• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

4.4 Die Raad van Elrond (The Council of Elrond)

(Tolkien 1993:275-7)

Vertaling 4 is die eerste vertaling waarin die ernstiger skryfstyl van die res van die boek manifesteer. Die hele vertaling behels Gandalf se terugflits na sy konfrontasie met Saruman in ’n styl wat kenmerkend aan Tolkien is – dié van die enkelpersoonmededeling. Dit bied ook die dialoog tussen Gandalf en Saruman wat uitbeeld hoe dit verskil van dialoog tussen byvoorbeeld Gandalf en Bilbo aan die begin van die boek, en tussen Faramir en Éowyn, wat heeltemal ander karakters is.

“Ek kon hom nie op die daad volg nie. Ek het daardie dag reeds baie ver gery en ek was so uitgeput soos my perd; en ek moes sake in oorweging bring. Ek het die nag in Bree deurgebring en het besluit ek het geen tyd om na die Distrik terug te keer nie. Nog nooit het ek ’n groter fout gemaak nie!

“Ek het egter ’n boodskap vir Frodo geskryf en het dit aan my vriend die herbergier toevertrou om vir hom te stuur. Met dagbreek het ek vertrek, en ten einde laaste het ek by Saruman se woonplek aangekom. Dit is ver suid in Ysterhof, aan die punt van die Mistig Gebergte, nie ver van die Gaping van Rohan nie. En Boromir sal julle vertel dat dít ’n groot, oop vallei is wat tussen die Mistig Gebergte en die noordelikste voetheuwels van Ered Nimrais, die Wit Gebergte van sy tuiste, lê. Maar Ysterhof is ’n sirkel loodregte rots wat ’n vallei soos ’n muur omring, en in die middel van daardie vallei is ’n toring van klip genaamd Orthanc. Dit is nie deur Saruman gemaak nie maar lank gelede deur die Mense van Númenor; dit is baie hoog en het baie geheime en tog kom dit nie voor asof dit die handewerk van Mense is nie. Dit kan

83 slegs bereik word deur die sirkel van Ysterhof deur te steek, en in daardie sirkel is daar slegs een hek.

“Laat een aand het ek aangekom by die hek, soos ’n groot boog in die muur van klip; en dit was swaar bewaak. Maar die bewaarders by die hek was op die uitkyk vir my gewees en het vir my gesê dat Saruman vir my wag. Ek het onder die boog deur gery en die hek het saggies agter my toegegaan, en skielik was ek bang, hoewel ek daarvoor geen rede geken het nie. “Maar ek het tot by die voet van Orthanc gery, en by die trap van Saruman gekom, en daar het hy my ontmoet en na sy oppervertrek gelei. Aan sy vinger het hy ’n ring gedra.

“‘Jy het dus gekom, Gandalf,’ sê hy somber vir my, maar in sy oë is daar ’n wit lig, asof daar in sy hart ’n kil gelag weerklink.

“‘Ja, ek het gekom,’ sê ek. ‘Ek het gekom vir jou hulp, Saruman die Witte.’ En daardie titel blyk hom te vertoorn.

“‘Het jy inderdaad, Gandalf die Gryse!’ spot hy. ‘Vir hulp? Dit word selde gehoor dat Gandalf die Gryse hulp soek, iemand so vaardig en so wys, wat die wêreld bewandel, en hom met alle sake bemoei, of dit hom aangaan al dan nie.’

“Ek kyk na hom en wonder. ‘Maar indien ek nie mislei word nie,’ sê ek, ‘is dinge nou aan die roer wat vereis dat al ons kragte saamgesnoer word.’

“‘Dit kan moontlik so wees,’ sê hy, ‘maar die gedagte duik maar laat by jou op. Hoe lank, wonder ek, versteek jy al van my, die hoof van die Raad, ’n kwessie van die uiterste belang? Wat bring jou nou hierheen uit jou wegkruipplek in die Distrik?’

“‘Die Nege het weer te voorskyn gekom,’ antwoord ek. ‘Hulle het die Rivier oorgesteek. Dit is wat Radagast my vertel het.’

“‘Radagast die Bruine!’ lag Saruman, en nou verbloem hy sy hoon nie langer nie. ‘Radagast die Voëltemmer! Radagast die Eenvoudige! Radagast die Dwaas! En tog het hy net genoeg verstand gehad om die rol te speel wat ek aan hom toegewys het. Want jy het gekom en dit was die hele doel van my boodskap. En hier gaan jy bly, Gandalf die Gryse, en ’n wyle verpoos van jou reise. Want ek is Saruman die Wyse, Saruman Ringmaker, Saruman van Vele Kleure!’ “Ek kyk toe en sien dat sy gewaad, wat wit voorgekom het, nie wit is nie, maar uit alle kleure verweef is, en wanneer hy beweeg, glinster die kleure en verander dit van skakering sodat dit die oog verward laat.

84 “‘Ek het meer van wit gehou,’ sê ek.

“‘Wit!’ grynslag hy. ‘Dit dien as ’n begin. Wit materiaal kan gekleur word. Op die wit bladsy kan geskryf word, en die wit lig kan gebreek word.’

“‘In welke geval dit nie meer wit is nie,’ sê ek. ‘En hy wat iets breek om uit te vind wat dit is, het die weg van wysheid versaak.’

“‘Jy hoef nie met my te praat asof ek een van diegene is wat jy as vriende reken nie,’ sê hy. ‘Ek het jou nie hierheen gebring om deur jou voorgeskryf te word nie, maar om aan jou ’n keuse te stel.’

“Hy kom toe orent en begin my toe te spreek, asof hy ’n betoog voer wat hy lank vantevore ingeoefen het. ‘Die Ouere Dae is verby. Die Middel Dae is aan die verbygaan. Die Jongere Dae het begin. Die tyd van die Elwe is gedaan, maar ons tyd is in aantog: die wêreld van Mense, waaroor ons moet heers. Maar ons moet mag hê – mag om alles te orden soos ons wil, vir daardie goeie wat net die wyses kan sien.

“‘En luister, Gandalf, my ou vriend en helper!’ sê hy en kom nader en praat nou met ’n sagter stem. ‘Ek sê ons want dit kan ons wees indien jy by my aansluit. ’n Nuwe mag is aan die verrys. Daarteen sal die ou bondgenote en beleidsrigtings ons van geen nut wees nie. Daar bly geen hoop oor in Elwe of sterwende Númenor nie. Daar is dus een keuse vir jou, vir ons. Ons kan ons by daardie mag skaar. Dit sal wys wees, Gandalf. Daardie weg bied hoop. Daardie mag staan op die rand van oorwinning en diegene wat daarby staan, sal ryklik beloon word. Soos die mag groei, sal die bewese vriende daarvan ook groei; en die wyses, soos ek en jy, kan deur geduld ten einde laaste dalk die weë daarvan rig, dit beheer. Ons kan ons tyd afwag, ons kan ons gedagtes in ons harte bewaar, moontlik euwels betreur wat onderweg aangedoen word, maar die hoër en uiteindelike doelwit wenslik ag: Kennis, Heerskappy, Orde; al die dinge wat ons tot dusver tevergeefs gestreef het om te vermag, en deur ons swak of ydele vriende eerder verhinder as bygestaan is. Daar hoef geen – daar sal geen – werklike verandering aan ons doelwit wees nie; slegs in ons middele.’

“‘Saruman,’ sê ek, ‘ek het vantevore toesprake van hierdie aard gehoor, maar slegs vanuit die mond van afgesante wat deur Mordor gestuur is om die onkundige te mislei. Ek kan nie dink dat jy my so ver laat kom het net om my ore te vermoei nie.’

“Hy kyk my sydelings aan en talm terwyl hy nadink. ‘Wel, ek kan sien hierdie wyse pad dra nie jou goedkeuring weg nie,’ sê hy. ‘Nog nie? Nie indien een of ander beter manier bewerkstellig kan word nie?’

85 “Hy kom nader en lê sy lang hand op my arm neer. ‘En waarom nie, Gandalf?’ fluister hy. ‘Waarom nie? Die Heersende Ring? As ons bevel daaroor kan voer, sal die mag na ons verskuif. Dit, in der waarheid, is waarom ek jou hierheen gebring het. Want ek het baie oë in my diens en ek glo jy weet waar hierdie kosbare ding nou is. Is dit nie so nie? Of waarom vra die Nege na die Distrik, en met watter sake bemoei jy jou daar?’ En terwyl hy dit sê, skyn daar in sy oë skielik ’n begeerte wat hy nie kan verberg nie.

“‘Saruman,’ sê ek en beweeg weg van hom af, ‘slegs een hand kan die Een Ring op ’n slag dra, en jy weet dit baie goed; moet dus nie die moeite doen om ons te sê nie! Maar ek sal dit nie gee nie; nee, noudat ek jou gedagtes ken, sal ek nie eers nuus daaroor vir jou gee nie. Jy was hoof van die Raad maar jy het jou uiteindelik ontmasker. Dit kom my dus voor die keuse is onderwerping aan Sauron, of onderwerping aan jou. Ek kies nie een van die twee nie. Het jy enige ander keuses om te bied?’

“Nou is hy koud en gevaarlik. ‘Ja,’ sê hy. ‘Ek het nie verwag dat jy wysheid aan die dag sal lê nie, nie eers namens jouself nie. Maar ek het jou die geleentheid gegee om my vrywillig te help, en jou sodoende baie moeite en pyn te spaar. Die derde keuse is om hier te bly, tot aan die einde.’

“‘Tot watter einde?’

“‘Totdat jy aan my onthul waar die Een Ring gevind kan word. Dalk vind ek ’n manier om jou te oortuig. Of tot dit in weerwil van jou gevind word, en die Heerser tyd het om hom tot geringer sake te wend: om sê maar ’n gepaste beloning te prakseer vir die dwarsboming en astrantheid van Gandalf die Gryse.’

“‘Dit sal dalk nie een van die geringer sake wees nie,’ het ek gesê. Hy het vir my gelag want my woorde was leeg, en hy het dit geweet.”