• No results found

xxii SUMMARY

TABEL 2.3: SAMEVATTING VAN DIE LITERATUUROORSIG-ARTIKELS

2.8.2 Die geneeskundige as spirituele wese

2.8.2.1 Die voorkoms van spiritualiteit onder geneeskundiges

Artikels no. 5 en 9

Die voorkoms van godsdienstigheid onder geneeskundiges het in twee Amerikaanse studies gedurende 2005 verskyn (Cheever, Jubilan, Dailey, Ehrhardt, Blumenstein, Morin & Lewis 2005:67; Curlin, Lantos, Roach, Sellergren & Chin 2005:629). Die geneeskundiges was almal spesialiste wat onderskeidelik uit „n streeksdatabasis of „n nasionale databasis betrek is. Cheever et al. het uitsluitlik chirurge ondervra terwyl chirurge in die studie van Curlin et al. sowat sewe persent van die studiepopulasie uitgemaak het. In Cheever se studie onder chirurge het slegs 33% van die wat genader is „n positiewe reaksie gehad, maar 63% van die spesialis-geneeskundiges (net „n klein persentasie was chirurge) in Curlin se ondersoek het deelgeneem.

Spiritualiteit en godsdienstigheid word afwisselend gebruik, maar godsdienstigheid is makliker meetbaar as spiritualiteit, laasgenoemde is meer abstrak (Cheever et al. 2005:68). Die verband tussen spiritualiteit en godsdiens en die inkonsekwente gebruik van die twee begrippe is reeds in Paragraaf 2.6.3.3 bespreek. Godsdienstige oortuigings ter sprake was nie net die Christelike geloof nie; verskeie denominasies en veral geloofsgroepe was verteenwoordig. Godsdienstigheid is gemeet deur instrumente om sogenaamde intrinsieke godsdienstigheid (IR), georganiseerde godsdienstigheid (OR) en nie-georganiseerde godsdienstigheid (NOR) te bepaal. Cheever et al. (2005:68) definieer IR as die internalisering van basiese geloofsleerstellings. OR en NOR word onderskei deur openbare teenoor private geloofsuitdrukkings, soos kerkbywoning teenoor om alleen te bid (Cheever 2005:68). Curlin et al. (2005:630) definieer IR weer as die mate waartoe godsdiens die groot motief is wat rigting en doel aan die individu se lewe gee. Laasgenoemde skrywers verkies ook die begrip geloofsoortuigings (“beliefs”) wanneer na geloofsake soos die bestaan van „n god of „n hiernamaals verwys word. Curlin et al. het ook spesifiek gekyk na die godsdienstige hantering van groot lewenskrisisse, maar dit is nie in die teks duidelik of hulle na algemene lewenskrisisse of spesifiek mediese terugslae verwys nie.

Curlin et al. (2005:632), wat uiteindelik 1 442 geneeskundiges ondervra het, kom tot die gevolgtrekking dat Amerikaanse spesialis-dokters hulleself eerder spiritueel as

godsdienstig beskou, en dit tot „n groter mate as die algemene Amerikaanse bevolking. Teenoor die breë bevolking, sal dokters in krisistye liewer na verklarings soek as om net op God staat te maak. Interessant genoeg stem algemene praktisyns se godsdienstige sieninge met die van die algemene bevolking ooreen. Curlin et al. (2005:632) se studie bevestig dat psigiaters, soos die radioloë in hulle reeks, van die mees sekulêre opvattings het. Chirurge bevind hulle tussen die twee uiterste groeperings. Van chirurge het 62% bely dat godsdienstige oortuigings (IR) „n rol in alledaagse besluitneming speel, teenoor die 73% van die Amerikaanse bevolking en huisdokters, maar 49% van psigiaters voel so (Curlin et al. 2005:632). Wanneer dit egter by godsdienstige hantering van ernstige siektes kom, sal 51% chirurge terugval op godsdiens teenoor radioloë wat in 27% van gevalle op godsdienstige hantering staatmaak (IR is 48%). In vergelyking, sal 58% van huisdokters op godsdiens steun.

Cheever et al. (2005:71), wat slegs chirurge ondervra het, het van die Duke University Religion Index (DUREL) gebruik maak om OR, NOR en IR (basiese geloofsoortuigings, soos Curlin et al. se “beliefs”) te ondersoek. Cheever et al. het ook die plek (“locus”) van kontrole (LOC) ondersoek. Dit stem ooreen met Curlin et al. se vraag aan respondente rakende die godsdienstige hantering van terugslae.

„n Individu se setel van beheer word met die Rotter Locus of Control Scale (LOC) getoets (Curlin et al. 2005:72). Daarmee word bedoel die mate waartoe individue gebeure toeskryf aan persoonlike toedoen soos deur besluite, ingrepe of vaardighede, oftewel „n hoë interne LOC (Cheever et al. 2005:69). Daarteenoor sal individue wat na „n buite- oorsaak of invloed kyk „n hoë eksterne LOC hê. „n Waarde van 0 dui op „n volledig interne LOC en „n waarde van 23 beteken „n uitsluitlik eksterne LOC. LOC is in die studie van Cheever et al. (2005:69) vir die eerste keer onder chirurge ondersoek. Die verwagting was dat chirurge „n hoë mate van interne LOC sal hê. Chirurge se opleiding vereis dat hulle verantwoordelikheid neem. Dié verwagting kom ook tipies by morbiditeits- en mortaliteitsvergaderings na vore (Cheever et al 2005:69; Hinshaw 2005:267). Cheever et al. (2005:72) het ook gebruik gemaak van „n nuwe instrument om klinici se mate van IR in die kliniese opset te meet – die Salesian Centre Intrinsic Religiosity Scale for Clinicians (SCIRC). „n Hoë SCIRC waarde (25) dui op dokters wat hulle godsdiens in die praktyk uitleef, en „n lae waarde (5) beteken dokters skei geloofsoortuigings van werk.

Chirurge wat deelgeneem het aan die Cheever et al. (2005:73) ondersoek het „n matige sin vir godsdiens openbaar, en hulle leef dit wel in die alledaagse lewe uit.

Godsdienstigheid volgens die DUREL (IR, OR en NOR) meet 18,84 met „n standaardafwyking van 6,48 en uiterste waardes tussen 5 en 27. Kerklike byeenkomste (OR) is weekliks deur 47% van chirurge bygewoon, en 44% bid daagliks (NOR). Die resultaat van die SCIRC (16,94 standaardafwyking 6,91) bevestig die mate van godsdienstigheid selfs in die werksomgewing (Cheever et al. 2005:78).

Die uitslag ten opsigte van die LOC was verrassend in die sin dat die chirurge eintlik net „n matige interne LOC het (gemiddeld 8,12; standaardafwyking van 5,10 met uiterstes tussen 0 en 23). Die bevinding is teenstrydig met die verwagting dat chirurge „n hoër mate van interne LOC het en dus „n laer godsdienstigheid sou openbaar (Cheever et al. 2005:73). Wat ook interessant is, is dat jonger chirurge neig na „n hoër interne LOC as meer ervare chirurge (Cheever et al. 2005:78). Die LOC korreleer egter nie met godsdienstigheid nie (Cheever et al. 2005:67), met ander woorde, grof gestel sal chirurge kerk toe gaan en selfs lees en bid, maar in die hospitaal wil hulle beheer neem. Toegegee, in die studie van Cheever et al. het net 35 van 106 chirurge deelgeneem en slegs 17 het vrae oor LOC beantwoord – dit is maar 16% van die studiepopulasie.

Dat chirurge inderdaad neig na „n hoër interne LOC word deur Marius Barnard (2011:135) as hartchirurg geïllustreer. Hy beskryf die gevoel wat hulle as chirurge tydens die weeklikse Saterdagoggend-samesprekings met kardioloë gehad het. Die kardioloë kon baie krities oor chirurgiese sterftes wees. Die chirurge het gevoel dat hulle as‟t ware in „n beskuldigdebank staan. Die kritiek het wel veroorsaak dat standaarde in die kardiale chirurgiese eenheid op „n hoë standaard was, aldus Barnard. Marius Barnard (2011:134) merk ook op dat kardiologie-sterftes nooit onder die loep gekom het nie. Kardioloë is in wese interniste.

Is dit nie die rede vir hierdie ondersoek nie: Die worsteling met „n gevoel van skuld weens die sterfte en komplikasies van pasiënte wat „n KVO ondergaan het. Waar lê my LOC te midde van my godsdienstige oortuigings en die uitlewing daarvan? In die ontleding van die uitkomste kan ek die oorsaak by myself soek, maar ek kan ook gaan kyk tot watter mate pasiënte se lewenstyl bydra tot hulle eie siektes. Mede- kardiale chirurge se gevoelens kan getoets word, maar dan „n geselekteerde groep, want om op algemene deelname staat te maak, kan teleurstellend wees. Die LOC kan ook uitsluitlik by God lê – vandaar „n heuristiese, hermeneutiese ondersoek na God se betrokkenheid by ons siektes.

Hierdie twee studies, wat die voorkoms van godsdienstigheid onder verskillende populasies van dokters ondersoek het, meet gemiddeldes van „n groep. Die vraag kan dus steeds gevra word oor die individuele spirituele belewenis rakende „n spesifieke kliniese aangeleentheid.