideliking vir die verskil nie. Afrikaans maak aansienlik minder van hoofletters gebruik as Engels en Tolkien gebruik hoofletters waarskynlik as ’n manier om te argaïseer, soos wat hy samestellings gebruik, maar die afwisselende gebruik veroorsaak dikwels verwarring. Die vertaler moet hoofletters na goeddunke gebruik maar dit liewers tot die minimum beperk wanneer dit geen ooglopende doel dien nie. Dieselfde geld vir leestekens. Men/men (Treebeard)

BT: Many men learned the crafts of the Entwives and honoured them greatly; but we were only a legend to them, a secret in the heart of the forest. Yet here we still are, while all the gardens of the Entwives are wasted: Men call them the Brown Lands now.

DT: Baie mense het die kundigheid van die Entvroue aangeleer en groot eer aan hulle betoon; maar ons was vir hulle net ’n legende, ’n geheim in die hart van die oerwoud. En tog hier is ons steeds terwyl al die tuine van die Entvroue verwoes is: Mense noem dit nou die Bruinveld.

Hierdie uittreksel dien as goeie voorbeeld van die verwarring wat dikwels geskep word deur Tolkien se afwisselende gebruik van hoofletters by die name van bevolkingsgroepe. Men word hier die eerste maal met ’n hoofletter en die tweede maal met ’n kleinletter geskryf. Die feit dat die tweede Men ná ’n dubbelpunt volg, verklaar nie die gebruik van die hoofletter nie; neem die sin aan die begin van die vorige paragraaf waar die dubbelpunt deur ’n kleinletter gevolg word: growing in the same way: the Ents gave their love to things. Die moontlikheid bestaan dat die spreker (Treebeard) nie na die bevolkingsgroep Mense verwys nie maar na manlike Ents maar Tolkien (1981:196) skryf “[The Entwives] survived only in the ‘agriculture’ transmitted to Men (and Hobbits).” Die Entvroue se landboukundige kennis is dus wel aan Men (Mense) oorgedra maar ek dink Tolkien wil die boodskap oordra dat Mense nie as volk by hulle

135 geleer het nie maar eerder as individue, gemeenskappe, ens. wat deel vorm van Mense wat die kennis sodoende kollektief bekom het. Gevolglik repliseer ek Tolkien se gebruik van hoofletters/kleinletters hier.

Weglaat van komma (The Riders of Rohan) BT: the heir of Isildur Elendil’s son of Gondor

DT: die erfgenaam van Isildur, Elendil se seun, van Gondor

Wees bedag op die weglaat van die komma ná Isildur in die bronteks. Isildur was Elendil se oudste seun en die komma tussen die twee name ontbreek in die bronteks. Die bronteks is baie verwarrend; ek stel dit in die vertaling reg.

5.5.5 Name

Name speel ’n belangrike rol in die konstruksie van Tolkien se skynwêreld: “[t]he maps and the names give Middle-earth that air of solidity and extent both in space and time which its successors so conspicuously lack” (Shippey 2003:103). Vertaling van name moet dus spesiale sorg geniet want indien ’n naam onoortuigend is, neem die leser nie die karakter ernstig op nie. Baie van die vanne wat Tolkien byvoorbeeld vir die hobbits gebruik, is werklike Engelse vanne – Baggins, Hornblower, Proudfoot – waarvan die meeste ’n ooglopende betekenis het, en een van die vertaler se grootste uitdagings is om (Suid-)Afrikaanse vanne te vind wat ’n soortgelyke betekenis het – “assimilating the Shire to a greater or lesser degree to the linguistic and cultural norms of the target language” (Turner 2005:78). Tolkien (1981:267) wys self daarop dat die nomenklatuur “in an imaginary country and period, as this one, coherently made” baie belangriker as in ’n historiese roman is. Die rede daarvoor is dat bestaande name en vanne reeds geloofwaardig is bloot weens hulle bestaan. Hoe vreemd en ongewoon die vanne Shufflebottom of Rattlebag, Hogewind of Onkruydt ook al klink, niemand kan hulle egtheid in twyfel trek nie. Die “coherently made” wat Tolkien noem, verwys na die geskiedenis en kultuur wat hy vir sy skynwêreld geskep het en wat ook grootliks bydra tot die geloofwaardigheid van die verhaal. Die betekenisvolle elemente van name wat met hierdie geskiedenis en kultuur skakel, moet behou word (Turner 2005:80).

Volgens Schäffner en Wiesemann (2001:34) word eiename in die meeste gevalle nie verander nie en net so in die doeltaal oorgedra. Wanneer dit wel verander word, is dit weens die verskillende skryfstelsels van die bron- en doeltaal, en ressorteer dit onder pragmatiese vertaalprobleme. Derhalwe word die Russiese name Горбачёв en Толстой as onderskeidelik Gorbachov en Tolstoy, en Gorbatsjof en Tolstoi (AWS 2017:672) in onderskeidelik Engels en Afrikaans geskryf. In die geval van LotR word net die name van Tolkien se selfgeskepte tale

136 nie aangepas nie terwyl dié in die Omgangstaal wel verander word. Die uitdaging wat laasgenoemde vir die vertaler bied, is hoofsaaklik teksspesifiek van aard maar dit oorvleuel met sowel interlinguistiese en – in sommige gevalle in ’n geringe mate – met interkulturele uitdagings.

Die uitdaging is hoofsaaklik teksspesifiek omrede die vertaling van name volgens Tolkien se voorskrifte moet geskied en daardie voorskrifte net vir die LotR-teks geld; indien enige van die name in enige ander teks verskyn, staan dit daardie vertaler vry om met ’n ander vertaling vorendag te kom. Twee goeie voorbeelde is Baggins en Bag End. Tolkien se voorskrifte in die Guide is baie spesifiek oor wat die vertaling van die name moet behels. Dieselfde geld vir Bracegirdle en Hornblower. Tolkien wou ’n bepaalde effek met sy gekose bronteksname vermag en die vertaler is verplig om – sover moontlik – hierdie effek te probeer repliseer. In ’n ander teks kan die name moontlik net name wees met geen bedoelde effek nie, en die vertaler sou die naam óf net na die doelteks kon oordra, óf dit na goeddunke met ’n ander kon vervang. Name bied egter ook ’n interlinguistiese uitdaging aangesien dit dikwels ook ’n onderliggende betekenis bevat wat net taalkundig oorgedra kan word. Vergelyk byvoorbeeld die wisselvorme van Proudfoot (Barrevoet) se meervoud wat in die bronteks as Proudfeet (Barrevoete) en as Proudfoots (Barrevoets) uitgedruk word. Daar is ook die vertaling van Withywindle waarvan die alliterasie in die vertaling Wilgewendel gerepliseer word terwyl die betekenis van die twee stamme waaruit die samestelling bestaan met dié van die bronteks ooreenstem.

Verder bied name ’n interkulturele uitdaging. Met die vertaling van byvoorbeeld Riddermark kan veral ’n Afrikaanse vertaler in die versoeking kom om die naam net so oor te dra aangesien albei die wortels van die naam eg Afrikaanse woorde is en mark (soos in markgraaf) aan ’n grens gekoppel word, soos in die bronteks. Maar die vertaler moet die kultuur van die doelgehoor in ag neem: mark in Afrikaans is hoofsaaklik ’n openbare verkoopplek soos ’n dorpsmark of boeremark, en om ’n naam soos Riddermark net so in die doeltaal oor te dra, sal bots met die doelkultuur. Derhalwe het ek ook nie die korrekte vertaling van brock (das) in Brockhouse (Dashuis) gebruik nie omrede Afrikaanssprekendes das met ’n dassie sal verbind wat glad nie die indruk sal skep wat Tolkien met Brockhouse in gedagte gehad het nie.

Baggins (A Long-expected Party 1) BT: Baggins (meervoud: Bagginses) DT: Buidler (meervoud: Buidlers)

137 Alhoewel dit nie alom bekend is nie, is Baggins ’n werklike Engelse van. Tolkien (1975:3) gee die volgende riglyn vir die vertaling daarvan: “Intended to recall ‘bag’ … and meant to be associated (by hobbits) with Bag End (that is, the end of a ‘bag’ or ‘pudding bag’ = cul-de- sac), the local name for Bilbo's house. […] The translation should contain an element meaning ‘sack, bag’.”

Bilbo speel nie so ’n groot rol in LotR nie, maar ek wil die alliterasie van sy naam en van in die doelteks repliseer en ook Tolkien se voorskrif nakom en die bag-element behou. Ek gebruik Budler, ’n Suid-Afrikaanse van – dit is nie ’n variasie op die Engelse Butler nie – en kombineer dit met buidel (“geldsak, beurs” [WAT] en “[l]eersak wat om die nek aan ’n leerband gedra word” [VAW], met ’n verwysing na “buidelsakke” in die HAT).

Buidler sinspeel op die werklike van maar die klank herinner aan buidel (sak), soos wat Tolkien wou hê. Die feit dat buidel sinoniem vir ’n geldsak of beursie is, is ideaal aangesien Bilbo skatryk is ná sy avontuur in The hobbit en sy rykdom altyd ’n punt van belang onder die inwoners van Hobbiton is.

Aanvanklik plaas ek die -s aan die einde om Buidlers te vorm wat meer soos Baggins klink maar in Afrikaans klink dit soos ’n meervoud, anders as baie Engelse vanne (Hopkins, Watkins, Perkins, Jenkins) wat soos Baggins op -ins eindig. Ek hou die enkelvoud dus Buidler, met die meervoud Buidlers.

Die versoeking bestaan om die van Sack (rym met die Afrikaanse sak, nie die Engelse sack nie) te gebruik. Dit beteken “[i]emand wat in ’n doodloopstraat woon” (Pama 1983:281) – soos Bilbo se woning, Bag End. Maar die enkele lettergreep doen afbreuk aan Tolkien se ritme, en negeer die alliterasie, tensy ek Bilbo se naam ook verander.

Bag End (A Long-expected Party 1) BT: Bag End

DT: Buidelpunt

Tolkien (1975:12) skryf die volgende oor Bag End: “The local name for Bilbo's house, and meant to be associated (by hobbits) with the end of a ‘bag’ or ‘pudding-bag’ = cul-de-sac. Translate by sense. See Baggins; the same element in the language of translation should appear both in Baggins and in Bag End.”