• No results found

xxii SUMMARY

UIT DIE HART

2.6 VERKENNING VAN SLEUTELBEGRIPPE

2.6.1 KVO-uitkomste

2.6.1.3 Die navorser-chirurg se uitkomste

Behalwe die vyf verwysings uit die laat sewentigs en vroeë tagtigs en die latere twee artikels was daar vir die kardiale chirurge van Suid-Afrika slegs een outeur (sover vasgestel kon word) wat akademies gepubliseerde uitkomste aangebied het wat as vergelyking kan dien.

Groote Schuur is genader om die protease inhibeerder, aprotinien, te ondersoek. As senior kliniese assistent en reeds klaar met die finale spesialiseksamen, was ek deel van daardie ondersoek en publiseer later as eerste outeur die bevindinge (Swart, Gordon, Hayse-Gregson, Dyer, Swanepoel, Buckels, Schall & Odell 1994:529-533).

Die studie was „n gerandomiseerde, dubbelblind, enkelsentrumstudie wat aprotinien teenoor „n plasebo getoets het in pasiënte wat óf „n KVO (25 plus 25) óf „n klepvervanging (25 plus 25) ondergaan het. Die pynlike notering van daaglikse resultate het my soos „n handskoen gepas. Afgesien van die positiewe effek van aprotinien was die mortaliteit ses pasiënte uit die 100, waarvan in die KVO-groep spesifiek, die sterftesyfer 10% was (Swart et al. 1994:531).

Aangesien ek vroeg bewus was van die ontoereikendheid van „n rou stertesyfer en dat sterftesyfer altyd in „n risikokonteks beskou moet word, toets ek my uitkomste aan die EuroSCORE (Roques et al. 1999:816-823). Hierdie resultate publiseer ek in 2003 en toon ek aan dat my waargenome mortaliteit 3,7% was teenoor die verwagte mortaliteit van 3,9% (Swart & Joubert 2004:145). Dit troos dat my pasiënte nie onnodig doodgaan vergeleke met Europese pasiënte nie.

Om net tevrede te wees dat pasiënte die hospitaal verlaat, is eintlik onbevredigend. Wanneer pasiënte ontslaan word, lê daar „n tydperk van rehabilitasie voor en dan behoort ek as chirurg hulle weer ses weke na die aanvanklike KVO te ondersoek. Hoe gaan dit met die pasiënt gedurende hierdie tydperk van ses weke? „n Medline soektog oor die voorafgaande tien jaar kon nie „n antwoord verskaf nie. Vandaar „n studie om die vraag self te beantwoord (Swart, Arndt, Badenhorst, Langenhoven, Van der Walt & Joubert 2005:61-64). Die pasiënte wat ek in die eerste twee jaar van privaat praktyk geopereer het, is na ses weke opgevolg en word in daardie artikel rapporteer. Van die 181 wat geopereer is, kon daar van 179 rekenskap gegee word. Die heropnamesyfer daardie tyd was 8,5%, wat goed vergelyk met die 17.6% van 'n onlangse reeks van 245 000 KVO pasiënte (Shih & Dimick 2014:1214). Die plaaslike heropnames was weens „n wye verskeidenheid redes en het nie „n patroon gedemonstreer nie. Erkenning word gegee aan die rol wat die algemene praktisyn in hierdie tydperk moes vervul. Dié navorsing se uitslae was bemoedigend.

Ek wou ook weet hoe pasiënte so „n drastiese ingreep beleef. Word daar kwaliteit tot hulle lewens gevoeg? Om uitsluitsel daaroor te verkry, het ek en my assosiaat, Joe Pretorius, by Mediclinic Bloemfontein ons pasiënte saamgegroepeer en „n formele lewenskwaliteitstudie deur die loop van 2005 aangepak. Driehonderd pasiënte het net voor die operasie, ses weke later en weer op ses maande „n gestruktureerde vraelys voltooi – die SF-36 van QualityMetric Inc. Die data is nooit

gepubliseer nie, maar resultate is uiteindelik in 2012 bekom (Smith persoonlike kommunikasie).

Pasiënte se fisieke komponent stagneer van voor die operasie tot op ses weke na die operasie, maar verbeter dan totdat hulle weer op ses maande ondervra word. Die geestelike komponent verbeter in die tydperk tussen die operasie en die sesweke-ondersoek, en stabiliseer dan. Daar moet in gedagte gehou word dat die uitkoms ook op gemiddeldes van groepe bereken is en dat die individu se belewing, as deel van ‟n groep, nie tot sy reg kon kom nie. Smith (persoonlike kommunikasie) gee toe dat die rede vir die verbetering nie noodwendig deur die chirurgiese ingreep verklaar kan word nie. Interessant – hy meld spesifiek dat daar selfs vir „n spirituele ingryp toegelaat moet word!

Indien risikofaktore ondersoek moet word, sal die uitkomste van „n groter reeks meer akkuraat wees. Die invloed van nierinkorting op uitkomste is deur my en „n groepie voorgraadse mediese studente van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat ondersoek (Swart, Bekker, Malan, Meiring, Swart & Joubert 2010:9-12). Wat „n heerlike voorreg dat my dogter mede-outeur kon wees. Ons kon vasstel dat nie net word die voorkoms van ingekorte nierfunksie voor die operasie onderskat nie, maar ons kon ook bevestig dat swak nierfunksie voor die operasie die renale inkorting ná die operasie ernstig beïnvloed. Die verwagte verskil in mortaliteit tussen pasiënte met „n eenvoudig berekende glomerulo-filtrasiespoed van meer en minder as 60 ml per minuut het ongelukkig nie gerealiseer nie vanweë te min getalle in die reeks. Ten minste kon ons vir die kardiologiegemeenskap van Suid-Afrika „n mortaliteitsyfer na geïsoleerde KVO bied. Op dieselfde trant het ek en studente die invloed van metaboliese sindroom op die pre-operatiewe kernrisikofaktore vir mortaliteit na KVO ondersoek (Swart, De Jager, Kemp, Nel, Van Staden & Joubert 2012:400-404). Ons het ook na die moontlike invloed wat metaboliese sindroom op die mortaliteit en major morbiditeit na KVO het, gekyk. Op daardie stadium kon ons „n reeks van 873 pasiënte met geïsoleerde KVO aanbied. Die mortaliteit was 1,9% in pasiënte met metaboliese sindroom en 1,6% sonder metaboliese sindroom (verskil p=0.7348). Ons gevolgtrekking was dat metaboliese sindroom geen nadelige invloed het nie. Die reeks bied wel „n goeie oorsig van mortaliteit en major morbiditeite na KVO in die Suid-Afrikaanse konteks.

Samevattend kan gesê word dat, in die verkenning van KVO-uitkomste as „n kernbegrip, dit duidelik is dat uitkomste goed beskryf word, maar eintlik net op „n basiese vlak van sterfte en komplikasies. Dit is by verre die algemeenste manier om na uitkomste te kyk. Die kwessie van lewenskwaliteit is minder algemeen en navraag op spirituele vlak geskied selde of nooit, behalwe in die Noord Amerikaanse omgewing (Mouch & Sonnega 2012:1053. Behalwe vir die navorser-chirurg, wat wel op verskillende maniere na uitkomste gekyk het, is die literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks yl gesaai.

Die onderliggende vraag bly egter, hoe beleef „n chirurg die resultate en spesifiek die negatiewe uitkomste, maar dan ten opsigte van mortaliteit en morbiditeit. Hiermee word die ander uitkomste nie negeer nie.

2.6.2 Narratief

2.6.2.1 Algemeen

Die vertel van stories is eie aan die mens en word beskou as „n belangrike kulturele uitdrukking (Crites 1971:391). Selfs in alledaagse gesprekke gee mense baie van hulleself weer; trouens, dit word gesien as eie aan die menslike spesie. Daar is selfs feitelike bewyse om die verskynsel te staaf. Tamir en Mitchell (2012:8038) kon aantoon dat selfonthullings geassosieer kan word met demonstreerbare veranderings in die brein, wat dui op die intrinsieke waarde wat die mens uit die onthullings verkry.

Van die vroegste tye af het mense vir mekaar stories vertel. Verhale was en is deel van die mens se interaksie onder mekaar. Van rondom „n vuur tot in „n tegnologies goed toegeruste lesinglokaal, word stories aangebied ter wille van vermaak, opvoeding of oordrag van kennis. Shank (2002:148) verwys na vyf basiese storie-tipes wat telkens in kwalitatiewe navorsing opduik. Hy onderskei tussen die mite, fabel, volksverhaal (“folktale”), legende en die narratief. Creswell (2007:2) beskryf vyf benaderings tot kwalitatiewe navorsing, waarvan die narratief een is. Die versameling van inligting as bron is aangewese op die individuele stories wat vertel word (Creswell 2007:103). In die praktyk beteken so „n siening dat, wanneer „n spesifieke voorval beskryf word, „n uitgebreide verhaal rondom „n aspek van iemand se lewe geskep word, of „n volle lewe verhaal word, dit dan op die terrein van die narratiewe ondersoek val (Chase 2005:652). In Shank (2002:163) se beeld van die lantern is verheldering, afgesien van refleksie en bewusmaking, „n belangrike aspek van die narratiewe benadering.

Vir Gergen (2000:69) bestaan daar „n aantal kriteria waaraan die narratiewe aanslag moet voldoen. Daar is vroeër kortliks daarna verwys:

Daar moet „n doel in die eindpunt wees. Gebeure moet tot die eindpunt aanleiding gee.

Die gebeure moet sinvol georden wees, gewoonlik chronologies, maar nie noodwendig nie.

Daar moet „n verduideliking wees.