• No results found

xxii SUMMARY

TABEL 4.4: VYF TEATERSTERFTES

OUDERDOM OPERASIE STATUS NIERFUNKSIE EUROSCORE BYKOMEND

81 1ste KPR anurie 15 klep

66 1ste Kateterteater Kr 239 19 VSD

68 2de KE 7

60 3de IABP 12

81 2de KE 8

KE – koronêre eenheid; KPR – kardiopulmonale resussitasie; Kr – kreatinien; VSD – ventrikulo-septale defek

Die eerste pasiënt wat in die tabel gelys word, was 81 jaar oud en was aangebied vir KVO. Die chirurgie is aanvanklik uitgestel weens koors wat toegeskryf is aan „n sellutitis van „n binneaarse infuus. Later is die chirurgie afgestel weens die koors, brongitis, lae serum albumien van 23 gram/liter en ingekorte nierfunksie. Die pasiënt het egter in die saal gekollabeer en die hartsonar het akute mitraalklepregurgitasie as gevolg van iskemiese chordea ruptuur getoon. Die desperate situasie is aan die familie verduidelik, maar die verwysende kardioloog en familie het gemeen dat chirurgie al uitweg is. Die uitkoms was noodlottig. Die tweede pasiënt is geopereer vir akute iskemiese ventrikulêre septale ruptuur met erg ingekorte nierfunksie. Vir die ander drie pasiënte was dit hul tweede en selfs derde KVO. Hulle kon net nie van KPO gespeen word nie en het in die teater gesterf.

Dit is „n baie alleen gevoel om so langs die teatertafel te staan en om dan te besluit daar is niks verder wat gedoen kan word nie. Toegegee, daar is ander opsies, soos meganiese ventrikulêre ondersteuning (afgesien van die IABP), ekstraliggaamlike membraanoksigenators, kunsharte en hartoorplantings, maar dit is nie by Mediclinic Bloemfontein beskikbaar nie. Groot eenhede het wel dié voordeel, wat verder ten gunste van sodanige eenhede se uitkomste kan tel (Koch et al. 2006:1609). Die stille gebed word eintlik „n desperate noodkreet. Is die gebed ter wille van die selfwaarde van die chirurg, of ter wille van die pasiënt en sy of haar geliefdes? Hoe vind ek God se wil in daardie krisissituasie (cf. Hoofstuk 6, Paragraaf 6.2.2.4)? In die geval van die eerste pasiënt was my advies in elk geval dat dit „n hopelose situasie was. Ek vra myself waarom ek nie net botweg geweier het om hierdie pasiënt te opereer nie? Die verwysingstelsel in „n privaat praktyk kan „n rol speel; maar opereer jy nie, gaan die pasiënt beslis dood. Verder respekteer dokters die outonomie van pasiënte en, in dié geval, naasbestaandes, en is hulle versigtig om outoritêre besluite te neem. „n Verdere vraag is, waarom wil iemand (of naasbestaandes namens so ‟n pasiënt) aan die einde van sy of haar lewe (ouderdomsgewys) so desperaat vasklou aan die lewe? Dit is alles goed en wel om as chirurg heroïes te wil wees, maar die teatersterfte is ook traumaties vir die res van die teaterpersoneel. Ek erken spesifiek die narkotiseur se rol in die besluitneming. Dit is ook sy of haar pasiënt, met wie hy of sy tydens die premedikasieondersoek „n verhouding geskep het. Die ondersteuning van juis die narkotiseur, maar eintlik almal in die teater, is baie belangrik vir my as chirurg. Daar is egter pasiënte wat in posisies was soos ten minste die laaste drie wat in Tabel 4.4 gelys word, en wat wel die chirurgie oorleef het. Toets ons nie maar net telkens die onbekende fisiologiese grense nie?

Vervolgens word ook na die ander sterftes gekyk. Vir elke sterfte is gepoog om „n een- woord oorsaak toe te ken (Tabel 4.5). Een pasiënt, na „n tweede KVO, het kort na aankoms in die intensiewe eenheid skielik binne minute chirurgies uitgebloei. So „n uitkoms moet helaas aan tegniese redes toegeskryf word. Sewe pasiënte is op verskillende stadia na operasie oorlede, wat as onverwags of skielik beskou kan word. Dit is pasiënte wat een oomblik nog op-en-wakker was en toe sterf – een van hierdie pasiënte was aan „n monitor gekoppel en die elektrokardiogram-skerm het net asistolie getoon. Twee pasiënte het noodlottige beroertes gehad. „n Verdere pasiënt het net nooit wakker geword nie en is breindood verklaar. Dié persoon het ook „n biopsie van „n longkarsinoom gehad en die vraag is of daar nie reeds breinmetastases teenwoordig was nie. „n Volgende groep van 10 pasiënte se dood word toegeskryf aan inflammatoriese redes: diffuse intravaskulêre koagulopatie, sistemiese inflammatoriese responssindroom (SIRS), septiese skok en infektiewe endokarditis. SIRS is klinies gediagnoseer kort na aankoms in die intensiewe eenheid, met hipotensie (maar dikwels hoë kardiale uitwerp), metaboliese asidose, en verhoogde of verlaagde urienuitskeiding. Twee van die vier pasiënte met SIRS is hereksploreer vir oormatige mediastinale bloeding. Drie pasiënte se dood was te wyte aan gastrointestinale oorsake, naamlik twee met dermiskemie en een met „n onbeheerde bloeiende peptiese ulkus.

Een pasiënt is op dag 40 postoperatief oorlede nadat die persoon net gewoon weggekwyn het. Toegegee, die pasiënt was „n 72-jarige man wat „n tweede KVO ondergaan het. Hy het met „n linkerhoofstamletsel voorgedoen en sy linker-ventrikulêre uitwerpfraksie was „n skamele 25%. Juis daarom is hy reeds pre-operatief met „n IABP ondersteun. Na die operasie was hy hereksploreer vir bloeding; hy moes nierdialise ondergaan en was meganies geventileer vir „n onderdrukte bewussyn en vir respiratoriese inkorting. Sy eetlus was baie swak en die pasiënt het oor 40 dae agteruitgegaan.

Die pasiënt was sy lewe lank „n toegewyde pastoor en ek het die indruk gekry die pasiënt het aktief besluit om te sterf. Toegegee, na 40 dae kritiek siek in die hospitaal sou „n pulmonale embolus die waarskynlike meganisme van dood wees. Alhoewel hy dit nie geverbaliseer het nie, wonder ek steeds of hy nie gebid het om verlos te word van sy fisieke stryd nie. Dit val ook op dat die pasiënt se stryd 40 dae geduur het, „n stryd, in Bybelse terme, met spirituele betekenis.

Die grootste groep sterftes (23 pasiënte) kan aan orgaanversaking toegeskryf word: Vier pasiënte met kardiale versaking, vyf met nierversaking, vier met respiratoriese versaking en tien met multi-orgaanversaking het hierdie groep van oorsake verteenwoordig. Multi-

orgaanversaking is beskou as pasiënte waar twee en meer sisteme of organe versaak het – dit was meestal renale en respiratoriese versaking. Dikwels het een orgaan eerste ingee en ander organe het gevolg.