• No results found

Teen die lig (2012)

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

3.8 Teen die lig (2012)

"Teen die lig staan in die teken van afskeid, maar afskeid-in-vreugde", lui die agterplat van hierdie digbundel wat gepubliseer word in Aucamp se 78ste lewensjaar. Die bundel word opgedra aan een van Aucamp se naaste vertrouelinge, die digter Johann de Lange. Reeds op ekstratekstuele vlak verkry hierdie bundel ʼn intergenerasionele homoseksuele verbintenis aangesien De Lange ook ʼn selferkende gay man is. Die bundel kan dus ook beskou word as ʼn geskenk van een vriend aan ʼn ander aan die einde van die ouer een se lewe.

Kuhn (2013:182) skryf dat die bundel ʼn versameling verse is "wat op ʼn paradoksale aard die nosie van afskeid, dood, herinneringe en verheerliking ondersoek. Gedigte wat in der waarheid lig werp op laasgenoemde onderwerpe gee weer ʼn vernuwende eienskap van lewe daaraan". Ohlhoff (2014:2) beoordeel die verstegniese aspekte van die bundel soos volg:

Ons het hier ʼn bundel wat met 'tradisionele middele' werk: rym, strofes, sonnette, kwatryne … wat, sou ʼn mens kon sê, die nostalgie en terugkyk wat so kenmerkend van baie van die gedigte is, ondersteun. Dit geld ook die 'verouderde' gebruik van 'o' en die argaïese en streektaalwoorde. Die tekste is op die oog af eenvoudig, maar die skyn bedrieg: Deur die funksionele digvorme, die fyn, gevoelige woordgebruik en deur die intertekstuele netwerk wat geskep word, kom ʼn rykdom aan betekenis tot stand en kom daar met elke herlees nuwe nuanses na vore.

Die bundel open met die gedig "nature morte" (Aucamp, 2012:8) wat gebaseer is op ʼn akwarelskildery deur Jan Voerman (1890). Die titel is die Franse naam van wat in Afrikaans bekendstaan as die "stillewe" – ʼn kunsvorm waar lewelose objekte geskilder word. Die hele gedig handel oor die stillewe as kunsvorm en kan ook geïnterpreteer word as verwysend na die "stil lewe" van die ouer mens:

Die ware stillewe word nie opgestel nie:

Dit wag reeds op sy kunstenaar. Dinge

– blomme, visse, brood –

ontmoet mekaar astraal in die tyd, word aangeraak deur die ligval op ʼn bepaalde uur;

ruil energieë uit en sluit ʼn stil verbond: En só ontstaan ʼn skildery.

Soos dié stillewe: Uit ʼn gemmerpot – verdigte aarde –

ontspring ʼn bos kappertjies, put uit dié pot hul geel, reik uit sy donkerblou glasuur na hoër lugte

en staan verheerlik teen die lig. Die ware stillewe

is ʼn essay:

altyd metafisies, altyd deurtrokke van sterflikheid.

Hoewel die gedig as ekfrastiese gedig begin, word dit duidelik in die slotstrofe dat Aucamp die stillewe as metafoor gebruik vir eerstens (sy eie) digkuns en tweedens as uitbeelding van ʼn lewensfilosofie. Die slotreël resoneer met die vroeër bespreekte kwatryn "Ars poetica" uit Vlamsalmander wanneer die digter skryf dat die stillewe/essay "deurtrokke van sterflikheid" is. Daar is dus ʼn woordspel met stillewe en die stil lewe van die senior wat ook deurtrek is van die alomteenwoordige wete dat hy/sy verganklik is en dat die stil lewe die dood voorafgaan. Aangesien die objekte in die skildery nielewendig moet wees alvorens dit as ʼn stillewe geklassifiseer kan word, kan dit ook gelees word as ʼn siniese ervaring van die seniors dat daar nie eintlik aan die einde van ʼn mens se lewe nog iets oor is om voor te lewe nie. Die spontane ontstaan van die stillewe kan ook vergelyk word met Aucamp se beskrywing van die manier waarop sekere idees dikwels by hom kom aanklop en hy dit dan net moet neerskryf alvorens dit in die vergetelheid verdwyn. Die verwysing na die essay as die ware stillewe is ʼn direkte verwysing na die respek en voorkeur wat Aucamp vir hierdie literêre genre gehuldig het.

ʼn Gedig wat saamgelees kan word met die kindervers "Winter op die Stormberge" in

Woerts in die hoekie (2011) is "Slagdag op Rust-mijn-ziel" (Aucamp, 2012:12) wat deel

is van die sogenaamde "Boerepsalms" wat handel oor die Stormberge van Aucamp se jeug:

Stowe brand: Die Dover in die buitekombuis, die Aga, die Queen, in ons baksteenhuis, en in ʼn seeppot stoom die water,

en ʼn misvuur smeul, maar dis vir later,

Wanneer ek en my werfmaats vleis mag braai; maar eers moet gewerk kom, en almal laat waai, wors word gestop, soos dit lyk by die jaart,

En jonk en oud kry ʼn Bolandse dop, en Ma en Elsie skep aartappelsop. Ek swymel van wyn en soetkoljander,

en oom Rosie spiets guitig: "Geluk op elkander!" Almal is dood, net ek is nog hier,

om ʼn plaas en sy vreugdes met woorde te vier.

Aucamp span die sonnet hier in as verweer teen verganklikheid, maar ook teen die sosiale isolasie wat veroudering meebring. Die jolige herinnering van slagtyd op die plaas in die eerste drie strofes versomber snel in die rymende eindkoeplet waar die spreker besef dat al sy vriende en familie reeds dood en hy die langslewende is. In die slotreël probeer hy die gemoed weer lig, maar die leser weet dat die onderliggende toon een van eensaamheid en melankoliese nostalgie is. Aucamp se grootwordjare op die familieplaas Rust-mijn-ziel bly vir hom ʼn haas onuitputbare bron van inspirasie soos wat heelwat kortverhale ook getuig. Dit is asof hierdie grootwordjare wat hy so helder kan oproep (en in dagboeke sedert negejarige ouderdom geboekstaaf het) juis gepreserveer is om hom in sy latere jare en veral in gevorderde leeftyd ten minste psigies aan die gang te hou. Dit is die spreekwoordelike "sprokkel en brandhout" wat hy vergaar het ten einde "dreunvuur" in sy ouderdom te hê (na aanleiding van die motto voor in Dryfhout). By Aucamp kan die leser van sy oeuvre nooit werklik agterkom dat sy biologiese terugslae en agteruitgang sy verstandelike vermoëns negatief beïnvloed het nie, hoewel dit so is dat sy geheue aangetas is ná die beroerte in April 2011 (Brümmer, 2013:3).

"Ouma se dagboek" (Aucamp, 2012:15) kan gelees word as ʼn sintese tussen die literêre gerontologie en die narratiewe gerontologie:

Te laat begin, helaas.

Handskrif nog ferm, maar vulpen afgeleef soos dit voortkras, reël ná reël,

skaars twintig bladsye, ʼn ou vrou se relaas oor haar kinderjare in Tarka se distrik, en later in ʼn platdakhuis, naby Penhoek; en oor ʼn wye vlakte, natuurlik te perd, het Oupa kom vry, en ophou soek.

Sy het skaapvelkomberse gemaak, opgehewe die patrone van son en sterre en sekelmaan; sy het seep gekook en biltong gesny;

borduurwerk gedoen; haar toegewy aan elke taak. My ouma het my blymoedig geleer:

Daar is duidelik parallelle tussen die ouma in die gedig en Aucamp se eie dagboekhouding. Aucamp het reeds op vroeë ouderdom begin om dagboek te hou en hy skryf ook baie oor sy kinderjare en geliefdes. Die spreker ag dit wat sy ouma hom geleer het van waarde en dit vind aanklank by Aucamp wat self erken dat sy familie ʼn belangrike rol gespeel het in die kweek van sy liefde vir boeke en sy skryftalent. Die verhoudings met seniors is ʼn terugkerende tema in Aucamp se oeuvre en hierdie gedig bevestig dat daar wel sekere gerontologiese temas is wat keer op keer in Aucamp se werk manifesteer. Wat die oumafiguur betref, is sy alomteenwoordig in alle literêre genres wat Aucamp beoefen het, en daar word meer breedvoerig oor geskryf later in die proefskrif. Die tweede deel van die gedig "Die sneeu van voorverlede jaar" (Aucamp, 2012:36) bestaan uit ʼn reeks kwatryne wat telkens die teenstellings tussen die lewe en dood van Aucampeske ouerwordende figure toon:

II

Souffleur

Hy mummel sterfbedwoorde ontleen aan monoloë

en waan hom Lear op Stratford of Londen se verhoë.

Die akteur

Lear struikel met Cordelia – vervloek dié wrede rol! Vanwaar die skielike gedruis van seile wat teen winde bol?

Ballerina

Eenmaal was sy ligvoets

met wimperskadu's op haar wang, nou kyk sy uit ʼn rystoel

hoe tuinvoëls vlinders vang.

Diva

Op haar dag ʼn groot sopraan wat tierelier en kweel,

maar tyd, die wrede rower, het haar talent gesteel.

Dandy

Hy was ʼn vaudeville-dandy met wandelstok en vlinderdas; nou kleef hy, ondanks weefselsoute, aan die moederaarde vas.

Atleet

Die aarde was sy trampolien, hy kon aan sterre raak; nou lê hy hoekig en geknot en soos ʼn fetus naak.

In al die kwatryne toon Aucamp hoe veroudering die spesifieke karakters afgetakel het. Die kontras tussen dit wat hulle in hul jeug kon vermag en dit waartoe hulle nou gestroop is, word veral onderstreep deur die afname in spesifieke fisieke vermoëns soos die souffleur wat nie meer duidelik woorde kan vorm nie, die akteur wat nie meer lekker kan hoor nie, die ballerina wat in ʼn rystoel gekluister is, die diva wat nie meer kan sing nie en die atleet wat nou net lê. Daar is egter ook ʼn afname in mentale vermoëns soos die souffleur wat in ʼn waan verkeer. Waar die figure se dae eens vol was, is daar nou net leë ure wat gevul word met doodsafwagting. Die kwatryne het ʼn reminisserende toon en is moontlik sprekend van Aucamp se eie ervaring met veroudering, want interessant genoeg is daar byvoorbeeld nie ʼn kwatryn oor ʼn skrywer nie – dalk juis omdat al die kwatryne saam ʼn toonbeeld is van dit wat hom eens gelukkig gemaak het en hy nou nie meer kan geniet nie. Die beroerte in April 2011 het nie net ʼn merk gelaat op sy gesondheid nie, maar ook op sy lewenswyse aangesien hy nie meer kon bestuur nie en met ʼn gesukkel geskryf het. Vir iemand wat sy lewe lank manuskripte en briewe met die hand geskryf het, moes dit ʼn ingrypende verandering wees om te voel hoe jou liggaam jou verraai en verhoed om dit wat jy die liefste het te kan uitvoer.

"Kopklip" (Aucamp, 2012:58) herinner aan "Die eensaam sterwe" in Vlamsalmander want nes in laasgenoemde is die spreker in dié gedig begaan oor dit wat ná sy afsterwe gebeur:

My hande raak onwennig en ek moet konsentreer

wanneer ek in die sandsteen beitel: "U wil geskied, o Heer,"

of wát die naasbestaandes en die weduwee versoek: Ek het ʼn norring tekste in my begrafnisboek.

My eie steen is klaar gedres met teks en al kompleet: "Hier lê ʼn Petrus en dis al wat julle hoef te weet."

Hierdie gedig bevat al die gerontologiese temas wat deur Van der Elst genoem word, naamlik ʼn besinning oor die liggaamlike aftakeling ("my hande raak onwennig en ek moet konsentreer"); besinning oor verhoudings ten opsigte van gesin, familie en vriende ("of wat die naasbestaandes/en die weduwee versoek"; besinning oor ewigheid en/of tydelikheid en sterflikheid (die hele gedig handel oor begrafnisrituele en die dood); en besinning oor God en religie in die algemeen ("U wil geskied, o Heer"). Die naam "Petrus" is moontlik ʼn verwysing na Aucamp se pa wie se naam Petrus was (sien die bespreking van die kortverhaal "Die nag van die ooms" in Hongerblom in afdeling 5.6).

Die laaste gedig in Teen die lig is getiteld "Aandlied" (Aucamp, 2012:64):

Dood kom oor die bulte, ʼn ou man in ʼn kros, en is hy in die leegte moet ek my pen laat los en eers ons padkos regkry

– die ou sal honger wees, gewis – twee flessies duineheuning, ʼn broodjie en ʼn vis.

Die titel van die gedig dui op skemering wat daal, dus ʼn verdowwing van lig wat aansluit by die bundeltitel. Namate veroudering feller toeneem, verdof die lewenslig van die senior mens. Aucamp beskryf in hierdie gedig die dood as ʼn senior man wat oor die duine kom om sy nuutste toevoeging tot die doderyk te kom haal. Dit is baie moeilik om nie vir Aucamp in hierdie gedig as spreker te herken nie. Die spreker (Aucamp) vertel hoe hy sy pen laat los (dus nie meer skryf nie) en eers die padkos regkry (Aucamp se ander groot liefde). Die skrywer is duidelik gereed om dood te gaan (en sodoende die verouderingsproses af te sluit) en het deur al die voorafgaande bundels afskeid geneem van alles en almal wat vir hom dierbaar is. Ironies genoeg is Teen die lig egter Aucamp se voorlaaste digbundel aangesien Skulp twee jaar later verskyn.