• No results found

Bevindings ten opsigte van skemas, persepsies, intuïtiewe

5.6 Bevindings op grond van die vraelyste en onderhoude

5.6.2 Bevindings ten opsigte van skemas, persepsies, intuïtiewe

Skuld en hartseer

Al die deelnemers het aangedui dat hulle skuldig en hartseer gevoel het ná hul huweliksmaat se selfmoord. Met die onderhoude het dit geblyk dat die hartseer wat hulle beleef, dieselfde is as die hartseer met ‘n sterfte as gevolg van natuurlike oorsake. Hulle mis hul huweliksmaat se teenwoordigheid en sy/haar hulp met die daaglikse verantwoordelikhede van die lewe.

Die skuldgevoel is egter as gevolg van persepsievorming oor die rede vir die selfmoord. Die deelnemers het aangetoon dat hulle skuldig voel oor hul eie onvermoë om die selfmoord af te weer.

Woede en kwaadheid

Al die deelnemers het aangetoon dat hulle woede na die selfmoord ervaar het. Drie van hierdie deelnemers het ook kwaadheid aangedui. Hulle het gevoel dat kwaadheid minder gewig as woede dra. Wanneer hulle op hul eie met minder ernstige uitdagings in hul lewe moes sukkel, het hulle steeds kwaad vir hul huweliksmaat gevoel. Die woede wat die deelnemers aangedui het, was omdat hulle beleef het dat hul huweliksmaats hulle met 'n groot las agtergelaat het. Hulle is deur hul huweliksmaats in die steek gelaat, want nou moes hulle verantwoordelikheid neem om nie net die selfmoord te verwerk en te verduidelik nie, maar ook om hul eie toekoms te bepaal. Hul skemas, persepsies en intuïtiewe denke oor hul eie vermoë om daaglikse take en ander uitdagings te hanteer is negatief beïnvloed deur die selfmoord en die gevoel dat hulle deur hul huweliksmaats in die steek gelaat is.

Een deelnemer het vertel dat dit ná die selfmoord aan die lig gekom het dat daar 'n derde party in hul huwelik betrokke was. Daaroor beleef sy steeds woede, omdat sy verwerp voel. Hierdie verwerping het haar in haarself laat twyfel en haar in 'n selfbeeldkrisis gedompel. Die skema, persepsie en intuïtiewe denke wat oor haarself gevorm is deur die selfmoord en die openbaring van die verhouding is negatief beïnvloed.

Vrees

Vier deelnemers het aangedui dat hulle vrees met die selfmoord beleef het. Van hulle het aangedui dat hulle in die aand begin bang word het. Waar hulle vroeër in die aand alleen kon wees, het hulle nou vrees beleef as dit aand geword het of hulle alleen was. Een deelnemer het aangedui dat sy gevrees het dat as sy alleen was, haar man om die hoek sou verskyn. Die skema, persepsie en intuïtiewe denke van die deelnemers is

weens die selfmoord só beïnvloed dat hulle nie die huweliksmaat se sterfte kon aanvaar nie. Hulle ervaar steeds sy teenwoordigheid, wat 'n persepsie is, en dit maak hulle bang.

Kommer

Vier deelnemers het aangedui dat hulle bekommerd was oor hul toekoms. Baie vrae het ontstaan oor hul vermoë om hul eie toekoms te hanteer. Die deelnemers wat nog kinders gehad het, was bekommerd oor hul vermoë om die kinders ‘n goeie opvoeding te bied. Die kommer is dus 'n uitvloeisel van die skema, persepsie en intuïtiewe denke wat elke deelnemer oor sy/haar eie vermoë gevorm het.

Depressie

Drie deelnemers het ‘n depressiewe gevoel beleef. Van hulle het medikasie gebruik om die depressie te verlig. Een deelnemer wat volgens die navorser se observasie nie die rouproses deurloop het nie, het aangetoon dat die antidepressante nie haar depressiewe gevoel verlig het nie, maar dat haar depressie toeneem. Haar depressie word nie verlig nie omdat sy nie haar rou deurloop het nie. Haar skema, persepsie en intuïtiewe denke aangaande haar eie beeld is sodanig beïnvloed dat dit haar depressiewe gevoel voed.

Verligting

Drie deelnemers het aangedui dat hulle direk na die selfmoord verligting beleef het. Die verligting was as gevolg van ‘n dankbaarheid dat die huweliksmaat van sy/haar emosionele seer bevry is. Van die deelnemers se verhale wat gehandel het oor die aanloop tot die selfmoord is gekenmerk deur huweliksprobleme as gevolg van depressie of alkoholmisbruik van hul huweliksmaat. Die selfmoord het ook ‘n einde aan hierdie probleme gebring en het tot ‘n gevoel van verligting gelei. Die gevoel van verligting het egter later ‘n skuldgevoel by die deelnemers veroorsaak. Die positiewe ervaring van verligting is later deur skuldgevoel beïnvloed en so het ‘n positiewe skema, persepsie en intuïtiewe denke verander na ‘n negatiewe skema, persepsie en intuïtiewe denke.

Frustrasie

Drie deelnemers het aangetoon dat hulle frustrasie as gevolg van en ná die selfmoord ervaar het. Dit was frustrerend vir een deelnemer om nie haar huweliksmaat te kon oortuig dat die lewe steeds die moeite werd was nie. Al het sy ook hoe mooigepraat en verduidelik dat sy persepsie van omstandighede nie 'n werklikheid was nie, het hy tog selfmoord gepleeg. Haar frustrasie is deur 'n skema, persepsie en intuïtiewe denke beïnvloed wat bepaal het dat sy die selfmoord kon afwend. 'n Ander deelnemer het aangedui dat sy gefrustreerd is met haar eie worsteling met die lewe se uitdagings na die selfmoord. Die skema, persepsie en intuïtiewe denke wat sy oor haarself gehad het, was dat sy onkundig was om 'n eie lewe sonder haar huweliksmaat te kon bewerkstellig.

Skaamte

Drie deelnemers het aangetoon dat hulle skaamte oor die selfmoord teenoor die gemeenskap beleef het. Dit was slegs hul eie skema, persepsie en intuïtiewe denke wat hierdie emosie opgeroep het. Daar sal later aangetoon word dat die gemeenskap ondersteunend van aard was.

Een van die deelnemers was egter deur die gemeenskap geteister en beskuldig dat sy die oorsaak van die selfmoord was. Dit het haar net meer van die gemeenskap laat onttrek. Die gemeenskap het haar skema, persepsie en intuïtiewe denke só beïnvloed dat sy skaam teenoor hulle gevoel het.

5.6.2.1 Afleidings

Die emosies wat deur die meeste deelnemers aangedui is, is woede, kommer, vrees, skuld en hartseer. Deelnemers het ook depressie, verligting, frustrasie en skaamheid na die selfmoord beleef. Hierdie emosies is deur bepaalde persepsies, skemas en intuïtiewe denke bepaal wat die deelnemer aangaande die selfmoord, eie vermoë en die gemeenskap gehad het. Dit sal later duidelik word hoe hierdie persepsies, skemas en intuïtiewe denke in sommige van die deelnemers se herstelproses verander het en so ook hul rouproses aangehelp het.

5.6.3 Bevindings ten opsigte van hindernisse of positiewe faktore wat die