• No results found

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

3.9 Skulp (2014)

Hennie Aucamp se laaste digbundel het kort voor sy dood op 20 Maart 2014 verskyn. Du Plooy (2016:1) skryf dat Skulp eintlik eers in Junie 2014 moes verskyn het, maar dat Aucamp versoek het dat dit vroeër moet verskyn. Sou hy geweet het dat indien daar langer met die publikasie gewag word, hy nie die bekendstelling daarvan sou meemaak nie? Oor die bundel het Aucamp self die volgende gesê:

Behalwe hierdie gedigte, voel ek ek het niks meer te sê nie. Ek het vreeslik baie geskryf en ek voel nou dis genoeg. Ek voel nou ek is (amper) 80, ek het ʼn mooi paadjie geloop en dis die einde (Brümmer, 2013:3).

Hugo (2014) skryf dat Skulp "ʼn kortbegrip van die essensiële Aucamp, die tradisiegedrenkte boerseun en die dekadente stedeling wat spanningloos saam bestaan" is. Die digbundel is ook die laaste literêre werk wat uit sy pen verskyn en daarmee word sy literêre oeuvre afgesluit.

Die eerste gedig in die bundel is "Terugkeer" (Aucamp, 2014:9) wat as ʼn gerontologiese kwatryn beskou kan word in dié sin dat dit kuns gelykstel aan die laat lewe:

My verse kom skoorvoetend nader asof hulle my oproep wantrou;

en ek pleit: Wees geduldig, veral nou, al ooit gehoor van die Verlore Vader?

Aucamp vermoed dat sy verse hom wantrou en skoorvoetend is weens sy swakkerwordende geheue. Dit is ʼn teken van onsekerheid wat intree by die digter in sy laat lewe en dit is asof die kwatryn hier ʼn toets is vir sy vermoë om steeds te kan skryf. Hy sien homself nou as die Verlore Vader (na die gelykenis van die Verlore Seun wat so dikwels in sy poësie gebruik is) wat beteken dat hy ontredderd voel. Hierdie kwatryn gee die stemming van die digbundel aan, naamlik afskeid, aflegging en aanvaarding van verganklikheid. Om Aucamp se weerloosheid as skrywer én as mens só te lees, wek vertedering en empatie met die ouerwordende skrywer.

"Dagboek" (Aucamp, 2014:20) is ʼn narratief-gerontologiese kwatryn:

Hy vleg sy ervarings by sy dae in

en so ontstaan ʼn wrong, en dit maak sin. Maar ag, was sy lewe net afwisselend vaal, kon jy straks ʼn storietjie daaruit haal.

Die dagboek word hier gebruik as retrospektiewe medium wat veral handig te pas kom in die senior se lewe. Dit kan gebruik word om herinneringe op te roep en dien ook as bron van inspirasie vir, in Aucamp se geval, literêre werke. Hier vind ons weer die vervlegting van die konstruksie van narratiewe as egodokumente, maar ook as kunsobjekte. Aucamp beweeg selfs aan die einde van sy lewe byna naatloos tussen die werklikheid van sy eie lewe en die fiksionele wêrelde wat hy skep. Oor hierdie verskynsel skryf Ia van Zyl (1987:80) met verwysing na Wat bly oor van soene? (1986) dat Aucamp hom voeg by die

neiging "waarvolgens die beginsel van fiksionaliteit en die verhouding tussen werklikheid as teks en die letterkunde as supplement tot die lewe, sowel as die gesprek tussen tekste onderling, tema van die letterkunde word". Hierdie neiging is egter nie net van toepassing op die prosa wat Aucamp skryf nie, maar op al sy literêre tekste.

"Debuutbundel" (Aucamp, 2014:21) verwys bes moontlik na Die blou uur wat verskyn het toe hy 50 jaar oud was, presies 30 jaar tevore:

Haar skril stem striem my kuite my boude en my blaaie;

niks kan haar nou meer stuit nie, sy staan in ligte laaie.

Wanneer mens vertroud is met die inhoud van Die blou uur kan die afleiding gemaak word dat die bundel in hierdie vers met ʼn diva vergelyk word. Maar waar sy 30 jaar vantevore Aucamp se weg as digter gebaan het, beskou hy haar nou as iets wat hom terughou en die verwysing na "ligte laaie" kan óf verwys na ʼn simboliese verbranding óf dat die bundel nou vergete in laaie weggebêre is. Hoewel dit nie ʼn besonder positiewe beskrywing van die bundel is nie, kan dit dalk wees dat Aucamp eerder smag na die jeugdigheid wat hy nog had ten tyde van die publikasie van die bundel. Die bundel kon vir hom die vergestalting van ʼn tydperk in sy lewe wees waar hy nog op die kruin van sy loopbaan en in die fleur van sy lewe was. Nou is dit iets van die verlede en die herinnering aan daardie tydperk laat hom bitter want hy weet à la Pamina in Mozart se Die Zauberflöte dat "der Jüngling auf immer für mich verloren" is – al die ervarings en mense kan slegs voortleef in sy skryfwerk, maar nuwe ervarings en (jong) mense is hom nie meer beskore nie.

Dat kwatryne oor ʼn debuutbundel en ʼn dagboek langs mekaar in die bundel verskyn, is die letterlike samekoms van die twee stramiene wat Aucamp se oeuvre kenmerk, naamlik die literêre werke en egodokumente. Die naasmekaarstelling van hierdie genres wat beide ook gerontologies gelees kan word, vorm ʼn netjiese verbinding van die literêre gerontologie met die narratiewe gerontologie.

In Skulp is daar heelwat kwatryne wat handel oor die ervaring van die ouerwordende kunstenaar wat in verskeie gedaantes manifesteer. Vervolgens word hierdie kwatryne saam groepeer ter wille van logiese ordening.

"Vergange glorie" (Aucamp, 2014:22) beskryf die biologiese verval van ʼn vrou wat duidelik ʼn vol lewe gelei het:

Haar hare val uit, haar tande raak los, maar boeta, had sy ʼn kopervos-dos, en kon sy haar tande in die lewe slaan, in elke dis wat voor haar kom staan.

Hierdie kwatryn roep die nou reeds bekende beeld van die ou ballerina, die ou queen en die ou courtisane, wat ʼn vol lewe gelei en elke geleentheid aangegryp het, op. Maar biologiese aftakeling is onvermydelik soos wat veroudering intree. Twee van die mees estetiese aspekte van enige mens se gesig is hul hare en tande en juis daarom fokus Aucamp op die hare wat uitdun en tande wat uitval. Daar gebeur veral iets simbolies wanneer jou hare begin uitval want jy word en lyk anders as die gemiddelde mense om jou omdat dit die sigbaarste teken van veroudering is. En dit is wat ouderdom doen – dit marginaliseer jou en maak jou anders. Omdat die eksterne verander, neem mense aan dat die interne ook verander, wat nie noodwendig die waarheid is nie. Die tema van "vergange glorie" is ook deurlopend aanwesig in Aucamp se kabarette, dramas en kortverhale. Hierdie kwatryn sluit ook aan by die tweede deel van die gedig "Die sneeu van voorverlede jaar" in Teen die lig wat in die vorige afdeling bespreek is.

Die "Ouwe poefter" (Aucamp, 2014:38) voeg hom by die nou reeds bekende beelde van die ou ballerina, die ou queen, die ou courtisane en ander Aucampeske ouerwordende randfigure:

Hy staan by ʼn pishok in ʼn ouderwetse urinoir, opgetert tot die soveelste mag, maar die ghwar loer uit sy oë, uit sy afskuwelike lag,

uit die lul wat, nét sigbaar, onder blou veloer wag.

Die toneel in hierdie kwatryn is tipies dié van gaycruise-ervaring. Hier word die ouer gay man egter beskryf as ʼn nar wat gegrimeer is (dalk ʼn fopdosser?) en wag vir iemand wat sy seksuele begeertes tot vervulling kan bring. Moontlik is dit ook ʼn manier waarop Aucamp homself in die laaste paar jare gesien het – ʼn ou poefter (fairy, nancy boy, faggot) wat nie noodwendig homself bejammer nie, maar heeltemal in selfaanvaarding leef. Die verwysing na "blou veloer" roep die stereotipiese beeld van die ou dandy op geklee in ʼn baadjie van fluweelmateriaal.

"Vrou voor die spieël" (Aucamp, 2014:39) word nie om dowe neute reg langs "Ouwe poefter" geplaas nie:

Halfmane aangebring bokant uitgewiste broue wil ʼn illusie skep van die altyd behoue,

maar alles verloën dit, die rok sonder moue, die vel wat terugsink in ingekeepte voue.

Die spieëlbeeld van die senior vrou (of dalk ʼn fopdosser) wat uit die spieël na haar terugstaar, verklap dat geen grimering die werklikheid van veroudering kan wegsteek nie. Ouderdom kan nie langer uitgestel of vermy word nie. In hoofstuk 4 word die rol wat die spieël in Aucamp se literêre tekste speel meer breedvoerig bespreek. Die illusie wat die persoon met grimering wil skep herinner aan die manier waarop Walter Battiss in "Battiss gee raad" in Hittegolf die manier waarop hy geskilder word wil manipuleer ten einde ʼn jonger weergawe van homself in verf te verewig.

Aucamp gebruik die diva as metafoor van die sterwensproses wanneer hy (weliswaar tong-in-die-kies) skryf hoe "ʼn Diva vertrek" (Aucamp, 2014:47):

Haar hand beskryf ʼn halfmaan: Sy groet, terwyl haar boot vertrek, soos in ʼn stoet,

na Bestemming Onbekend. Hoe lyk die nuwe plek? En hoekom geen blomme en wimpels op die dek?

Die diva kan ook na Aucamp self verwys en die slotreël van die kwatryn is tipies van sy sin vir humor wanneer die diva, duidelik verontwaardig, vra waarom daar geen blomme en vlae op die dek is nie. Sy het onbelangrik geword en niemand maak meer van haar ʼn ophef nie. Dit is duidelik dat selfs op gevorderde ouderdom, Aucamp steeds nie sy sin vir humor en sy bewondering vir die lewe en die moontlikhede wat dit bied, verloor het nie. Die diva is ook ʼn verwysing na die kabaret waarmee Aucamp vir oulaas ʼn erkentlike knik gee in die rigting van die kunsvorm waaraan hy jare van sy lewe gewy het.

Aucamp se belewing van veroudering word ook deeglik in Skulp geboekstaaf en dit neem veral die vorm aan van twee wederkerende temas: skoonheid en verganklikheid. In "Heilige dae" (Aucamp, 2014:27) word dit duidelik dat Aucamp bewus is van sy naderende dood en dat dit selfs vir hom wenslik is:

Dié dae is heilig en vra om geen gebed ʼn snoer vol silwer pêrels en elkeen onbesmet.

Slegs iemand wat ʼn vol lewe gelei het, kan met hierdie soort tevredenheid sy naderende dood aanvaar. Dit sluit ook aan by sy eie woorde oor Skulp, naamlik dat hy ʼn "mooi paadjie geloop" het, maar dat hy nou die einde daarvan bereik het (Brümmer, 2013:3). "Viering" (Aucamp, 2014:34) is myns insiens een van Aucamp se treffendste queergerontologiese kwatryne:

Kom kom ek soms, op tagtig jaar,

maar dit vra konsentrasie en dié val my swaar; veel eerder slobber ek oor ʼn pornokanaal waar jonges, baldadig, die tweekuns behaal.

Hierdie kwatryn kan beskou word as Aucamp se laaste oopskryf van (homo)seksualiteit en is ook ʼn blootlegging van sy eie beskouing en ervaring van (gay) seks. Die verwysing na 80 jaar is so direk dat die leser nie anders kan as om aan te neem dat die gedig oor Aucamp self handel nie. Hy het sy lewe voluit geleef en nou op sy oudag is daar niks meer oor waaroor hy voel hy hom hoef te skaam nie en as hy vir die wêreld sy binnekamer wil oopmaak, doen hy dit sonder voorbehoud of enige skaamte. Seksuele spanning word geskep deur die senior man wat voyeuragtig hom verlustig in die pornografiese uitbeelding van jong mans (heel waarskynlik sogenaamde twinks13) op die internet.

In stede daarvan om homself sukkelend te bevredig, word hy nou bevredig deur ander die seksdaad te sien uitvoer. Die kwatryn is heerlik bevrydend en die speelsheid in Aucamp se aanslag is baie duidelik in die woordkeuse. ʼn Mens kry onwillekeurig ook die beeld van die "Twee ou mans in die Badhuis" in Dryfhout.

In "What a lovely way to go (2)" bring Aucamp seks en verganklikheid byeen in ʼn kwatryn wat ʼn verhouding gebaseer op seksuele genot speels uitbeeld:

Neem die geval Murnau (regisseur)

wat sy chauffeur afgesuig het in spitsverkeer, en toe die fyndraai kom – o blinde roes – verloor beide here volkome beheer.

Aucamp is ʼn meester wat woordspel betref en hierdie kwatryn kan op twee vlakke gelees word. Die eerste is histories waar daar bespiegel word dat die Duitse filmregisseur Friedrich Wilhelm Murnau met ʼn 14-jarige seun se geslagsdele gespeel het net voor die motor teen ʼn elektriese paal gebots en Murnau se lewe geëis het.14 Die tweede is op

woordspelvlak waar die woord "fyndraai" wat in die volksmond verwys na die oomblik net voor orgasme en die woord "kom" gelaai is met seksuele betekenis as verwysing na ejakulasie en ejakulaat. Die woord "spitsverkeer" kan ook gelees word as twee penisse wat seksueel verkeer. Seks word nie hier as verweer teen verganklikheid gebruik nie; veel eerder word die twee met mekaar versoen – ʼn aanvaarding van die onafwendbaarheid van beide die eros en thanatos. Daar word natuurlik ook gesinspeel op die petite mort of kleindood (ʼn eufemistiese poëtiese verwysing na orgasme). Die homoseksuele intergenerasionele verhouding tussen ʼn ouer man en jonger seun kan slegs afgelei word met intertekstuele kennis. Die kwatryn herinner ook aan die sonnet "Die akkoord" in Dryfhout waar seks en verganklikheid ook met mekaar versoen word. Die eensame ervarings van ʼn senior word weergegee in die kwatryn "Deur die nag" (Aucamp, 2014:55):

Voëls raak ongedurig teen skemertyd, hulle soek hulle nes vir die nag; die ou mens lê benoud in sy holte, maar sug as die son breek: "Nog ʼn dag."

Die sug wat die senior slaak kan op twee maniere interpreteer word. Dit kan óf ʼn sug van verligting wees dat hy nog ʼn dag gegun is, óf dit kan ʼn depressiewe sug wees waar hy eintlik wens dat sy lewe nou tot ʼn einde moet kom omdat hy die lewenskwaliteit wat veroudering meebring nie meer kan hanteer nie. Die benoudheid kan dus na beide kante gaan. Aucamp illustreer hier die ambivalente gevoelens wat gepaardgaan met veroudering – veral wat die afwagting van die eindelike dood betref.

"Teregwysing" (Aucamp, 2014:59) sluit direk aan by "Deur die nag", want weer tref die leser ʼn senior man in ʼn bed aan:

14 Daar is heelwat teenstrydighede wat die omstandighede waarin Murnau verongeluk het betref. Vir meer

Wat mummel en pruttel die ou man in sy kooi? "Gaan uit in die sonskyn en gaan maak hooi!" "Tyd om die akker vir die beetoes te rooi!" Dít pruttel die oue diep uit sy kooi.

Die lusteloosheid van die senior wat sy dae omwag in die bed is kenmerkend van depressie. Die senior man sien geen sin daarin om op te staan en sy laaste dae te leef nie, hoewel hy goed weet dat die lewe aangaan en dat daar dinge is om te doen. Hierdie senior man gebruik eerder sy ou dae om die dood in te wag as om die lewe aan te gryp. Aucamp het self heelwat sodanige emosies erken veral ná sy beroerte.

In "Plinius" (Aucamp, 2014:66) filosofeer Aucamp oor lewensverloop en laat iets van sy eie lewensbeskouing deurskemer:

Geseënd die mens deur die natuur

met ʼn kort lewe toebedeel, want op die duur gaan alles afdraand: verbý die dae

waarvan hy kon sê: Met welbehae.

Aucamp is van mening dat ʼn kort lewe baie beter is as ʼn lang, uitgerekte lewe want dan word daar nie met welbehae geleef nie, maar eerder frustrasie. Die titel van die gedig verwys na die Romeinse outeur, natuurkundige en natuurfilosoof Plinius die Ouere. ʼn Ander kenmerkende handeling van sommige mense wat verouder, is dat hulle begin om van hul aardse besittings ontslae te raak. Hierdie handeling kan toegeskryf word aan die wete dat hulle nie meer nodig het om soveel dinge te besit nie en die weggee daarvan aan mense wat dit opnuut kan waardeer en gebruik sorg vir tevredenheid. Natuurlik dien dit ook as ʼn manier om lewend te bly in die geheues van diegene aan wie hulle dinge gee. In "Leë huis" (Aucamp, 2014:68) word hierdie handeling netjies in ʼn kwatryn saamgevat:

Seën dié dinge wat jou huis verlaat

en wens ook die ontvangers daarvan geluk; dit was nooit besit nie, bloot geleen:

Laat kragtiger skouers nou daaronder buk.

Aucamp was bekend as ʼn gewer en aangewer en in die huldigingsbundel Om Hennie

Aucamp te onthou (2015) is verskeie vertellings wat hierdie eienskap van hom bevestig.

Ek onthou Hennie as ʼn gewer. Hy het nooit iewers opgedaag sonder ʼn boek of ʼn CD of iets in die hand nie. Daardie geskenke was en is kosbaar. Ook die pragtige skulp wat met my vorige verhuising gebreek het. Maar sy grooste geskenk was dit wat hy onbewustelik vir dié met wie hy te doene gekry het, geleer het: Die kennis wat hy – en ek sê weer – onbewustelik met ons gedeel het.

50 jaar ná sy debuutbundel, verskyn ʼn slotkwatryn, getiteld "Winternag", in Aucamp se laaste bundel wat by "Eindelik" (die slotkwatryn in Die blou uur) aansluit, hoewel op ʼn baie meer persoonlike vlak:

Winter is deursigtig. Ek kyk deur die bos hoe liggies mekaar vind en dan weer los aan die ander kant, wat glo die hemel is;

op die voorgrond, my eie, getekende winterbos.

Die twee bykans eenderse gedigte, geskryf in verskillende tydperke in die digter se lewe, dui tog moontlik daarop dat, soos reeds gestel, Aucamp deurgaans bewus is van die verouderingsproses en dat die hantering van gerontologiese temas nie slegs in sy laatwerk manifesteer nie. Daar is trouens nie noodwendig by hom ʼn definitiewe laatstyl aanwesig nie. Du Plooy (2016:2) merk dat die gedigte toenemend onthullend word: "Nie op sigself nie maar in samehang kom die digter se vrees vir die ouderdom, vir alleenheid, vir die groot onbekende na vore." Viljoen (2012) stel dat die term "gerontologiese poësie" nie slegs gereserveer word vir die werk van digters op gevorderde ouderdom nie, maar dat dit die tematiek van veroudering, mortaliteit en dood insluit. Daar is voorts in beide gedigte religieuse verwysings wat kenmerkend is van vele ouerwordende mense wat na ʼn goddelikheid gryp ten einde sin te maak van die lewe of om vrede te maak met die dood. Ten slotte kan Du Plooy (2016:2) se woorde oor Skulp sonder meer aangehaal word:

Dit is werklik asof die digter hier met ʼn afskeidsproses besig is, steeds op sy unieke manier deur die aanbied van afgeronde woorde en frases en verse. Daar is ook deurgaans ʼn soort ligtheid, ʼn speelse taalvirtuositeit wat die skrynende oumens-eerlikheid afwissel maar ook deur onderbeklemtoning sterker maak. Inderdaad staan die bundel in Johann de Lange se woorde op die agterplat 'in die teken van laatwerk, van bestekopname, die aflegging van maskers'. Die skulp is, soos vir die slak, die digter se beskerming, maar dit is ook die vehicle vir sy verse, ʼn brose skuiling wat beskik oor ʼn innerlike skoonheid, verborge struktuur en samehang, net soos die kwatryne self. Hierdie kwatryne is voorbeelde van juis daardie vermoë van die kwatryn om ʼn lewensgevoel of ʼn lewensinsig saaklik maar gevat oor te dra. Die spel tussen erns en (grim)lag dra by tot gesofistikeerde toon van die bundel as geheel, en dit is juis wat Hennie Aucamp regdeur sy oeuvre wou en kon regkry.

3.10 Samevattende opmerkings

Dit blyk uit Aucamp se ryk poëtiese nalatenskap dat daar by hom deurgaans ʼn bewustheid van veroudering teenwoordig is wat neerslag vind in elke digbundel wat hy gepubliseer het. Die voorbeelde wat ontleed en geïnterpreteer is in hierdie hoofstuk toon sekere deurlopende gerontologiese temas wat vervolgens opgesom word.