• No results found

xxii SUMMARY

BLARE IS OM TE EET – NIE OM TE ROOK NIE

6.2 BYBEL EN GEBED

6.2.2.1 Intersessie as eksperiment

“As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid” (Jakobus 5:14).

In 1988 verskyn die veel aangehaalde artikel van Byrd (1988:826), wat data bevat wat daarop dui dat pasiënte in „n KE vir wie met intersessie ingetree is, minder ventilatorafhanklik was en minder antibiotika en diuretika benodig het in vergelyking met pasiënte wat in „n kontrolegroep nie georganiseerde voorbidding deur Christene gehad het nie. „n Soortgelyke bevinding word „n dekade later gemaak (Harris, Gowda, Kolb, Strychacz, Vacek, Jones, Forker, O‟Keefe & McCallister 1999:2273). Gerandomiseerde, toegewysde intersessiegebed was met „n 10% laer KE verloop-telling (6,35 vs 7,13) geassosieer. Die navorsers se voorstel was dat gebed „n effektiewe toevoeging tot mediese sorg kan wees. Dié studie se metodologie het baie kritiek uitgelok (Halperin 2001:793). Na „n oorsig van vyf gerandomiseerde, gekontroleerde proefnemings was die gevolgtrekking dat intersessiegebed gesondheid bevoordeel (Townsend, Kladder, Ayele & Mulligan 2002:1433). Hulle baseer dit egter op die positiewe effek wat intersessie op leukemie onder 18 babas gehad het, die twee KE studies, „n negatiewe bevinding by persone met alkoholisme, en „n studie met teenstrydige bevindinge oor intersessiegebed by pasiënte met angs, depressie en lae selfbeeld.

Die Mayo Clinic het ook „n gerandomiseerde, dubbel-blindstudie onderneem om die invloed van weeklikse intersessiegebed op pasiënte wat uit „n KE ontslaan is vir 26 weke op te volg (Aviles, Whelan, Hernke, Williams, Kenny, O‟Fallon & Kopecky 2001:1192). Die studie-ontwerp en die metodologie word selfs deur Koenig (2001:1190) gekomplimenteer. Die gevolgtrekking was dat intersessiegebed geen voordeel vir op die groep van 383 pasiënte gehad het nie (Aviles et al. 2001:1198). Koenig (2001:1190) is egter in sy redaksionele kommentaar krities oor die bevindinge. Sy beswaar lê daarin dat die meerderheid wetenskaplikes én Westerse teoloë in elk geval „n “nul” resultaat sou verwag het. Waarskynlik is die rede vir die gebrek aan voordele dat die eindpunte wat gemeet is, ontoepaslik is, aldus Aviles en medewerkers self (2001:1197). Die eindpunte was robuuste, empiriese uitkomste, naamlik dood, kardiale arres, koronêre revaskularisasie of „n besoek aan „n ongevalle-afdeling met kardiovaskulêre siekte. Kwalitatiewe uitkomste soos berusting, optimisme, verlossing van lyding of sonde is nie getoets nie.

Intersessiegebed se effek op chirurgiese pasiënte wat spesifiek KVO ondergaan het, is ook ondersoek (Benson, Dusek, Sherwood, Lam, Bethea, Carpenter, Levitsky, Hill, Clem, Jain, Drumel, Kopecky, Mueller, Marek, Rollins & Hibberd 2006:934). Die studie is in ses VSA hospitale gedoen. Hulle het 1 800 pasiënte (van verskeie kerklike denominasies) in drie groepe verdeel. Al drie groepe het bely dat hulle aan spirituele genesing glo (68%, 63%, 64% van die deelnemers onderskeidelik) en al drie groepe was oortuig dat geliefdes vir hulle sal bid (95%, 97%, 98% van deelnemers onderskeidelik). Pasiënte is lukraak aan drie groepe toegeken. „n Groep wat nie geweet het of hulle voorbidding kry nie, maar wel ontvang het; „n groep wat onseker was of vir hulle gebid sou word en wat inderdaad nié voorbidding ontvang nie; en „n derde groep wat bewus was dat daar vir hulle ingetree sou word. Daar was vir 14 dae gebid, vanaf die aand voor die KVO. Die uitkoms was eweneens goed gedefinieerde, bekende postoperatiewe komplikasies wat tipies geassosieer word met KVO. Die bevinding was dat, vir die twee groepe wat onbewus was of daar ingetree is nie, daar geen verskil was wat betref komplikasies nie. „n Verrassing was dat pasiënte wat geweet het dat hulle intersessiegebed ontvang, méér komplikasies gehad het as hulle wat onbewus van voorbidding was, maar inderdaad, voorbidding gekry het (Benson et al. 2006:941). Die relatiewe risiko was 1,14 (VI 1,02-1,29; p=0.022). Hierdie bevinding kan nie deur die skrywers verklaar word nie (Benson et al. 2006:942). Dit is waar dat die bewus-van-intersessiegroep meer atriale fibrilasie gekry het en dit is waarskynlik wat die hoër komplikasiesyfer veroorsaak het (Benson et al. 2006:941). Kan die hoër komplikasiesyfer wees omdat dié groep meer angstig (simpatiese invloed) was en dus eerder AF ontwikkel het? So „n verklaring vereis verdere ondersoek. Godsdiens kan ook „n negatiewe invloed hê (Ai, Pargament, Appel & Kronfel 2010:1066; Ano & Vasconcelles 2005:477). Ai, Seymore et al. (2009:121; Ai, Pargament et al. 2010:1067) skryf dit toe aan wat hulle „n spirituele stryd noem (“spiritual struggle”) en hulle bewys is interleukin-6, wat „n verband aantoon tussen pre-operatiewe angstigheid en postoperatiewe depressie.

Uiteindelik gee die gesaghebbende Cochrane Library (Roberts, Ahmed, Hall & Davison 2009:2) uitsluitsel oor die verband tussen intersessiegebed en gesondheid wanneer pasiënte lukraak gebed ontvang of nie. Hulle het 10 reekse met 7 646 pasiënte beoordeel. Die slotsom is dat uitkomste twyfelagtig is. Trouens, die aanbeveling is dat verdere kwantitatiewe ondersoeke in dié verband oorbodig is. Deist (1982:57) het al in 1982 erken dat gebed kwalik „n onderwerp vir akademiese studie is, want gebed is primêr „n ontmoeting met God. In elk geval het Kavanagh (2002:109) dalk iets beet in sy kritiek

op intersessiegebed en kliniese ondersoeke as hy sê die globale nood van oorlog en armoede veel eerder ingrepe verlang as sekere siektetoestande by geïsoleerde pasiëntgroepe. Daarom sou, aldus Kavanagh, geargumenteer kon word dat dit belangriker is dat regerings, in plaas van mediese sentrums, hulle toevlug neem tot intersessiegebed.

Die kritiek teen sulke studies is geldig. Vanuit „n empiriese, medies-wetenskaplike oogpunt is dit eintlik feitlik onmoontlik om gelyke intersessors te vind. Wat van die “dosis” van gebed – hoeveelheid en duur? Die mediese wetenskaplike sien, meet, weeg en vergelyk data. Die teoloog maak afleidings in sy of haar soeke na fundamentele waarhede (Halperin 2001:795). Geloof (Jakobus 1:6) en God se wil (1 Johannes 5:14) is vereistes vir gebedsverhoring. Kwantitatiewe ondersoeke, soos hierdie studies, vereis egter „n oop gemoed, en nie geloof nie.

„n Groot beswaar teen die geloofwaardigheid van sulke “eksperimente” is dat „n kontrolegroep nie noodwendig bestaan nie, want geliefdes en geloofsgenote tree ook in vir die kontrolegroep wat nie intersessie as “voorskrif” kry nie (Thomson 1996:534). Indien uitkomste oor „n afstand in pasiënte wat onbewus van dat of wie vir hulle bid, verwag word, kan dit as „n eksperiment om die bestaan van God te toets, gesien word (Thomson 1996:534). Thomson (1996:534) vra ook oor die implikasie indien intersessiegebed as deel van voorgeskrewe mediese terapie oortuigend bewys kan word. Waar pas geloof dan in en word God nie eerder op die agtergrond geskuif as wat God verheerlik moet word nie? McGee (2007:1) is uitgesproke in sy kritiek dat gebed nie deel van biomediese wetenskap kan wees nie.

Dit sou in „n sekere sin geloofsversterkend gewees het indien die resultate van intersessiegebed oortuigend was. Maar, aan die ander kant, wanneer pasiënte hulle geloof of vertroue uitsluitlik op intersessiegebed plaas, dan word godsdiens deel van biomediese wetenskap. Geloof in gebed word belangriker as geloof in God. Die gevaar is dat God se betrokkenheid onpersoonlik en meganies word. In so „n opset is daar nie ruimte vir God om “nee” te sê nie of om „n ander uitkoms te bied nie (Jantos & Kiat 2007:S51).