• No results found

Interdissiplinêre verouderingsteorieë

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.2 Gerontologie

2.2.1 Interdissiplinêre verouderingsteorieë

Metchnikoff het voorgestel dat die gerontologie ʼn unieke studieterrein is wat veroudering nie slegs vanuit mediese perspektiewe beskou nie, maar eerder erkenning gee aan die feit dat veroudering ʼn holistiese proses is wat interdissiplinêr benader moet word (Martin & Gillen, 2013:51). Hierdie interdissiplinêre aard van gerontologie behels ʼn biopsigososiale benadering wat veroudering bestudeer uit die oogpunt van die biologie, psigologie en sosiologie.

Dit is nodig om hier ʼn bondige uiteensetting van die terme interdissiplinariteit,

multidissiplinariteit en transdissiplinariteit te gee:

Multidisciplinarity draws on knowledge from different disciplines but stays within their boundaries. Interdisciplinarity analyzes, synthesizes and harmonizes links between disciplines into a coordinated and coherent whole. Transdisciplinarity integrates the natural, social and health sciences in a humanities context, and transcends their original boundaries (Choi & Pak, 2006:351).

Randall (2007:371) skryf tereg dat navorsing oor ʼn komplekse onderwerp soos veroudering insigte uit ʼn breë spektrum studieterreine moet put, en voortdurend moet beweeg tussen multidissiplinariteit en interdissiplinariteit. Die gerontologie se verbinding van wyd uiteenlopende studieterreine soos biologie, sosiologie en psigologie in een benadering, dui op die interdissiplinêre aard daarvan.

2.2.1.1 Biogerontologieteorieë

Biologieseverouderingsteorieë berus veral op twee algemene perspektiewe, naamlik die invloed van stogastiese prosesse (soos lukrake genetiese mutasie of oksidatiewe stres) en niestogastiese prosesse of geprogrammeerde veroudering (gestruktureerde genetiese manifestasie in ouderdom) (Bengtson et al., 2009:9). Die afskaling van biogerontologieteorieë tot twee perspektiewe beklemtoon ʼn toenemende konsensus oor die rol van evolusie en natuurlike seleksie in die ontwikkeling van veroudering en ʼn lang lewensduur (Bengtson et al., 2009:9). Wat evolusie en natuurlike seleksie betref, stel die tradisionele evolusieteorie dat wanaangepaste gene wat verantwoordelik is vir die agteruitgang geassosieer met veroudering nie deur natuurlike seleksie geraak is nie omdat dit óf eers manifesteer ná reproduksie óf omdat dit wel manifesteer in vroeër lewe maar met positiewe funksies wat eers later nadelige gevolge het (Bengtson, 2009:9). Veroudering kan ook geneties geprogrammeer wees as ʼn aanpassingsrespons op veranderende omgewingstoestande (Bengtson, 2009:9).

Lange en Grossman (2013:75) stel dat ander teoretici wel glo dat biologiese veroudering die resultaat is van beide stogastiese en niestogastiese prosesse, sowel as allostase – die proses van homeostase wat bereik word deur veranderinge in gedrag en die fisiologie. Lange en Grossman (2013:76-85) gee ʼn volledige oorsig van die vernaamste biogerontologieteorieë en vervolgens word ʼn uiters bondige opsomming van hierdie teorieë verskaf.

Stogastiese (of statiese) teorieë ondersoek episodiese gebeurtenisse wat regdeur ʼn individu se lewe lukrake sellulêre skade aanrig wat met verloop van tyd akkumuleer en sodoende veroudering veroorsaak. Vryeradikaleteorie stel dat veroudering te wyte is aan oksidatiewe metabolisme en die effekte van vrye radikale wat geproduseer word wanneer die liggaam suurstof gebruik. Vrye radikale reageer met proteïene, lipiede, DNS en RNS,

wat sellulêre skade veroorsaak. Hierdie skade akkumuleer met verloop van tyd en versnel die verouderingsproses.

Die Orgel-/foutteorie veronderstel dat selle met verloop van tyd foute in DNS- en RNS- proteïensintese akkumuleer, wat veroorsaak dat daardie selle uitgewis word. Omgewingsagente en lukrake gebeurtenisse kan foute veroorsaak wat tot sellulêre skade lei.

Afslytingsteorie bestudeer die effek van algemene sellulêre verweer wat met verloop van tyd plaasvind. Dit is bekend dat selle in die hartspiere, neurone, geaarde spiere en die brein nie kan regenereer wanneer dit deur afslyting verwoes word nie. Verouderende selle het voorts nie meer die vermoë om beskadigde DNS te herstel nie. Vanweë selle se senessensie, verloor verouderde selle ook die vermoë om meganiese, inflammatoriese en ander beserings teen te werk.

Bindweefselteorie (ook kruisbindingsteorie) argumenteer dat biochemiese prosesse met verloop van tyd verbindings skep tussen strukture wat nie normaalweg verbind is nie. Tussen die ouderdomme van 30 en 50 vind sodanige kruisverbindings redelik snel plaas. Elastien droog op en kraak met veroudering wat lei tot droër en verrimpelde vel. Kardiovaskulêre probleme word ook verbind met die vermindering van ekstrasellulêre vloeistof en die akkumulering van oorbodige natrium, chloried en kalsium.

Niestogastiese teorieë beskou veroudering as ʼn reeks voorafbepaalde gebeurtenisse wat alle organismes binne ʼn bepaalde tydraamwerk raak. Hierdie teorieë is gegrond in ʼn geprogrammeerde perspektief wat verband hou met genetika of die individu se sogenaamde biologiese klok.

Geprogrammeerde teorie stel dat selle sterf of ophou repliseer namate mense verouder. Menslike selle verouder elke keer wanneer dit repliseer vanweë die verkorting van die telomere wat ʼn vertakking van chromosome in die liggaam is. Wanneer selle nie meer kan repliseer nie, sterf dit.

Geen-/biologieseklokteorie verduidelik dat elke sel, of moontlik die hele organisme, ʼn geneties geprogrammeerde verouderingskode het wat gestoor word in die organisme se DNS. Hierdie teorie beskryf genetiese invloede wat fisieke toestand, die voorkoms van

siekte, oorsaak en ouderdom van dood en ander faktore wat bydra tot langslewendheid voorspel.

Neuro-endokrienteorie is gemoeid met ʼn verandering in hormoonsekresie, soos die hormoonvrystelling van die hipotalamus en die stimulerende hormone van die pituïtêre klier wat die skildklier, byskildklier en adrenale kliere bestuur, en die invloed wat hierdie hormone het op die verouderingsproses. Estrogeen, groeihormoon en melatonien is hoofsaaklik betrokke by veroudering.

Die immunologiese/outo-immuunteorie beskou die normale verouderingsproses as verbandhoudend met foutiewe immunologiese funksionering. Daar is ʼn afname in immunologiese funksionaliteit in seniors, en veral ʼn afname in die funksie van die timusklier kan lei tot verhoogde infeksies en ʼn toename in kanker. T-seldifferensiasie neem ook af, wat daartoe lei dat die liggaam foutiewelik ou, onreëlmatige selle as vreemde liggaampies sien en dit aanval.

Yates (2007:601) noem ook die volgende evolusionêre verouderingsteorieë: weggooibaresomateorie (Kirkwood), antagonistiese pleiotropie (Williams & Rose), laatwerkende gene (Haldane) en langslewendheid versus vroeëreproduksie-opweging (Smith & Austad).

Hierdie kort oorsig dien slegs as agtergrond sodat die holistiese aard van die gerontologie duidelik kan word. Dit is egter belangrik om te besef dat daar vele ander biogerontologieteorieë bestaan en dat geen enkele teorie die etiologie van veroudering ten volle beskryf nie. Van al die teorieë wat hier genoem is, geniet geenteorie en vryeradikaleteorie die meeste ondersteuning van akademici.

2.2.1.2 Psigogerontologieteorieë

Psigologieseverouderingsteorieë fokus op konsepte soos komplekshede en dinamiese prosesse, die behoefte om mikroprosesse in groter sosiale en historiese kontekste te situeer en die interspel tussen ontledingsvlakke en wedersydse invloede (Bengtson et al., 2009:11). Een van die belangrikste aspekte wat hierdie teorieë ondersoek, is die manier waarop stresprosesse as saambindende faktor dien vir biologiese, psigologiese en sosiologiese faktore (Bengtson et al., 2009:11). ʼn Interessante ontwikkeling in resente gerontologiese benaderings is die fokus op positiewe sielkunde. Navorsers is optimisties

oor veroudering en fokus al minder op verval en meer op die positiewe aspekte soos aanpasbaarheid, optimalisering, kompensasie en plastisiteit (Bengtson et al., 2009:11). Vervolgens word ʼn kort oorsig van psigogerontologieteorieë gegee soos uiteengesit deur Lange en Grossman (2013:72-75).

Menslikebehoefteteorie is beter bekend as Maslow se teorie waarin hy vyf basiese menslike behoeftes identifiseer, naamlik fisiologiese behoeftes, die behoefte aan veiligheid en sekuriteit, die behoefte aan liefde en om te behoort, die behoefte aan selfbeeld en die behoefte aan selfaktualisering. Hoewel Maslow nie spesifiek ouderdom in sy teorie hanteer nie, is dit duidelik dat fisieke, ekonomiese, sosiale en omgewings- beperkings behoeftevervulling by seniors kan belemmer. Maslow het aangevoer dat ʼn onvermoë om te groei kan lei tot gevoelens van mislukking, depressie en die siening dat die lewe sinloos is.

Individualismeteorie is gebaseer op Jung se teorie van individualisme wat ook nie spesifiek na veroudering verwys nie, maar in teenstelling met Maslow se teorie voer Jung aan dat ʼn lewensduurperspektief van persoonlike ontwikkeling meer gewens is as die vervulling van basiese behoeftes. Soos wat mense verouder, raak hulle betrokke by ʼn innerlike soektog om hul oortuigings en prestasies uit te daag. Volgens Jung beteken suksesvolle veroudering die aanvaarding van die verlede en die vermoë om die afname in funksionaliteit en die verlies aan mense te hanteer.

Erikson se teorie van persoonlikheidsontwikkelingsfases fokus ook op individuele ontwikkeling. Volgens Erikson ontwikkel persoonlikheid in agt opeenvolgende fases wat elk ʼn ooreenstemmende lewenstaak het. Om te kan aanbeweeg na die volgende fase, moet die voorafgaande lewenstake eers afgehandel word. Seniors is in die fase genaamd ego-integriteit versus wanhoop. In hierdie fase evalueer die ouer persoon sy/haar/sig lewe en prestasies om betekenis daarin te probeer vind. Latere uitbreiding op hierdie teorie stel dat seniors sukkel om dinge af te lê, sorg van ander te aanvaar, hulle van die lewe los te maak, en om fisieke en mentale verval te verwerk.

Lewensverloop-/Lewensduurontwikkelingsteorie het in die 1970's ontwikkel en het die fokus verskuif na die lewensverloop van mense wat, hoewel uniek aan elke individu, sekere voorspelbare patrone volg. Voorheen het studies primêr op kinderjare gefokus,

maar die nuwe fokus op volwassenheid is teweeggebring weens toenemende getalle seniors, die opkoms van gerontologie as ʼn spesialiteitsveld en die beskikbaarheid van persone wat deelgeneem het aan longitudinale studies vanaf kinderjare. Sentrale konsepte van hierdie teorie sluit in die vermenging van psigologiese konsepte soos lewensfases, lewenstake en persoonlikheidsontwikkeling met sosiologiese konsepte soos rolgedrag, en die verhoudings tussen individue en die samelewing. Die sentrale beginsel van hierdie teorie is dat die lewe plaasvind in fases wat gestruktureer word volgens die individu se rolle, verhoudings, interne waardes en doelwitte. Individue kan hul doelwitte kies, maar word begrens deur eksterne beperkings.

Selektiewe-optimalisering-met-kompensasie-teorie is gebaseer op Baltes se 1987-teorie van suksesvolle veroudering. Hy het gestel dat individue leer om funksionele verliese van veroudering te hanteer deur middel van seleksie, optimalisering en kompensasie. Verouderende individue word meer selektief wat aktiwiteit en rolle betref soos wat beperkings intree. Terselfdertyd kies hulle aktiwiteite en rolle wat die meeste bevrediging bring (optimalisering). Eindelik pas individue aan deur alternatiewe te soek wanneer funksionele beperkings hulle verhoed om vorige aktiwiteite en rolle in stand te hou. Soos wat mense verouder, beweeg hulle deur kritieke lewenspunte wat verband hou met morbiditeit, mortaliteit en lewenskwaliteit. Die resultaat van hierdie kritieke oomblikke kan lei tot laer- of hoërordefunksionering wat geassosieer word met onderskeidelik hoër of laer risiko's vir mortaliteit.

Schroots (2007:611) onderskei voorts tussen die volgende kategorieë van psigogerontologieteorieë: sielkunde van ouderdom, sielkunde van veroudering en sielkunde van die senior. Eersgenoemde het te doen met die studie van ouderdoms- verskille in gedrag, die tweede met gedragspatrone wat gepaardgaan met verandering in ouderdom en laasgenoemde met problematiese en nieproblematiese gedrag in seniors. 2.2.1.3 Sosiogerontologieteorieë

Anders as met teorieontwikkeling in die bio- en psigogerontologie, is die ontwikkeling van ʼn sosiogerontologieteorie meer uitdagend omdat sosiale fenomene oor die lewens- verloop uiters kompleks en vloeibaar is en navorsers hul onderwerpe met verskillende epistemologieë benader (Bengtson et al., 2009:14). Van die belangrikste teoretiese fokusse is op die konsep van kumulatiewe ongelykheid oor die lewensverloop.

Hierdie teorie bevat elemente van makro- en mikrososiologiese inhoud en neem die manier waarop sosiale stelsels ongelykheid op vele vlakke genereer in ag (Bengtson et

al., 2009:15). Volgens Biggs (2007:704) vorm sosiale gerontologie die skakel tussen

openbare en private ervarings deur middel van eklektiese gebruik van dissiplinêre bronne en ʼn fokus op sosiale probleme. Marson en Fave (2015) probeer in hul artikel "A Marxian review of gerontological literature" om die dataryke, maar teorie-arm, sosiogerontologie uit te brei. Die skrywers het ʼn Marxistiese benadering gebruik om ten minste drie soorte sosiale groepe van ouer bevolkings te onderskei, naamlik subkultuur deur ouderdom alleenlik; ouderdom gesitueer in sosiale klas; en ouderdom wat sosiale klas oorskry (Marson & Fave, 2015:122).

Daar word ook hier gebruik gemaak van Lange en Grossman (2013:66-71) se oorsig van sosiogerontologieteorieë omdat dit so omvattend is.

Aktiwiteitsteorie is ontwikkel deur Havighurst en Albrecht in 1953 toe hulle die konsepte van aktiwiteitsbetrokkenheid en positiewe ouderdomsaanpassing bespreek het. Volgens hierdie teorie is dit belangrik dat seniors steeds besig met en betrokke by die samelewing moet wees ten einde ʼn bevredigende laatlewe te kan lei. Onaktiwiteit sal die selfkonsep en perspektief op lewenskwaliteit negatief beïnvloed, wat veroudering sal verhaas. Onttrekkingsteorie stel dat veroudering gekenmerk word deur geleidelike onttrekking van die samelewing en verhoudings. Teoretici voer aan dat hierdie skeiding wenslik is vir die samelewing en seniors en dat dit help om sosiale ekwilibrium te bewerkstellig. Individue word hierdeur bevry van sosiale verpligtinge en het tyd vir selfrefleksie, terwyl die oordrag van verantwoordelikhede van seniors na jonger mense sosiale funksionering laat voortgaan sonder enige onderbreking weens verlore lede. Hierdie onttrekking vestig dus ʼn nuwe ekwilibrium wat ideaal en bevredigend is vir beide die individu en die samelewing. Subkultuurteorie sien seniors as ʼn unieke subkultuur binne die samelewing, wat gevorm is as ʼn verdedigingsrespons op die samelewing se negatiewe houdings jeens en die verlies aan status wat gepaardgaan met veroudering. Hoewel hierdie subkultuur seniors skei van die res van die samelewing, verkies seniors om met mekaar in wisselwerking te wees. Die teorie is ʼn voorstander van sosiale hervorming waar die groeiende getal seniors meer aandag aan hul spesifieke behoeftes noodsaak. Dit daag ook die

stereotipiese sienings van veroudering as negatief, onwenslik, beswarend en gebrekkig aan status uit.

Kontinuïteitsteorie, ook bekend as ontwikkelingsteorie, hou in dat persoonlikheid goed gevestig is teen die tyd wat ʼn hoë ouderdom bereik word en geneig is om konstant te bly vir die individu se lewensduur. Probleemhantering en persoonlikheidspatrone verskaf leidrade ten opsigte van die manier waarop ʼn verouderende individu sal aanpas by veranderinge in gesondheid, omgewing en sosioëkonomiese omstandighede, sowel as die aktiwiteite wat hy/sy sal kies om aan deel te neem. Kontinuïteitsteorie erken dus dat individuele verskille lei tot gevarieerde response op veroudering. Volgens hierdie teorie het seniors vier persoonlikheidstipes, naamlik geïntegreerd, gepantserd-verdedig, passief-afhanklik en ongeïntegreerd.

Ouderdomstratifikasieteorie verskuif die fokus vanaf die individu na ʼn breër konteks waar die invloed van kohortgroepe en die sosioëkonomiese en politieke impak op die manier waarop mense verouder, ondersoek word. Teoretici het gemerk dat die samelewing gestratifiseer is in verskillende ouderdomskategorieë wat die basis vorm vir die verkryging van hulpbronne, rolle, status, en respek van ander lede van die samelewing. Ouderdoms- kohorte word voorts beïnvloed deur die historiese konteks waarin hulle leef, wat daartoe lei dat ouderdomskohorte en ooreenstemmende rolle regoor generasies verskil. Mense wat in dieselfde kohort gebore is, het soortgelyke ervarings met gedeelde betekenisse, ideologieë, oriëntasies, houdings en waardes sowel as verwagtings wat die tyds- berekening van lewensfaseoorgange betref. Individue in verskillende generasies het verskillende ervarings wat kan veroorsaak dat hulle op verskillende maniere verouder. Persoon-omgewingspassingsteorie het funksionele bevoegdheid in verhouding tot die omgewing as sentrale tema. Funksionele bevoegdheid word geaffekteer deur veelvuldige intrapersoonlike toestande soos egosterkte, motoriese vaardighede, biologiese gesondheid, kognitiewe kapasiteit en sensories-perseptuele kapasiteit, sowel as deur eksterne omgewingstoestande. Die graad van bevoegdheid kan verander soos wat ʼn mens verouder, wat die funksionele vermoë in verhouding tot die eise wat die omgewing stel, affekteer. ʼn Persoon se vermoë om hierdie eise die hoof te bied, word geaffekteer deur sy/haar/sig vlak van funksionering. Hierdie vermoë beïnvloed ook die vermoë om aan te pas by die omgewing.

Geotransendensieteorie is een van die relatief nuwe verouderingsteorieë, en stel voor dat verouderende individue ʼn kognitiewe transformasie ondergaan vanaf ʼn materialistiese, rasionele perspektief na eenheid met die heelal. Karaktereienskappe van suksesvolle transformasie sluit in ʼn meer uitwaartse of eksterne fokus, aanvaarding van die dood sonder vrees, klem op substantiewe verhoudings, ʼn sin van samehang met voorafgaande en toekomstige generasies, en spirituele eenheid met die heelal.

Marshall en Clarke (2007) noem ook die volgende sosiogerontologieteorieë: rolteorie, onttrekkingteorie, aktiwiteitsteorie, ouderdomstratifikasieteorie, polities-ekonomiese benaderings, kritiese teorie, sosiale konstruksionisme, simboliese interaksionisme, fenomenologie en die lewensverloopperspektief.

Die voorafgaande bespreking van biopsigososiale gerontologiese teorieë toon die omvangrykheid van die studieterrein en dien slegs as basiese inleiding tot die gerontologie.