• No results found

4.2 ’n Langverwagte partytjie – deel 2 (A Long-expected Party)

4.10 Die tog deur die moeras (The Passage of the Marshes)

(Tolkien 1993:645-7)

In vertaling 10 word Gollum uitgebeeld deur taalgebruik wat hom duidelik van enige ander karakter onderskei. Die uitbeelding van sy karakter word aangevul deur twee van sy liedjies. Dit beeld ook die teenstelling tussen Gollum se taalgebruik en dié van Frodo uit.

Gollum beweeg vinnig, sy kop en nek vorentoe uitgestoot, en gebruik dikwels sowel sy hande as sy voete. Frodo en Sam sukkel om by te bly, maar Gollum het blykbaar nie meer enige plan om te ontsnap nie en wanneer hulle agterraak, draai hy om en wag vir hulle. Ná ’n rukkie bring hy hulle tot stilstand op die rand van die nou donga wat hulle vroeër bereik het, maar nou is hulle verder van die heuwels af.

“Hier is dit!” roep hy. “Daar is ’n paadjie wat af ondertoe gaan. Nou volg ons dit – uit, uit, weg doer oorkant.” Hy wys na die suide en die ooste, na die moeras. Die stank daarvan bereik hul neusgate, swaar en walgend in die koel naglug.

Gollum skarrel op en af met die rand langs en roep uiteindelik na hulle. “Hier! Ons kan hier afgaan. Sméagol het een keer hier afgegaan: Ek het hier afgegaan, weggekruip van die orke.” Hy gaan vooruit. Die hobbits volg hom en klouter in die skemerte af. Dit is nie moeilik nie want die skeur is hier omtrent net vyftien voet diep en ongeveer twaalf breed. Onder is daar lopende water; trouens, dit is die bedding van een van die baie klein riviertjies wat van die heuwels af insypel om die stagnante poele en die slyk daarna te voed. Gollum draai regs, min of meer suidwaarts, en plons voort met sy voete in die vlak, klipperige stroompie. Dis of hy hom in die gevoel van die water verlekker en hy lag stilletjies, en trek soms weg en neurie ’n liedjie met ’n skor stem.

Die koue harde lande, hulle byt onse hande, knae aan onse voete. klippers en stene

105 Is soos ou bene,

kaalgestroopte goete. Maar stroompies en poeletjies is nat en koeletjies:

so lekker vir voetetjies! en nou wens ons –

“Ha! Ha! Waarvoor wensies ons?” sê hy, en loer sydelings na die hobbits. “Ons sal julle vertel,” mompel hy met ’n skor stem. “Hy’t dit lank terug al geraai. Buidlers het dit geraai.” ’n Glinstering verskyn in sy oë. Sam sien hoe dit glim in die duisternis en beskou dit glad nie as aangenaam nie.

Lewend sonder asem; so koud soos ’n helm;

dors nooit, altyd drink-drink; geharnas, nooit kling-klink. Verdrink op droë land, dink ’n eiland

is ’n kliptuin; dink ’n fontein is ’n dampie lug. So slank, so lig!

Die pret om te ontmoet! Ons enigste drang

om ’n vissie te vang, so sappig soet!

Hierdie woorde bring weereens by Sam die bewustheid tuis van ’n dringende probleem wat hom kwel sedert hy besef het sy meester gaan Gollum as gids gebruik: die probleem van kos. Hy dink nie daaraan dat sy meester moontlik ook al daaraan gedink het nie, maar hy reken Gollum het. Hoe het Gollum immers tydens al sy eensame omswerwinge na homself omgesien? “Glad nie baie goed nie,” dink Sam. “Hy lyk nogals uitgehonger. Ek wed hy’s glad nie te lekkerbekkig om uit te vind hoe ’n bietjie hobbit proe nie, as daar niks vis is nie. Mits hy ons aan die slaap kan vang, natuurlik. Wel, hy gaan nie – beslis nie vir Sam Ghamdjie nie.”

106 Hulle strompel ’n lang tyd voort in die donker, kronkelende donga, of so voel dit vir Frodo en Sam se moeë voete. Die donga swaai oos en soos hulle verder gaan, raak dit breër en al vlakker. Uiteindelik begin die hemel bo hulle vaal raak met die eerste grys van die oggend. Gollum het geen teken getoon dat hy moeg raak nie maar nou kyk hy op en gaan staan.

“Dag is naby,” fluister hy, asof die dag iets is wat hom kan afluister en bespring. “Sméagol sal hier bly: ek sal hier bly en die geel gesig sal my nie sien nie.”

“Ons behoort bly te wees om die son te sien,” sê Frodo, “maar ons sal hier bly: ons is op die oomblik te moeg om verder te gaan.”

“Julle’s nie wys om bly te wees om die geel gesig te sien nie,” sê Gollum. “Dit laat julle uitstaan. Gawe, verstandige hobbitjies bly maar by Sméagol. Orke en aaklige goete’s in die omte. Hulle kan ’n ver ent sien. Bly maar en kruip weg saam met my!”

Die drie van hulle raak rustig en gaan sit teen die voet van die donga se klipperige muur. Dit is nou nie veel hoër as ’n lang man nie en teen die basis is plat lae breë, droë klip, soos ’n rak gevorm uit rots; die water loop in ’n sloot aan die ander kant verby. Frodo en Sam gaan sit op een van die klipplate. Gollum plas en krap in die stroom rond.

“Ons moet ’n bietjie kos inkry,” sê Frodo. “Is jy honger, Sméagol? Ons het baie min om te deel, maar ons sal aan jou afstaan wat ons kan.”

Met die woord honger vonkel ’n groenerige lig in Gollum se vaal oë, en dit is of dit verder as ooit uit sy maer, sieklike gesig uitsteek. Vir ’n oomblik verval hy weer in sy ou Gollum-manier. “Ons is mos uitggehonger, uitggehonger is ons mos, kosbare,” sê hy. “Watsit daai wat hulle eet? Het hulle lekker vissietjies?” Sy tong hang uit tussen sy skerp, geel tande, en hy lek sy kleurlose lippe.

“Nee, ons het niks vis nie,” sê Frodo. “Ons het net dit,” en hy hou ’n stuk lembas-brosbrood in die lug, “en water, as die water hier gedrink kan word.”

“Ja, ja, mos lekker watertjies,” sê Gollum. “Drinkit, drinkit, terwyl ons kan! Maar wassit wat hulle daar het, kosbare? Issit kraakrigs? Ietsie lekrigs?”

Frodo breek ’n deel van ’n brosbroodjie af en gee dit op die blaaromhulsel vir Gollum. Gollum snuif aan die blaar en sy gesig verander: ’n trek van walging kom oor sy gelaat en daar is ’n spoor van sy ou venyn. “Sméagol ruik dit!” sê hy. “Blare uit die elfeland – gah! Hulle stink. Hy’t in daai bome geklim en hy kon van sy hande die stank nie afwas nie, my fraai, fraai

107 handjies.” Hy laat val die blaar, lig die lembas aan die hoek op en knaag daaraan. Hy spoeg, en ’n hoesbui ruk deur sy liggaam.

“Jug! Nee!” proes hy. “Julle probeer Sméagol verstik. Stowwe en asse – hy kan mos nie dit eet nie. Hy sal maar vergaan van honger. Maar Sméagol gee nie om nie. Gawe hobbitjies! Sméagol het belowe. Hy sal honger gaan. Hy kan nie hobbits se kos eet nie. Hy sal honger gaan. Arme, maere Sméagol!”

“Ek’s jammer,” sê Frodo, “maar ek’s bevrees ek kan jou nie help nie. Ek dink hierdie kos sal jou goed doen as jy dit net wil probeer. Maar dalk kan jy nie eers probeer nie. Nog nie, in elk geval.”