• No results found

Samevatting van basisteoretiese perspektiewe

Hoe kan enigeen ná ‘n selfmoord nog in God glo? Dit is die groot vraag wat in die persoon se hart agterbly wanneer sy eggenoot selfmoord gepleeg het. Hierdie studie gaan grootliks oor die bemiddelingsrol wat die pastoraat wil speel ten einde die persoon te help om die leuen met die waarheid te vervang.

2.4.1 Probleemvermyding en -konfrontasie

Volgens Prediker 7:3 is droefheid beter as lag. Die persoon wat hartseer trotseer en doelmatig deurleef, word deur hierdie swaarkry opgebou. Vermyding van die swaarkry in die lewe deur ontvlugting is nie net onrealisties nie, maar verarm ook die persoon. Prediker se klem is baie duidelik op die deurlewing van ‘n krisis. Hy gebruik dan ook ‘n sterk teenstelling om hierdie twee pole, naamlik konfrontasie met en ontvlugting van die rou, te aksentueer. Hy sê dat dit beter is om in ‘n huis van rou te wees as in ‘n plek waar daar gedrink word. Dit versterk Prediker se keuse tussen erkenning en ontvlugting, wat ‘n belangrike tema in kognitiewe herstrukturering is.

2.4.2 Aanvaarding van die realiteit

Daar gebeur goeie en slegte dinge in ‘n mens se lewe. Prediker vind dit van groot waarde wanneer ‘n persoon hierdie realiteit aanvaar. Hy motiveer sy leser om die dood in die oë te staar en lesse daaruit te leer ten einde sy lewe meer sinvol te beleef. Psalm 94 beredeneer God se teenwoordigheid in die alledaagse. Daar is persone wat sou wou redeneer dat God nie by die alledaagse betrokke is nie. En tog is God, volgens Psalm 94, by elke faset van die persoon betrokke en weet Hy ook van elke ding wat in die persoon se lewe plaasvind. Wanneer onreg plaasvind, weet

God daarvan. Hy sal self daarmee omgaan op sy tyd. Die realiteit van die lewe is dat daar slegte en goeie dinge gebeur, maar nie sonder dat God daarvan kennis neem en daarmee sal handel nie. Die gelowige kan dus, ten spyte van die realiteit, met sy lewe aangaan en sinvol lewe, omdat hy weet dat God by hom is en hom van dag tot dag krag gee.

2.4.3 God se teenwoordigheid in die lewe

God het belang by ‘n persoon se lewe. Wat die persoon egter in sy perspektief oor God se bemoeienis met die lewe moet insien, is dat die dood ‘n realiteit van die lewe is. God is met die volle spektrum van die lewe gemoeid, of dit nou lewe of dood is. Psalm 94 wys op ‘n lewe wat tussen belofte en vervulling lê. In hierdie tussensituasie wil die digter die leser onderskraag deur hom daarop te wys dat God by hom is. God se teenwoordigheid midde in ‘n krisissituasie word deur Psalm 94 as kerntema hanteer. Elke gelowige kan hierdie verwagting koester midde in die krisis wat hy beleef. God se teenwoordigheid is ’n realiteit, al lyk dit asof die krisis nie wil opklaar nie. Die waarde van God se teenwoordigheid is dat sy teenwoordigheid in die krisissituasie die uiteinde daarvan sal bepaal en dat die noodlydende gelowige kan weet dat God in sy lewe ingryp.

2.4.4 Volharding

Volharding speel ‘n belangrike rol in ‘n persoon se herstelproses. Prediker se stelling dat die uiteinde van ‘n saak die uitslag bepaal en nie die proses daarvan nie, is van groot belang. Daarom moet ‘n persoon nooit sukses deur die proses probeer meet nie, maar tot die einde volhard ten einde dit te kan meet. Psalm 94 speel af midde in ‘n krisis. Die digter spreek die hoop uit dat God die uiteinde sal bepaal en hy vertrou steeds die Here se teenwoordigheid in die krisis. Die persoon moet nie die verlede as die hede se werklikheid sien nie. Die hede is die werklikheid waarin die persoon nou moet belê. Die verlede is slegs daar vir verwysingsdoeleindes om in die hede die lesse uit die verlede toe te pas.

Petrus wys op die hoop wat in die wederkoms lê. Hierdie hoop is in Christus se genade vasgelê, wat saam met die toekomsverwagting die gelowige se motivering is om elke dag se uitdagings te aanvaar en te hanteer. Omdat die toekoms seker is, kan die hede hanteer word.

2.4.5 Vernuwing van denke

Die gelowige moet gedurig sy denke na God toe bring ten einde dit te toets aan die Woord van God. Daar moet dus ‘n gereelde wisselwerking plaasvind tussen die menslike ontwikkeling en God se wil vir die mens. Die leuen verdring gereeld die waarheid. Daarom wys Romeine 12:1-2 daarop dat God die gelowige se denke moet vernuwe en waarsku Paulus dat die gelowige nie soos die sondige wêreld moet word nie. Omdat God die verandering bewerkstellig, verander die gelowige, maar die wil van die gelowige speel egter ook ‘n belangrike rol. Daar is ‘n groot motivering vir die mens om toe te laat dat God sy denke verander en dit is dat Jesus Christus vir die gelowige se sondes gesterf het. Dit is juis om hierdie rede dat Petrus in 1 Petrus 1:13-15 ook die imperatiewe ná die indikatiewe gebruik. Wanneer Petrus oor heiligheid praat, is dit om aan te dui dat die gelowige vir God afgesonder is. Hierdie afgesonderdheid vir God vereis ‘n nuwe manier van optrede. Die verwagting is dat die gelowige se lewe moet transformeer.