• No results found

3. VERANDERDE KONTEKS EN LEIERSKAP

3.1 TRANSFORMASIE IN DIE MAKROKONTEKS

3.1.2 Modernisme vs. Post-Modernisme

Die onderskeiding hierbo tussen modernisme en post-modernisme verwys eintlik na filosofiese en kulturele tydperke in die wêreldgeskiedenis. McLaren (2000:160) haal vir Fryling aan wat die tydperke soos volg uitbeeld:

o Tradisionele kultuur – die priester gekleed in sy toga

Kultuur waarin die priesterlike goddelike gesag, geopenbaarde waarheid, gesanksioneerde gewoontes, absolute reëls en aanvaarde rituele gevestig is.

o Modernistiese kultuur – die wetenskaplike met sy wit laboratorium jas

Die wetenskaplike het volle vertroue in individualisme, rasionalisme (navorsing en rede kan die waarheid vind), tegnologie en vooruitgang.

o Postmodernisme – die ‘rock’ musikant geklee in byna enigiets.

Die musikant is teleurgesteld, ontnugter en skepties teenoor priester en wetenskaplike. McLaren (2000:160-162) vergelyk dit met Crichton se dramas van Jurassic Park (wat die moderne wêreld se droom na kontrole voorstel) en The Lost World (wat die ontnugterde oorlewendes wat oop is vir realiteit en fantasie, voorstel).

a. Modernisme

Die terme modernisme en post-modernisme is ingewikkeld en omvattend en nie so maklik te definieer nie. Cahoone (1995:1-33) beskryf die kompleksiteit van die begrippe. Hy sê as ’n mens die etimologie van ‘modern’ na die Latynse modernes terugvat, dan verwys dit na “nou” en dus die huidige tyd, met dien verstande dat dit verskil van vorige en daar ’n diskontinuïteit met die vorige bestaan. Hy stel dit soos volg:

To believe that there is such a thing as modernity is to believe that there is a cluster of different kinds of social phenomena (political, intellectual, cultural, economic, technological, industrial, artistic) that are relatively coherent, exhibiting common traits or exemplifying common principles, and that is the cumulative product of an historical process occupying the ‘modern’ era.

Rossouw (1995:3-10b) sê dat modernisme veral verwys na die Westerse wêreld soos dit na die Middeleeue en vanaf die tydperk van die Verligting tot vandag ontwikkel het.29 ‘Modern’ verwys dus veral na die Europese kultuur soos dit sedert die 19de eeu se Verligting in politieke en ekonomiese oorheersing van die Europese en Europees-ontstaande gemeenskappe gevestig en veralgemeen is. Daarom word van ’n ‘Eurosentriese modernisme’ gepraat. Dit verwys na tegnologie, wetenskaplike praktyke, industriële produksie en lewenstandaard wat veral in Europa verrys het. Modernisme kan nie sonder die Verligting, wat hoofsaaklik vanaf die 17de eeu begin opbloei het, verstaan word nie. Bosch (1991:262-267) noem die volgende kenmerke van die Verligting: It is the age of reason; subject-object scheme; elimination of purpose; progress; knowledge as factual, value-free and neutral; all problems are solvable and emancipated, autonomous individuals. Descarte se Cogito, ergo sum (Ek dink, daarom is ek) vat sekerlik die kern hiervan saam.

Die kenmerke van die Verligting vorm die ruggraat van die modernisme. Cahoone (1995:8-13) wys op die dinamiese verandering, vooruitgang van kennis en tegnologie, integrasie (interafhanklikheid, sentralisasie), disintegrasie (spesialisasie, fragmentasie, pluralisasie en dekontekstualisasie (verwysend na die verloor van tradisie, gemeenskap, ’n publieke sfeer en ’n oorkoepelende ideologie as metanarratiewe/ ‘meesterverhale’ konteks vir denke), die rasionele, vervreemding en die funksionele as kenmerke van die modernisme. In aansluiting hierby noem Rossouw (1995b:3-8) die volgende vyf eienskappe van die modernisme: vertroue op verstandelike; ’n dinamiese en steeds veranderende wêreld; individualisme (byvoorbeeld in die politiek die liberale demokrasie en in die ekonomie die mark-ekonomie); integrasie (polities – burokrasie, ekonomie – industrieë en massaproduksie); spesialisasie.

b. Postmodernisme

Postmodern verwys na ’n ‘na-die-nou’, na die toekoms en na ’n nuwe diskontinuïteit, waar daar ’n onderskeid van die samelewing, kultuur en intellektuele kultuur van die moderne tyd is.

29 McLaren (2000:191-192) sê dat ons die geboorte van die modernisme ongeveer op 1500 n.C. kan aanteken toe wêreld-veranderende ontdekkings, tendense en uitvindings begin het. Dis toe Columbus

Postmodernisme as reaksie teen modernisme

Cahoone (1995:13-33) en Rossouw (1995b:7-8) wys op die verskeidenheid reaksies op die modernisme waarvan postmodernisme nou die sterkste vergestalting van ’n reaksie teen modernisme is. Lötter (1995:42) wys daarop dat daar nou ’n beter verstaan van modernisme kom en dat aan die een kant besef word dat baie van ’n vorige wêreld verloor is (byvoorbeeld ryk tradisies, sekuriteit, gevestigde moraliteit, spiritualiteit, respek vir die natuur) en dat daar in die plek daarvan dinge soos burokrasie, nasionalisme, verbruikerskultuur en ’n gekommersialiseerde wêreld gekom het. Die positivisme is geskud met realiteite soos die Tweede Wêreldoorlog, kernbedreiging, baie oorloë, verlies van waardes, identiteit en betekenis, omgewingsrampe. Lötter (1995:45) haal vir Lyotard aan wat sê dat die meesterverhale (metanarratiewe) van die modernisme – soos dat onbeperkte wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang ons sal help om ’n ideale goeie lewe te bereik, dat ’n klaslose, harmonieuse en voorspoedige gemeenskap van gelykes daargestel sal word – hulle geloofwaardigheid in die postmodernisme verloor het. Die negatiewe kante wat hierbo beskryf is, het mense eerder in reaksie teen modernisme gelaat.

Die feit dat postmodernisme ’n sterk reaksie teen die modernisme is, kom duidelik na vore. McLaren (2000:189-198) sluit by Sweet aan as hy sê dat ons in die postmodernisme – in rekenaarterme - die virusse van modernisme moet de-bug. Hy wys op die rasionalisme, empirisisme, naturalisme en sekularisme van die Verligting wat die ruggraat van die modernisme is en sê dat die volgende virusse wat daaruit ontstaan het, uitgewis moet word en met positiewer postmodernistiese elemente vervang word:

o Die oorwin en beheer virus

Na vyf eeue van Europese imperialisme moet oorwinning nou vervang word met gesprek en onderhandeling en beheer vervang word met bemagtiging.

o Die meganistiese virus

Die Christelike groei wat ’n meganistiese, liniêre, vervaardigingslyn geword het, moet vervang word met spiritualiteit en ’n liefdevolle sisteem.

o Die objektiewe / analitiese / reduksionistiese virus

objekte gereduseer het, moet met iets meer holisties en misterieus vervang word. o Die sekulêr / wetenskaplike virus

Die vermyding van spiritualiteit deur die wetenskaplike, objektiewe, redelike en rasionele fasette, roep in die postmodernisme na waardes, doel, betekenis, missie, passie, wysheid, geloof en ’n dieper spiritualiteit.

o Die individualisme virus

Die individualisme wat ook in die kerk die me and Jesus, me and my Bible, me and my spiritual growth, me and my salvation met sy me-oriented evangelism and consumer spirituality of self-interest geword het, moet vervang word ’n ‘ons’ evangelie.

o Die organisatoriese virus

Die virus van individualisme en meganisasie vorm saam ’n hibried in die organisatoriese virus. Individue word klein masjiene in die groter organisatoriese masjien en so word georganiseerde godsdiens sleg. Dit moet vervang word met ’n spiritual community.

o Die verbruikers virus

Die kerk het in laat-modernisme hervorm om ’n onderneming te word – a purveyor of religious goods and services. 30

Maar wat is postmodernisme dan?

Die vraag is of postmodernisme ook nuwe wêrelde na ’n tyd van modernisme oopsluit? Wat is dan die beginsels en uitgangspunte van die postmodernisme? McLaren (2000:163-169) wys op die kernwaardes in die postmodernisme:

o ’n Skeptisisme met betrekking tot sekerhede

Hy verwerp egter die mite dat postmodernisme nie in absolute waarhede glo nie. Hy meen dat dit wel absolute kennis verwerp omdat die mens nie die vermoë het om alles met absolute akkuraatheid te verstaan of oor te dra nie. Daar word egter aanvaar dat daar wel absolute waarhede bestaan.

o Sensitiwiteit vir konteks

McLaren (2000:163) haal vir Baljeu aan wat sê: Every point of view is a view from a point.

o ’n Neiging tot die humoristiese

In postmodernisme word niks te ernstig opgevat nie. o ’n Waardering vir subjektiewe ervaring

Die realiteite van die lewe en die subjektiewe ervaring wat daarmee saamgaan, maak die lewe mooi.

o Saamwees is rare, kosbare en ontwykende ervaring

McLaren (200:166) sê: Postmoderns don’t want truth without equal doses of love. Daarom wil McLaren (2000:172-188) graag sien dat die christelike geloofsgemeenskap die geleenthede in postmodernisme aangryp. Hy meen dat daar nou geleenthede is tot ’n ware christenskap, dat ons waarheid en goedheid kan aansien (byvoorbeeld in gepaste nederigheid, gesonde skeptisisme, ’n dors na spiritualiteit, ’n openheid vir geloof, ’n groter verdraagsaamheid en ’n beperkte relatiwiteit), dat die belangrikheid van geloof na vore tree, dat meer regverdigheid ontstaan, dat ons meer eksperimenteel kan wees, dat die eksistensiële vrae aangespreek kan word, dat na postmoderniste se stories geluister moet word, dat christene ook hulle stories kan vertel, dat nuwe sake (issues) na vore tree, dat manipulasie uitgeskakel kan word, dat kunste, literatuur, musiek en drama ontgin kan word in die kommunikasie van die evangelie, dat ons oop moet wees vir die Gees se werk daarbuite, dat ons self soekers moet word en dat ons die waarde van gemeenskap hoog moet ag.

Die positiewe geleentheid wat postmodernisme aan die christelike geloofsgemeenskap bied, word in uitstekende artikel van Rossouw (1995a:75-93) oopgemaak waar hy sê dat die postmoderne kultuur nie die moderne kultuur wil vernietig nie, maar sy kritiese metgesel wil wees. Hy wys dan op die volgende vier fasette en tien uitdagings vir die teologie in ’n postmoderne tyd:

o ’n Breër rasionaliteit

Die subjek-objek paradigma met sy bewyse, logika en sy ontwikkeling in wetenskap en tegnologie is in sy beperktheid deur die quantum fisika oopgebreek na moontlikhede, kans en chaos. Die behoefte aan waardes en doel het ook na vore getree. Dit lei tot die volgende uitdagings:

- Kritiese selfrefleksie

- ’n Spiritualiteit van heelheid / holisme - Narratiewe teologie

o ’n Breër antropologie31

Menslike gedrag word nie alleenlik deur onafhanklike rasionele denke gemotiveer nie, maar die rol van sosialisering, kultuur, ideologie, geloof, mag, emosies en ingesteldheid speel ’n groot rol. Dit stel die volgende uitdagings aan die teologie:

- Styl van kommunikasie: nie net aflaai van inligting nie, maar interaktiwiteit. - Identiteitvorming: ’n skuif van “Wat glo ons?” na “Wie is ons?”

o Kundigheid en ervaring

Dis nie net die kundige mening nie, maar ook die wat die realiteit beleef en ervaar wat insette te lewer het. Daarom moet die gemarginaliseerde (arme, huislose, gestremde, derde wêreld, VIGS pasiënt, gays en lesbiërs) se stemme ook gehoor word. Dit stel die teologie voor die volgende uitdagings:

- Om vir die gemarginaliseerde om te gee - Om van “reg wees” na “reg doen” te beweeg. o Die globale wêreld / Global village

Die moderne tegnologie en kommunikasie het die wêreld klein gemaak. Dit maak dat interne probleme gou wêreldbekend word en dit bring die verskeidenheid na vore. Dit bring die volgende uitdagings na die teologie:

- Om godsdiens persoonlik, maar nie privaat nie, te maak - Om die religieuse verskeidenheid te respekteer.

Wat hierbo na vore gekom het, was nie alleen ’n verdere aanduiding van die paradigmatiese skuif van modernisme na postmodernisme nie, maar ook van die ingrypende uitdagings en geleenthede wat dit aan die kerk en geloofsgemeenskap bied. Daar is verskeie skrywers wat die soort leierskap bespreek wat nodig is in hierdie besondere transformasietyd. Dit sal hieronder onder “leierskap-skuiwe” bespreek word.