• No results found

2. KONTEMPORÊRE ONTWIKKELINGS IN MAKROGEMEENTES

2.1 INLEIDEND

2.1.2 Mandate van leierleraars

Op 20-22 April 2005 het soortgelyke saamtrek van leierleraars by Zikomo woonstelle by die Strand, plaasgevind. Hier was nogmaals vyftien leraars bymekaar, waarvan net een nie by die vorige geleentheid was nie. Die posbenamings uit hierdie groep was by twaalf gemeentes leierleraar, by een uitvoerende leraar, by een koördinerende leraar en by een gemeenteleier.

Die meeste tyd is afgestaan aan ’n bespreking van die mandate van die spesialiteit. Die groep het die volgende mandate uitgewys: (Die navorser noem ook enkele opmerkings wat deur die groeplede onder elke mandaat genoem is, sonder om volledig te wees.)

a. Visie-dra (1)

Die visie is die gemeente s’n of anders gesê – God se droom wat Hy in die harte van Sy gemeente kom gee het. Betrokkenheid van die gemeente by die geboorte en uitlewing van die visie is van uiterste belang. Die visie-draer moet die proses van visionering lewend hou. Daarin speel kreatiewe, subtiele en voortdurende kommunikasie sleutelrol. Dit is die gemeente se visie en daarom moet ’n proses waarin die gemeente eienaarskap neem, gevolg word. Mense moet deur die visie ge-energeer en gemobiliseer word. Die visiedraer speel ’n groot rol daarin, terwyl hy/sy die visie self beliggaam. Die visie-draer is ten nouste betrokke by die implementering van die visie. Daarvoor is hy/sy betrokke by die strategiese prosesse wat daartoe lei.

In die proses is die koördinering van bedieninge om die visie te beliggaam ook belangrik en kan die visie-draer hierin ’n groot rol vertolk.

b. Kultuurskepping (2)

Die beliggaming van die visie beteken onder andere dat die leierleraar bydrae lewer tot gemeentekultuur. Kleiner dinge soos kleredrag (Keifert 1992:114,136), styl, formeel vs. informeel dra by tot ’n sekere kultuur. Die waardes wat in kommunikasie na vore kom en uitgeleef word, dra by tot identiteit en kultuur. Die leraars teenwoordig het genoem dat die mense met wie geassosieer word ook ’n belangrike element in die skepping van kultuur in die gemeente is. Vergelyk die volgende kategorieë (Guder 1998:202):

Skets 2-1 Kategorieë - Guder (1998:202)

Die mense met wie die leier identifiseer en omgaan stuur belangrike seine uit oor wie vir die gemeente belangrik is.

c. Fasiliteer strategiese prosesse (3)

Hierdie funksie of mandaat sluit ten nouste aan by die vorige. Dis veral in die visioneringsprosesse dat die leierleraar of self moet fasiliteer of toesien dat kundiges die prosesse fasiliteer. Hierin speel ’n koördineringsfunksie en die toesien dat prosesse aangaan ’n sleutelrol.

d. Kommunikasie (4)

Hier is daarop gewys dat die gawe om die visie te kommunikeer vanselfsprekend van groot belang is vir die leierleraar. Hy/sy het dan ook die mandaat om deur middel van die prediking, afkondigings, inligtingsessies, kommunikasiekanale soos inligtingsblaaie, nuusbriewe, ontmoetings met lidmate en leiers, gespreksforums en baie meer die visie oor te dra. Die gevaar van oorbeklemtoning, veral deur te veel na die visie en missie te verwys, is uitgewys. Die visie moet op subtiele, byna onopsigtelike en kreatiewe wyses gekommunikeer word. Heelwat leierleraars het op grond van die pos groter verantwoordelikheid met betrekking tot die prediking en sal veral met groter geleenthede en geleenthede waar die visie gekommunikeer word, die eredienste lei.

e. Toerusting (5)

Die leierleraar behoort ’n rol te speel met betrekking tot toegespitste toerusting met die oog op die realisering van die visie. Die oorhoofse beplanning van kursusse wat tot die uitvoering van die visie lei, moet gedoen word. Die leierleraar sal tipies betrokke wees by die beplanning van ’n preekprogram wat die visie ondersteun.

f. Leierskapsbemagtiging (6)

Daar was ooreenstemming in die groep dat die leierleraar ’n taak het met betrekking tot die leierskap in die gemeente en veral met betrekking tot bemagtiging van leiers. Hieronder is die belang van modellering genoem, asook die identifisering en ontwikkeling van leiers vir die bedieninge van die gemeente. Die leierleraar help om ’n kultuur van bemagtiging daar te stel. Hy/sy kan ’n rol speel in die viering van leierskap waar erkenning gegee word aan leiers wat bydra tot die uitlewing van die visie van die gemeente.

g. Spanleier (7)

Dit was duidelik dat die leierleraar ook die rol van spanleier vertolk. Die span kan natuurlik ’n al wyer kring insluit – van kollegas na personeel, na kernleiers, na gemeenteraad, na bedieningsleiers, ensovoorts. Sommige leraars het genoem dat die leierleraar gesien word as ’n soort wellness-leader waar dinge soos persoonlike belangstelling, ontspannenheid en humor groot bydrae tot die atmosfeer in die span

leierleraar ook ’n rol kan speel in die vestiging van rituele in die span, in die belewenis van selfbeeld van spanlede en van die gemeente as geheel.

Die span se samewerking en spangees is belangrik.6 Die wyse waarop konflik in die span hanteer word, dra ook by tot die skep van soortgelyke kultuur en styl in die res van die gemeente. Duidelike ooreenkomste oor prosesse wanneer konflik ontstaan is noodsaaklik waaronder die volgende as voorbeeld genoem is:

• Eerste vlak – Gesprek tussen individue / span

• Tweede vlak – Vra leierleraar om te help en uitspraak te gee as daar nie uitklaring is nie

• Derde vlak – Personeelbediening (Diensverhoudinge kommissie) raak betrokke Konflik kan nie vermy word nie en moet ten beste bestuur word.

h. Oorhoofse verantwoordelikheid en aanspreeklikheid (8)

Daar was ooreenstemming in die groep dat verantwoordelikheid en aanspreeklikheid saam met die pos van leierleraar loop. Leraars en leiers is verantwoordelik vir bedieninge, maar daar rus ’n oorhoofse verantwoordelikheid op die leierleraar. Die vraag is wie vir wat en vir wie verantwoordelik is. Verantwoordelikheid bring mee dat elke persoon in die span nie kan maak soos hy wil nie, maar aanspreeklik gehou kan word. Daar moet uitklaring wees dat daar sekere mag toegeken is, maar dat verantwoordelikheid en aanspreeklikheid duidelik omskryf behoort te word.7 Die leierleraar kan nie vir alles verantwoordelik wees nie, maar dra wel oorhoofse aanspreeklikheid.

Bogenoemde gesprek oor mandate van leierleraars in die NG Kerk is deel van ’n voortgaande gesprek oor gemeente-ontwikkelings en leierskap in dié kerk en moet geensins as afgehandel beskou word nie.

6 Die navorser het in hierdie verband kennis geneem van die RAM-beginsel (R verwys na – rol, A – assosiasie, M – mag) wat soms met betrekking tot die uitklaring van rolle gebruik word, maar die bron kon nie opgespoor word nie.

7 Die navorser het in gesprekke met lidmate in die privaatsektor kennis geneem van die RACI-beginsel (R – responsible/verantwoordelik; A – accountable/aanspreeklik/verantwoordbaar; C – communicate / kommunikeer; I – implement/implementeer) waarmee ’n onderverdeling van verantwoordelikhede en rolle gedoen kan word. Die bron kon nie opgespoor word nie.