• No results found

Die literêre oeuvre van Hennie Aucamp

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.7 Die literêre oeuvre van Hennie Aucamp

Hennie Aucamp se oeuvre bestaan uit 74 werke: agtien kortverhaalbundels, tien poësiebundels, dertien kabaret- en dramatekste, agt egodokumente, nege literêr- kritiese werke, vyftien bloemlesings, asook ʼn vertaling van Jack Schaeffer se steeds gewilde jeugboek Old Ramon (1963). Vir die doel van hierdie studie is besluit om hoofsaaklik sy literêre werke te ondersoek, maar sodanige ondersoek sal onvermydelik ook van toeligting deur sy egodokumente gebruik maak.

In die inleiding van Brandglas steun Charles Fryer (1987:ix) op die volgende uitspraak van Harry Mulisch oor die oeuvre van ʼn skrywer (vertaal deur Fryer uit Mulisch se 1974- werk Voer voor psychologen):

Die oeuvre van ʼn skrywer is, of behoort te wees, ʼn totaliteit, één groot organisme, waarin elke onderdeel met alle ander verbind is deur ontelbare drade, senuwees, spiere, senings en kanale, waardeur onderlinge voeling moontlik is en geheimsinnige boodskappe heen en weer gestuur word, strome, seine, kodes … As jy dit iewers aanraak, is daar elders ʼn reaksie; ʼn omvangryke bloedsomloop, is in werking, en ʼn allesomvattende stofwisselingsproses, beheer deur haas onvindbare kliere, en in die middel die hipofise, vir altyd onsigbaar.

Fryer (1987:x) brei uit op hierdie beskrywing:

Watter skrywer staan nie soms verstom voor skielike ingewings, onverklaarbare assosiasies of dwingende besielings nie. Tog val alles, agterna beskou, in ʼn patroon – hoewel nie alles verklaar kan word nie. Dit is moontlik dat ʼn skrywer één ding oor en oor kan sê; al beter probeer sê; uit hom úit probeer sê. Presies wát en wáárom, sal hy hopelik nooit weet nie, want die einde van die soektog (daardie een groot tema in die lewe én in die kuns) beteken ʼn skrywersgraf.

Hierdie stelling van Charles Fryer kan moontlik van toepassing wees op die oeuvre van Hennie Aucamp, want ná afloop van die ontledings en interpretasies van Aucamp se literêre tekste kan dit voorkom asof daar slegs enkele temas in sy oeuvre is wat herhalend, met variasies, voorkom.

Aucamp (1995:35) skryf self daar is tussen alle boeke van dieselfde skrywer "die onsigb're naelstring wat nie breek":

Dit is presies waarmee navorsers na die totale produksie – die oeuvre – van ʼn skrywer hulle besig hou: hierdie bindingsdraad tussen tekste wat oor dekades strek. Ek vind dit jammer dat plaaslike navorsers hierdie hoogs kreatiewe vorm van navorsing, nl. oeuvrestudie, so onderverkend laat bly. Alles van een hand – verhale, gedigte, romans, briewe, dagboeke, resensies – kan na een psige herlei word.

Volgens Aucamp (1995:35) bevat die jeugwerk (of "juvenalia") van skrywers, skilders en komponiste dikwels belangrike "sleutels tot die binneskappe van hierdie skeppers". Sy eie insig van veroudering beskryf hy soos volg:

Dis ʼn illusie dat ons radikaal verander met die jare. Dis waar dat ons soms op grond van lewens- en lees- en droomervarings gedwing word om kennis te neem van ons "unused self"; maar die nuwe selwe" […] bly in gesprek met ons oerself. Ons oerself bly ons sentrale kragverwekker.

Vir Aucamp (1995:38) was die wonderlikste om ouer as 60 jaar te wees dat "jy uiteindelik die hanswors, die Joker, die sater in jouself kan vrystel en jouself so koelbloedig kan dekonstrueer as wat jou toegewydste vyand dit nie kan doen nie". Hierdie persoonlike ontwikkeling wat Aucamp ervaar kan ook gekoppel word aan sy deelname aan die groter gay emansipasie van die afgelope 70 jaar (Jeffrey Weeks noem hierdie emansipasie "the world we have won" in sy gelyknamige boek wat in 2007 gepubliseer is).

Andries Visagie (2015a:215) skryf die volgende in ʼn huldeblyk aan Hennie Aucamp:

In die laaste jare van sy lewe het Hennie Aucamp met ʼn soort gedrewenheid die een publikasie ná die ander die lig laat sien asof hy duidelik daarvan bewus was dat sy dae min geword het vir die afhandeling van sy laaste paar skryfprojekte.

Hierdie toenemende tempo van publikasie beteken egter nie dat daar noodwendig by Aucamp ʼn soort laatstyl geïdentifiseer kan word nie. Visagie (2015a:215) merk wel dat Aucamp in die laaste twee dekades van sy skrywersloopbaan hom toenemend op die skryf van (outo)biografiese tekste (egoliteratuur) en poësie toegespits het.

In Hennie Aucamp se verhale is dit vir hom belangrik om die volle spektrum van die menslike toestand te verken (Visagie, 2015a:215). Sy Stormbergse jeugjare het nooit gebots met sy literêre verkenning van lande soos Brittanje, Duitsland, die VSA, China en Tibet nie (Visagie, 2015a:215).

Visagie (2015a:216) beklemtoon ook die belangrikheid van Aucamp as oopskrywer van sogenaamde taboetemas:

Die openhartige manier waarop Afrikaanse skrywers vandag oor gay en queer seksualiteite kan skryf, is deels te danke aan die waagmoedige tekste wat Hennie Aucamp oor die liefde tussen mense van dieselfde geslag geskryf het.

Visagie (2015a:216) ondersteun die idee dat Aucamp eerstens ingestel was op die menslike toestand en daarna ander identiteite wat individue kan aanneem:

Soos ʼn later verhaal soos 'Aletta van die oewererwe' uit Die huis van die digter (2009) aantoon, het Aucamp meestal daarna gestrewe om gay seksualiteit (hier die suggestie van seksuele kontak tussen ʼn prokureur en ʼn hawelose man) met die groter problematiek van menslike seksualiteit te skakel. Sodoende wou hy klaarblyklik die gevaar van gay uitsonderlikheid en ʼn gepaardgaande isolasie teenwerk.

Aucamp (1987d:121) skryf self die volgende oor die kenmerke van sy oeuvre:

As ek die deurlopende tema in my werk moet probeer saamvat, sal ek sê: ʼn bewustheid van onvervuldheid en onvoltooidheid as blywende menslike kondisie, maar teenstrydig hiermee, die voortdurende strewe na vervulling en voltooiing, ja, asof vervulling wel moontlik

is.

Hennie Aucamp was ʼn veelsydige skrywer wat sy hand aan verskeie genres gewaag en dit bemeester het. Wanneer ʼn mens die soekterm "Hennie Aucamp" in die aanlynweergawe van Literêre terme en teorieë (2019) insleutel, verskyn sy naam in byna elke literêre (sub)genre: absurde drama, aforisme, anekdote, grensliteratuur, herinneringspel, kabaret (beide literêr en artistiek), kortverhaal, kwatryn, prosagedig, raamvertelling, regionale literatuur, reisverhaal, satire, skets en speelse poësie. Vir hierdie studie het ek besluit om hoofsaaklik op die poësie, drama, kabaret en kortverhale te fokus, maar die leser van hierdie proefskrif moet deurgaans in gedagte hou dat daar ʼn spontane en onvermydelike oorgang tussen genres in Aucamp se literêre en narratiewe oeuvre aanwesig is. Hambidge (2009:246) skryf tereg die volgende oor lesers se genrevooroordele wanneer dit by Aucamp se literêre werke kom:

Miskien het die Afrikaanse letterkunde nog nie genoegsaam aandag gegee aan sy digkuns nie, omdat ons dikwels genre-bevange is en skepties is oor ʼn skrywer wat van een genre na ʼn ander beweeg.

Rilette Swanepoel en Joan Hambidge (2018) gee in Literêre terme en teorieë die volgende definisie van genre:

Genre dui op die tipe of klas waartoe ʼn literêre werk behoort. Die genre van ʼn teks word bepaal op grond van ʼn reeks konvensionele kenmerke wat spruit uit die leser se leeservaring (of verwagtingshorison). Hoewel die waarde van genres dikwels ontken word, is hulle meer as ʼn blote klassifikasiestelsel: hulle bepaal deels die interpretasie en resepsie van ʼn teks. Daarby speel genres ʼn belangrike rol in literêre verandering en in die literatuurgeskiedenis. Hulle is literêre verskynsels in eie reg.

Dit is belangrik om te weet dat genre ook die skryf van tekste rig en dit kan gesien word as "ʼn ooreenkoms tussen skrywer en leser, bepalend vir sowel die enkodering as die dekodering van ʼn teks" (Swanepoel & Hambidge, 2018). Genre maak ʼn konvensie of raamwerk uit waarbinne die skrywer hom/haar/sig kan uitdruk en die leser die teks kan verstaan. Hierdie raamwerk bepaal ook of ʼn gebeurtenis gepas is binne ʼn sekere teks en hoe dit beoordeel moet word (Swanepoel & Hambidge, 2018).

Daar word veral tussen drie hoofgenres onderskei, naamlik epiek, liriek en drama en dit is belangrik om te verstaan dat hierdie genres nie as absoluut skeibaar beskou kan word nie, maar dat oorvleueling wel plaasvind. Nietemin is daar ʼn paar onderliggende beginsels wat die genre van ʼn teks bepaal, waarvan die belangrikste vorm, tema, tegniek, tydsraamwerk, ruimte en funksie is (Swanepoel & Hambidge, 2018).

Julius Petersen se driehoek hierbo bring al die formele kriteria byeen. Die driehoek toon dat die liriek ʼn monologiese uitbeelding van ʼn toestand is, die epiek ʼn monologiese berig van ʼn handeling, en die dramatiek ʼn dialogiese uitbeelding van ʼn handeling (Swanepoel & Hambidge, 2018). Swanepoel en Hambidge (2018) stel dat genres dinamies verbind is aan die kontekste waarin hulle manifesteer, vormmerkers van literêre verandering is en dikwels die belange en ideologieë van hegemoniese groepe in die samelewing dra. Soos reeds genoem volg hierdie proefskrif ʼn genre-gerigte benadering tot die ontleding en interpretasie van Aucamp se literêre oeuvre.

Die volgende oorsig van Aucamp se literêre tekste steun meestal op Kannemeyer (2005) se Die Afrikaanse literatuur. 1652-2004 en die nuutste uitgawe van Perspektief en profiel

Deel 1: ʼn Afrikaanse literatuurgeskiedenis (2015) onder redaksie van H.P. van Coller.

Die ruimte wat in hierdie boeke aan die werk van Aucamp afgestaan word, bevestig sy kanonieke status en gee ʼn redelik volledige oorsig van sy oeuvre.

In Een somermiddag (1963), Aucamp se debuutkortverhaalbundel, illustreer hy die verouderingsproses in agt verhale deur middel van die hoofkarakter Wimpie wat groei van seun tot jeugdige volwassene. Wat Die hartseerwals (1965) betref, lig Kannemeyer (2005:366) veral die verhaal "Afia se middag" uit op grond van die boeiende verhaalmatige verkenning van die suiwer verhouding tussen ʼn kind en ʼn sterwende kunstenares (die sogenaamde intergenerasionele verhouding word dus vroeg reeds in sy oeuvre ʼn tema waarna later telkens teruggekeer word). Kannemeyer (2005:366) noem dat veral die derde afdeling in Spitsuur (1967) fokus op eensame mense – ʼn aspek wat ʼn belangrike deel van gerontologiese navorsing, maar ook alle letterkunde (veral ná Sestig), uitmaak. In die ikoniese verhaal "ʼn Bruidsbed vir tant Nonnie" (in die gelyknamige bundel van 1970) hanteer Aucamp weer intergenerasionele verhoudings in die uitbeelding van die verhouding tussen ʼn jong seun en sy 70-jarige tante.

Hongerblom (1972), Wolwedans (1973) en Dooierus (1976) word gekenmerk deur die

toonaard en perspektief van die dramatiese spreker (Kannemeyer, 2005:367). Beide Hongerblom en Dooierus het die elegiese as tema, en in Hongerblom is dit veral "Die nag van die ooms" wat opval, terwyl die oumafiguur in Dooierus deur Aucamp verder ontwikkel word (Kannemeyer, 2005:367). Die temas van eensaamheid en angs van die gefrustreerde mens kan as die belangrikste tematiese aspekte in hierdie bundel beskou word (Kannemeyer, 2005:368). Enkelvlug (1978b) handel oor die eensame mens en sy/haar/sig verhouding met die wêreld waarin hy/sy beweeg. Volmink (1981) toon daarteenoor die mens wat in teleurstelling na seksuele genot gryp of wat aan die einde van ʼn mislukte lewe die Sokratiese insig het dat hy/sy niks weet nie (Kannemeyer, 2005:368). By Aucamp kan ʼn eiesoortige wysheid waargeneem word; veral aangesien dit vanuit die tradisionele sienings van wysheid ontgin word, maar wat hy dan met moderne denkwyses versoen (soos byvoorbeeld sy hantering van gaytematiek). Visagie (2015a:215) reken dat Volmink as die hoogtepunt van die Aucamp-oeuvre

beskou kan word – veral vanweë die indrukwekkende kortverhaal "Vir vier stemme" en die feit dat die bundel ʼn toonbeeld van Aucamp as dekadente skrywer is.

In Wat bly oor van soene? (1986) word ʼn meer ervare, berese en ouerwordende persoon as verteller in die eerste deel van die bundel gevind en Kannemeyer (2005:369) noem tereg dat die bundel "ʼn bundel van die herfs, die ouer-word" genoem kan word. In Dalk

gaan niks verlore nie (1992) verken Aucamp die lewe wat lei tot die dood en ʼn besinning

daaroor in "Oor lewe en dood; veral dood" (Kannemeyer, 2005:370).

Taljard (2008:284) stel ondersoek in na Aucamp se basiese credo van die menslike kondisie en ook buitestanderskap as die leitmotief van die bundel ʼn Vreemdeling op

deurtog (2007).

Die liefde (en ook die afwesigheid daarvan) is ʼn onontbeerlike aspek van die verouderingsproses en in Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2009) beeld Aucamp verskillende vorme hiervan (onder andere homoseksuele verhoudings) uit (Van der Merwe, 2010a:184).

Wat die poësie betref, is dit die kwatryne in Die blou uur (1984), Pluk die dag (1994) en

Koerier (1999) wat sensualiteit aangryp as verweer teen sterflikheid (Kannemeyer,

2005:365). Hugo (2015:297) noem ook dat Die blou uur verlange en weemoed as bykomende temas het – beide is aspekte wat teenwoordig is tydens die verouderingsproses. In Hittegolf (2002) is dit veral gedigte oor die ervaringswêreld van gay mans (Visagie, 2002) wat van belang is vir hierdie studie. Dryfhout (2005) word deur Bezuidenhout (2006:236) beskou as ʼn besinning oor verganklikheid, en dit is veral die gedigte oor die jeug en homoërotiek wat relevant is vir hierdie studie (vgl. Hugo, 2015:302-303). Du Plooy (2009:159) verwys na die verganklikheidstematiek in

Vlamsalmander (2008) en veral afdeling ses wat volgens haar ars poëtikale gedigte

bevat. Volgens Kuhn (2013:182) is Aucamp se 2012-digbundel Teen die lig ʼn versameling verse wat afskeid, dood, herinneringe en verheerliking as sentrale temas het. Al hierdie aspekte is teenwoordig in die gerontologie en daarom relevant vir die doeleindes van hierdie studie. Ullyatt (2014:67) lys verskillende temas wat in Aucamp se laaste digbundel, Skulp (2014), voorkom en veral die tematiek van (fisieke) verval vanweë ouderdom is van belang vir hierdie studie. Ook die tema van tydelikheid hou hiermee verband en manifesteer in heelwat gedigte in die bundel.

Aucamp se dramas en kabarettekste word ook by hierdie studie betrek en vervolgens word ʼn kort oorsig van werke in hierdie genre gegee. Punt in die wind (1989) is ʼn sekskomedie met die Euripides-oerteks Orestes as basis; Hoorspelkeur (1983) bevat een radiodrama getiteld "Die dood van ʼn matador"; en ʼn Brommer in die boord (1990) is ʼn boereklug waar die tradisie van die musiekblyspel met moraliteit verbind word (Kannemeyer, 2005:365). Die gaytematiek word ook in Punt in die wind hanteer en is dus ʼn uiters relevante drama. Volwaardige kabarette sluit in Met permissie gesê (1980),

Papawerwyn en ander verbeeldings vir die verhoog (1980), Slegs vir almal (1986), Oudisie! (1991) en Van hoogmoed tot traagheid (1996) (Kannemeyer, 2005:365). Dubbeldop (1994) en Die lewe is ʼn grenshotel: ryme vir pop en kabaret (1977) bevat ook

onder meer kabarettekste. Relatief min navorsing is oor Aucamp se dramas en kabarettekste gedoen – ʼn leemte wat hierdie proefskrif vul.

Roos (2015:200) situeer Aucamp "aan die rand van Sestig". Sy kortverhaal "Au clair de la lune" is as die openingsverhaal in Windroos opgeneem en hy was ook betrokke by die tydskrif Sestiger (Roos, 2015:200). Aucamp word egter steeds beskou as ʼn literêre buitestander binne die Sestiger-konteks vanweë die konvensionele aard van sy vroeë vertellings. In ʼn onderhoud met Rudolf Stehle (2009:9) sê Aucamp die volgende oor sy verband met die Sestigers:

Ek is destyds by herhaling uitgewys as die 'onsestigste' van die Sestigers. Ek het nie heeltemal ingepas nie, want ek het aan universele temas geglo en wou my nie te veel aan die politiek wy nie. […] Die kameraadskap onder die Sestigers was nie net polities nie, maar meer ʼn gevoel van ons verset teen burgerlikheid en opvattings oor seks en liefde.

Roos (2015:200) beskou sy eerste verhale as nostalgiese streeksliteratuur wat in geromantiseerde outobiografiese styl geskryf is.

Die bundels van die sewentigerjare, ʼn Bruidsbed vir tant Nonnie (1970), Hongerblom – vyf

elegieë (1972), Wolwedans (1973), Dooierus (1976) en Enkelvlug (1978), verwoord ʼn

sterker satiriese, byna ontluisterende toon, verbeeld meer onkonvensionele, soms bisarre mense en situasies, en fokus op die outsiderskap van die hooffiguur. Ook deur die ontginning van die moontlikhede van die ek-perspektief, die hegte samehang van beelde en motiewe, die opbou van ʼn outobiografiese illusie en die merkwaardige stilistiese verfyning, vorm Aucamp sy eiesoortige idioom. In die tagtigerjare verskyn Volmink (1981) en Wat bly oor van soene? (1986). Grobbelaar (1991) het ná ʼn indringende ondersoek van Aucamp se hele oeuvre die duidelike spore van ʼn negentiende-eeuse gees daarin aangetoon. Deur die voorkoms van bepaalde motiewe, kleure, karakters, literêre verwysings en ʼn al hoe meer eksplisiete homoërotiese toon, bemerk sy in sy werk ʼn "sinvolle dekadente gees – inherente deel van ʼn onteenseglike twintigste-eeuse fin de siècle."

Benewens die kind (meestal ʼn seun), wat dikwels die sentrale figuur in Aucamp se verhale is, is daar die "oumens wat ook in vele gedaantes by Aucamp opduik, en wat in die geval van Tant Nonnie gesien word as "die stout ou kind"" (Fryer, 1987:xx).