• No results found

xxii SUMMARY

BLARE IS OM TE EET – NIE OM TE ROOK NIE

5.3 EPIDEMIOLOGIESE OORGANGE

5.3.1 Koronêre vatsiekte se risikofaktore

Die algemeen aanvaarde risikofaktore as oorsaak vir die ontwikkeling van kardiovaskulêre vatsiekte, en dit sluit koronêre vatsiekte in, is:

sigaretrook, hoë bloeddruk, diabetes mellitus,

dislipidemie (verhoogde lae digtheid lipoproteïen [LDL] en verlaagde hoë digtheid lipoproteïen [HDL]),

fisieke onaktiwiteit, obesiteit, en dieet.

Die laasgenoemde drie faktore (fisieke onaktiwiteit, obesiteit en dieet) kan ook as aanleidinggewende faktore beskou word, deurdat hulle die ander risikofaktore kan versterk (Yusuf et al. 2001:2750).

Bykomende risikofaktore vir KVS is onveranderlike invloede soos ouderdom, manlike geslag en oorerflikheid (Negi & Anand 2010:258). Depressie onder veral mans kan ook „n onafhanklike oorsaak van iskemiese hartsiekte wees (Hippisley-Cox, Fielding & Pringle 1998:1714). Daar moet natuurlik in gedagte gehou word dat risikofaktore ook kumulatief meewerk. Metaboliese sindroom as „n spesifieke samevoeging van individuele risikofaktore is „n risiko vir KVS (Domanski & Proschan 2004:1397). Meestal verwys ondersoeke na risikofaktore as tweeledig, met ander woorde as teenwoordig of nie teenwoordig nie. Die grade van byvoorbeeld LDL bloedvlakke word geïgnoreer. Verder kan „n nie-roker eintlik passief aan sigaretrook blootgestel wees. Sulke beperkinge beteken dalk dat die bydrae van „n spesifieke risikofaktor onderskat word (Yusuf et al 2001:2747).

5.4 PATOFISIOLOGIE

5.4.1 Aterosklerose

Die term aterosklerose dui op die patologiese verharding van arteries en die term is vir die eerste keer reeds in die 1830‟s deur Jean Lobstein gebruik (Krishnaswamy 2010:248). Die oningeligte se mening, naamlik dat koronêre arteries soos afvoerpype van die kombuis deur vet aangepak en verstop word, is „n oorvereenvoudiging van die proses. Daar is eintlik baie komplekse, chroniese en multifaktoriale veranderinge wat in die arteriële wand plaasvind (Reiss & Glass 2006:123).

5.4.2 Cholesterol

Vir die gemiddelde mens is cholesterol die groot skakel met aterosklerose. Daardie assosiasie bestaan al vir 50 tot 60 jaar (Reiss & Glass 2006:123; Steinberg 2005:179) – „n tydperk soortgelyk aan die navorser-chirurg se leeftyd.

In sy volledige oorsigsartikel bied Steinberg (2005:179-190) wat hy noem „n interpreterende geskiedenis van die cholesterolkwessie, die vroeë bewyse van die skakel tussen hoë bloedvlakke van cholesterol en KVS:

Die vroegste kliniese en oorerflike verband was ekstreme vorme van hipercholesterolemie, naamlik xantomatose (die velneerlegging van cholesterol) en skielike dood in „n 11-jarige kind in 1889. Vyftig jaar later word die assosiasie tussen xantomatose en hartsiekte by 76 lede van 17 Noorweegse families bevestig (Steinberg 2005:180).

Steinberg brei op die epidemiologiese bewyse uit.

o Hy verwys na Ancel Keys se ambisieuse studie (gepubliseer in 1966) onder mans van sewe lande en die verband met bloedcholesterolvlakke en koronêre sterftes. Japan, met die laagste vlakke van cholesterol (4,1 mmol/l), het die laagste aantal fatale miokardinfarksies gehad (5 per 1 000 mans oor 10 jaar), maar in Oos- Finland, met die hoogste gemiddeld van 6,7 mmol/l cholesterol, was die sterftesyfer 70 per 1 000 mans oor 10 jaar.

o Latere studies het aangetoon dat wanneer Japannese hulle kulturele omgewing verlaat, cholesterolvlakke én voorkoms van hartaanvalle styg. Soos wat Japannese migreer het van Honshu (Japan) na Honolulu (Hawaii) en na San Francisco (VSA) het cholesterol én hartaanvalle toegeneem.

o Steinberg se volgende epidemiologiese bewys is die bekende Framingham Heart Study. Vanaf die vroeë vyftigerjare van die 20ste eeu word inwoners van dié klein dorpie in die VSA opgevolg. Sedertdien word die nageslag ook betrek. Steinberg beskou die Framingham Heart Study as die belangrikste epidemiologiese bewys van die verband tussen cholesterol en miokardinfarksies. Framingham Heart Study het ook die assosiasie met ander risikofaktore, soos rook, hipertensie, diabetes mellitus, lae HDL, gebrek aan oefening, obesiteit en familiegeskiedenis van KVS bevestig.

Steinberg bespreek ook hoe dieet-intervensies „n verskil kan maak.

o Reeds in 1916 rapporteer „n Nederlandse geneeskundige wat in Indonesië gestasioneer was dat die Nederlandse koloniste, met hulle dieet ryk aan botter, eiers en vleis, „n baie hoër vlak van bloedcholesterol het as die natuurlike inwoners, wat „n dieet van rys en groente volg. Indonesiërs wat eksperimenteel op die Nederlandse eetpatroon geplaas is of wat later in Nederland gevestig het, se cholesterol het dramaties gestyg (Steinberg 2005:184).

o Keys van die sewelandestudie kon al in 1957 verklaar dat dit nie soseer laevetdiëte is wat die verskil maak nie, maar die versadigde vette wat vervang moet word met onversadigde vette (Steinberg 2005:184). In die laat 1960‟s was daar drie sulke studies wat onder gekontroleerde omstandighede diëte kon aanpas. Vir „n studie in Oslo moes deelnemers amper „n halfliter sojaboonolie per week verbruik. In die

Wadsworth Veterans Hospital kon diëte in twee eetsale aangepas word vir die eksperiment, en met die studie in twee Finse psigiatriese hospitale kon die twee hospitale die onderskeie bene van die dieetaanpassings uitvoer. In al drie studies is versadigde diervette met onversadigde plantvette vervang (Steinberg 2005:187). Al drie toon „n daling in serum cholesterolvlakke – nie as gevolg van „n verlaging in vet nie, maar te wyte aan die vervanging van die tipe vet. Al drie het positiewer uitkomste met betrekking tot kardiovaskulêre siektes aangetoon.

Steinberg (1970:725) het as president van die American Heart Association reeds in November 1969 met oortuiging gepleit dat dit goeie praktykvoering sal wees om pasiënte met hiperlipoproteïenemie te behandel. In die Verenigde Koninkryk, veral, was daar egter groot weerstand teen so „n uitgangspunt (Steinberg 2005:180). Eers nadat die Lipid Research Clinics Coronary Primary Prevention Trial (1984:365) aangetoon het dat die risiko vir KVS afneem as bloed cholesterol met cholesterolamien verlaag word, het die behandeling van verhoogde cholesterol, aldus Steinberg (2005:180), aanvaarbaar geword.

Vir die behandeling van verhoogde cholesterol word deesdae, saam met dieetaanpassings, hoofsaaklik statiene aangewend. Die rede is die anti-aterosklerotiese, anti-inflammatoriese en antitrombotiese effekte van die statiene (Reiss & Glass 2006:124). Die anti-inflammatoriese effek van statiene word goed gedemonstreer in die JUPITER studie. Pasiënte met LDL van minder as 3,4 mmol/l, maar met verhoogde C- reaktiewe proteïen, het minder kardiovaskulêre insidente gehad as die groep wat slegs die plasebo gekry het. Om een pasiënt van so „n terugslag te vrywaar, moes 31 pasiënte vir vier jaar behandel word (Ridker, Danielson, Fonseca, Genest, Gotto, Kastelein, Koenig, Libby, Lorenzatti, MacFadyen, Nordestgaard, Shepherd, Willerson & Glynn 2008:2200).