• No results found

Die seminale werk van Anne Wyatt-Brown

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.3 Literêre gerontologie

2.3.1 Die seminale werk van Anne Wyatt-Brown

ʼn Onlangse soektog op Google Scholar (Mei 2019) met die soekterm "literary gerontology" (tussen aanhalingstekens omdat dit een konsep is) lewer 283 resultate op. Wanneer die terme "Wyatt-Brown" en "Coming of age" uit die resultate verwyder word, bly 116 resultate oor. Die seminale bron oor die literêre gerontologie bly dus steeds Anne Wyatt-Brown se 1990-artikel "The coming of age of literary gerontology" en daarom dien dit ook as grondslag vir hierdie studie.

Die sistematiese bestudering van ouderdom deur letterkundiges het eers in 1975 by die

Conference on human values and aging (gereël deur die historikus en gerontoloog David

van Tassel van die Case Western Reserve University in Cleveland, Ohio) begin met psigoanalitiese benaderings tot die letterkunde deur die navorsers Edel, Fiedler en

Erikson (Wyatt-Brown, 1990:300). Een van die grootste uitdagings vir akademici wat literêre kritiek met gerontologie wil kombineer, is dat gerontologiese kwessies en teorieë bestudeer moet word, terwyl ʼn onbekende woordeskat terselfdertyd bemeester en ʼn interdissiplinêre gehoor gevind moet word wat op intelligente en kritiese maniere op hul insigte kan reageer (Wyatt-Brown, 1990:299-300). Hierdie uitdagings het ook gegeld met die skryf van hierdie proefskrif, aangesien die gerontologie as studieterrein bestudeer moes word ten einde relevante benaderings en teorieë te identifiseer. Daarna moes ʼn gerontologiese woordeskat eerstens bemeester en tweedens vertaal word in Afrikaans, aangesien daar bykans geen Afrikaanse bronne oor die gerontologie bestaan nie. Dit is dus ook ʼn bydrae van dié proefskrif om Afrikaanse literatuur en terminologie oor die gerontologie beskikbaar en toeganklik te maak.

Soos genoem in die inleiding, onderskei Wyatt-Brown (1990:300) tussen vyf kategorieë van literêr-gerontologiese ondersoeke, naamlik: 1) ontleding van literêre houdings jeens veroudering; 2) humanistiese benaderings tot letterkunde en veroudering; 3) psigoanalitiese verkennings van literêre werke en hul skrywers; 4) toepassings van gerontologiese teorieë oor outobiografie, lewensoorsigte en middeljare-oorgange; en 5) psigoanalitiese studies van die kreatiewe proses (Wyatt-Brown, 1990:300). Vervolgens word ʼn bondige perspektief op elkeen van hierdie kategorieë gebied aangesien dit, onder andere, handig te pas kom by die ontledings en interpretasies van Aucamp se literêre tekste.

Die eerste kategorie handel oor die ontleding van literêre houdings jeens veroudering. Die eerste groep akademici wat letterkunde en veroudering bestudeer het, het veral gefokus op die negatiewe stereotipering van seniors (Wyatt-Brown, 1990:300). Hoewel hulle aanvanklik bekommerd was dat veral jong lesers negatiewe houdings teenoor seniors kan ontwikkel vanweë dit wat hulle lees, het hulle bevind dat fiksie en poësie ʼn redelik gebalanseerde perspektief op veroudering bied (Wyatt-Brown, 1990:300-301). Wyatt-Brown (1990:301) verskaf ʼn kort oorsig van die maniere waarop die verband tussen letterkunde en veroudering deur verskeie navorsers ondersoek is en kom tot die gevolgtrekking dat hul bydraes redelik onvolledig en hul ontledings nie juis suksesvol was nie. Sy verduidelik egter dat die werk van Freedman, wat fokus op die outobiografiese konteks vir gerontofobiese materiaal wat hy versamel het, waardevolle insigte verskaf vir die manier waarop die gerontologie gebruik kan word om literêre tekste te ontleed (Wyatt-

Brown, 1990:301). In Hennie Aucamp se literêre werke is daar uiteenlopende houdings jeens veroudering – eerstens van die karakters, maar ook van die skrywer self.

Die tweede kategorie, naamlik humanistiese benaderings tot letterkunde en veroudering, kombineer letterkunde met geskiedenis, religie, filosofie en die kunste (Wyatt-Brown, 1990:302). Hierdie soort studies lei egter tot ʼn baie komplekse lees van literêre tekste, wat kan veroorsaak dat die literêre fokus onwillekeurig plek maak vir ʼn fokus op die gerontologie, wat weer kan lei tot verwronge ontledings en interpretasies van literêre tekste (Wyatt-Brown, 1990:302). Hierdie studie sou wel binne hierdie kategorie gesitueer kon word en dit was ook een van die grootste uitdagings om gebalanseerde insigte in beide die gerontologie en letterkunde te bied.

Wat die psigoanalitiese verkennings van literêre werke en hul skrywers betref, noem Wyatt-Brown (1990:302) vyf subkategorieë. In die eerste subkategorie word gesoek na bewyse van kreatiwiteit en transendensie in seniors (Wyatt-Brown, 1990:302). Hier word joernale, memoires en romans as primêre bronne geneem en lewensfaseteorieë (soos byvoorbeeld van Jung, Erikson en Levinson) rig die interpretasies. Die gevaar kan egter ontstaan dat psigoanalitiese teorieë te sistematies toegepas word en die literêre kritikus moet veral bedag wees daarop om nie enige psigoanalitiese teorie op ʼn literêre teks af te dwing sonder om die teorie se uniekheid in ag te neem nie (Wyatt-Brown, 1990:303). Dit is voorts ook belangrik om in ag te neem dat die lewensverloop van mans en vroue nie noodwendig op dieselfde manier manifesteer nie (Wyatt-Brown, 1990:303). Wyatt- Brown (1990:303) waarsku ook dat ʼn soektog na tekens van kreatiwiteit in gevorderde leeftyd met omsigtigheid hanteer moet word. Sy noem dat literati daarop bedag moet wees dat humanistiese waardes meer as net eenvoudige idees van individualisme behels – onbeperkte selfaktualisering kan in blatante selfsug ontaard (Wyatt-Brown, 1990:303). Hennie Aucamp se wydbelesenheid en vermoë om intertekstualiteit naatloos met literêre werke te verweef, maak dit moontlik om sy oeuvre vanuit hierdie perspektiewe te ontleed. Die tweede subkategorie behels verkennings van die skrywer se psige en verouderingsprobleme soos dit in die literêre werk self manifesteer (Wyatt-Brown, 1990:304). Die ontwikkeling van ʼn laatstyl by skrywers is hier van belang – veral ten opsigte van verhoogde kreatiwiteit wat moontlik in hierdie fase posvat. Daar word meer oor die konsepte van laatstyl en laatwerk uitgebrei in afdeling 2.4.

Die fenomenologie van veroudering is die derde subkategorie en behels wat Woodward (1986) die spieëlfase noem waartydens ouerwordende mense spieëls vermy, en omdat hulle nie die fisieke tekens van hul veroudering self wil of kan sien nie, leer hulle van hul veroudering deur die reaksies van ander mense (Wyatt-Brown, 1990:305). Hennie Aucamp gebruik self ook die spieël in heelwat van sy tekste om veroudering te beklemtoon en die karakters vermy heel dikwels spieëls omdat hulle nie met hul verouderende self gekonfronteer wil word nie.

Die vierde kategorie konsentreer op toepassings van gerontologiese teorie wat betref lewensoorsigte, reminisserings en outobiografie (Wyatt-Brown, 1990:307). Die term

lewensoorsig kan toegeskryf word aan Butler (1963) wat daarop dui dat reminissering ʼn

belangrike rol speel in die lewens van ouerwordende mense, selfs al is sommige herinneringe moeisaam of herhalend van aard (Wyatt-Brown, 1990:307). Butler (1963:5) stel dat die geneigdheid van ouer persone om die verlede te herbesoek hulle help om die dood met gelatenheid te aanvaar en bydra tot die ontwikkeling van eienskappe soos eerlikheid, vredigheid en wysheid. Wyatt-Brown (1990:308) noem dat die studies wat in hierdie kategorie onderneem is, demonstreer dat ʼn herroep van die verlede nie noodwendig ʼn skrywer of literator forseer om lewenservarings te vereenvoudig nie. In die geval van Hennie Aucamp speel lewensoorsigte, reminisserings en die outobiografie ʼn beduidende rol in sy literêre werke, sowel as in sy egodokumente.

Die vyfde kategorie ondersoek die outobiografie en kreatiewe proses oor die hele lewensduur. Die proses om betekenis te vind in mens se lewe is die oorhoofse vraag in hierdie kategorie en veral die outobiografiese elemente van fiksie kom hier te sprake (Wyatt-Brown, 1990:308). Die laatstyl is ook van toepassing in hierdie kategorie omdat dit oor die outobiografiese elemente in egodokumente handel.

Wyatt-Brown (2007:85) pas later die aanvanklike vyf kategorieë aan en brei dit uit tot die volgende tien kategorieë: geïdealiseerde ouerfigure; middeljarekrisis en geleenthede; liefde in die later lewe; grootouers; gestremdheid en grade van aftakeling; aftrede; aftrede-gemeenskappe; lewensoorsigte; dood, sterwensproses en rituele van rou; en swanesang. Wyatt-Brown bied geen verdere perspektief op hierdie kategorieë nie, maar probeer dit eerder verduidelik aan die hand van voorbeelde uit Engelse literatuur.

Die kategoriebenamings is egter selfverduidelikend en dien as merkers wanneer Aucamp se literêre werke in latere hoofstukke ontleed en geïnterpreteer word.

Indien skrywers daarin faal om die dikwels verwarrende oorgange van hul ouer karakters se lewens te erken, is dit heel waarskynlik te wyte aan sentimentaliteit of stereotipering (Wyatt-Brown, 2007:86). Tot ʼn sekere mate hang die vermoë van ʼn skrywer om empatie met verouderende karakters te hê van die skrywer se eie ouderdom af (Wyatt-Brown, 2007:86). Jonger digters, romanskrywers en dramaturge kan dikwels verkeerdelik aanneem dat seniors min potensiaal vir emosionele ontwikkeling het of nie die kapasiteit besit om die leser te verras nie (Wyatt-Brown, 2007:86). Gelukkig is daar wel sommige relatief jong skrywers wat die nodige empatie en nuuskierigheid het om die kompleksiteite van later lewe te verstaan en te representeer (Wyatt-Brown, 2007:86). Hennie Aucamp is so ʼn skrywer, want reeds sedert sy debuut toon hy ʼn begrip vir die menslike toestand en ook ander aspekte wat met die gerontologie verband hou. Hieronder is intergenerasionele verhoudings seker die belangrikste. Oor die algemeen kan skrywers wat hul laat middeljare bereik makliker uit ʼn persoonlike repertoire van ervaringe put (of van dié van vriende en familie) (Wyatt-Brown, 2007:86). Intergenerasionele verhoudings word in meer detail in afdeling 2.6 bespreek.