• No results found

xxii SUMMARY

BLARE IS OM TE EET – NIE OM TE ROOK NIE

5.6 REEDS IN DIE MOEDERSKOOT

5.7.1 Epidemiologiese aansprake

5.7.1.3 SHARE ondersoek

Dieselfde gene, maar verskillende omgewings, soos na verwys met die Japannese migrasie (Steinberg 2005:183) dui op „n oorheersing van konvensionele risikofaktore (Yusuf et al. 2001:2751). Afrikane wat in die VSA gevestig het en nou „n hoë voorkomssyfer van KVS het, is „n verdere voorbeeld (Yusuf et al. 2001:2859). Die vinnige migrasie van Suid-Afrikaanse swart mense na stede, met gepaardgaande armoede, obesiteit en hipertensie, kan tot verhoogde KVS lei (Yusuf et al. 2001:2859). „n Verdere gevolgtrekking wat gemaak kan word uit verwysings na onder meer die Nederlandse hongersnood (cf. Paragraaf 5.6.4) is dat armoede die ontwikkelende fetus in gevaar stel vir lae geboortemassa met die daaropvolgende moontlikheid van vinnige massatoename en „n hoër risiko vir KVS.

Aan die ander kant kan verskillende gene weliswaar in dieselfde omgewing ook tog verskillende voorkomssyfers vir KVS hê. Daar speel onkonvensionele risikofaktore „n rol, byvoorbeeld „n groter geneigdheid vir aterosklerotiese plakkette om te ruptuur (Yusuf et al. 2001:2751). Die sout-sensitiewe persoon en die insulien-weerstandige individu se

voorouers was vir geslagte gevrywaar van hipertensie of diabetes. Maar, in „n nuwe omgewing van te veel sout of „n oormaat en maklik bekombare kalorieë word die genetiese swakheid duidelik (Yusuf et al. 2001:2750). Dit word ook deur die Barker hipotese in individue geïllustreer wat gekonfronteer word met intra-uteriene groeivertraging en oorvoeding, wat aanleiding gee tot KVS.

In die SHARE ondersoek (the Study of Health Assessment and Risk in Ethnic Groups) is 985 deelnemers van verskillende etniese groepe in Kanada gewerf – Suid-Asiërs, Chinese en Europeërs. Binne al drie etniese groepe was karotis arterie aterosklerose (sonografies bepaal) geassosieer met „n hoër prevalensie van kardiovaskulêre siekte. Indien die intimale dikte van Europeërs se karotis arteries as maatstaf gebruik word, dan het Europeërs eerder aterosklerose. Tog het die Suid-Asiërs meer kardiovaskulêre siektes as die Europeërs en Chinese gehad (11%, 5% en 2% onderskeidelik). Suid-Asiërs het meer konvensionele risikofaktore, soos glukose-onverdraagsaamheid en abnormale lipiedsamestelling, gehad. Daarmee saam was die alternatiewe risikofaktore, soos fibrinogeen, homosisteïn, en plasminogeenaktiveerder inhibeerder-1, ook oorverteenwoordig Suid-Asiërs. Die navorsers is na dié epidemiologiese studie oortuig dat daar „n onderliggende etnies gebaseerde invloed is (Anand, Yusuf, Vuksan, Devanesen, Teo, Montague, Kelemen, Yi, Lonn, Gerstein, Hegele, McQueen 2000:283). Die SHARE- studie het verskillende gene in dieselfde omgewing ondersoek.

Ja, die INTERHEART studie het getoon dat die konvensionele risikofaktore so te sê al die risiko‟s vir miokardinfarksie verklaar, maar in die SHARE studie word geargumenteer dat daar wel onderliggende etniese verskille is. Dit beteken nie dat die konvensionele risikofaktore nie in alle bevolkingsgroepe aangespreek moet word nie (Levy & Kannel 2000:267).

5.8 EPIGENETIKA

Die verdere belang van die DF was „n bevestiging van trans-generasie, nie-genomiese oorerflikheid deur die paternale lyn (Veenendaal et al. 2013:550). Dieselfde groep navorsers het in „n vorige studie bevind dat persone wat gedurende die DF in utero ontwikkel het „n groter geneigdheid gehad het om vetterige kos te eet en om minder fisieke aktiwiteite te onderneem (Veenendaal et al. 2013:552). Dit kan dus die ongesonde leefstyl wees wat oor geslagte oorgedra word, maar dit kan ook wees dat

sulke oor-generasie-effekte deur epigenetiese meganismes oorgedra word (Barrett 2012:A403; Veenendaal et al. 2013:554).

Epigenetika is die studie van die oorerflike veranderinge in geenuitdrukking wat nie veranderinge in DNA-volgorde betrek nie (O‟Neill, Koorsen & Bornman 2012:47). Die genoom van „n organisme is grootliks staties en identies binne elke sel. Die epigenoom is dinamies en selspesifiek. Binne twee maande na bevrugting is die basiese epigenoom vasgelê en onmiddellik blootgestel aan omgewingstimuli. DNA-metilering is een van die meganismes van epigenetika. Epigenetika kan „n belangrike rol in siekte en gesondheid speel (O‟Neill et al. 2012:65).

Weereens word daar na die slagoffers van die DF verwys (Heijmans, Tobi, Stein, Putter, Blauw, Susser, Slagboom & Lumey 2008:17046). Daar was minder DNA-metilering van die insuliengroeifaktor II (IGF2) in individue wat blootgestel was aan die DF vergeleke met dieselfde geslag broer/suster (Heijmans et al. 2008:17047). Hierdie navorsers beweer dat dit die eerste bewys is dat tydelike omgewingsinvloede in die vroeë ontwikkeling van „n persoon epigenetiese veranderinge tot gevolg het (Heijmans et al. 2008:17048). Dié veranderinge is slegs in individue gesien wat tydens vroeë gestasie blootgestel was, en met „n normale massa gebore is. Fetusse wat in die laat stadium van swangerskap blootgestel was, het „n laer geboortemassa gehad, maar het nie die epigenetiese veranderinge gedemonstreer nie.

Deur die DF is die wêreld goed vertroud met die invloed van ondervoeding tydens elke spesifieke fase van fetale ontwikkeling op die fenotipe van die individu. Maar, ander blootstellings tydens swangerskap, soos infeksies (die Groot Griep van 1918); arseenvergiftigde water in Chile in 1958; en natuurlik maternale rook, het almal negatiewe uitkomste later in die lewe van die blootgestelde individu tot gevolg (Boekelheide, Blumberg, Chapin, Cote, Graziano, Janesick, Lane, Lillycrop, Myatt, States, Thayer, Waalkes & Rogers 2012:1358).

5.9 „n UITSKIETER

Na alles wat geskryf is oor leefstyl, risiko, keuse, veranderde omgewing, in utero invloede en gesondheidsingrypings is daar steeds uitsonderings, of die onverklaarbare en selfs misterieuse. „n Mens wonder onwillekeurig of die vermindering in risikofaktore statisties sin maak. Oefening laat die risiko vir kardiovaskulêre mortaliteit met 35% afneem (Nocon

et al. 2008:239); nie-rook kan tot „n verdere vermindering in sterftes van 36% lei (Yusuf et al. 2004:941); „n angiotensienomkeringsensiem inhibeerder verminder mortaliteit met 25% (The Heart Outcomes Prevention Evaluation Study Investigators 2000:148); om nie te praat van die positiewe effekte van „n aspirien, statien en betablokker nie (Aalbers 2010:289). Kan kardiovaskulêre oorlewing dus 100% wees? Dit moet wees, want mense sterf ook aan ander oorsake.

In sy boek, Outliers, vertel Malcolm Gladwell (2009:3-11) die verhaal van die Italiaanse nedersetting in die VSA. In die laat 19de eeu het immigrante van Roseto, Italië, na Amerika gereis en gevestig in „n plekkie in Pennsylvania wat die immigrante toe later ook Roseto genoem het. Opvallend was die baie lae voorkoms van iskemiese hartsiekte onder die inwoners van Roseto, veral onder die ouderdom 65 jaar, vergeleke met die res van die VSA – dit was gedurende die laat 1950‟s. Selfs onder mans ouer as 65 was die voorkoms die helfte van die res van die VSA. Ook was daar geen selfdood nie, geen alkoholisme of dwelmsverslawing nie. Niemand was onder welsynsorg nie en die misdaadsyfer was baie laag. Selfs peptiese ulsera het nie voorgekom nie. Die mense van Roseto is aan ouderdom dood.

Die verskynsel is in die 1960‟s ondersoek. Dit is nie in ander Italiaanse gemeenskappe in die VSA gevind nie, nie eers in Roseto, Italië nie. Die gemeenskap het nie juis Mediterreense kos geëet nie; hulle het nie geoefen nie; rook en obesiteit was algemeen. Gladwell (2009:10) beweer die gemeenskap self was die rede. Lede van die gemeenskap het grootliks in die leiklipsteengroewe gewerk. Harde fisieke arbeid bedags, maar ontspanning by die huis, klop met onlangse bevindinge dat inspanning by die werk én ontspanningsoefening die kanse vir „n koronêre gebeurlikheid viervoudig verhoog (Clays, De Bacquer, Janssens, De Clercq, Casini, Braeckman, Kittel, De Backer & Holtermann 2013:244). In Roseto het elke huis sy eie groentetuin en vrugteboord gehad. Dit was nie vreemd om drie generasies in een huishouding te kry nie. Hulle het „n sterk sosiale lewe en geloofsgemeenskap gevestig. Omgee vir mekaar, respek vir ouer mense en „n basiese egalitêre ingesteldheid was kenmerke van die uitsonderlike dorpie en sy mense. Dalk het Nicastri (2014:24) as chirurg iets beet wanneer hy vertel van „n bejaarde chirurgiese pasiënt wat teen alle verwagtings in oorleef het. Die pasiënt se fisiologiese stresagente, soos C-reaktiewe proteïne, fibrinogeen of interleukin-6 is moontlik deur geloof, gebed en spiritualiteit verlaag.

5.10 SAMEVATTEND

Koronêre vatsiekte is tradisioneel beskou as „n degeneratiewe, ouderdomsverwante siekte. Dat dit inflammatories van aard is, word ook nie betwyfel nie (Ross 1999:123). Maar, die destruktiewe model verklaar nie die individuele reaksie op invloede van die omgewing nie (Khan et al. 2005:1037); vandaar die rol van fetale oorsprong van KVS soos onder andere deur Barker verduidelik.

Die ontstaan van koronêre vatsiekte is te wyte aan die interaksie tussen genetiese variasies van molekulêre en biochemiese reaksies en die invloed van die omgewing (Negi & Anand 2010:258). Dit word sterk beïnvloed deur „n genetiese geneigdheid en omgewingsfaktore of leefstyl (Khan et al. 2005:1036) asook selfs godsdiens/spiritualiteit, waarna reeds verwys is (Lucchese & Koenig 2013:117).

In die refleksie oor die oorsaak van KVS is aanvanklik klem gelê op „n swak leefstyl van ongesonde dieet, onvoldoende oefening en rook. Saam met al die erkende risikofaktore vir KVS word „n omgewing geskep vir die degeneratiewe en inflammatoriese aard van aterosklerose. Individue dra egter reeds in utero die las van invloede waaroor hulle nie beheer het nie. Mense se genetiese samestelling en epigenetiese reaksies daarop maak hulle die slagoffers van hulle voorgeslagte se individuele keuses, maar ook van die gesamentlike besluite deur „n samelewing.

Die hongersnood na die Tweede Wêreldoorlog, die Groot Griep van 1918, en vergiftigde of selfs besoedelde omgewings is alles deur mense en hulle sosiale interaksies veroorsaak. Selfs infektiewe epidemies kan toegeskryf word aan menslike landboupraktyke en sosiale groeperings sedert die laaste ystydperk (Diamond 1998:205). Individue maak ook keuses. Iets so natuurlik soos borsvoeding kan „n impak hê op kinders later in hulle lewens – babas wat borsvoeding kry, is minder geneig tot oorgewig later in hulle lewens (Gillman, Rifas-Shiman, Camargo, Berkey, Frazier, Rockett, Field & Colditz 2001:2466).

Die mens is uitgelewer aan ander mense se besluite en optredes – nie net vyandiges nie, maar selfs eie moeders. Dit negeer nie die verantwoordelikheid wat elkeen het om self sinvolle keuses te maak nie. Al sou gene die geweer laai is dit tog die omgewing (insluitend „n keuse vir „n leefstyl) wat die sneller trek (Collins 2011:62; Eriksson et al.

2001:952). Oorerflikheid word in al hoe meer siektes en selfs veroudering as „n belangrike oorsaak geag (Collins 2011: 229).

Die Barmhartige Samaritaan (Lukas 10:30-37) vra nie hoekom die man, waarskynlik uit eie keuse, op die gevaarlike pad was nie. Hy verwyt nie die rowers wat die reisiger aangeval het nie. Daar word nie na die slagoffer se treurige toestand verwys as „n rede om nie besorg te wees nie. Die Barmhartige Samaritaan toon geen vyandigheid nie, maar wel gasvryheid. Hy neem die ongelukkige slagoffer op en reël vir sy versorging. Die Barmhartige Samaritaan besluit self wat die aangewese manier van versorging sal wees, in ag genome sy vermoë en middele.

Dit is die ingesteldheid wat ek as chirurg ook moet hê. Hoe moeilik dit ook al mag wees. Pasiënte het „n bepaalde leefwyse en is blootgestel aan risikofaktore, maar ek moet in die pasiënt-geneeskundige-verhouding begrip toon en „n ruimte skep vir gasvryheid. Dié ruimte behoort nie „n plek van mag te wees nie, maar van omgee (Nouwen 1998:64). Nouwen (1998:77) stel dat, indien die hart vol is van vooroordele en bekommernisse, is daar nie plek vir die vreemdeling nie.

Jesus vertel die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, nie om die Samaritaan se geloof te illustreer nie, maar om die vraag na wie die naaste is, te beantwoord. Wie die naaste is, moet verstaan word met wie God is. Daarom kan spirituele groei nie volledig wees sonder dat die verhouding met God ook in gedrang kom nie. Dit is waarom die pole tussen illusie en gebed (cf. Hoofstuk 6) baie belangrik is in die spirituele transformasieproses (Nouwen 2011:xvi).

“MAAR JY, WIE Sê JY IS EK?”

Ek was bevoorreg om as kind in die huis van gelowige ouers groot te word. As voorskoolse kind het my ma saans voor slaaptyd uit die Kinderbybel gelees en in „n eenvoudige kindergebed voorgegaan. Later het my pa huisgodsdiens gelei. Sover ek kan onthou, het my pa gestruktureerd uit die Bybel gelees en nie lukraak tussen perikope rondgespring nie. Hy het self die gebed gedoen. My pa het ook die sang gelei en ons kon lyste Psalms en Gesange uit ons kop sing. Kerk toe gaan (weliswaar nié tweemaal per Sondag nie), Sondagskool en later kategese was bloot deel van die week se roetine.

Bybelkenniseksamens was vir my „n spesiale uitdaging, wat ek geniet het. Die Bybel se inhoud was nooit bevraagteken nie en geloofskwessies was nie juis bespreek nie. Sondag se preek was aanvaar, behalwe soms, as kommentaar wel oor die voordrag of aanslag van die prediker uitgespreek is. My ma het amper „n kinderlike geloof in God se voorsienigheid gehad. My pa het dit nie so sterk verbaliseer nie. Ek vermoed hy het soms sy vrae gehad, wat nie met ons as kinders gedeel is nie. My ma was „n kategeet terwyl ek op laerskool was en my pa het later jare op die kerkraad gedien. Hy was veral betrokke by die gemeentenuusbrief en jubileumpublikasies. Al vier my susters en twee skoonsusters, met hulle eggenote, het opregte verhoudings met God. Selfs my volwasse gestremde swaer wat onder ons sorg val, het „n tipe godsbegrip.

Ek was baie getrou aan die Afrikaanse Christelike Studente Vereniging (ACSV) se aktiwiteite op hoërskool. By die skool was daar weeklikse byeenkomste van Bybelstudiekringetjies, bidure en gesamentlike byeenkomste. Dit was „n sosiaal aanvaarbare aktiwiteit. Op „n stadium was daar Sondagmiddae (om twee uur!) uitreike en my pa het sonder om beswaar te maak ons na waar ook al die uitreik was, geneem. In die omgewing van Port Elizabeth was daar gereeld ACSV-kampe by Jeffreysbaai, Ashtonbaai, Zuurberg en Schoenmakerskop. Juis tydens so kamp in my graad 9 jaar het ek tot bekering gekom. Bekering van „n skoolkind is egter „n begrip waarmee ek eintlik nog altyd ongemaklik was. Na my mening het iemand soos die bendeleier Nicky Cruz, wat in die boek The Cross and the Switchblade (1962) van die evangelis David Wilkerson en later die gelyknamige film (1970) oor

die dwelm- en bendewêreld, tot bekering gekom. Dit was „n baie bekende verhaal in die laat 1960‟s en vroeë 1970‟s, juis toe ek op skool was. Al het Julian Müller (2011c:22,35) bedenkinge oor die begrip geloofsekerheid, verwoord geloofsekerheid tog eintlik wanneer „n jong mens „n keuse maak dat Jesus Christus die Verlosser is. Ek was ook tydens my graad 10-skooljaar die produk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se Jeug tot Jeug Aksie van 1974.

Op universiteit het ek die geloofspad verder probeer stap en graag uit oortuiging Sondagóggende kerk toe gegaan, want saans was grootliks deur almal as „n sosiale geleentheid ervaar. Later was ek my koshuis se ouderling. Een gesprek met „n studenteleraar sal my altyd bybly. Rondom „n keuse in die georganiseerde studentelewe moes ek besin oor wat sou God se wil in „n spesifieke situasie wees. Ek mag kies wat ek wil doen, solank ek God se wil ook daar kan uitleef. Dié raad was later jare bevestig (König 2001:214). Met lewenskeuses gaan ek nie noodwendig bonatuurlike insprake kry om besluite te neem nie. God het reeds die vermoë van goeie oordeel gegee en kan ook inspraak gee deur insette van goedbedoelde gelowiges. Sulke besluite raak die kwessie van God se plan met ons lewens. Veel later in my lewe kon ek iets van God se doel met ons lewens begryp, naamlik dat ons geskape is tot God se eer. Ek bring eer aan God deur aanbidding; deur soos Christus te word; deur ander met my gawes te dien; deur ander lief te hê; en deur ander van God te vertel (Warren 2005:48). God roep ons nie net na veraf sendingvelde nie, maar wil ons op die plaaslike markplein ook gebruik.

Eers as volwassene, so rondom my 40‟s, het ek besef dit is nie godslasterlik om te aanvaar dat die Genesisverhaal voor hoofstuk 12 in die Bybel eintlik prehistories is en nie noodwendig feitelik akkuraat is nie (Van der Watt 2003:79); dat Jona in die vis nie „n feitelike verhaal hoef te wees nie, maar dalk net „n voorbeeldvertelling is, soortgelyk aan die gelykenis van die Verlore Seun (Deist 1981:6). Gereelde Bybelstudie aan die pastorie van „n gemeenteleraar het my met nuwe (en verrassende) oë na die Bybel en geloof laat kyk. Om te vra, is nie om te twyfel nie (Müller 2011c:36).

Ek is oortuig dat betrokkenheid by „n geloofsgemeenskap belangrik is. Gesprekke oor geloof, die Bybel, „n preek, gemeente-aangeleenthede en kerkpolitiek word gereeld in ons huis met die kinders gevoer. Al drie my kinders bely openlik Jesus Christus as hulle Verlosser. My vrou leef „n Geesvervulde lewe (Galasiërs 5:22).

Geloofsuitinge is baie maklik vir haar. Ek is die Tomas wat die merke van die spykers en spies soek (Johannes 20:25). Soos hierdie stuk navorsing is dit nie „n kwessie van nié glo nie, maar juis „n soeke na dieper geloof (Vosloo & Janse van Rensburg 1993:1634).

Die besef dat gelowiges se spiritualiteit verskil en mag verskil, was persoonlik vir my uiters bevrydend. Ons spiritualiteit is immers die produk van die grootwordhuis, omgewing en eie persoonlikheid (Ware 1995:84). Ware (1995:xiii) se werk is grootliks gebaseer op Urban Holme se spirituele topologie. Daarvolgens neig my spiritualiteit na „n spekulatief-katafatiese of verstandspiritualiteit (Gaum 2008:1038; Ware 1995:37), maar amper net so sterk ook affektief/apofaties of mistieke spiritualiteit (Ware 1995:41). Baie mense se spiritualiteit sou beskryf kon word deur die vermeerdering van brood op die berg om aan 5 000 mans fisies kos te gee (Lukas 9:13, 14), maar ek waardeer die brood verdeel onder 13 mense in „n bokamer om geestelik gevoed te word (Markus 14:17-25).