• No results found

2.3 Eksegese volgens die grammaties-historiese metode met De Klerk en

2.3.2 Psalm 94:1-23

2.3.2.3 Die genre van Psalm 94

Navorsers beskryf Psalm 94 as ‘n gemengde genre, omdat dit ‘n gemeenskaplike gebed (1-7), ‘n wysheidstradisie (8-13) en ‘n individuele belydenis (17-19, 22) is wat aanmekaar gebind word. Die Psalm vorm egter ‘n eenheid deur die vertroue in God dat Hy die regverdige Regter is (Broyle, 1999:370). As ‘n geheel is dit ‘n Psalm van vertroue (Longman III, ed, 2008:75). In die Psalm se verband is die leuen wat geglo word dat God nie by sy volk se leed of hulle verkeerde dade betrokke is nie. Die digter herinner homself telkemale daaraan dat God sy veilige vesting is. Mays (1994:302), en later ook Eaton (2003:334), verdeel die Psalm in drie dele: Die eerste deel is verse 1-2 wat ‘n aandrang tot God is om die oortreders te straf, asook ‘n klaaglied (verse 3-7) oor die verkeerde dade van die oortreders. Die tweede deel vergelyk diegene wat die Here se wet oortree (verse 8-11) met dié wat aan die Here se wet vashou (verse 12-15) omdat hulle glo dat die oordeel aan die kom is. Die derde deel (verse 16-23) is ‘n belydenis van vertroue in God. Die kommentare is dit dus met mekaar eens: Die Psalm word aanmekaar gebind deur vertroue in God.

2.3.2.4 Woordstudie

Psalm 94:1: Here, God wat onreg straf, U wat onreg straf, verskyn tog.

העיפוח in Psalm 94:1

Die werkwoord העיפוח is in die ‘hiphil imperfect’ van עפי wat ‘skyn’ beteken (Tate 1990:483). Volgens VanGemeren (1997:497) word עפי in die ‘hiphil’ gebruik vir God se verskyning aan die mens. Hierdie is ’n dringende versoek en nie ’n opdrag nie. Die belewenis van ’n persoon wat verwerping ervaar, is so dringend en smekend soos העיפוח in hierdie vers.

2.3.2.5 Bepaling van die kernverse

In Psalm 94:1 word die verwagting geskep dat God die digter sal help en in vers 22 word die vertroue weereens uitgespreek in die besef dat die Here die digter se veilige vesting is (Longman III, 2008:74). Hierdie twee verse gee die vertroue weer wat die digter in God uitspreek te midde van ‘n krisissituasie en vorm dus die kern van Psalm 94 (Broyles, 1999:371).

2.3.2.6 Eksegetiese verduideliking/uiteensetting

Psalm 94:1,2: Here, God wat onreg straf, U wat onreg straf, verskyn tog! Kom, Regter van die aarde, reken af met die mense wat hulle teen U verhef.

Vers 1 skep by die leser die verwagting dat God sal ingryp. Dit begin met ‘n ‘staircase parallelism’ wat die aandag van die leser trek in afwagting van die onvoltooide verklaring wat gemaak word. God sal verskyn, want Hy laat nie mense wat verkeerd doen, ongestraf nie (Longman III, 2008:76). Eaton (2003:335) wys ook daarop dat die situasie nog buite beheer is. Die vers begin dus met ‘n appèl op God om te verskyn, maar is nie ‘n emosionele en persoonlike uitbarsting nie; dit is eerder ‘n beroep op God om geregtigheid te laat geskied en beklemtoon reeds die

verwagting dat die digter vertroue in God het (Broyles, 1999:371). Vers 2 is nie ‘n bevel aan God nie, maar eerder ‘n versoek tot God om volgens sy aard op te tree. Hy is immers die Regter van die aarde (Longman III, 2008:77). Dit sal later in die studie duidelik word hoe hierdie verwagting van God se ingrype in die lewe van die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het, ‘n rol kan speel.

Vers 7-8: [...] en dink die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie. Gebruik tog julle verstand, julle wat so dom optree onder die volk. Julle dwase, wanneer wil julle dan verstandig word?

Longman III (2008:78) verwys in vers 7 na die belangrike mense wat onreg teen die volk pleeg. Hulle bevraagteken egter nie God se bestaan nie en is dus nie ateïste nie. Hulle beweer egter dat God maar daar bo in die hemel iewers sit en niks te doen het met dit wat op die aarde aangaan nie. God sien dus nie hierdie belangrike mense se verkeerde dade raak nie en gee klaarblyklik ook nie om wat op die aarde gebeur nie. Hulle onreg is ‘n uitdaging wat deur hulle eiewaan eksplisiet teen God gerig word (Broyles, 1999:371; Mays, 1994:303). Die navorser wys daarom op die uitdrukkings ‘dom’ en ‘dwase’ in vers 8 as terme wat gebruik word vir mense wat nie hulle gesindhede in die lig van God se weë wil laat vorm nie (Longman III, 2008:79). Eaton (2003:335) wys ook daarop dat die dom en dwase mense nie kan insien dat God hulle intensies ken nie, terwyl Hy tog alles weet.

Vers 9-11: Sou Hy wat vir ons ore gemaak het, self nie kan hoor nie? Sou Hy wat vir ons oë gemaak het, nie kan sien nie? Sou Hy wat die nasies opvoed, nie ook straf nie? Sou Hy wat die mensdom onderrig, self niks weet nie? Die Here ken die gedagtes van die mens, Hy weet dit beteken niks.

Logika word nou in vers 9 tot 11 ingespan. Longman III (2008:79) wys op die digter se redenasie dat God wat ore en oë gemaak het, sekerlik self oë en ore het en dit tog sekerlik self gebruik. Die bewering dat God dus niks weet van wat op die aarde aangaan nie, is onsinnig. Vers 10 gaan verder deur te sê dat Israel daarmee tevrede is dat God ander volke straf wat verkeerd doen, maar sy eie kinders wat verkeerd

doen, totaal en al misken. As God ore kan maak, kan Hy tog self ook hoor. As God ander straf, kan Hy tog ook sy eie volk straf. Vers 11 sê dat God al die gedagtes en dade van die mens ken. Al het God nog nie met straf teen sy volk opgetree nie, beteken dit nie dat Hy geen kennis van die onreg van Israel dra nie (Broyles, 1999:371).

Vers 12-13: Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u woord en vir wie U rus gee na tye van teëspoed. Maar vir die goddelose word die graf reeds gegrawe.

Die digter wend hom volgens vers 12 en 13 na God. Hy weet dat die mens wat deur God onderrig en opgevoed word, seën sal ontvang (Broyles, 1999:371; Eaton, 2003:335). Goddeloses se dade het perke. Terwyl die gelowige niks van God se kant af sien gebeur nie, kan hy tog met rustigheid op God se optrede wag met die wete dat God die goddelose se einde sal laat aanbreek. Die goddelose se lewe loop op niks uit nie, terwyl die een wat getrou op God wag, met God se seën kan lewe (Longman III, 2008:81; Mays, 1994:303). Die navorser sal verder in die studie aandui hoe die waarheid aangaande God se betrokkenheid in gelowiges se lewe van belang is.

Vers 14: Die Here verstoot nie sy volk nie, die volk wat aan Hom behoort, laat Hy nie in die steek nie.

In vers 14 is die belydenis van vertroue in God op ‘n negatiewe wyse gestel: “Die Here verstoot nie sy volk nie.” Hierdie negatiewe stelling gaan in vers 15 oor in ‘n positiewe belydenis: “Die regspraak sal weer regverdig wees.” (Broyles, 1999:372.) Hierdie belydenis is gegrond op die feit dat die volk Israel God se kinders is wat deur hom versorg sal word (Longman III, 2008:82). Die negatiewe stelling van vertroue en die belydenis van regspraak is ‘n belangrike vertrouensuitspraak en speel, soos aangedui sal word, ‘n belangrike rol in die lewe van ‘n persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het.

Vers 16-21: Wie staan by my teen dié wat my leed aandoen? Wie help my teen mense wat my veronreg? As die Here my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf seker al my tuiste! Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. U duld geen korrupsie in die regspraak nie, geen mens wat, teen u gebod in, ellende veroorsaak nie. Hulle span saam teen die regverdige, hulle veroordeel onskuldige mense tot die dood.

In vers 16-21 dui die digter sy verwerping aan. Daar is niemand behalwe God self wat by hom staan as hy teen die onreg opstaan nie. As dit nie vir God se teenwoordigheid was nie, sou die digter reeds gesterf het (Longman III, 2008:83; Eaton, 2003:335). God het hom in hierdie aanslag wat hy beleef, met sy liefde staande laat bly. Hy het die digter se angstigheid met vrede beantwoord (Broyles, 1999:372). Vers 18 verwys na die vrees en realiteit van die gevaar wat in vers 17 beleef is. Vers 19 fokus weer op die vrees wat tans ervaar word (Longman III, 2008:83). Vers 20 en 21 sê dat die onreg nie verdwyn het nie en dat die omstandighede van die digter steeds nie verander het nie (Broyles, 1999:372). Daarom sê Eaton (2003:335) dat wanneer die digter angstigheid in sy binneste voel, hy steeds op die oorwinnende vrede hoop waarmee die Here vreugde in sy siel sal bring.

Vers 22-23: Maar vir my is die Here ‘n veilige vesting, my God is die rots waar ek skuil. Hy sal hulle laat boet vir hulle dade, Hy sal hulle verdelg oor hulle boosheid. Die Here ons God sal hulle verdelg.

Vers 22 en 23 sê dat die Here die gelowige vashou, ten spyte van sy omstandighede wat steeds voortduur (Broyles, 1999:372). Wanneer die ongelowige ‘n aanslag op hom maak, is God sy veilige vesting. Die omstandighede is egter net tydelik van aard, want die Here sal self op sy tyd met die ongelowige afreken. Dit is hierdie wete wat die digter steeds laat lewe, ten spyte van sy omstandighede (Longman III, 2008:84). Die navorser sal later aandui hoe die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het, ten spyte van sy omstandighede ‘n sinvolle lewe kan leef.