• No results found

2.3 Eksegese volgens die grammaties-historiese metode met De Klerk en

2.3.3 Romeine 12:1-2

2.3.4.3 Die genre van 1 Petrus

Daar bestaan geen twyfel nie dat 1 Petrus as omsendbrief aan die gemeentes gestuur is wat in die noordelike helfte van Klein Asië versprei was (Achtemeier, 1996:62; Elliott, 2000:84;). J van Rensburg en De Klerk (2005:22) wys daarop dat 1 Petrus se genre ‘n brief is met huistafels as mikrogenre (1 Petrus 2:13-3:7) en dat die hermeneutiese reëls vir die interpretasie van briefliteratuur en huistafels verreken moet word.

2.3.4.4 Woordstudie

Soos in hoofstuk 1 aangedui, is kognitiewe herstrukturering die vervanging van destruktiewe aannames met die waarheid. Christus het die gelowige heilig (indikatief) kom maak en verwag (imperatief) van hom om so op te tree (Donald & Senior, 2003:41). Die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het, moet die waarheid oor die selfmoord aanvaar ten einde sy heiligheid te kan uitleef. Daarom is die ontleding van die woord ‘heilig’ gekies om beter te verstaan wat Petrus daarmee bedoel:

Heilig in vers 16: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Achtemeier (1996:121) toon aan dat Israel deur God uitgekies is om sy volk te wees. Dit maak Israel heilig. Die woord ‘heilig’ het nie ‘n morele konnotasie nie, maar ‘n afsonderingsfunksie met belangrike resultate vir die morele lewe. In die Bybel is God die Heilige par excellence. Alles wat aan God gegee, geoffer of aan hom gewy is, was heilig. Daarom is Israel, met die verbond wat God met hulle gesluit het, heilig (Elliott, 2000:360; Deffinbaugh, 2009:1). Heiligheid is dus nie iets wat bereik kan word deur morele ambisie nie. Dit is eerder ‘n afsondering vir God uit ‘n vorige kultuur. Hierdie afsondering veronderstel ‘n sekere manier van optrede wat by die nuwe situasie pas (Achtemeier, 1996:121). Donald en Senior (2003:42) maak dit

duidelik dat die afsondering nie ‘n onttrekking uit die leefwêreld is nie, maar dat dit eerder ‘n transformasie van die gelowige se lewe in geheel is.

Deffinbaugh (2009:1) gee die volgende definisie van ‘heilig’:

To be holy is the opposite of being ‘common’ or ‘profane’. God is holy in that He is utterly different and distinct from His creation. His people must also be distinct, separate from the heathen attitudes and actions which characterized them as unbelievers.

2.3.4.5 Eksegetiese verduideliking/uiteensetting

1 Petrus 1:13: Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.

Vers 13 klink asof dit ‘n imperatief is wat afgedwing word, maar die woord ‘daarom’ gee die grond waarop die opdrag gerig word (Ridderbos, 1975:254). Omdat Christus die gelowige ‘n nuwe mens deur sy soenverdienste gemaak het, moet die gelowige verantwoordelikheid vir sy lewe neem (Achtemeier, 1996:118). Ridderbos (1975:253) skryf dat Paulus se teologie van genade nie beteken dat die nuwe lewe in die persoon wat tot geloof kom, instroom en dus geen plek vir die menslike verantwoordelikheid laat nie. Elliott (2000:355) wys ook op Petrus se gebruik van die imperatief wat op die basis van die indikatief gebou word.

Die genade is dus eerder die basis vir die hoop as die objek daarvan. Daarom is dit nie ‘n hoop op die genade nie, maar die gelowige het hoop omdat die genade van die toekomsverwagting van Christus se koms reeds daar is (Achtemeier, 1996:119). Die genade wat in die toekomsverwagting lê, gee die gelowiges die moed om die harde werk van volharding aan te pak ten spyte van die omstandighede waarin hulle lewe (Achtemeier, 1996:119; Elliott, 2000:356). Die navorser wys in hoofstuk 3 hoe die indikatief die basis vir die imperatief in kognitiewe herstrukturering vorm.

Vers 14: As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie.

Petrus noem die gelowiges ‘kinders’ om daarmee hulle nuwe status in Christus te bevestig. Soos kinders aan hul vader gehoorsaam moet wees, so moet die gelowiges, wat nou God se kinders is, aan hom gehoorsaam wees (Achtemeier, 1996:120; Donald & Senior, 2003:40). Hulle het nou deur geloof nuwe wesens geword (Donald & Senior, 2003:40). Elliott (2000:357) skryf dat Petrus die basis vir die imperatief stel wat volg deur na die gelowiges as gehoorsame kinders te verwys. Dit is Christus se gehoorsaamheid wat die basis vir die gehoorsaamheid van die gelowiges vorm. Elliott (2000:358) wys daarop dat die gelowiges met die begeertes moet breek wat in hul lewe voor hul bekering die botoon gevoer het. Hulle het nou ‘n ander dryfveer wat hulle anders laat optree. Die navorser sal verder in hierdie studie aandui hoe die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het, sy negatiewe begeertes en denke moet verander na begeertes en denke wat God vir die gelowige gee.

Vers 15: Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.

God se heiligheid moet as voorbeeld vir God se kinders dien. Hulle moet kyk hoe Hy is en dit navolg. Die opdrag om heilig te lewe is ‘n opdrag om waardig voor God te leef. Die gelowiges hoef nie heilig te word nie, God het hulle reeds heilig in Jesus Christus gemaak. Hulle moet nou slegs ‘n lewe leef wat by die heiligheid pas (Achtemeier, 1996:121). Elliott (2000:360) sê dat roeping in die Bybelse konteks gebruik word waar iemand met outoriteit, veral God, ‘n persoon of ‘n groep persone uitkies vir ‘n bepaalde taak of status. Hy sê dat ‘roeping’ in 1 Petrus as bevestiging van gelowiges se nuwe status voor God gebruik word; dit is ook die rede waarom hulle optrede daarby moet pas.

Die gelowiges se opdrag is om heilig te leef in die omstandighede waarin hulle is. Hulle moenie van die samelewing onttrek nie, maar moet daarin leef sodat die ander

mense kan sien dat hulle heilig is (Achtemeier, 1996:121). Dit sal later in die studie duidelik word hoe die geroepenheid as God se kind die basis vir die imperatiewe (om heilig te lewe) vorm en die kognitiewe herstrukturering ook hierdie patroon gebruik.