• No results found

HOOFSTUK 1: INLEIDING

1.3 Metodologie

Hierdie studie behels teksontleding wat grootliks berus op die hermeneutiek. Hoewel Aucamp se literêre oeuvre in geheel in oënskou geneem word, word daar op representatiewe werke gefokus. Wat die seleksie van tekste uit Aucamp se oeuvre betref, was dit moeilik om reeds vooraf bepaalde werke uit te sonder, juis vanweë die

omvangrykheid van die oeuvre. Die hele oeuvre is in detail bestudeer en daar is besluit om ʼn sistematiese aanpak soortgelyk aan Andries Visagie se doktorale proefskrif (Manlike subjektiwiteit in die Afrikaanse prosa van 1980 tot 2000) te volg. Waar Visagie telkens ʼn sekere tema aan die hand van geselekteerde literêre werke of ʼn spesifieke outeur in ʼn afsonderlike hoofstuk hanteer, is vir die doeleindes van hierdie proefskrif besluit om Aucamp se drie hoofgenres, naamlik prosa, poësie en drama/kabaret as afsonderlike hoofstukke aan te bied. Die fokus val wel slegs op werke van literêre aard terwyl Aucamp se egodokumente as ondersteunende materiaal gebruik word. Artikels en resensies van Aucamp self is nie volledig betrek nie, maar wel waar dit ʼn wesenlike bydrae tot die interpretasie van ʼn literêre werk kon lewer.

Hoofstukke 3, 4 en 5 van hierdie proefskrif bied breedvoerige karterings van Hennie Aucamp se literêre tekste vanuit gerontologiese perspektief. Die karterings is uitgevoer deur terug te keer na sake wat reeds in sy oeuvre bestudeer is, maar hierdie keer deur die spesifieke lens van literêre gerontologie, narratiewe gerontologie en queer- gerontologie op sy werk te rig. Ná die in-diepte ontleding van Aucamp se literêre tekste kon relevante gerontologiese temas en verhoudings in byna elke literêre werk van Aucamp gevind word.

Vervolgens word ʼn bondige uiteensetting van die metodologie gegee:

Eerstens is ʼn geïntegreerde interdissiplinêre teoretiese raamwerk saamgestel met die gerontologie as vertrekpunt. Daar is veral gefokus op die narratiewe, literêre en queergerontologie. Voorts is intergenerasionele verhoudings ook bestudeer aangesien dit verband hou met die gerontologie soos dit neerslag vind in Aucamp se literêre tekste. ʼn Fokus op die resente werk van ʼn skrywer soos Aucamp impliseer ook ʼn ondersoek na die konsep van laatwerk/laatstyl wat veral deur Van Vuuren (2014a) in die artikel "D.J. Opperman se laatwerk" met die gerontologie in verband gebring word.

ʼn Interdissiplinêre studie soos hierdie kan baie maklik die nodige fokus op die primêre vakgebied waarin dit gesetel is (in hierdie geval die Afrikaanse letterkunde) verloor en onwillekeurig begin wentel om die sekondêre vakgebied (die gerontologie) en selfs ander aanverwante vakgebiede (soos queerstudies). Die sintese tussen letterkunde en gerontologie kan voorts ook ʼn instrumentalistiese ponering van die teorie oor die

letterkunde plaas. In hierdie studie probeer ek om sodanige instrumentalistiese benadering tot die letterkunde te vermy.

Derek Attridge (2004:7) definieer in The singularity of literature ʼn instrumentalistiese benadering tot letterkunde soos volg:

[…] the treating of a text (or other cultural artifact) as a means to a predetermined end: coming to the object with the hope or the assumption that it can be instrumental in furthering an existing project, and responding to it in such a way as to test, or even produce, that usefulness. The project in question may be political, moral, historical, biographical, psychological, cognitive, or linguistic.

In wese probeer ʼn instrumentalistiese benadering ʼn literêre teks in diens stel van iets buite-literêr. Attridge (2004:12) bespreek die estetiese tradisie as teenvoeter vir ʼn instrumentalistiese benadering, maar beklemtoon dat ook hierdie tradisie nie noodwendig ʼn volledig bevredigende benadering tot die letterkunde is nie. As sintese tussen hierdie twee perspektiewe bied Attridge (2004:13) die volgende:

What is needed, therefore, to complement the instrumentalist achievements of recent criticism and to build on the lasting, if partial, insights of the aesthetic tradition is a mode of attention to the specificity and singularity of literary writing as it manifests itself through the deployment of form (a term which will require redefinition), as well as to the unpredictability of literary accomplishment that seems connected with that deployment – an approach that at the same time fully acknowledges the problematic status of all claims to universality, self-presence, and historical transcendence.

Attridge (2004:63) beskryf hierdie singulariteit soos volg:

The singularity of a cultural object consists in its difference from all other such objects, not simply as a particular manifestation of general rules but as a peculiar nexus within the culture that is perceived as resisting or exceeding all pre-existing general determinations. Singularity, that is to say, is generated not by a core of irreducible materiality or vein of sheer contingency to which the cultural frameworks we use cannot penetrate but by a configuration of general properties that, in constituting the entity (as it exists in a particular time and place), go beyond the possibilities pre-programmed by a culture's norms, the norms with which its members are familiar and through which most cultural products are understood.

Ten einde ʼn instrumentalistiese benadering te vermy, word ʼn stewige basiese interpretasie en evaluering van elke geselekteerde Aucamp-teks, gebaseer op my eie indringende herlees daarvan (met aandag aan beide inhoud en vorm), uitgevoer. Verdere afleidings, ingegee deur die teorie, word geponeer op wat die teksanalise opgelewer het. Die bespreking van die ouderdomstematiek is dus ingebed in daardie lees

van elke teks in sy artistieke spesifisiteit. Voorts is daar ook die groter narratief van die opeenvolgende werke, ongeag genre, wat sy oeuvre konstitueer.

Die genreverskeidenheid wat so kenmerkend is van Aucamp se oeuvre bied ʼn besondere uitdaging aan enige navorser wat sy werk grondig wil verken. Een manier om hierdie uitdaging die hoof te bied, is om juis te fokus op die tydsaspek van veroudering met betrekking tot die plot in elke werk. Deur só oor die saak te dink, word verseker dat die literêre teks (ook in sy unieke vormgewing) as uitgangspunt geneem word. Die belang wat plot speel in die konstruksie van narratiewe word meer in diepte in hoofstuk 2 bespreek.

Die gekose metodologie het gehelp om antwoorde op die navorsingsvrae te verskaf deurdat dit ʼn deeglike teoretiese literatuuroorsig van die literêre en narratiewe gerontologie (met inbegrip van intergenerasionele teorie) gee wat nodig is om die ontledings en interpretasies van die Aucamp-tekste te rig ten einde nuwe perspektiewe op sy oeuvre te bied. Die bydrae van die proefskrif is dus eerstens tot die korpus akademiese navorsing oor Hennie Aucamp deur middel van die ontledings en interpretasies van veral meer onlangse werke waaroor daar nog weinig navorsing gedoen is. Tweedens dra dit by tot die uitbreiding van die gerontologie as ʼn literêre benadering tot Afrikaanse letterkunde en derdens word die waarde van hierdie benadering vir en aan die hand van Aucamp se werk ondersoek.