• No results found

Kognitiewe herstrukturering as ‘n Bybelse beginsel

Die groot vraag waarmee die oorlewende huweliksmaat ná die selfmoord worstel, is: “Hoe kan enigeen na ‘n selfmoord nog in God glo?” (Vgl. 2.2.) Die volgende beginsels uit die Skrif is vir die gebruik van kognitiewe herstrukturering in pastorale berading vasgestel:

a) Probleemvermyding en -konfrontasie

Kognitiewe herstrukturering is op probleemkonfrontasie gebaseer. Volgens Prediker 7:3 is droefheid beter as lag, want waar die persoon sy hartseer trotseer en doelmatig deurleef, word hy deur hierdie swaarkry opgebou en versterk (vgl. 2.3.1.7). Vermyding deur ontvlugting van swaarkry in die lewe is nie net onrealisties nie, maar verarm ook die persoon. Die berader wat kognitiewe herstrukturering gebruik in die pastorale begeleiding van 'n oorlewende huweliksmaat van selfmoord, moet dus die persoon begelei om sy probleem te konfronteer en nie te ontken of te vermy nie (vgl. 2.3.1.7).

b) Aanvaarding van die werklikheid

Die werklikheid van die lewe is soms vir die gelowige onaanvaarbaar. Prediker 7:14 maak dit egter duidelik dat die lewenswerklikheid die goeie én die slegte bevat. Wanneer die gelowige die slegte werklikheid beleef, maar nie as deel van die lewe aanvaar nie, word sy ervaring van die slegte werklikheid net nog meer ingewikkeld. Die beginsel in kognitiewe herstrukturering is die aanvaarding van die werklikheid dat die lewe goed én sleg inhou. Prediker 7:14, sowel as Psalm 94 (vgl. 2.3.2), voeg nog 'n werklikheid daarby, naamlik God se rol in hierdie lewenservarings. Prediker stel dit dat die goed en die sleg van God af kom, terwyl Psalm 94 sê dat God daar alles van weet en op die ou end die uitkoms sal gee. Hierdie twee fasette van die werklikheid (goed en sleg, asook God se hantering daarvan) is in die pastorale begeleiding deur middel van

kognitiewe herstrukturering belangrik ten einde 'n persoon se verwagtinge van die toekoms in perspektief te plaas.

c) God se teenwoordigheid in die lewe

Trauma kan 'n persoon die ervaring laat beleef dat God hom verlaat het (vgl. 2.3.2). Psalm 94 help die gelowige om te verstaan dat God nie stom of afsydig in die gelowige se ervaring van sy krisis staan nie, maar wel aktief besig is om hom by te staan en te versterk. In kognitiewe herstrukturering by die pastorale berading moet die oorlewende huweliksmaat van selfmoord begelei word om hierdie geloofsprong te maak en te aanvaar dat God op sy tyd vir hom uitkoms sal gee. Die bestudering van Psalm 94 kan die oorlewende huweliksmaat help om te verstaan dat die gelowige soms in omstandighede kan beland wat hom met die oortuiging laat dat God nie in sy omstandighede betrokke is nie. Die gelowige kan deur Psalm 94 begelei word om ten spyte van die omstandighede steeds sy hoop op God se handeling in sy lewe te verwag.

d) Volharding

Volharding en hoop loop hand aan hand. Wanneer persone se huweliksmaats selfmoord pleeg, is hul belewenis meermale dat hulle self ook hoop verloor met die toekoms wat voorlê. Die berader kan deur die gebruik van kognitiewe herstrukturering die persoon met Psalm 94 begelei, asook met 1 Petrus1, wat dui op volharding tot die einde toe. Psalm 94 gee vir die gelowige die hoop dat God ten spyte van die omstandighede in haar lewe betrokke is en op sy tyd redding sal bring (vgl. 2.3.2). Die gelowige word aangemoedig om in haar hoop op God se redding te volhard. In 1 Petrus 1:13-15 word die gelowige op grond van God se genade in Jeus Christus uitgedaag om haar lewe volgens die Woord van God in te rig (vgl. 2.3.1). Omdat God heilig is en die gelowige heilig gemaak het, moet sy na heiligheid streef. Die gelowige moet opgeroep word om op grond van God se versoening haar verantwoordelikheid vir haar lewe op te neem. Die hooploosheid moet verruil word vir die hoopvolheid dat God die uiteinde bepaal en daarom moet sy bly volhard tot die uitkoms daar is. Ten einde die

hooploosheid na hoopvolheid te begelei is ’n voorvereiste vir die berader om ten volle op die Gees van God se werking te vertrou (vgl. 3.7). Die oorlewende huweliksmaat moet deur die berader se eie ervaring van God se werking as voorbeeld begelei word. In die konteks dat die Heilige Gees in die gelowige se denke werk, word die oorlewende huweliksmaat aan die Skrifgedeelte blootgestel vir studie oor ’n periode van ’n week. Ná die blootstelling kan die berader in gesprek gaan in verband met die persoon se bevindinge oor die Skrifgedeelte. Tydens hierdie gesprek kan die berader ook ander Skrifgedeeltes betrek as bevestiging van hoop dat God in die oorlewende se lewe teenwoordig is.

e) Vernuwing van denke

Kognitiewe herstrukturering ná die selfmoord van 'n huweliksmaat help die oorlewende om haar denke (kognitiewe) aangaande die gebeure te evalueer en aan die Bybel as norm te meet. Daar moet dus ‘n gereelde wisselwerking plaasvind tussen die menslike ervaring van die werklikheid teenoor God se beskrywing daarvan. Daarom bring die berader deur berading en die gebruik van kognitiewe herstrukturering die oorlewende huweliksmaat voor God se voete ten einde God toe te laat om haar denke te vernuwe. So het ‘n persoon wat byvoorbeeld met agterdog gesukkel het, begin om die gedagtes van agterdog neer te skryf en toe aan moontlike idees vir ander mense se optredes begin soek. Gou het hy ‘n patroon ontwikkel wat hom gehelp het om die agterdog uit te redeneer en so gesond te kon funksioneer (vgl. 4.4.3). Die oorlewende huweliksmaat verander omdat God die verandering bewerkstellig. Die wil van die gelowige speel egter ook ‘n belangrike rol. Dit is juis om hierdie rede dat Petrus in 1 Petrus 1:13-15 ook die imperatiewe ná die indikatiewe gebruik (vgl. 2.3.4.2). Wanneer Petrus oor heiligheid praat, is dit om aan te dui dat die gelowige vir God afgesonder is. Hierdie afgesonderdheid vir God vereis ‘n nuwe manier van optree. Die verwagting is dat die gelowige se lewe moet transformeer.