• No results found

Samevattende opmerkings

HOOFSTUK 2: GERONTOLOGIE EN DIE LETTERKUNDE

2.8 Samevattende opmerkings

Een van die struikelblokke wanneer ontwikkelende teorieë soos die literêre gerontologie, narratiewe gerontologie en intergenerasionele teorie gebruik word as benadering tot letterkunde, is die gebrek aan bronne. Terselfdertyd is dit ook ʼn geleentheid vir die student om die weinig navorsing wat reeds bestaan, byeen te bring as ʼn koherente geheel sodat daarop voortgebou kan word. Voorts bied ʼn studie in Afrikaans die geleentheid dat sodanige bronne wat slegs in Engels beskikbaar is, ontleed en die vakterminologie vertaal kan word om sodoende ʼn bydrae tot die korpus akademiese navorsing in Afrikaans te lewer.

Die doel van hierdie proefskrif is nie om ʼn volledige uiteensetting van die gerontologie te gee nie (so iets sou ook haas onmoontlik wees), maar eerder om verkennend te werk te gaan wat nuwe subdissiplines in die gerontologie betref. Dat daar nog heelwat ruimte vir uitbreiding op die teoretiese aspekte bestaan, is nie te betwis nie, maar die bestudering van letterkunde vanuit ʼn gerontologiese perspektief help om die vakgebied uit te brei en te vorm.

In hierdie hoofstuk is die gerontologie bespreek met betrekking tot die huidige bio-, psigo- en sosiogerontologieteorieë. Daarna is die problematiek rondom terminologie oor gerontologie hanteer waar verskillende perspektiewe op woorde soos veroudering,

ouderdom en ouer weergegee is. Jan Baars se verduideliking van die verband tussen tyd

en veroudering word gebruik om te toon dat ʼn biopsigososiale benadering tot die gerontologie altyd binne konteks en tyd gesitueer is. Die intermenslike toestand waaroor hy dit het, vind neerslag in Hennie Aucamp se literêre tekste, soos getoon sal word aan die hand van die ontledings en interpretasies in die volgende drie hoofstukke van hierdie proefskrif.

Hannah Zeilig se insigte rondom die kritiese gerontologie wat ten nouste verband hou met die literêre en narratiewe gerontologie is ook uitgelig as van belang vir die manier waarop die gerontologie benut kan word om meer betekenisvolle ontledings en

interpretasies van literêre werke waarin veroudering verken word, te maak. Dat die kritiese gerontologie help om bestaande idees oor veroudering en ouderdom te ondermyn ten einde alternatiewe manifestasies daarvan ook te ondersoek, is ʼn waardevolle projek veral met betrekking tot ʼn ondersoek soos hierdie wat gemoeid is met die uitbeelding van veroudering en ouderdom in Aucamp se literêre tekste. Aucamp se senior karakters en hul verhoudings met ander karakters is allesbehalwe konvensioneel en is ʼn baie goeie voorbeeld van die manier waarop geykte beskouings van en oor senior mense uitgedaag en vernuwe kan word.

Wat die literêre gerontologie betref, is die seminale werk van Anne Wyatt-Brown op die gebied ontleed en soos in die volgende drie hoofstukke getoon sal word, vind haar kategoriserings van die literêre representasie van veroudering en ouderdom beslis neerslag in al Aucamp se literêre tekste oor literêre genres heen. Aanvullend tot haar sienings is dié van Mike Hepworth wat met sy bestudering van honderde romans toon dat die literêre uitbeelding van veroudering en ouderdom ʼn geldige projek is wat by lesers ʼn beter of alternatiewe begrip van hierdie fenomene kan kweek. Literêre gerontologie kan die beste beskryf word deur (eksperimentele) toepassings daarvan op literêre tekste. By wyse van voorbeelde kan die moontlikhede wat hierdie teoretiese benadering bied beter verstaan word. Ook hierdie studie plaas op eksperimentele wyse ʼn gerontologiese lens oor die literêre tekste van Hennie Aucamp ten einde eerstens die literêre werke van Aucamp beter te verstaan, en tweedens om ʼn beter begrip te verkry wat die veroudering van mense betref, sowel as om insig in die leefwêreld van die senior te bekom.

Narratiewe gerontologie verskil van literêre gerontologie in die sin dat dit meer handel oor die niefiksionele konstruksie van stories van individue. Teoretiese beskouings wat verband hou met hierdie narratiewe konstruksie is laatstyl en die outobiografie. Paul Ricoeur se beskouing van narratiewe plot word in verband gebring met lewensverloop en aangevul met perspektiewe van Peter Brooks en Mikhail Bakhtin. Die konsep van laatwerk/laatstyl word ook verduidelik as manifestasies van narratiewe gerontologie en die idees van Edward Said, Kenneth Clark en Gordan McMullan en Sam Smiles in hierdie verband is ook ondersoek.

Wat die queergerontologie betref is vlugtig verwys na onlangse ontwikkelings op hierdie gebied, spesifiek die werk van Jesus Ramirez-Valles waarin hy die verband tussen

veroudering en seksualiteit ondersoek. Daar is heelwat gapings in die navorsing oor senior queer mense en veral in Suid-Afrika, en meer spesifiek Afrikaans, blyk daar nog heelwat ruimte vir ondersoek te wees.

Wat intergenerasionele verhoudings betref, is veral die intergenerasionele verbintenisse tussen senior en jonger mans ondersoek aan die hand van Michel Foucault se verduideliking van die manier waarop sodanige verhoudings in Antieke Griekeland manifesteer het. Soos in die volgende drie hoofstukke gesien kan word, speel hierdie soort verhouding ʼn sentrale rol in Aucamp se literêre oeuvre.

Die voorafgaande besprekings is egter nie die somtotaal van die teorieë wat van toepassing is op hierdie studie nie – nuwe teoretiese konsepte sal algaande bekendgestel word waar dit toepaslik is ten einde die sentrale argument te ondersteun en met meer inligting toe te lig. Die teoretiese raamwerk wat hier saamgestel is onderlê die ontleding en interpretasie van Hennie Aucamp se literêre werke aan die hand van voorbeelde uit relevante werke.

HOOFSTUK 3: HENNIE AUCAMP SE POËSIE

Ek moet ophou versies maak. Ritme en rym laat my dinge sê wat ek nooit wou sê nie.

~ Hennie Aucamp, Pluk die dag (1994e:31)

3.1 Inleiding

Hoewel Aucamp se poësiekorpus ʼn relatief laat aanvang geneem het met Die blou uur (1984) as sy amptelike debuut, het sy slag met poësie reeds geblyk uit sy eerste versameling liedtekste wat in 1977 in Die lewe is ʼn grenshotel verskyn het (Hugo, 2015:410). Aucamp se poësiekorpus behels drie bundels kwatryne (Die blou uur, Koerier,

Skulp), twee bundels sonnette (Hittegolf en Dryfhout), twee bundels "gemengde" verse

(Vlamsalmander en Teen die lig), twee bundels kinderverse (Ghoera en Woerts in die

hoekie), en ʼn bundel "aforismes en ander puntighede" wat ook kwatryne, limerieke en

ander ryme insluit (Pluk die dag) (Hugo, 2015:410).

Hierdie hoofstuk bied ontledings en interpretasies van Aucamp se poësie met behulp van die teoretiese raamwerk wat in hoofstuk 2 daargestel is. Die digbundels word chronologies bespreek, maar waar oorvleueling van temas algaande plaasvind, word ook na ander gedigte verwys waar dit relevant is. Die ontleding en interpretasie van die geselekteerde gedigte word gerig deur die besondere tematiese en verstegniese opbou van elke gedig, en daar word getoon hoe Aucamp ook spesifieke genrekonvensies gebruik om te skryf oor veroudering en ouderdom. Relevante teoretiese toeligting word geïntroduseer waar dit betrekking het op die gedigte ten einde die teoretiese raamwerk van hoofstuk 2 uit te brei. Telkens word Hennie Aucamp se ouderdom ten tyde van publikasie as deel van die afdelingopskrif gegee om die leser insig te gee in sy ontwikkeling as skrywer. Dit is egter belangrik om in ag te neem dat sommige gedigte vroeër geskryf maar eers later gepubliseer kon gewees het, en daarom kan nie net aangeneem word dat die publikasiedatum beteken dat die gedigte in daardie jaar geskryf is nie.