• No results found

2.3 Eksegese volgens die grammaties-historiese metode met De Klerk en

2.3.1 Prediker 7:1-14

2.3.1.7 Eksegetiese verduideliking/uiteensetting

In vers 1 loop ‘n goeie naam en die dood parallel, en so ook goeie parfuum en die dag van geboorte. Volgens Towner (1997:326) dui die koppeling van hierdie terme waarskynlik op die Griekse en Egiptiese gebruike om pasgebore babatjies met olie te salf. “The resulting combination is similar to Hillel’s teaching, ‘Trust not in thyself until the day of thy death’.” Hier word die sirkelgang van die lewe uitgelig, wat die element insluit dat die persoon se lewe wel suksesvol afgehandel kan word. So ‘n lewe moet eers afgehandel word voordat sukses daaraan verbind kan word. Die mens wat in die lewe is, moet weet dat daar ook swaar in die lewe te wagte kan wees en die hantering van hierdie moeilike omstandighede kan bepaal, of die persoon nou sukses behaal al dan nie. Longman (1998:182) lê verder klem op die feit dat God belang by die mens se hele bestaan het, of dit nou dood of lewe is. Die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het, moet homself daaraan herinner dat sy eie lewe nog nie verby is nie. Daar is steeds baie moontlikhede waar hy sukses in sy eie lewe kan behaal.

Vers 2: Dit is beter om na ‘n huis toe te gaan waar daar gerou word as na ‘n huis waar daar feesgevier word. Elkeen wat lewe, moet ter harte neem wat die uiteinde van die mens is.

Volgens Longman (1998:182) handel vers 2 oor die dood van ‘n persoon. Dit is beter om daaraan herinner te word dat jy sterflik is, as om ligsinnig met die lewe om te gaan. Towner (1997:326) vertaal התשמ תיב met “drinking house”, soos in die woordstudie hierbo aangedui word. Dit is beter om by ‘n huis te wees waar daar gerou word oor iemand wat oorlede is, as by een waar daar altyd feesgevier word of gedrink word om die pyn te laat weggaan. Om swaarkry in die oë te kyk, het meer waarde as om pyn en seer te vermy deur dit weg te drink of só fees te vier dat die sorge daarmee vermy kan word. Die prediker se lesers was vertroud met die gebruik dat ‘n persoon se dood met 'n rouproses van sewe dae gepaardgaan waartydens die klem geplaas is op die hantering en deurlewing van die hartseer (Towner, 1997:326). Die Prediker wil dus sy student die dood in die oë laat kyk en die lesse wat hy daaruit kan leer, met hom laat saamdra (Garrett, 1993:318). Die navorser wys gevolglik later in die studie daarop dat die rouproses in pastorale berading ‘n belangrike aspek

is wat deurloop moet word deur die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het.

Vers 3: Droefheid is beter as lag; agter ‘n somber gesig skuil ‘n helder gees.

Volgens Towner (1997:326) beklemtoon vers 3 veral een aspek baie sterk: Hartseer (‘ka’as’ in Hebreeus) is baie beter vir die lewe as ‘n ligsinnige gelag en feesviering. Die woord ‘ka’as’ moet volgens Garrett (1993:318) dus eerder met ‘frustrasie’ en ‘kwaad wees’ vertaal word, omdat dit met die realiteit van sy dag ooreenstem. Die oordadige feestelike karakter met alle klem op voorspoed word hier dus in ‘n sekere sin teengestaan met die inagneming van die dood as ‘n toekomstige realiteit. Die gevolgtrekking is dus dat iemand wat soms ‘n mate van frustrasie beleef, meer in pas is met die realiteit van die lewe en inderdaad nie in ontkenning leef nie. Die wins vir die gelowige is groot as hy nie die dood vermy of ontken nie, maar as ‘n werklikheid aanvaar (Garrett, 1993:318). Die navorser sal verder in die studie aandui hoe kognitiewe herstrukturering die aanvaarding van die realiteit van die dood belangrik ag.

Vers 4: Wie wysheid het, voel hom tuis waar daar gerou word, die dwaas voel hom tuis waar daar plesier is.

Volgens Longman (1998:184) ontstaan daar in vers 4 spanning tussen die aanbeveling vroeër in die boek dat die aangename dinge geniet moet word en die aanbeveling hier dat daar eerder gerou moet word. Hierdie spanning loop regdeur Prediker. “The form of this proverb, as opposed to the similar (one) in v. 2, is an antithetical parallelism, common in the book of Proverbs.” Enersyds sê die Prediker dat daar niks beter is as om te eet, te drink en te werk nie; andersyds sê hy dat dit juis die dwaas is wat dit doen ̶ dit is ‘n aanduiding van die feit dat hy ‘n verwarde, maar wyse man is wat die tradisies van sy dag betwyfel en wil aanspreek.

Vers 8: ’n Voltooide taak is beter as een wat pas begin is. Geduld is beter as hoogmoed.

Vers 8 gryp terug na vers 1 wat die klem daarop wil lê dat die uitkoms van ‘n saak uiteindelik die sukses bepaal en nie noodwendig die proses (lewe) self nie. Daarom moet die mens eers tot die einde leef voordat hy kan sê dat hy suksesvol is (Towner, 1997:326). Longman(1998:187) is egter van mening dat vers 8a nog meer impliseer. Volgens hom word daar gesinspeel op handeling van alle vlakke van bestaan, alhoewel dit eerstens gaan oor die lewe en die dood. Die een wat lewe, moet tred hou met dit waarmee hy besig is en nie op sy louere begin rus nie. Hy moet eers sy taak afhandel voordat hy kan roem op die uitkoms daarvan. Wanneer die mens begin roem voordat ‘n bepaalde saak afgehandel is, word die saak afgeskeep en verloor hy perspektief. In hoofstuk 3 dui die navorser op die leuen wat die voortgang van die rouproses kortwiek en hoe belangrik volharding daarin is.

Vers 10: Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie.

Die persoon wat aan die einde van sy lewe staan (vers 10), verlang nie terug na die verlede toe nie, want aan die einde van die lewe kan hy alles in perspektief sien en dit is beter as die vars begin van alles (Towner, 1997:327). Prediker wil die mens dus op die hede wys ̶ terwyl die mens leef, moet hy nie begeer om terug te gryp na die verlede toe nie. Uit dit wat klaar verby is, kan hy leer, maar dit wat nou nog besig is om te gebeur, verdien sy volle aandag sodat ‘n sukses van die lewe gemaak kan word. Daar sal later aangedui word hoe die verlede teenoor die hede hanteer behoort te word in die begeleiding van die persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het.

Vers 13: Kyk na die werk van God: wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?

Die heelal het plooie, skryf Crensaw (aangehaal deur Towner, 1997:327) na aanleiding van vers 13. Daar is dinge wat nie vir gelowiges is soos wat hulle dit

graag wil hê nie, maar hulle kan dít wat God gemaak het, nie verander nie. Daar is dele van die lewenspad wat wel krom en skeef gaan loop, want die pad waarop die mens in hierdie wêreld loop, is nie glad en gelyk nie ̶ daarmee moet die mens rekening hou. Dit is 'n gegewe wat die persoon nie kan vryspring nie. Die dood is deel van elkeen se lewe en almal is aan swaarkry onderworpe.

Vers 14: Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar ‘n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie.

Die klem in vers 14 val op die mens se onvermoë om die toekoms te lees. Volgens Longman (1998:192) het God die dae so opgestel dat sommige goed en ander sleg is, sodat selfs die wyse nie kan bepaal wat volgende gaan gebeur nie. Daarom moet die mens die lewe geniet terwyl dit goed gaan, maar as dit sleg gaan, moet hy die beste daarvan maak. Volgens Towner (1997:327) is die goeie dae net so ‘n realiteit as die slegte dae en moet daar rekening mee gehou word. Die feit dat ‘n persoon moet aanvaar dat daar goeie en slegte goed met almal gebeur, speel ‘n groot rol in kognitiewe terapie. Hierdie rol sal in die studie beklemtoon word.