• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

5.2 Pragmatiese vertaaluitdagings

5.2.1 Formele aanspreekvorm

Die formele aanspreekvorm as vertaaluitdaging is pragmaties van aard, alhoewel dit nou verband hou met interkulturele vertaaluitdagings. Volgens Schäffner en Wiesemann (2001:32) spruit pragmatiese vertaalprobleme uit die kontras tussen die “ST situation and the TT communicative situation”. Die twee voorbeelde wat ek noem, behels albei die gebruik van die woord lady as formele aanspreekvorm. Die vertaling van die woord bied nie sodanig ’n probleem nie maar die aanvaarding van die woord onder die bepaalde omstandighede wel aangesien die direkte vertaling van die woord as dame, juffrou of mevrou weens verskillende redes nie een ’n aanvaarbare vertaling bied nie. Schäffner en Wiesemann (2001:32) wys verder daarop dat kultuurspesifieke terme gebruik word vir verskynsels “that exist only in one of the two cultures”. In hierdie geval is dit nie soseer ’n geval dat doeltekslesers nie “fully familiar with the source culture” (Schäffner & Wiesemann 2001:33) is nie maar eerder dat hulle ’n verskillende kulturele waarde aan die term heg. Die oplossing wat in albei gevalle gebied word, is ook pragmaties van aard: die formele u-aanspreekvorm het nie ’n ekwivalent in Engels nie (buiten, soos vroeër aangedui, die argaïese thou en thy). Gevolglik word ’n term wat in die brontaal geen ekwivalent het nie (u) gebruik om ’n term te vertaal wat in die doeltaal geen ekwivalent het nie (lady, soos gebruik in die betrokke konteks).

Lady (The Steward and the King)

BT: … here is the lady Éowyn of Rohan. DT: Hier is die dame Éowyn van Rohan. BT: What would you have me do, lady? DT: Wat wil u hê moet ek doen?

Ek hanteer die vertaling van dame op twee maniere. In die eerste geval, waar die Kastelein in die derde persoon na Éowyn verwys, vertaal ek dit. Dit is nie net omrede dit ’n derdepersoonsverwysing is en die gebruik van dame natuurlik voorkom nie, maar ook omdat hy ondergeskik aan haar is, teenoor Faramir wat haar gelyke in sosiale stand is. Wanneer Faramir haar egter aanspreek, gebruik ek nie dame nie weens twee redes: (i) Om dame te gebruik wanneer iemand direk aangespreek word, is wel ’n vorm van respek maar dit stel ook ’n sosiale afstand daar tussen die spreker en die aangesprokene, wat nie in hierdie konteks

122 gepas is nie. Die aanspreekvorm is gepas in ’n formele situasie, byvoorbeeld ’n winkel waar ’n assistent hulp aanbied en die omstandighede ’n formele register vereis (of tussen die Kastelein en Éowyn). Benewens die gebruik van lady/dame om na ’n vrou uit die hoër stand te verwys, is daar ’n duidelike registerverskil in Engels en Afrikaans tussen die gebruik van lady/dame om iemand aan te spreek wat jou sosiale stand deel. Webster’s wys daarop dat lady “a polite term for any woman” is, en dit klink glad nie vreemd vir ’n man om ’n vrou as lady aan te spreek nie. Die HAT wys op die gebruik van dame as ’n “neutrale aanspreekvorm vir ’n vrou van wie ’n mens nie weet of sy getroud is nie” en volgens Müller en Pistor (2011:647) word dame “hoofsaaklik gebruik om ’n onbekende vrou aan te spreek, of as eretitel”. Die Afrikaanse gebruik van dame is meer beperk as die Engelse gebruik van lady. Selfs binne die ouwêreldse konteks van LotR sal die gebruik van dame hier gedwonge klink.

’n Meer kontemporêr aanvaarbare Afrikaanse term is juffrou maar juffrou geniet glad nie die aansien wat dame geniet nie. Alhoewel juffrou taalkundig histories wel as verwysing na ’n vrou van hoë aansien kan verwys, het “die ‘status’ v[an] juffrou [met verloop van tyd] van ‘aansienlike dame’ … tot dié van ’n gew[one] juffie gedaal” (Boshoff & Nienaber 1967:314). Mevrou is ’n aanspreekvorm wat dui op groter aansien maar weens Éowyn se huwelikstatus is dit beslis nie gepas nie. Gevolglik laat ek dame eerder hier uit en maak staat op die formele u om die nodige respek te toon. Ek gebruik die u-aanspreekvorm regdeur die dialoog (It is too late, lady, to follow the Captains, even if you had the strength | Dit is te laat om die kapteine te volg, al het u die krag gehad) en dit is eers nadat Faramir Éowyn die eerste maal op haar naam aanspreek dat ek daarmee wegdoen.

Lady Galadriel (The Mirror of Galadriel)

BT: “You are wise and fearless and fair, Lady Galadriel,” said Frodo. “I will give you the One Ring, if you ask for it. It is too great a matter for me.”

Galadriel laughed with a sudden clear laugh. “Wise the Lady Galadriel may be,” she said

DT: “Die dame Galadriel is wys en vreesloos en regverdig,” sê Frodo. “Ek sal u die een ring gee, indien u daarvoor vra. Hierdie taak is bo my vuurmaakplek.”

Galadriel lag met ’n skielike helder lag. “Die dame Galadriel kan moontlik wys wees,” sê sy

Ek vertaal nie Lady Galadriel wanneer Frodo haar aanspreek nie want die formele aanspreekvorm u is voldoende om Frodo se respek uit te beeld. U is wys en vreesloos en regverdig, dame Galadriel klink nie idiomaties nie – selfs nie binne die konteks nie. Daar is ’n verdere motivering om Frodo se eerbetoon tot die gebruik van die eerbiedwaardige u te beperk. Tolkien (1993:1167 [addendum F]) skryf “It was, however, one of the peculiarities of Shire-

123 usage that the deferential forms had gone out of colloquial use” en hy noem die voorbeeld van Peregrin Took wat in sy eerste paar dae by Minas Tirith die informele vorm (familiar forms) gebruik het om “people of all ranks, including the Lord Denethor himself” aan te spreek. Tolkien (1993:1167 [addendum F]) skryf verder dat

It will be noticed that Hobbits such as Frodo … do not always use the same style. This is intentional. The more learned and able among the Hobbits had some knowledge of ‘book-language’, as it was termed in the Shire; and they were quick to note and adopt the style of those whom they met.

Tolkien gebruik Lady Galadriel hier as eerbiedwaardige aanspreekvorm maar indien Frodo nie die naam gebruik het nie, sou hy Galadriel waarskynlik as thou aangespreek het om sy respek te toon. Afrikaans het wel die formele u-aanspreekvorm en dit kan hier met dieselfde uitwerking gebruik word.

Die komplikasie wat dit veroorsaak, is dat Galadriel se woorde in die volgende sin waar sy na haarself in die derde persoon verwys verkieslik ’n herhaling van Frodo se woorde moet wees omdat sy hardop oor haar eie karakter besin. Daar is niks verkeerd met Galadriel se illeïsme om hier Die dame Galadriel is moontlik wys te gebruik nie – dit klink natuurlik en die oordrewe formele toon onder die omstandighede pas by die kommentaar wat sy oor haarself lewer. Om Frodo se woorde te herhaal, laat ek dat Frodo in sy eerste sin in die derde persoon na haar verwys, en in die tweede sin gaan hy voort met die formele u-aanspreekvorm. Sodoende bly Frodo se woorde natuurlik en idiomaties, en word Galadriel se herhaling van Frodo se woorde in die doelteks behou.