• No results found

1. INLEIDING

1.5. VELD VAN ONDERSOEK

Die veld van ondersoek verwys na die WAT van die ondersoek, of soos Hendriks dit stel: units of analysis (2004:225). In hierdie navorsing sal onderhoude met leierleraars in vyf makrogemeentes gevoer word. Daar is ook gegewens vanaf gespreksforum van leierleraars wat verwerk sal word. Tegelykertyd sal die vyf gemeentes en die veranderings en verskuiwings in daardie kontekste beskryf word. Groot deel van die navorsing sal egter ook deur middel van literatuurstudie gedoen word. Besondere velde van ondersoek is die volgende:

1.5.1 Leierskap

Die titel van die proefskrif verwys na “Leierskap in makrogemeentes.” Dit is as sodanig reeds ’n afbakening van die veld van ondersoek daarin dat dit na leierskap in groter geloofsgemeenskappe sal verwys. Daar is reeds hierbo met betrekking tot die navorsingsprobleem ’n kort beskrywing gegee van die soort leierskap waarna gekyk sal word. Die navorser weerhou hom hier van ’n definisie van leierskap in geloofsgemeenskappe omdat dit in die navorsing self na vore behoort te kom.

Die navorsing gaan met betrekking tot leierskap verder afgebaken word na leierleraars in NG Kerk makrogemeentes. Motivering daarvoor word meer uitvoerig op bladsy 34

verkaf. Na die navorser se wete bestaan daar byna geen literatuur in Suid-Afrika en spesifiek uit die NG Kerk hieroor nie. Die empiriese ondersoek kan hier bydra om iets op skrif te kry. Daar is reeds verwys na artikels van Burger en Wepener (2004a,b) en van Louis Louw (2003) wat wel hiermee verband hou. Daar sal ook wyer as die NG Kerk gekyk word – byvoorbeeld na groot gemeentes soos Willow Creek (Bill Hybels) en Saddleback (Rick Warren) om by ander tradisies hieroor te leer, alhoewel die navorsing hoofsaaklik op die NG Kerk sal fokus.

Op die terrein van leierskap in die geloofsgemeenskap het daar in die afgelope paar jaar groot aantal literatuur die lig gesien. Shawchuck en Heuser (1993) se "Leading the congregation: caring for yourself while leading others" spreek belangrike sake aan oor die identiteit van die predikant. Dan is die bydraes van Roxburgh (2000 en 1997) oor die rol die predikant in veranderende tye van groot belang. Die boeke van Bandy (2000), Easum (1997), McLaren (2000) en Sweet (1999) handel almal veral oor leierskap in veranderende tye en met besondere verwysing na die post-moderne tyd.

Op die Suid-Afrikaanse bodem het heelwat verskyn. Daar is reeds verwys na Smit (1995) se redaksie van "Nuut gedink oor leierskap in gemeentes" en Hendriks en Buchanan (1995) se "Meeting the future.” Daar is verwys na die NG Kerk se verslag by die Algemene Sinode van 2002 en na die reeks artikels van Burger en Wepener in die NGTT oor die predikantsamp.

Deur die venster van die nuwe ontwikkeling van poste vir leierleraars in makrogemeentes, gaan daar primêr na leierskap in geloofsgemeenskappe gekyk word. Dit bring die veld van ondersoek dus ook na die ampte toe. Alhoewel die invalshoek leierleraars is, sal die identiteit en rol van die predikant en van ander leierskap in die geloofsgemeenskap ook ter sprake wees.

1.5.2 Transformasie

Daar is reeds hierbo by die navorsingsprobleem na transformasie verwys. Die leierskap waaroor dit in die navorsing gaan, is leierskap in die christelike geloofsgemeenskap. Daarom is die eerste konteks wat ondersoek sal word, die

kerklike konteks en transformasie in daardie konteks. Gibbs en Coffey (2001) wys op die paradigma-skuiwe wat tans plaasvind. Die monumentale werk van Suid-Afrikaner, David Bosch (1993), oor paradigma-skuiwe en die roeping van die kerk, dien eintlik as basis vir baie uitgangspunte vandag. Armour en Browning (2000) gee weer kyk op die invloed van sosiale sisteme op die geloofslewe, gemeentemodelle en leierskap, terwyl Mann (1998) sal help om die invloed van getalle te verstaan. Deur die bril van Regele (1995) kan daar na generasie-skuiwe gekyk word.

In hoofstuk drie gaan daar na die makrokonteks gekyk word. Guder (1998), Brian McLaren (2000) en verskeie skrywers kan help om kennis te neem van die verskuiwings van modernisme na postmodernisme en van christendom na post-christendom. Hendriks (2004) werp lig om die uitdagings in Suid-Afrika en Afrika beter te verstaan en daar sal by ander wetenskappe kers opgesteek word oor leierskap in veranderende konteks.

Die bedoeling is om die kerk en wêreld, as breër kontekste, ook as veld van ondersoek te betrek, maar dan spesifiek met betrekking tot die invloed wat dit op leierskap het. 1.5.3 Bybel en tradisies

In hoofstuk vier word spesifiek na die Skrif en tradisie gekyk om antwoorde te soek op die vraag na die identiteit en rol van die predikant. Op voetspoor van Burger en Wepener (2004) gaan daar in die Ou Testament na die implikasies wat die ampte van priester, koning en profeet vir leierskap vandag het, gekyk word. Daar word veral vanuit 1 Timoteus gekyk na die metafoor van die "huisgesin van God" en die betekenis wat dit vir leierskap in veranderende tye gehad het. Verskeie kommentare, maar veral Roloff (1988), sal die eksegese begelei. Die studie van Verner (1983) oor die sosiale wêreld van die gesin van destyds, maar veral oor die funksie van hierdie metafoor in die verstaan van die brief, sal benut word.

Die velde van ondersoek begin dus klein by die ondersoek na leierleraarskap, maar word dan wyd getrek in die korrelasie-hermeneutiese gesprek met die kerk, wêreld en Skrif.

2. KONTEMPORÊRE ONTWIKKELINGS