• No results found

Narratiewe plot as lewensverloop

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.4 Narratiewe gerontologie

2.4.1 Narratiewe plot as lewensverloop

Nes narratiewe ʼn plot het wat die opeenvolging van gebeure met oorsaak en effek is en binne tyd geskied, so kan lewensverloop ook beskou word as ʼn soort plot omdat heelwat gebeure in ʼn mens se lewe plaasvind wat die verloop daarvan bepaal. Ricoeur se siening van die rol wat plot in narratiewe speel is daarom van belang omdat die narratiewe gerontologie sig besig hou met die konstruksie van stories wat handel oor die persoonlike ervaring van veroudering en dus lewensverloop.

Die werking van plot kan breedweg gedefinieer word as ʼn sintese van heterogene elemente. Dit is eerstens ʼn sintese van veelvoudige gebeurtenisse of insidente tot ʼn enkelvoudige en volledige geskiedenis. Vanuit hierdie perspektief het die plot die vermoë om ʼn enkele storie uit veelvuldige insidente te skep. In hierdie verband is ʼn gebeurtenis meer as ʼn blote gebeurtenis (iets wat net gebeur): Dit dra net soveel by tot die progressie van die storie as wat dit bydra tot die begin en einde daarvan. Storievertelling organiseer verskeie insidente of gebeurtenisse in ʼn verstaanbare geheel (Ricoeur, 1991:426). Vanuit ʼn tweede perspektief verenig plot uiteenlopende komponente soos omstandighede (waarvoor nie noodwendig gesoek is nie); agente van handelinge en

diegene wat dit passief ondergaan; toevallige óf geantisipeerde konfrontasies; interaksies wat die akteurs in verwantskappe plaas wat kan strek van konflik tot samewerking; middele wat in ooreenstemming met doelwitte is; en resultate wat nie noodwendig wenslik is nie. Deur al hierdie faktore in ʼn enkele storie byeen te bring, verander die plot in ʼn eenheid wat beide konkordant en diskordant is. Begrip vir sodanige komposisie word bewerkstellig deur die storie te volg. Om ʼn storie te volg, is ʼn baie komplekse handeling wat onophoudelik gelei word deur verwagtings rakende die verloop wat die leser algaande aanpas in lyn met die ontvouing van die storie tot aan die einde (Ricoeur, 1991:426-427).

Derdens is plot ʼn sintese van heterogene elemente in die vorm van die kenmerkende temporaliteit eie aan elke narratiewe komposisie. Daar is volgens Ricoeur twee soorte tyd in elke storie: Aan die een kant is daar ʼn diskrete, oop en teoreties ongedefinieerde opeenvolging van insidente, en aan die ander kant bestaan daar ʼn temporele aspek gekenmerk deur integrasie, kulminasie en die doeltreffende einde wat aan die storie ʼn skema gee. Ricoeur skryf dat tyd soos volg beleef word: "[F]or us, time is that which is fleeting and passes away, as well as that which endures and remains" (Ricoeur, 1991:427). Die vertelde storie word dus gekarakteriseer as ʼn temporele totaliteit terwyl die poëtiese daad beskou word as die skep van ʼn mediasie tussen tyd-as-vloeibaar en tyd-as-voortduring (Ricoeur, 1991:427).

Aristoteles het gesê dat elke goed vertelde storie ons onderrig en dat stories universele aspekte van die menslike toestand onthul. Juis daarom is digkuns meer filosofies as die geskiedenis van geskiedkundiges wat te afhanklik is van die anekdotiese aspekte van die lewe (Ricoeur, 1991:427). Ricoeur skryf dat met redelike sekerheid gesê kan word dat die tragiek, die epiek en die komiek (om net die genres bekend aan Aristoteles te noem) ʼn narratiewe intelligensie ontwikkel wat baie nader is aan praktiese wysheid en morele oordeel as aan wetenskap en die teoretiese gebruik van rede (Ricoeur, 1991:428). Ricoeur se hipotese is dat die proses van komposisie (konfigurasie) nie realiseer in die teks nie, maar in die leser. Vanuit hierdie perspektief maak konfigurasie die herkonfigurasie van ʼn lewe moontlik deur middel van die narratief: "[T]he meaning or the significance of a story wells up from the intersection of the world of the text and the world

of the reader." (Ricoeur, 1991:430). Die vermoë van ʼn storie om die ervaring van ʼn leser

te transfigureer, is gesetel in die lees daarvan (Ricoeur, 1991:431).

Die wêreld van die teks beskryf die eienskap van elke literêre werk om ʼn horison van moontlike ervaring oop te maak – ʼn moontlike wêreld. ʼn Teks is die projeksie van ʼn nuwe heelal wat verskil van die een waarin ons leef. Deur ʼn werk te lees, word dit toegeëien, en sodoende ontvou die implisiete horison van die wêreld wat die handelinge, personasies en gebeure in die storie insluit. Die resultaat is dat die leser aan beide die verbeelde eksperiënsiële horison van die werk én die konkrete horison van die ontlokte aksie behoort. Die verwagtingshorison en die horison ontmoet en versmelt voortdurend. Gadamer noem dit die "fusions of horizons" (Horizontverschmelzung) wat noodsaaklik is vir die verstaan van ʼn teks (Ricoeur, 1991:431).

Hierdie soort ontleding en interpretasie verskil van tekstuele en strukturele ontleding op die volgende manier:

From a hermeneutic point of view, that is, from the point of view of the interpretation of literary experience, a text has an entirely different significance from that which structural analysis, deriving from linguistics, accords to it; it is a mediation between man and the world, between man and man, between man and himself. Mediation between man and the world is called reference; mediation between man and man is communication; mediation between man and himself is self-understanding (Ricoeur, 1991:431-432).

Volgens Ricoeur (1991:432) bring ʼn literêre werk hierdie drie dimensies byeen. Hermeneutiek ontdek nuwe eienskappe van niebeskrywende verwysing: nie-utilitêre kommunikasie en nienarsistiese reflektiwiteit. Kortom: hermeneutiek skep ʼn brug tussen die interne konfigurasie van ʼn werk en die eksterne herfigurasie van ʼn lewe. Die skep van die plot word deur Ricoeur (1991:432) beskou as die werk van beide die teks en die leser tesame.

Ricoeur (1991:432) beskou die lewe as ʼn biologiese fenomeen solank dit nie geïnterpreteer word nie. Wanneer daar wel pogings is om dit te interpreteer, speel fiksie ʼn belangrike bemiddelende rol. Volgens Aristoteles is die definisie van ʼn storie dat dit ʼn nabootsing van ʼn aksie (mimesis praxeos) is. Ricoeur (1991:433-434) ondersoek drie ondersteuningspunte wat stories kan vind in die beleefde ervaring van handeling en lyding, met ander woorde: Dit wat in hierdie beleefde ervarings die invoeging van die narratief vereis. Die eerste ankerpunt vir die narratiewe verstaanbaarheid in beleefde

ervarings lê binne die struktuur van menslike handeling en lyding. Die tweede ankerpunt van die narratiewe proposisie word gevind in praktiese verstaanbaarheid wat lê in die simboliese hulpbronne van die praktiese terrein, waar simboliese konvensies ons in staat stel om simbole te interpreteer. Die derde ankerpunt van die storie in die lewe is in die prenarratiewe eienskap van menslike ervaring. Danksy hierdie beginsel kan ons van die lewe praat as ʼn vroeë storie en daarom van die lewe as ʼn "activity and a desire in search of a narrative" (Ricoeur, 1991:434).

Ricoeur stel dat fiksie, en meer spesifiek narratiewe fiksie, ʼn onverminderbare dimensie van die verstaan van die self is:

If it is true that fiction cannot be completed other than in life, and that life cannot be understood other than through stories we tell about it, then we are led to say that a life

examined, in the sense borrowed from Socrates, is a life narrated (Ricoeur, 1991:435).

Ricoeur (1991:435) skryf dat die vertelde lewe ʼn lewe is waarin ons al die fundamentele strukture van die storie kan herwin. Dit is vir hom die spel tussen die konkordante en diskordante wat narratiewe karakteriseer.

It seems that our life, enveloped in one single glance, appears to us as the field of a constructive activity, deriving from the narrative intelligence through which we attempt to recover (rather than impose from without) the narrative identity which constitutes us.

Ricoeur (1991:437) beklemtoon die konsep van narratiewe identiteit omdat dit wat subjektiwiteit genoem word volgens hom nie ʼn inkoherente opeenvolging van gebeure of ʼn onveranderlike substans onbevoeg tot wording is nie. Dit is moontlik om die spel tussen sedimentasie en innovasie, wat ons herken in die werke van elke tradisie, op ons begrip van onsself toe te pas. Op dieselfde manier kan ons nie help om voortdurend die narratiewe identiteit wat ons konstitueer te herinterpreteer in die lig van stories wat deur ons kultuur oorgedra word nie. In hierdie verband het ons selfbegrip dieselfde eienskappe van tradisionaliteit as die begrip van ʼn literêre werk, en op hierdie manier leer ons om die verteller van ons eie storie te word sonder om heeltemal die outeur van ons lewe te word (Ricoeur, 1991:437). Die verskil is egter dat die skrywer van literêre werke homself/haarself vermom het as verteller en die maskers van die verskeie personae dra waarvan hy of sy die dominante narratiewe stem is van die storie wat ons lees. Ons kan ons eie verteller word deur die narratiewe stemme te volg, sonder om outeurs te word. En dit is die groot verskil tussen die lewe en fiksie (Ricoeur, 1991:437).

Ten slotte skryf Ricoeur (1991:437) dat die onderwerp nooit aan die begin van die storie gegee word nie:

Or, if it were so given, it would run the risk of reducing itself to a narcissistic ego, self-centred an avaricious – and it is just this from which literature can liberate us. Our loss on the side of narcissism is our gain on the side of the narrative identity. In the place of an ego enchanted by itself, a self is born, taught by cultural symbols, first among which are the stories received in the literary tradition. These stories give unity – not unity of substance but narrative wholeness.

Ricoeur (1991:435) verwys na Augustinus se beskouing van tyd, wat behels dat tyd gebore word tydens die onophoudelike differensiëring van die drie aspekte van die hede, naamlik verwagting (wat hy die aanwesigheid van die toekoms noem); herinnering (wat die aanwesigheid van die verlede is); en bewustheid (wat die aanwesigheid van die hede is). Tyd kan dus beskou word as onstabiel en voortdurend aan die ontbind.

Burger (2008:20) skryf na aanleiding van die volgende gedig van Breyten Breytenbach in sy bundel Die windvanger (2007) dat ons tyd net ken aan die veroudering van onsself:

tyd is die mens se vel

wat kraak en knetter en krimp in die verbygaan van lewe

In die lig hiervan het ek besluit om Peter Brooks se beskouing van plot in Reading for the

plot: design and intention in narrative (1984) as vertrekpunt te neem. Brooks (1984:xi)

wys daarop dat plot veral te doen het met die probleem van temporaliteit, naamlik die mens se tydsgebondenheid en sterflikheid. Volgens Brooks (1984:4-5) is plot "the principal ordering force of those meanings that we try to wrest from human temporality". Hy kom tot ʼn belangrike gevolgtrekking in hierdie verband:

A reflection on plot as the syntax of a certain way of speaking our understanding of the world may tell us something about how and why we have come to stake so many of the central concerns of our society, and of our lives, on narrative (Brooks, 1984:7).

Aangesien veroudering onvermydelik aan tydsverloop en sterflikheid verbind is, help hierdie benaderings om Aucamp se oeuvre te lees in die lig van die tema van veroudering wat as metanarratief onderliggend aan sy oeuvre is. Die plot van ʼn verhalende teks kan dus beskou word as die literêr-fiksionele manifestasie van tyd as eksistensiële menslike problematiek.

Ook Mikhail Bakhtin (1981:84) wys op die sentrale belang van tyd – veral rakende die artistieke chronotoop (tyd-ruimte), waardeur die gebeure in verhale georganiseer word:

In the literary artistic chronotope, spatial and temporal indicators are fused into one carefully thought-out, concrete whole. Time, as it were, thickens, takes on flesh, becomes artistically visible; likewise, space becomes charged and responsive to the movements of time, plot and history. This intersection of axes and fusion of indicators characterizes [sic] the artistic chronotope.

Volgens Bakhtin (1981:85) is dit juis die chronotoop wat genre en genre-onderskeid definieer omdat die hoofkategorie in die literêre chronotoop tyd is. Voorts bepaal die chronotoop ook wat Bakhtin (1981:85) noem die "image of man" in literatuur. Wanneer hierdie konsep met Aucamp se literêre werke in verband gebring word, kan die afleiding gemaak word dat die manier waarop hy tyd-ruimte in sy poësie, dramas, kabarette en kortverhale benut, ʼn bepaalde beeld van die ouerwordende (homoseksuele) mens as literêre karakter na vore laat kom. Die genre-gerigtheid wat in hierdie proefskrif gevolg word met die ontleding en interpretasie van Aucamp se literêre tekste hou ook verband met hierdie siening van Bakhtin dat tyd die belangrikste chronotoop is veral omdat veroudering met verloop van tyd plaasvind.

Bakhtin (1984:250) beskryf hierdie representerende eienskap van die chronotoop soos volg:

Thus the chronotope, functioning as the primary means for materializing time in space, emerges as a center for concretizing representation, as a force giving body to the entire novel. All the novel's abstract elements – philosophical and social generalizations, ideas, analyses of cause and effect – gravitate toward the chronotope and through it take on flesh and blood, permitting the imaging power of art to do its work. Such is the representational significance of the chronotope.

Hoewel hy dit hier oor die roman het, is die chronotoop aanwesig in elke literêre genre. Veroudering is op sigself ʼn chronotoop aangesien dit onlosmaaklik verbind is aan tyd. Juis daarom is narratiewe met gerontologie as tema nuttig, want soos Kermode (2000:190) dit stel:

For to make sense of our lives from where we are, as it were, stranded in the middle, we need fictions of beginnings and fictions of ends, fictions which unite beginning and end and endow the interval between them with meaning.

Dit is voorts belangrik om kennis te neem van die interessante verband wat Bakhtin (1984:252) trek tussen die skrywer en die teks:

We are presented with a text occupying a certain specific place in space; that is, it is localized; our creation of it, our acquaintance with it occurs through time. The text as such never appears as a dead thing; beginning with any text – and sometimes passing through a lengthy series of mediating links – we always arrive, in the final analysis, at the human voice, which is to say we come up against the human being.