• No results found

Toepassings van literêre gerontologie

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.3 Literêre gerontologie

2.3.3 Toepassings van literêre gerontologie

Tydens die navorsingsproses is die volgende literêr-gerontologiese ontledings van literêre tekste deur akademici opgespoor. Dit is van belang om hier ʼn chronologiese inventaris van sodanige studies te lys, aangesien dit as vertrekpunte vir soortgelyke ontledings en interpretasies van literêre tekste kan dien. Juis omdat die literêre gerontologie nie ʼn ten volle uitgewerkte teorie is met ʼn spesifieke metode vir ontleding en interpretasie van literêre tekste nie, is dit nuttig om deur middel van voorbeelde te sien wat met literêre gerontologie gedoen kan word. Weens die gebrek aan bronne wat die

literêre gerontologie deeglik uiteensit, word voorbeelde van sodanige studies hier weergegee ten einde ʼn teoretiese raamwerk daar te stel.

Mary Terrell White (1995) verken in haar artikel "Historical narrative or life review? The role of interpretation in Wallace Stegner's Angle of repose" die lewensoorsig soos dit uitgebeeld word in Angle of repose waarin die protagonis besig is met ʼn lewensoorsig wanneer hy sy ouma se biografie skryf. As verhaal binne ʼn verhaal beeld die roman die verteller se reis na selfbegrip uit soos dit gevorm word deur sy familienavorsing. Die rol van interpretasie in historiese narratiewe en literatuur, sowel as lewensoorsigte, word ook ondersoek.

Roberta Maierhofer (1999) ontleed en interpreteer Tillie Olsen se kortverhaal "Tell me a riddle" (1956) en Michelle Herman se roman Missing (1990) aan die hand van Judith Fetterley (1977) se feministiese konsep van die weerstandsleser6 in haar artikel

"Desperately seeking the self: gender, age, and identity in Tillie Olsen's Tell me a riddle and Michelle Herman's Missing". Hierdie konsep behels dat lesers wat weerstand bied teen tradisionele interpretasies, die overte betekenis van die teks bevraagteken en die kodifisering van betekenis en waargenome menings oor spesifieke tekste kan uitdaag. In die meeste studies wat letterkunde en veroudering hanteer, word die rol van die leser geïgnoreer. Beide geselekteerde tekste toon, volgens haar, dat die verwerping van stereotipiese nosies van vroue se rol in die samelewing as moeders en oumas, die gebruik van chronologiese ouderdom as ʼn basis van identiteit bevraagteken. Dit lei dan tot ʼn definisie van die self wat nie gebaseer is op ʼn gender- of ouderdomsgedefinieerde posisie binne eng sosiale strukture nie, maar eerder een wat die leser toelaat om vroue te herdefinieer in ʼn gesagsposisie waarin hulle hul eie individuele identiteite kan skep. In haar proefskrif, The literary potential of old age in Simone de Beauvoir, The stone angel, and new Canadian narratives, kombineer Sally Chivers (1999) La vieillesse (The coming of age) (1970) van Simone de Beauvoir met Jean-Paul Sartre se What is

literature? (1988), Martha Nussbaum se Poetic justice (1995) en Mieke Bal se Narratology (1997) om te artikuleer hoe narratiewe fiksie ʼn toegewyde leser kan

noodsaak om die sosiale moontlikhede van senior vroue te herverbeel. Sy ontleed

Margaret Laurence se The stone angel (1964) om ʼn model te skep waarmee drie potensiële sosiale rolle vir ouer vroue bestudeer kan word. Sy verbind ook Joan Barfoot se Duet for three (1985) met Hiromi Goto se Chorus of mushrooms (1994) om te toon hoe die rol van ʼn ouma aan ouer vroue die geleentheid bied om binne die familiekonteks vrylik te gee en voordeel te trek uit niebesitlike liefde. Voorts bestudeer sy die maniere waarop gerontologiese verpleeghandboeke institusionele sorg teoretiseer om te toon hoe Edna Alford se A sleep full of dreams (1981) en Shani Mootoo se Cereus blooms at night (1996) intergenerasionele verbintenisse in verpleeginrigtings fasiliteer. Sy ondersoek ten slotte ook vroulike vriendskap soos wat dit in Barfoot se Charlotte and Claudia keeping

in touch (1994) en Cynthia Scott se The company of strangers (1990) uitgebeeld word.

Chivers stel dat hoewel die fiksionele uitbeeldings van gevorderde leeftyd ("old age") dikwels skuldig is aan stereotipering, dit wel die vermoë het om deur middel van ʼn verbeeldingsraamwerk (wat nie die visuele oorbeklemtoon nie) die negatiewe uitbeelding van ʼn gevorderde leeftyd te hanteer.

In haar artikel "'The painterly hand': embodied consciousness and Alzheimer's disease" dra Pia C. Kontos (2003) by tot die kritiese gerontologie deur die idee van beliggaming en die uitdaging wat die veronderstelde verlies wat Alzheimer se siekte meebring in geselekteerde narratiewe tekste en visuele kunswerke te ondersoek. Dokumentêre fiksie, soos Michael Ignatieff se roman Scar tissue (1993) en niefiksie, soos John Bayley se gedenkskrif Elegy for Iris (1999), toon dat in stede daarvan om te dink dat slegs ons verstand ons aan die wêreld verbind en betekenis daaraan gee, dit ook belangrik is om die liggaam in ag te neem.

Roslyn Brooks (2004) stel in haar proefskrif getiteld "Therapeutic narrative: illness writing and the quest for healing" ondersoek in na die maniere waarop narratiewe van siekte terapeutiese narratiewe word aan die hand van tekste uit literêre genres wat onder meer lewenskrywery ("life-writing") insluit. Sy bestudeer oorwegend Australiese tekste wat onder meer insluit tekste wat die narratiewe van mediese skrywers bevat soos

The hospital by the river (2001) deur Catherine Hamlin, die boek Lukas in die Bybel, die

Sherlock Holmes-verhale deur Arthur Conan Doyle, W. Somerset Maugham se outobiografiese roman Of human bondage (1915) wat onder meer handel oor die skrywer se homoseksualiteit, The citadel (1937) deur A.J. Cronin, Monica Dickens se One pair of

(1953) deur Mary Renault; gedigte deur Francis Webb, Amy Witing, Philip Hodgins en Les Murray; tekste wat handel oor veroudering en demensie soos Maria's war (1998) deur Amy Witing, Iris: a memoir of Iris Murdoch (1998) deur John Bayley, Moral hazard (2002) deur Kate Jennings, The corrections (2001) deur Jonathan Franzen; kinderliteratuur wat handel oor demensie soos Friend of my heart (1994) deur Judith Clarke en Memory (1987) deur Margaret Mahy; tekste oor siekte en die vroulike liggaam soos Regards to the czar (1988) en The best man for this sort of thing (1990) deur Margaret Coombs, Borrowed light (1999) deur Anna Fienberg, I for Isobel (1989) en

Isobel on the way to the corner shop (1999) deur Amy Witing; tekste wat handel oor VIGS

soos Shadows on the dance floor (1992), tekste soos April Fool's Day (1993) deur Bryce Courtenay, Tales of the city (1988) deur Armistead Maupin, The comfort of men (1995) deur Dennis Altman, Holding the man (1995) deur Timothy Conigrave, A mother's

disgrace (1994) en Night letters (1996) deur Robert Dessaix, wat homoseksualiteit as

tema het; en etniese tekste soos Aboriginal suicide is different (2001) deur Colin Tatz,

True country (1993) deur Kim Scott, Steam pigs (1997) deur Melissa Lucashenko, Somebody now (1989) deur Ellie Gaffney, Snake dreaming (2001) deur Roberta Sykes

en Kick the tin (2000) deur Doris Kartinyeri.

Barbara Waxman (2005) skryf in haar artikel "Teaching cross-cultural aging" dat literêre tekste kulturele artefakte is wat die samelewing se waardes en houdings blootlê. Sy stel dat die lees van literatuur wat handel oor senior mense en ouderdom lesers se ouderdomsdiskriminerende houdings kan verander. Die artikel handel voorts oor die manier waarop sy studente leer hoe ʼn hoë ouderdom sosiaal gekonstrueer word, en hoe skrywers negatiewe stereotipes van seniors kan bevestig of uitdaag. Hiervoor gebruik sy Chileense en Amerikaanse tekste.

Seniors en veroudering in die fiksionele werke van Thomas Hardy word deur Dick Sainsbury (2009) ondersoek in sy verhandeling getiteld Older people and ageing in the

fiction of Thomas Hardy. Hy volg ʼn literêr-gerontologiese benadering om vier hooftemas

te identifiseer: oorwegings van sosiale kwessies soos uitgedruk word deur die woorde en handelinge van seniors; die belang van psigologiese aanpassings in sy karakters; die ondersoek na verhoudings tussen mense van verskillende ouderdomme; en die gebruik van antikwiteitsimbolisme soos uitgebeeld deur geboue, institute, argeologie en die natuur om veranderinge voortgebring deur moderniteit te beklemtoon.

Erik Grayson (2010) skryf in sy proefskrif The ones who cry: aging and the finitude in J.M.

Coetzee's novels of senescence dat J.M. Coetzee sedert Age of iron (1990) onversetlik

ondersoek instel na die maniere waarop seniors gevoelens van vervreemding, ballingskap, verlies en angs wat veroudering meebring konfronteer, prosesseer en hanteer. Hy argumenteer dat Coetzee elk van die protagoniste in Age of iron, The master

of Petersburg (1994) en Disgrace (1999) in ʼn oomblik van eksistensiële krisis aan die

einde van hul lewens plaas. Elkeen van hierdie karakters probeer om die dood te transendeer en die protagoniste verken biologiese en kreatiewe selfprojeksie sonder om werklik vertroosting te vind.

Die ouma-karakter word ondersoek deur Sylvia Henneberg (2010) in haar artikel "Moms do badly, but grandmas do worse: the nexus of sexism and ageism in children's classics". Henneberg argumenteer dat in die meeste invloedryke verhale wat kinders lees, oumas dikwels moeders oorleef, maar dan in stereotipiese rolle geskryf word. Die resultaat hiervan is dat daar slegs ʼn handvol karakters oorbly wat sekere karaktereienskappe besit wat deur literêre geskiedenis verewig word. Sodoende word meer diverse en multidimensionele uitbeeldings van vroue verdring, wat dui op diepgaande seksisme wat gekombineer word met ouderdomsdiskriminasie wanneer ouer vroue wel in verhale mag verskyn net om verkleineer te word. Sy ontleed onder meer 101 dalmatians, Adventures

of Huckleberry Finn, Aspoestertjie, Hansie en Grietjie, Die klein meerminnetjie, Rooikappie, Die ou vrou in die bos en Raponsie.

Ulla Kriebernegg (2012) volg in haar artikel "Ending aging in the Shteyngart of Eden: biogerontological discourse in a Super sad true love story" ʼn biogerontologiebenadering tot Gary Shteyngart se distopiese roman Super sad true love story (2010). Vanuit die perspektief van kulturele en literêre gerontologie stel sy ondersoek in na die manier waarop die roman heersende diskoerse in die veld van wetenskaplike antiverouderingstudies uitdaag – veral die idee dat veroudering ʼn siekte is. Volgens haar kan (die ontleding van) fiksionele tekste gesien word as ʼn kultureel-kritiese intervensie teen ouderdomsdiskriminasie wat openlik in wetenskaplike diskoerse voorkom.

In haar artikel "Unsettling ageing in three novels by Pat Barker", toon Sara Falcus (2012) tot watter mate mense deur kultuur verouder word en ook waar kultuur die materiële ontmoet aan die hand van Another world (1999), Liza's England (1986) en Union street

(1982). In hierdie romans word die ouerwordende karakters aan die genade van kulturele konstruksies oorgelaat. Nietemin plaas die tekste ook die liggaam sentraal wat weer herinner aan die beperkings van kulturele veroudering. Vir haar bied fiksie aan die gerontologie ʼn verkenning van die onafwendbaarheid van teenstellings wat met veroudering gepaardgaan.

Ulla Kriebernegg se 2013-referaat "Locating life: intersections of old age, space and place in contemporary Canadian nursing home narratives" sluit aan by Chivers se proefskrif. Die kulturele konstruksie van gevorderde leeftyd in kontemporêre verpleeginrigting- narratiewe binne die konteks van die ruimtelike wending, wat ruimte definieer as ʼn gevolg van sosiale verhoudings en praktyke, word uitgebeeld in die tekste Half life (2005) deur John Mighton en Exit lines (2008) deur Joan Barfoot. Die gaping tussen literêre gerontologie en ruimtelike narratologie word deur hierdie referaat oorbrug.

Jui-Ching Chen (2013) skryf in die artikel "The cycle of ageing and death in Beowulf: the education of the comitatus code" dat die ou Deense koning Hrothgar sy eie veroudering (van beide die self en die liggaam) beskou deur die interpersoonlike verhouding en gesprekke met die held, Beowulf, wat die monster Grendel en dié se ma verslaan. Hrothgar kyk terug op sy glorieryke verlede en leer die jong protagonis die belangrikheid van die waardes wat vervat is in die Germaanse comitatus-kode wat die eed is waarin ʼn Germaanse vegter trou sweer aan sy heer en meester. Op sy beurt word Beowulf ná vyf dekades as heerser van die Gaute ook met sy eie veroudering gekonfronteer en leer hy die comitatus-kode aan Wiglaf. Die artikel ondersoek die manier waarop beide konings hul veroudering op biologiese, kulturele en psigologiese wyse ervaar – tegelykertyd as ʼn kollektiewe menslike toestand en as geïndividualiseerde subjektiewe ervaring.

In haar proefskrif "Long-term caring: Canadian literary narratives of personal agency and identity in late life" ontleed Patricia Life (2014) dertien literêre tekste (van Traill, Wilson, Laurence, Shields, Wright, Barfoot, Munro, Tostevin, Gruen, Hepburn en King) om te assesseer hoe elke teks narratiewe van natuurlike veroudering, aftakeling, vordering en positiewe veroudering onthul, versterk en/of teenstaan. Ook sy, nes Chivers en Kriebernegg, stel ondersoek in na die manier waarop Kanadese letterkunde veroudering uitbeeld aan die hand van stories gesetel in seniorsorgfasiliteite en wat sy noem "verpleeginrigtingnarratiewe". Hierdie genre begin met gotiese stories van vrees vir ʼn

verpleeginrigting, veroudering en die dood. Dit brei dan uit na donker humoristiese stories met inwoners van sodanige inrigtings wat toenemend meer bemagtig voel. Later behels dit fantastiese stories van ontsnapping uit die inrigtings en ʼn terugkeer na jeugdige gedrag en voorkeurgewoontes. Die mees resente narratiewe smelt saam met vroeëre narratiewe om ʼn meesternarratief te skep waarin ouerwordende mense hul vrese oorwin om eindelik die verpleeginrigting en veroudering self heeltemal te verwerp.

Anita Wohlmann (2014) se boek Aged young adults: age readings of contemporary

American novels and films benader ouderdom as ʼn metaforiese praktyk wat veronderstel

dat om oud "te voel" nie letterlik opgeneem moet word nie, maar metafories. Sy ondersoek kulturele betekenisse van ouderdom en veroudering vir karakters in hul 20's en 30's en daag etikette soos laatmondigwording en altyddurende adolessensie uit. Sy ontleed en interpreteer Joel Zwick se film My big fat Greek wedding (2002), Sam Mendes se film Away we go (2009), Tom Perrotta se roman Little children (2004), Jonathan Franzen se roman The corrections (2001), Benjamin Kunkel se roman,

Indecision (2006), Don DeLillo se roman Cosmopolis (2003) en Miranda July se

draaiboek vir The future (2011) en It chooses you (2012).

Maricel Oró-Piqueras (2014) noem in haar artikel "Memory revisited in Julian Barnes's

The sense of an ending", dat die akkumulering van jare ook ʼn akkumulering van ervarings

meebring. Sy noem dat een van die hoofkwessies waaroor Julian Barnes in sy roman

The sense of an ending (2011) skryf die bestekopname is wat mense van hul lewens

maak sodra hulle afgetree het. Die roman hanteer vrae wat ontstaan rondom die kwaliteit en funksie van geheue soos wat ʼn mens verouder. Voorts ondersoek die roman maniere waarop mense verantwoordelikheid kan aanvaar vir herinneringe aan dade in die verlede waarop mens nie trots is nie en ook hoe om sodanige slegte herinneringe te hanteer soos wat ʼn mens verouder.

Emma Domínguez-Rué (2014) pas die metodologie van literêre teorie en kulturele gerontologie toe in haar artikel "What goes around comes back around: life narratives and the significance of the past in Donna Leon's Death at La Fenice". Die belangrikheid van geheue, sowel as die kritieke rol van lewensnarratiewe in die persoonlike en kulturele konstruksie van identiteit word hanteer om ondersoek in te stel na die maniere waarop ons persepsie van veroudering verryk kan word deur literêre studies.

Núria Casado Gual (2015) volg ʼn literêr-gerontologiese benadering om ondersoek in te stel na die representasie van veroudering in Joanna McClelland Glass se dramakorpus. Sy skryf in haar artikel "Ambivalent pathways of progress and decline: the representation of aging and old age in Joanna McClelland Glass's drama" dat ten spyte van ʼn duidelik aanwesige "teatergerontologie" in teaterstudies, teaterpedagogie en literêre kritiek, daar nog weinig studies oor die werk van kontemporêre dramaturge bestaan, veral buite Europese en Amerikaanse kanons. Dit is ook die geval in die Afrikaanse letterkunde, en juis daarom behoort ʼn literêr-gerontologiese benadering tot Hennie Aucamp se kabarette en dramatekste ʼn gaping in literêre studie te oorbrug. Glass se karakterisering van ouer karakters toon nie net die kompleksiteit van "ageing into old age" nie, maar ook die waarskynlikheid en betekenisvolheid daarvan. Sy bestudeer progressie en aftakeling in die dramatiese uitbeelding van haar senior karakters om ʼn ambivalente narratief van veroudering te genereer wat hierdie belangrike menslike ervaring op ʼn eerlike en waardige manier representeer.

In 2015 lewer Lauren Marsh (2015) ʼn verhandeling getiteld Sexuality, desire and the

ageing female body: an essay waarvan ʼn novelle "One night in Hong Kong: a novella"

deel uitmaak en waarin sy ʼn interessante tweeledige studie doen oor die uitbeelding van vroulike protagoniste en hul seksualiteit in Australiese fiksie. Met die novelle eksperimenteer sy met die skryf van ʼn intervensionistiese teks waarin sy temas soos onsigbaarheid, die verouderende liggaam en seksuele fantasie ondersoek. In die meegaande essay ontleed sy hierdie temas met behulp van, onder andere, Julia Kristeva se teorie van abjeksie soos dit verband hou met die verouderende vroulike liggaam en Michel Foucault se teorie van dissiplinerende diskoerse. Ten slotte ondersoek die verhandeling die representasie van die seksualiteit van die verouderende vrou in drie Wes-Australiese skrywers, naamlik Elizabeth Jolley, Dorothy Hewett en Liz Byrski. Maricel Oró-Piqueras (2015) skryf in haar artikel "The complexities of female aging: Four women protagonists in Penelope Lively's novels" dat die bekende Britse skrywer Penelope Lively deur die stemme en denke van middeljarige en senior vroulike karakters in vier van haar romans aan die leser die veelvuldigheid van die realiteite waarin vroue hulle hul ná hul middel 50's bevind, uitbeeld. Volgens Oró-Piqueras nooi Lively die leser om verby die verouderende voorkoms van die vroue te kyk en sodoende die beperkende

opvattings oor die ou liggaam en die sosiale en kulturele geassosieer met hoë ouderdom raak te sien.

David Rio (2016) ondersoek in sy artikel "Facing old age and searching for regeneration in a dying American West: Gregory Martin's Mountain City" die wisselwerking tussen lewe en veroudering in Gregory Martin se Mountain City – ʼn indrukwekkende gedenkskrif oor die vervallende myndorp in Nevada waarvan die inwoners verouder. Volgens Rio hersien Martin Westerse mitologie wat gefokus is op die jeug en dekonstrueer negatiewe beelde van hoë ouderdom en siekte.

In Russiese literatuur is daar volgens Dagmar Gramshammer-Hohl (2016) ʼn gebrek aan die uitbeelding van ouderdom en veroudering. In sy artikel "The sameness of the ageing self: memory and testimony in 20th-century Russian narratives of ageing" skryf hy dat die volgende temas wel in Russiese verouderingsnarratiewe voorkom: herinneringe aan die verlede en die getuienis van ʼn getuie as essensieel vir die identiteit van die vertelde self. Die artikel bied ʼn analise van twintigste-eeuse Russiese prosa deur vroue waarin geheue en getuienis ʼn beslissende rol speel vir die verouderende protagonis en haar sin van die self.

Sara Falcus ontleed in haar 2017-artikel getiteld "The uneasy partnership of feminism and ageing in Carol Shields's Unless" die Kanadese skrywer Carol Shields se laaste roman wat handel oor die ma-en-dogterverhouding en ʼn vrou se plek in ʼn patriargale wêreld. Benewens hierdie temas handel die roman oor veroudering en meer spesifiek oor die middeljarige protagonis van 43/44 jaar oud. Haar ontleding toon dat ten spyte van die feminisme aanwesig in die roman, die implikasies en effekte van die interseksie tussen ouderdom en gender nie ten volle geartikuleer kan word nie.

Ulla Kriebernegg (2018) skryf in haar artikel "'Time to go. Fast not slow': geronticide and the burden narrative of old age in Margaret Atwood's 'Torching the Dusties'" dat die interseksie tussen ouderdom en ruimte sentraal staan vir ons begrip van wat dit beteken om te verouder. Sy analiseer die sieke-inrigting as ʼn uitsluitende ruimte wat die sogenaamde beswarende aspekte van hoë ouderdom bevat in Margaret Atwood se apokaliptiese kortverhaal 'Touching the Dusties'. In hierdie verhaal word die marginalisering van persone van hoë ouderdom en die ouderdomsdiskriminasie wat

manifesteer in die ruimtelike segregasie vanuit die perspektief van literêre gerontologie belig. Die artikel fokus op die sosiale, kulturele en biologiese dimensies van veroudering. Dit is interessant om daarop te let dat die meerderheid navorsers in die literêre gerontologie vroue is. Dit is ook meestal vroue se ervarings van veroudering en ouderdom wat in die gekose tekste of films ondersoek word. Wat die literêre gerontologie betref, is dit duidelik dat daar ʼn verskeidenheid uiteenlopende benaderings gevolg word ten einde sekere bevindings oor veroudering en ouderdom te maak. Geeneen van die studies volg ʼn "resep" nie, en die metodologie wat gevolg word, is meestal hermeneuties van aard. Die studies betrek ook heelwat insigte vanuit ander studieterreine, en veral die filosofie