• No results found

xxii SUMMARY

DIE LIG VAN DIE LANTERN

Om te wonder en te ondersoek (en dalk bietjie te wroeg?) was vroeg deel van my lewe. As mediese student was ek ses jaar in die koshuis en het my geskaar by die studente wat oor die lewe kon gesels. So het ons in ons naïwiteit al toe tot die gevolgtrekking gekom dat objektiwiteit nie bestaan nie, maar ons het van „n konsekwente subjektiwiteit gepraat. As gekwalifiseerde kardiale chirurg was ek vroeg in my loopbaan geraak deur komplikasies ná chirurgie. Nie lank nadat ek by die Bloemfontein Mediclinic begin praktiseer het nie, het ek aangetoon dat sterftes na KVO‟s ook in my praktyk korreleer met „n vooraf berekende risiko vir mortaliteit (Swart & Joubert 2004:145). Gedurende my finale jaar van mediese studies het ek die boek Dominee en Dokter by die Siekbed (De Villiers & Anthonissen 1982) by my ouers ontvang. „n Vreemde geskenk, maar dalk profeties in die lig van die spirituele belewenis van negatiewe KVO-uitkomste wat in later jare meer en meer deel van my lewe sou word.

3.1 INLEIDING

Dié hoofstuk hanteer die navorsingsontwerp en metode wat toegepas is. Uiteraard moes die navorser-chirurg vertroud raak met die begrippe ter sake. Aanvanklik word „n teoretiese besinning oor „n moontlike ontwerp gedoen en dan word „n bepaalde metode geleidelik gemotiveer. Omdat die navorsingsprojek spiritualiteit as uitgangspunt het, word daar spesifiek verwys na die wêreldbeskouing wat gevolg is. „n Uiteensetting van die navorsingsmetodes word aangespreek. Geloofwaardigheid binne die gekose navorsingsontwerp is vervolgens aangespreek. Laastens kry die etiese aspekte ook aandag.

Shank (2002:8) noem drie basiese maniere wat die mens het om na dinge te kyk. Metafories word dit verteenwoordig deur die spieël, venster en lantern. Om te spekuleer was van die vroegste vorme van navraag. Die Latyn speculum verwys juis na „n spieël. Dié vorm van navorsing was prominent in die Hellinistiese era en Middeleeue, maar het grootliks verval. Die venster daarenteen, is die prototipiese wetenskaptoestel. Dit gee „n helder prentjie van wat binne of buite is, maar op „n afstand. Hoe helderder die venster hoe duideliker, hoe meer korrek en dus hoe geloofwaardiger die beeld. Kwalitatiewe

navorsing is nóg „n nadenkende spieël, nóg „n onbevooroordeelde venster, maar met die lantern belig die kwalitatiewe navorser die onbekende hoekie of die beperkte ruimte.

3.2 DIE PARADIGMA

Ten einde by „n navorsingsontwerp uit te kom, is dit nodig om die probleemstelling te ontleed. “Wat is die belewenis(?)” impliseer „n vraag rondom „n stuk lewenservaring. Die spesifieke lewenservaring is die spirituele wat in hierdie konteks verwys na geloof en „n godsbeskouing, met ander woorde, binne die vakgebied van teologie (Schneiders 2005b:52). Die uitkomste van die chirurgie is numeriese data van sterftes en komplikasies in die veld van geneeskunde. Hierdie inligting is die bron van die navraag. Aangesien geneeskunde en teologie verskillende professies verteenwoordig, stel Denzin en Lincoln (2005a:2) derhalwe „n kwalitatiewe navorsingsontwerp voor, want volgens hulle:

“Qualitative research is a field of inquiry in its own right. It crosscuts disciplines, fields, and subject matters. A complex, interconnected family of terms, concepts, and assumptions surround the term qualitative research.”

Aan die ander kant is „n databasis van 1 750 pasiënte beskikbaar wat basies statisties ontleed kan word. Volgens Robinson en Reed (1998:84) dui die ontleding van getalle op „n kwantitatiewe model. „n Noodwendige gevolgtrekking behoort dus te wees dat „n gemengde (“mixed method”) studie-ontwerp gevolg moet word. Vir Delport en Fouché (2011:436) is daar „n verskeidenheid redes waarom so „n gemengde navorsingsmodel voordelig is. Onder meer is die gemengde metode meer prakties in die sin dat die navorsers alle metodes tot hulle beskikking het om „n navorsingsprobleem meer omvattend aan te spreek, sowel as die feit dat deduktiewe én induktiewe beredenering toegepas kan word. Binne die kwalitatiewe paradigma is daar egter genoeg gereedskap om die spesifieke taak aan te pak.

Delport en Fouché (2011:441-443) beskryf die vier groot navorsingsontwerpe (“designs”) binne die gemengde navorsingsmetode, waarvan nie een egter pasgemaak is vir hierdie navorsingsvraag nie. Die ondersoekende (“exploratory”) ontwerp is „n twee-fase-ontwerp, waar die kwalitatiewe komponent eerste gedoen word. Die verduidelikende (“explanatory”) ontwerp behels ook twee fases, met die kwantitatiewe komponente weliswaar eerste, maar die kwalitatiewe komponent is ondergeskik. Dit is hierdie

ondergeskikte rol wat die kwalitatiewe ontwerp in die algemeen binne die gemengde metode moet speel, waarteen ook Howe (2004:53) beswaar maak.

Volgens Howe (2004:54) is die natuurlike tuiste van die kwalitatiewe model binne die interpreterende raamwerk. Ook Van Huyssteen (2006:41) beklemtoon dat interdissiplinêre refleksie nie-hiërargies moet wees. Delport en Fouché (2011:440) se derde ontwerp is triangulasie. Dit is „n een-fase-ontwerp, maar die twee stelle data word vergelyk ten einde ooreenkomste of verskille te vind. Shih (1998:632) beskou triangulasie bloot as die ekwivalent vir die gemengde metode-ontwerp en onderskei dit nie as slegs „n ontwerp binne die gemengde metode nie. Vasgelegde (“embedded”) gemengde metode is die vierde ontwerp binne die gemengde paradigma, maar hier is daar ook „n ordeverskil, aangesien die een stel data komplementêr is tot die ander stel. Vir hierdie spesifieke navorsing sal die gemengde metode nie noodwendig geskik wees nie. Die konsep van gemengde metode is in elk geval volgens Plowright (2012:3,188) uitgedien. Hy (Plowright 2011:6) betoog eerder vir „n raamwerk vir „n geïntegreerde metodologie (“Frameworks for an intergrated methodology – FraIM”).

Dit plaas die kwalitatiewe navorsingsparadigma terug op die voorgrond. Denzin en Lincoln (2005a:3) noem dat kwalitatiewe navorsing die studie van „n verskeidenheid empiriese materiaal, onder meer persoonlike ondervinding, introspeksie, die lewensverhaal, onderhoude en waarnemingsdata, behels. Toegegee, die reeks van 1 750 pasiënte kan geïsoleerd wel as „n ouditiewe, beskrywende, waarnemingstudie (“observational”) beskou word (Aldous, Rheeder & Esterhuizen 2011:35). Maar dit bly „n persoonlike dokument, „n databasis wat oor jare opgebou is en nou aangewend kan word as empiriese materiaal binne die kwalitatiewe navorsingsparadigma. Die databasis dien as die konteks waarbinne die spirituele belewenis plaasvind, oftewel die teks vir ontleding. Die databasis moet eintlik as „n lewende dokument beskou word wat as teks interpreteer kan word.

Om by die kwalitatiewe ontwerp uit te kom, maak die navorser gebruik van verskillende strategieë of metodologieë of gereedskap (Fouché & Schurink 2011:308). Trouens, die verskeidenheid is groot en selfs verwarrend vir die nuwelingnavorser, soveel so dat Denzin en Lincoln (2005a:20) dit eintlik as „n verleentheid (“embarrassment”) beskou. Terselfdertyd verwys hulle (2005a:6) egter ook op „n positiewe wyse na die verskeidenheid as metodologiese bricoleur – die nutsman wat enige gereedskap gebruik wat nodig is solank die taak gedoen word! Interessant genoeg maak Wallace (2002:98,

99) vanuit die godsdiens ook melding van die bricoleur wat uit alles en nog wat, onder meer juis vanuit Bybelse bronne, iets konstrueer. Wat die verskillende ontwerpe binne die kwalitatiewe paradigma betref, beskryf Fouché en Schurink (2011:312) vyf tipes metodologieë. Hier is drie uit die vyf moontlik ter sake: fenomenologie, etnografie en narratiewe biografie. Die navorsingsontwerp en epistemologie word grafies in Figuur 3.1 uiteengesit.