• No results found

xxii SUMMARY

BLARE IS OM TE EET – NIE OM TE ROOK NIE

5.3 EPIDEMIOLOGIESE OORGANGE

5.5.2 Besliste ingryings

Tog is alles nie verlore nie. Soos alles in die lewe, oefen mense grootliks keuses oor hulle gesondheid uit. Daar bestaan in die literatuur aanduidings dat leefstylaanpassings gemaak kán word. Oorlog kan sodanige veranderinge meebring. Besluite word egter ook andersins geneem om „n gesonder leefstyl te kan implementeer, hetsy in die spreekkamer die gemeenskap, of op nasionale vlak.

5.5.2.1 Gedwonge veranderinge

Soms word „n samelewing deur omstandighede gedwing om leefstylaanpassings te maak. In „n periode kort na die Tweede Wêreldoorlog, tussen 1945 en 1948, was sterftes te wyte aan KVS in die Federale Republiek van Duitsland baie skaars (Schettler 1979:589; Walker 2000:259). Alhoewel dié gunstige waarneming toegeskryf word aan „n gesonder dieet, met laer vetinname en meer vrugte, groente en bruinbrood (Walker 2000:259), was daar volgens Schettler (1979:582) self, eintlik „n toestand van wanvoeding in Duitsland gedurende daardie spesifieke jare. Die punt is, die voorkoms van KVS het gekorreleer met voeding, veral as die voedingstoestande en ook voorkoms van KVS elders in Europa in die jare na die oorlog in ag geneem word (Schettler 1979:584). Schettler (1979:584) se gevolgtrekking is dat die Tweede Wêreldoorlog darem bygedra het tot die wetenskap se begrip van die rol wat voeding, rook, vetsug en fisieke aktiwiteit in die patogenese van aterosklerose speel.

5.5.2.2 Spreekkamerveranderinge

In 1990 word die resultate van die Lifestyle Heart Trial gepubliseer (Ornish, Brown, Scherwitz, Billings, Armstrong, Ports, McLanahan, Kirkeeide, Brand & Gould 1990:129- 133). Hierdie skrywers het ook gevra of leefstylveranderings koronêre vatsiekte kan omkeer. Pasiënte met angiografies gedokumenteerde koronêre vatsiekte was lukraak toegeken aan „n groep wat leefstylintervensie moes ondergaan of „n kontrolegroep wat konvensionele farmaseutiese behandeling gekry het. Leefstylaanpassings was gestruktureerd en het „n laevet- vegetariese dieet, geen rook nie, spanninghantering, matige oefening en groepsondersteuning behels. Selfs net „n jaar later is gevind dat die eksperimentele groep baie minder angina gehad het, terwyl die kontrolegroep se angina toegeneem het in frekwensie, intensiteit en duur. Dit is angiografies bevestig met die aantoon van regressie van die koronêre vatletsels.

Opvallend van die studie is die geweldige poging wat aangewend is vir die eksperimentele groep. Aanvanklik moes die groep vir „n week intensief onderrig word. Oefeninge het ten minste „n halfuur per dag vereis; spanningshantering was „n verdere uur per dag; en „n kliniese sielkundige het die groep twee keer per week gelei. „n Tweede aspek van belang is dat die kontrolegroep hoofsaaklik op hulle medikasie staatgemaak het, al was hulle vry om ook leefstylaanpassings te maak. Tog was die kontrolegroep se aanpassings beperk. Verblydend is die feit dat die leefstylaanpassings dieselfde en dalk selfs „n beter

lipogramprofiel tot gevolg gehad het as die kontrole groep se medikasie (Ornish et al. 1990:131).

5.5.2.3 Gemeenskapsveranderinge

Gemeenskappe kán iets doen om „n situasie te beredder. In hulle besorgdheid oor die epidemie van kinder-obesiteit, pleit Du Toit en Van der Merwe (2003:50) vir basiese ingryping, soos die regulering van kitskos met hoë vet- en kalorie-inhoud, maar saam daarmee ook oefengeriewe by skole. Die publiek en spesifiek kinders, is onder andere die slagoffers van misleidende voedseladvertensies (Walker 2000:258). Twee klein Franse dorpies was bekommerd oor die hoë mate van vetsug onder skoolkinders. By twee van die skole is voedingsprogramme ingestel. Na 12 jaar was die voorkoms van vetsug die helfte van dié by twee naburige dorpies, waar daar nie intervensie was nie (Romon, Lommez, Tafflet, Basdevant, Oppert, Bresson, Ducimetiere, Charles & Borys 2008:e166). Die verwysing na dié Franse dorpies se intervensie in obesiteit het nie die invloed op KVS ten doel gehad nie, maar is net om te illustreer dat „n gemeenskap kán en móét ingryp.

5.5.2.4 Nasionale veranderinge

Dit wil op die oog af lyk of die toekoms donker is wat die voorkoms van KVS betref. Jong mense besef oënskynlik nie die erns van risikofaktore nie. Waar daar wel ingegryp word, verg dit „n spesiale poging om volhoubaar te wees. Maar, ten spyte van die indrukke, is daar wel lig op die horison.

In die Verenigde Koninkryk (Engeland en Wallis) is daar sedert die 1970‟s „n daling in die mortaliteit geassosieer met koronêre vatsiekte. Tussen 1981 en 2000 het die sterftesyfer met 62% onder mans en 45% onder vroue afgeneem. Die gevolgtrekking is dat meer as die helfte van die afname toegeskryf kan word aan die verbetering van risikofaktore, veral „n afname in rook (Unal, Critchley & Capewell 2004:1101).

Dieselfde neiging is in die VSA gevind (Ford, Ajani, Croft, Critchley, Labarthe, Kottke, Giles & Capewell 2007:2388). Tussen 1980 en 2000 het die mortaliteit vanweë KVS per 100 000 van die bevolking gehalveer. Die wins word toegeskryf aan die wetenskapsgebaseerde behandeling van kardiale insidente (47%) en die aanspreek van risikofaktore (hipercholesterolemie, hipertensie, rook en gebrekkige fisieke aktiwiteite) binne die bevolking. Ongelukkig was daar oor dieselfde tydperk „n toename in obesiteit

en diabetes mellitus, wat verantwoordelik was vir onderskeidelik 8% en 10% toenames in sterftes. Onder die terapeutiese bydraes was revaskularisasie maar vir 5% van die vermindering in mortaliteit verantwoordelik!

Uit die voorafgaande wil dit blyk dat aterosklerose grootliks „n leefstylsiekte is wat die endoteel beïnvloed. Daar is erkende risikofaktore wat met KVS geassosieer word, en indien dit aangespreek word, kan dit lei tot „n afname in voorkoms van KVS en mortaliteit. Dit is egter so dat, byvoorbeeld, hipercholesterolemie slegs in 50% van pasiënte met kardiovaskulêre siekte van belang is (Ross 1999:123).

Aan die ander kant, alles het reeds in die vroeë 1980‟s daarop gedui dat dit „n oorvereenvoudiging sou wees om KVS aan die bekende risikofaktore toe te skryf – dalk nie eers die helfte van gevalle met KVS nie (Crouse, 1984:1126). Die patofisiologie kan dus nie net beperk wees tot leefstyl, cholesterol en endoteel nie.

Epidemiologiese studies werk met groot statistiese groepe en spreek nie die individu aan nie. Pasiënte voel soms uitverkoop indien hulle ten spyte van „n gesonde leefstyl wel KVS kry en dan „n KVO moet ondergaan. Dit is so. Toegegee, sulke pasiënte is min, maar vir die individu is die voorkoms altyd 100%. Daar is ook mense wat alle leefstylreëls oortree en nie KVS kry nie. Nie alle rokers kry longkanker of emfiseem nie. My troos, indien dit „n troos is, is dat sulke “gesonde” pasiënte gewoonlik „n lae operatiewe risiko het. Daar is in Hoofstuk 4, Paragraaf 4.8.2.6 duidelik aangetoon dat operatiewe uitkoms verband hou met risiko. Daar moet dus iets meer as net blote swak leefstyl wees wat die voorkoms van KVS verduidelik.