• No results found

Koerier: 69 opdrag en ander kwatryne (1999)

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

3.3 Koerier: 69 opdrag en ander kwatryne (1999)

Die subtitel van Aucamp se tweede digbundel kan gelees word as ʼn direkte verwysing na die 69-seksposisie waar beide seksmaats mekaar tegelyk oraal stimuleer. In die

voorwoord van hierdie bundel skryf Aucamp dat hy eers later (op 65-jarige ouderdom) besef het dat ouer skrywers ook aanmoediging nodig het omdat hul selfvertroue taan namate hulle verouder (Aucamp, 1999:9). Vir my is dit egter asof Aucamp meer selfvertroue gekry het om byvoorbeeld openliker oor homoseksualiteit te skryf namate hy ouer geword het.

Daniel Hugo (2015:413) is minder entoesiasties oor Koerier en is van mening dat die kwatryne té "geleentheids- en persoonsgebonde" is. Vir hom mis die kwatryne die "trefkrag van die bestes in Die blou uur" op beide poëtiese en verstegniese vlak (Hugo, 2015:413).

Aucamp skryf die volgende opdragkwatryn aan sy literêre en persoonlike mentor, Ernst van Heerden, wat lig werp op Aucamp se verhouding met en siening van hierdie versvorm:

Gekonsentreerd is die kwatryn – astrak van liefde en venyn. Gelukkig is dié spel jou erns, die soet verraad van digter pyn.

Vir Aucamp is die essensie van die kwatryn liefde en bitsigheid en ook ʼn digterwordende pyn van die digter. Hy skryf dat die kwatryne bloot by hom opgedaag het en dat hy van die ander kwatryne oor landskappe, seks en verganklikheid aangegryp het as verweer teen sterflikheid (Aucamp, 1999:10-11). Dit is dus duidelik dat Aucamp deeglik bewus is van die deurlopende interspel tussen wat die Grieke genoem het eros (die lewensdrang) en thanatos (die doodsdrang). Hier word eros doelbewus gebruik as teenvoeter vir

thanatos, en die kwatryn word deur Aucamp aangewend as ruimte waarbinne hierdie

spanning verkeer. Die versreël "Gelukkig is dié spel jou erns" herinner, behalwe vir die direkte verwysing na Van Heerden se voornaam, ook aan die konsep van homo ludens, die spelende mens. Adéle Nel (2015:184) skryf die volgende oor hierdie verskynsel:

Die spelende mens het in die eerste instansie betrekking op die skrywer/digter se opvattings ten opsigte van skrywerskap. Dit betrek gevolglik sowel die fiksionele wêreld van die teks as die spelende mens in dié wêreld. Uiteindelik moet die literêre teks benader word as ʼn voortdurende spel wat skrywer en teks, maar ook die leser, in die literêre diskoers betrek.

By Aucamp kan die sogenaamde "erns van die spel" duidelik gesien word in die manier waarop hy spesifiek gerontologiese temas hanteer. Wanneer Aucamp se literêre tekste

in die geheel bestudeer word, sou ʼn mens krities kon vra of sy werk werklik kompleks en gevarieerd is en of hy nie maar net op een aambeeld bly slaan nie. Sodanige beswaar sou seker nie heeltemal ongegrond wees nie, maar die manier waarop Aucamp hierdie (en ander) temas in verskillende genres en op verskillende maniere laat manifesteer, bring wel kompleksiteit en gevarieerdheid mee, soos algaande in hierdie studie duidelik word. Hoewel sy kwatryne en kabarette dikwels guitig en speels is, is daar altyd ʼn onderliggende erns teenwoordig, want Aucamp bly in die eerste plek iemand wat gemoeid is met die dieperliggende menslike ervaring en toestand.

Die opdragkwatryn "vir Elzabé Zietsman" (1999:19) is ʼn reminissering waartydens jeug in retrospeksie beskou word:

Wanneer jy sing "At seventeen" kan mens jou eie jeug oorsien hoe hoekig, lomp en half bevange jy omgegaan het met jou drange.

Die lied waarna in die kwatryn verwys word, is vrygestel in 1975 en is geskryf en gesing deur Janis Ian. Dit handel oor die herinnering van ʼn sosiaal uitgeworpene op hoërskool, wat inpas by Aucamp se affiniteit vir randfigure (soos Elsabé Zietsman, aan wie die gedig opgedra is). Die kwatryn is, nes die lied, ʼn mymerende herinnering van ʼn ouer persoon oor die 17-jarige self. Hierdie terugskouing beskryf die beleefde ervaring van om 17 jaar oud te wees en is dikwels in die Aucamp-oeuvre aanwesig. By nadere ondersoek lyk dit of Aucamp ʼn waarde-oordeel vel oor die manier waarop Zietsman met haar jeug omgegaan het, naamlik "hoekig, lomp en half bevange". Hy sien dit egter oor wanneer sy sing want haar talent maak op vir die keuses wat sy in haar jeug gemaak het.

Sekere spesifieke ouderdomme is belangrik in die Aucamp-oeuvre en dikwels dig hy unieke eienskappe aan hierdie ouderdomme toe. Hierdie verskynsel is veral prominent in sy kabarettekste, maar ook in sy poësie vind hierdie skynbare ingesteldheid op sekere ouderdomme neerslag. Neem byvoorbeeld die opdragkwatryn "vir Danie B. met sy vyftigste" (Aucamp, 1999:24):

Op vyftig word ʼn man eers mens sy visie akkuraat gelens.

Hy sien verby die klein mistykies: Olimpies nou is hoe sy kyk is.

Die kwatryn is opgedra aan een van Aucamp se heel intiemste vertrouelinge, by name Danie Botha wat ook ʼn Afrikaanse skrywer, akteur en teaterresensent is. Volgens Aucamp word ʼn man eers mens op 50 danksy lewenservaring. Op 50 is dit asof dinge nou helderder is en kyk hy met ander oë na die wêreld. Die woord "Olimpies" laat die leser dadelik dink aan die Olimpiese spele waarvan die amptelike motto citius, altius,

fortius (vinniger, hoër, sterker) is. Geplaas in konteks van die res van die kwatryn,

beklemtoon Aucamp hoe ouderdom en veroudering die mens (man) omvorm tot ʼn beter weergawe van sigself. ʼn Ander verklaring is moontlik dat hy as jonger man gerig was op die Olimpiese ideale van prestasie en skoonheid, maar dat sy liggaam nou nie meer aan hierdie ideale voldoen nie (indien ooit want dit was immers net ʼn ideaal). Die senior man se kyk is nou volmaak "gebou", en hy fokus nie meer op nietighede nie, maar eerder op die groter prentjie.

Aucamp se opdragkwatryne kan as sosiogerontologiekwatryne gelees word aangesien heelwat daarvan handel oor mense wat hy persoonlik geken het. Op 65-jarige ouderdom maak dit heeltemal sin om herinneringe aan mense in jou lewe te probeer vasvang omdat van hierdie mense reeds gesterf het of binnekort kan sterf. Die kwatryne word geskryf vir mense uit veral kunskringe soos onder andere kabaretster Herman Pretorius, sanger Amanda Strydom, dramaturg Charles Fryer, akademikus Dorothea van Zyl, digters Lucas Malan, Daniel Hugo, Johann de Lange, skrywer en niggie Margaret Bakkes, sy suster Rina, kunstenaar Judith Mason, pianis Lionel Bowman, en operasanger Mimi Coertse. Die elegiese kwatryne wat telkens soos in ʼn doodsberig as titel met "in herinnering" begin, dui ook op Aucamp se herinneringe aan vergange persone wat hetsy direk of indirek ʼn rol in sy lewe gespeel het.

ʼn Titellose kwatryn (Aucamp, 1999:90) hanteer die biologiese aftakeling wat met veroudering gepaardgaan op ʼn speelse manier maar ook met onderliggende erns:

Die lewe raak gou oukomkommer al sawwer later en ook krommer; hare val en kopbeen wys:

plesier begin sy tolgeld eis.

Aucamp lys hier die fisieke kenmerke van ʼn ouerwordende mens en skryf dit toe aan ʼn lewe vol plesier (heel waarskynlik oordadige hedonistiese genietinge) wat eintlik die verouderingsproses verhaas. Die woord "tolgeld" kan meerduidig wees. Eerstens roep dit

die bekende beeld van ʼn pad met ʼn tolhek op wat reisigers verhoed om verder te reis tot hulle die vereiste tolgeld betaal het. Veroudering moet dus eers ondergaan word alvorens die mens sy tog na die dood en moontlike hiernamaals kan voorsit. Die tematiese konstantes in Aucamp se oeuvre lei die leser egter ook na ʼn meer seksuele interpretasie waar die woord "tol" ook in Afrikaans gebruik word vir die manlike geslagsorgaan. Indien hierdie idee verder gevoer word, kan dit ʼn verwysing wees na seksuele ervarings waarvoor betaal moes word en waarvan die veelvuldige aard daarvan nou gelei het tot ʼn versnelde verouderingsproses. Hy vergelyk veroudering met die verwelking van ʼn komkommer wat later sal begin vrot en uiteindelik geen nut meer het nie en weggegooi moet word. Dit neem nie lank vir ʼn komkommer om te verwelk nie wat weereens die idee versterk dat die plesier die verouderingsproses versnel.