• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

4.6 Die spieël van Galadriel (The Mirror of Galadriel)

91 Vertaling 6 beeld Frodo se visie in Galadriel se spieël uit. Dit verg ook ’n heel grafiese beskrywing, en bied die dialoog tussen Frodo en Galadriel.

“Wil jy nou kyk, Frodo?” sê die dame Galadriel. “Jy wou nie die towerkuns van Elwe aanskou nie en tog was jy tevrede.”

“Raai u my aan om te kyk?” vra Frodo.

“Nee,” sê sy. “Ek raai jou nóg aan nóg af om dit te doen. Ek is nie ’n raadgewer nie. Jy kan moontlik iets te wete kom, en of dít wat jy sien goed of sleg is, kan moontlik lonend wees, of straks nie. Om te sien, is sowel goed as gevaarlik. En tog dink ek, Frodo, dat jy oor voldoende moed en wysheid vir die waagstuk beskik, anders sou ek jou nie hierheen gebring het nie. Maak soos jy goeddink!”

“Ek sal kyk,” sê Frodo, en hy klim op die voetstuk en buk oor die donker water. Die spieël klaar onmiddellik op en Frodo sien ’n land gehul in skemerdonker. In die verte toring berge duister teen ’n vaalgrys hemel. ’n Lang, grys pad kronkel tot waar dit buite sig verdwyn. Ver weg kom ’n figuur stadig met die pad af, eers dof en klein, maar dan word dit groter en duideliker soos dit nader kom. Frodo besef skielik dat dit hom aan Gandalf herinner. Hy roep amper die towenaar se naam hardop uit, maar sien dan dat die figuur nie in grys geklee is nie maar in wit, ’n wit wat dofweg in die skemer skyn, en in die figuur se hand is ’n wit staf. Die kop is vooroor gebuig sodat hy nie die gesig kan sien nie en dan beweeg die figuur om ’n draai in die pad en verdwyn buite sig van die spieël. Twyfel syfer Frodo se gedagtes na binne: was dit ’n visie van Gandalf op een van sy vele eensame reise van lank gelede, of was dit Saruman? Die visie verander. Dis kort en vlietend maar hy sien ’n duidelike blik van Bilbo wat rusteloos in sy kamer rondstap. Die tafel is besaai met deurmekaar papiere; reën giet teen die vensters neer.

Daar is ’n tussenpose, en daarna volg talle vlugtige tonele wat Frodo op een of ander manier weet deel vorm van ’n groot geskiedenis waarby hy betrokke geraak het. Die mis klaar op en hy sien ’n beeld wat hy nooit vantevore aanskou het nie maar onmiddellik herken: die see. Dit word donker. Die see dein en woed in ’n groot storm. Dan sien hy afgeëts teen die son, wat bloedrooi in ’n wolkbank wegsink, die swart buitelyn van ’n seilskip met hoë maste en geskeurde seile wat vanuit die Weste aangevaar kom. En toe ’n breë rivier wat deur ’n dig bewoonde stad vloei. Toe ’n wit vesting met sewe torings. En toe weer ’n skip met swart seile, maar nou is dit weer oggend en die water rimpel in die lig en ’n vlag met die embleem van ’n wit boom daarop glinster in die son. Rook verrys, soos dié van vuur en oorlogstryd, en die son

92 gaan weer onder met ’n brandende rooi wat vervaag tot ’n grys mis, en ’n kleinerige skip raak wasig in die mis, vonkelend met liggies. Dit verdwyn en Frodo sug en maak hom reg om terug te tree.

Maar skielik raak die spieël heeltemal donker, so donker asof ’n gat in die wêreld van sig oopgegaan het, en Frodo staar ’n leegte na binne. In die swart afgrond verskyn ’n enkele oog wat stadig groei tot dit bykans die hele spieël vul. So verskriklik is dit dat Frodo vasgenael staan, nie in staat om uit te roep of sy blik weg te skeur nie. Die oog is deur vuur omsoom maar self is dit glasig, geel soos dié van ’n kat, waaksaam en strak, en die swart spleet van die pupil lei na ’n put, ’n venster op niks.

Dan begin die oog dwaal. Dit soek hier en dit soek daar en Frodo weet met sekerheid en afgryse dat hy een van die vele dinge is waarna dit soek. Maar hy weet ook dat dit hom nie kan sien nie – nog nie, tensy hy wil hê dit moet. Die ring wat aan die kettinkie om sy nek hang, raak swaar, swaarder as ’n groot klip, en sy kop word afwaarts gerem. Dit lyk of die spieël warm begin raak en stoom kringel vanuit die water. Frodo sak vorentoe.

“Moenie aan die water raak nie,” sê die dame Galadriel saggies. Die visie vervaag en Frodo besef dat hy na die koel sterre kyk wat in die silwer kom skitter. Hy tree terug, sy hele liggaam aan die bewe, en kyk na Galadriel.

“Ek weet wat dit is wat jy laaste gesien het,” sê sy, “want dit is ook in my gedagtes. Moenie vrees nie! Maar moenie dink dit is bloot deur ’n gesing tussen die bome, of selfs die slank pyle van elweboë, dat hierdie land van Lothlórien behou, en teen die vyand daarvan bewaar word nie. Ek sê vir jou, Frodo, dat selfs terwyl ek met jou praat, bespeur ek die donker vors, en ek ken sy gedagtes, of al daardie gedagtes van hom wat Elwe betref. En hy tas immer rond om my en my gedagtes te sien. Maar die deur bly steeds toe!”

Sy lig haar wit arms en sprei haar hande uit na die ooste in ’n gebaar van verwerping en ontsegging. Eärendil, die aandster, mees geliefde ster van die Elwe, skyn helder bo hulle. So helder is dit dat die figuur van die Elwedame ’n dowwe skadu op die grond gooi. Die ster se strale flikker teen ’n ring aan haar vinger; dit glinster soos gepoleerde goud belê met silwer lig, en ’n wit steentjie aan die ring skitter asof die aandster neergedaal het om op haar hand rus te vind. Frodo staar met verwondering na die ring; en skielik is dit of hy verstaan.

“Ja,” raai sy sy gedagtes, “dit is nie toelaatbaar om daaroor te praat nie, en Elrond kon dit nie doen nie. Maar dit kan nie vir die ringdraer weggesteek word nie, en vir iemand wat die oog

93 gesien het nie. Dit is inderdaad in die land van Lórien aan die vinger van Galadriel waar een van die drie steeds vertoef. Dit is Nenya, die ring van Adamant, en ek is bewaarder daarvan. “Hy vermoed dit, maar hy weet nie – nog nie. Kan jy nou sien hoekom jou koms hierheen vir ons soos die voetval van verdoemenis is? Want indien jy misluk, word ons aan die vyand blootgelê. En tog, indien jy slaag, sal ons mag afneem, en sal Lothlórien wegskemer, en sal dit deur die getye van die tyd weggevee word. Ons moet heengaan na die Weste of taan tot landelike bewoners van grot en vallei, om mettertyd te vergeet, en vergeet te word.”

Frodo buig sy hoof. “En waarvoor wens u?” vra hy oplaas.

“Dat wat moet wees, sal wees,” antwoord sy. “Die liefde van die Elwe vir hul grond en vir hul werke is dieper as die dieptes van die see, en hul berou is onsterflik en kan nooit volkome gesus word nie. En tog sal hulle als eerder versmaai as om hulle aan Sauron te onderwerp want hulle ken hom nou. Jy is nie aanspreeklik vir die lot van Lothlórien nie, maar slegs om jou taak te verrig. En tog kan ek wens dat die een ring nooit gesmee is nie, of dat dit vir ewig verlore gebly het.”

“Die dame Galadriel is wys en vreesloos en regverdig,” sê Frodo. “Ek sal u die een ring gee, indien u daarvoor vra. Hierdie taak is bo my vuurmaakplek.” Galadriel lag met ’n skielike helder lag. “Die dame Galadriel kan moontlik wys wees,” sê sy, “en tog het sy haar gelyke in hoflikheid hier teëgekom. Sagkens word jy nou gewreek omdat ek jou hart met ons eerste ontmoeting beproef het. Jy begin om met ’n skerp oog te sien, Frodo. Ek ontken nie dat my hart innig daarna gehunker het om dit te versoek wat jy aanbied nie. Jare lank peins ek al oor wat ek moontlik sou doen, indien die groot ring in my hande sou val, en waarlik! dit is binne my bereik gebring. Die boosheid wat so lank gelede bedink is, werk voort op baie maniere, of Sauron self nou staan of val. Sou dit nie ’n edele daad gewees het om aan sy ring toe te dig nie, indien ek die ring met geweld of vrees van my gas sou neem?

“En nou kom dit uiteindelik. Jy sal my die ring uit vrye wil gee! In stede van die donker vors, sal jy ’n koningin oprig. En ek sal nie donker wees nie, maar beeldskoon en skrikwekkend soos die oggend en die nag! Sierlik soos die see en die son en die sneeu op die berg! Afgryslik soos die storm en die weerligstraal! Sterker as die fondamente van die aarde. Almal sal my bemin en in wanhoop verval!”

Sy lig haar hand en daar skyn ’n grootse lig vanuit die ring wat sy dra wat slegs haar verlig en alles om haar in duister laat. Sy staan voor Frodo en dit is of haar lengte sonder perke strek en haar skoonheid bo uitwisbaarheid verhewe is, en sy kom vir hom sowel vreesaanjaend as

94 eerbiedwaardig voor. Dan laat sak sy haar hand, en die lig vervaag, en skielik lag sy weer, en kyk! sy het gekrimp: ’n skraal Elwevrou, geklee in eenvoudige wit wie se bedaarde stem sag en hartseer is.

“Ek slaag die toets,” sê sy. “Ek sal verbleek en na die Weste gaan, en ek sal Galadriel bly.”