• No results found

Mike Hepworth: die uitbeelding van veroudering in literêre werke

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.3 Literêre gerontologie

2.3.2 Mike Hepworth: die uitbeelding van veroudering in literêre werke

Die gerontoloog Mike Hepworth publiseer in 2000 ʼn belangrike boek getiteld Stories of

ageing wat ʼn gaping in literatuur oor gerontologie vul deur fiksie te gebruik om

veroudering beter te verstaan. Vervolgens word ʼn oorsig van sy insigte aangebied ten einde te verstaan hoe literêre gerontologie toegepas kan word by die lees van literêre werke.

Hepworth (2000:3) noem dat gevorderde leeftyd ("old age") al beskou is as die grootste uitdaging vir romanskrywers omdat dit oor mense handel wat deur die finale periode van hul lewens leef en waartydens diegene wat lank genoeg leef vrede moet maak met die veranderinge in hul liggame en die houdings van die samelewing jeens veroudering. Stories wat handel oor veroudering worstel met die probleem dat ʼn karakter en sy/haar/sig verhoudings met ander mense beskryf moet word wanneer die karakter baie min tyd oor het (Hepworth, 2000:3). In die Westerse kultuur word hierdie tydperk gewoonlik beskou as een van agteruitgang, gekenmerk deur geleidelike onttrekking van

wêreldse aktiwiteite. Dit is die tydperk waarin geloof die hoofbron word van vertroosting en om sin te maak van veroudering, en waar daar gerusstelling gevind word in die idee dat fisieke verval wat met veroudering gepaardgaan ʼn prelude is vir die bevryding van die siel (Hepworth, 2000:3). By sommige ouerwordende skrywers gebeur soms die teenoorgestelde deurdat daar juis ʼn toenemende toekeer na die gewoon aardse is. ʼn Voorbeeld hiervan in die Afrikaanse letterkunde is N. P. van Wyk Louw se Nuwe verse (1954) en Tristia (1962) waarin die grootmeester van die Dertigers wat voorheen die "hoër, kouer paaie" wou bewandel hom wend na die landelike wêreld, die tongval van sy jeug en die warmbloedige Mediterreense gebiede (vgl. Olivier, 2016:931-939). In die latere werk van Eybers en Cloete is daar ook ʼn toekeer tot die gewone. Eybers was wel ook reeds betreklik vroeg in haar ontwikkeling as skrywer gerig op oudword en die wegsny van oortollighede wat daarmee gepaardgaan, ook wat betref die manier waarop gedigte geskryf word. Antjie Krog se rebellie teen die ouderdom of haar "rage against the dying of the light" (om Dylan Thomas aan te haal) is ʼn ander vorm wat hierdie laatwerk kan aanneem.

Vir Hepworth (2000:3) is die hele punt van die literêre representasie van veroudering om uit te vind hoe ons persoonlike idees oor veroudering (positief, negatief, dubbelsinnig) gevorm word deur kultuur en daarom oop is vir moontlike alternatiewe of addisionele interpretasies van veroudering. Gerontoloë put uit fiksie om die bevindings van empiriese navorsing te illustreer of om gerontologie en fiksie te verweef om ons begrip van veroudering te verbeter (Hepworth, 2000:3). Voorts bestaan daar ook heelwat voorbeelde waar fiksie (insluitend poësie) gebruik word om die verouderingsproses te illustreer (Hepworth, 2000:3). Sodanige tekste verskaf ʼn humanistiese perspektief op veroudering binne die konteks van die tradisionele raamwerk van lewensverloop (Hepworth, 2000:3-4). Derdens noem Hepworth (2000:3-4) spesifiek dat literêre gerontologie daarop gemik is om grondige ontledings van spesifieke tekste en skrywers te maak.

Fiksie is in die besonder ʼn waardevolle hulpbron omdat dit die skrywer in staat stel om, deur middel van verbeelding, toegang te verkry tot die persoonlike variasies en dubbelsinnighede wat die grondslag is van veroudering (Hepworth, 2000:5). Fiksie dra ook by tot ons begrip van die aard van die ervaring van veroudering omdat dit ʼn kreatiewe mentale aktiwiteit is wat van beide die skrywer en die leser verwag om hulself op ʼn

verbeelde manier in die denke van karakters te plaas (Hepworth, 2000:5). Lesers word dus blootgestel aan verskeie perspektiewe op veroudering (Hepworth, 2000:5).

Hepworth (2000:5) wys egter daarop dat dit baie moeilik is om bewyse van skrywers se oogmerke of intensies, wanneer hulle oor veroudering skryf, op te diep en dat dit gevaarlik is om dit te probeer interpreteer:

Quite simply, writers vary in the use they make of ageing as a subject for a story – there are significant differences between the in-depth analyses of the ageing self found in, for example, Pat Barker, Penelope Lively, Julian Rathbone, and May Sarton, the tragi-comedy of ageing in the work of David Renwick, and the manipulation of popular stereotypes of ageing found in some of the work of crime novelist Agatha Christie.

Hepworth (2000:5) wys ook op die volgende belangrike aspek om in gedagte te hou wanneer literêre tekste vanuit ʼn spesifieke perspektief benader word, soos in hierdie geval die gerontologie:

Reading is a process of symbolic interaction where the reader has some freedom to interpret the text according to his or her own ideas, emotions and consciousness of self. Because reading is the exercise of a social skill engaging the private self it is dangerous to make assumptions about how other people interpret the stories of ageing they read.

Juis vanweë hierdie slaggat is dit nodig om weereens te beklemtoon dat die gerontologiese lees van Hennie Aucamp se literêre tekste nie impliseer dat dit die skrywer se intensie was om spesifiek oor homself te skryf nie en dat dit maar net een van vele "lense" is waarmee die oeuvre benader kan word. Aan die ander kant word dit veral later in Aucamp se literêre tekste baie moeilik om hierdie onderskeid te tref, aangesien die gegewens in van die verhale so duidelik ooreenstem met Aucamp se eie lewe dat dit onmoontlik word om nie hierdie verbande te trek nie.