• No results found

4.5 Die brein se werking

4.5.1 Inligtingsoordrag

Enige trauma is volgens Van Wyk (2010:18) ‘n intense en persoonlike ervaring. Met die oorlewende van selfmoord is dit ook nie anders nie. Om dus kognitiewe herstrukturering van ‘n persoon wie se huweliksmaat selfmoord gepleeg het te

verstaan, word nou lig gewerp op hoe die brein met inligting te werk gaan en hoe die inligting verwerk word. Dit sal dan tot beter begrip lei van die feit dat elke individuele oorlewende van selfmoord ander emosies in sy herstelproses gaan beklemtoon.

Daar sal nou na die diep limbiese stelsel verwys word. Volgens Amen (2010:38) is die diep limbiese stelsel naby die sentrale deel van die brein geleë. Die volgende funksies van hierdie stelsel word geïdentifiseer:

· Dit bepaal die emosionele atmosfeer van die brein.

· Dit filtreer, met behulp van interne fases, emosionele gebeure (dit verleen dus kleur aan die emosie).

· Dit merk gebeure wat intern belangrik is.

· Dit stoor emosionele geheue wat hoogs energiek is. · Dit ontwikkel motivering.

· Dit beheer aptyt en slaappatrone. · Dit bewerkstellig verbintenisse. · Dit verwerk reuke direk.

· Dit ontwikkel libido.

Dit is belangrik dat kennis geneem word van die diep limbiese stelsel se funksie wat daarvoor bekend staan dat dit die emosionele atmosfeer van die brein bepaal, soos hierbo genoem. Wanneer die diep limbiese stelsel baie aktief of ooraktief is (volgens skanderings wat deur Amen gemaak is), kan negatiwiteit in die persoon se denke die botoon voer.

Gazzaniga et al. (2009:19) verduidelik hoe inligtingsoordrag in die brein plaasvind. Dit is ‘n ingewikkelde en spontane proses. In navorsing wat gedoen is, is die volgende waargeneem:

· Die selle in die brein is afsonderlik en los van mekaar deurdat die sitoplasma van die neurone nie in kontak met mekaar is nie. Hierdie neurone dra inligting aan ander neurone oor deur verbindings te maak. Die verbinding tussen

neurone is nie onwillekeurig nie, maar gee inligting aan deur stroombane met spesifieke roetes.

· Sekere dele van neurone is gespesialiseer om inligting te ontvang en ander dele weer om inligting aan te gee na ander neurone toe.

Hiermee stem Freeman en Freeman (2011:271), asook Peterson (2003:32), saam wanneer hulle afsonderlik ook die inligtingsoordrag in die brein bespreek.

Gazzaniga et al. (2009:19), asook Peterson (2003:32), skryf verder dat neurone basies rigtinggewende eenhede is. Neurone neem inligting op, neem ‘n besluit daaroor, volg relatief eenvoudige reëls en gee dan deur veranderings in hul aktiwiteitsvlakke die inligting aan ander neurone deur. Freeman en Freeman (2011:264) werp in hierdie verband nog meer lig op die werksaamheid van die brein. Hulle merk op dat daar 80 biljoen neurone in die brein is. Elke neuron kan met

10 000 ander neurone op ‘n keer kommunikeer. Dit is nie die enigste selle wat in die brein bestaan nie. Daar is ook glia-selle wat die neurone aanmekaar bind en met die oordrag van boodskappe volgens ‘n bepaalde struktuur of voorafbepaalde patroon help. Die voorafbepaalde struktuur of patroon is vir die navorser van belang, omdat dit die gebied is waarop kognitiewe herstrukturering wil fokus.

Wanneer Freeman en Freeman (2011:275) oor die brein se werking skryf, verduidelik hulle hoe die boodskappe tussen die neurone in die brein oorgedra word. Dit maak van neurosenders gebruik, waarvan daar ongeveer 30 tipes bestaan. Een daarvan is dopamien, wat een van die ‘goedvoel’-neurosenders is. Na ‘n studie oor die rol van dopamien in die brein, kom Bentall (2009:160) tot die gevolgtrekking dat daar groeiende bewys is dat die dopamienstelsel, net soos die hele brein, geaffekteer word deur lewenslange blootstelling aan onaangename gebeure. Dopamien is die chemiese stof in die brein wat help om verwagtinge en persepsies van die persoon te vorm. Wanneer die persoon aan stimuli blootgestel word, help die dopamien om te bepaal hoe sy persepsie of verwagting daarvan behoort te wees. Die verwerking van inligting is 'n ingewikkelde proses in die brein en die uitkoms van

die proses kan nie in elke persoon voorspel word nie. Elke mens sal dus sy eie persepsie van 'n gebeurtenis vorm en daarvolgens nuwe inligting verwerk (outeur se invoeging). Die uitkoms van inligtingsverwerking kan op twee maniere gevorm word, naamlik intern en ekstern.

· Interne inligtingsverwerking vind plaas wanneer 'n persoon aan iets blootgestel word, die brein ander inligting wat reeds in die brein gestoor is, daarmee laat saamval en die persoon dan tot 'n gevolgtrekking in verband daarmee kom.

· Eksterne inligtingsverwerking vind plaas wanneer die inligting in die vorm van sigbare gedrag na vore kom (Sadock & Sadock, 2005:514).

Die volgende diagram (Bentall, 2009:176) dui aan dat dopamien, ‘n chemiese middel wat persepsies in die brein vorm, deur eksterne faktore versteur word:

Onsekere aanhegting > negatiewe selfbeeld > antisipeer bedreiging > paranoia

Aanhegting > Dopamien-gemedieerd > Aanvaarding

Ervaring van viktimisasie eksternalisasie, ondersoek, neiging

Swak teorie ongesonde gevolgtrekking van menslike

optrede

Onaangename gebeure en slegte verhoudings het dus ‘n invloed op die dopamien wat die denke van ‘n persoon reguleer. Volgens Bentall moet die klem daarom nie op medisinale vermeerdering van die dopamien wees nie, maar eerder gerig wees op die wyse waarop die persoon op eksterne stimuli reageer. Eysenck en Keane

(2010:603) verwys ook na Evans, Heron, Lewis, Araya en Wolke (2005), wat dieselfde bevindings as Bentall het. Dit blyk dus dat negatiewe gebeure in die verlede 'n ‘bias’ (vaste struktuur of persepsie) gevorm het wat weer tot depressie of angs kan lei. Wright et al. (2006:12) noem die ‘bias’ ‘intuïtiewe denke’ en ‘skemas’. Hierdie skemas word van kleintyd af deur ouers, lewenservarings, formele en informele onderrig, groepsdruk, trauma en suksesse aangeleer en dit beïnvloed die ontwikkeling en instandhouding van die skemas. Freeman en Freeman (2011:50) verwys na die ‘belief confirmation bias’ wat tot die gevolgtrekking kom dat wanneer die mens se opvatting van ‘n bepaalde saak tot ‘n opinie gevorm is (persepsie), hy alle ander sake daarby intrek om daarmee saam te stem of om dit te versterk. Dit is hierdie skema of intuïtiewe denke wat die optrede en ervaring van ‘n persoon bestuur. Kognitiewe herstrukturering wil juis hierdie ‘bias’ (vooroordele), persepsie en intuïtiewe denke beïnvloed en aanspreek ten einde 'n meer realistiese ‘bias’, persepsie of intuïtiewe denke te skep.

Verder moet daarop gelet word dat die brein in twee hemisfere verdeel is: ‘n linker- en ‘n regterhemisfeer. Die moderne opvoedkunde is op die linkerhemisfeer gerig en daarom word daar verwag dat dit daardie deel van die brein is wat menslike optrede bepaal. Dit is egter nie waar nie, want dit is die regterhemisfeer wat die mens se optrede beheer (Van der Spuy, 2011:19; Murphy, 2008:7). Eysenck en Keane (2010:193) verwys ook na twee prosesse wat die mens se optrede in bepaalde omstandighede bepaal. Hulle praat van gekontroleerde en outomatiese prosesse. Volgens hulle het gekontroleerde prosesse (in die linkerhemisfeer van die brein) grense in hul vermoëns, vereis hulle konsentrasie en kan hulle buigbaar wees na gelang van omstandighede. Die outomatiese prosesse (in die regterhemisfeer van die brein), daarenteen, het geen grense aan vermoëns nie, verg geen konsentrasie nie en is baie moeilik om te verander as hulle eers gevorm is.

Sadler-Smith (2010:11), asook Freeman en Freeman (2011:40), maak die volgende onderskeid tussen die regter- en linkerhemisfeer: Die mens het volgens hulle nie net een brein nie, maar in werklikheid twee, as gevolg van die twee hemisfere van die

brein wat verskillende funksies verteenwoordig. Hulle noem die een die analitiese denke (linkerhemisfeer) en die ander een die intuïtiewe denke (regterhemisfeer). Die intuïtiewe denke het ‘n sterk en soms arasionele wil van sy eie. Die analitiese denke, daarenteen, is die reëlmaker en -volger. Soms werk die analitiese en intuïtiewe denke in balans en harmonie saam, maar ander kere is hulle in teenstelling tot mekaar en veg hulle vir aandag en beheer oor gedagtes, gevoelens en aksies (vgl. Eysenck & Keane, 2010:628). Murphy (2008:18) wys ook daarop dat die bewustelike hemisfeer van die brein die deel is wat redeneer, terwyl die onderbewuste net opneem wat die bewuste aan hom deurgee en glad nie daaroor redeneer nie. Terwyl die bewuste redeneer, organiseer die onderbewuste slegs die inligting om later weer in ‘n oomblik opgeroep te kan word. Volgens Smith (2011:91) kan die onderbewuste (intuïtiewe denke, persepsie of skema) oorsaak en gevolg van gebeurtenisse gelyktydig aanvaar, ongeag plek of afstand. Die persoon ervaar dus op 'n gegewe oomblik nie net die voor die hand liggende gebeure nie, maar trek alle emosies en verbindinge van die verlede daarby in. Hierdie proses vind in die diep limbiese stelsel plaas waar die emosionele atmosfeer van die brein bepaal word (Amen, 2010:40). In kognitiewe herstrukturering moet daar gelet word op relevante traumatiese gebeure uit die verlede ten einde te kan bepaal hoe dit die persoon se ervaring van sy huweliksmaat se selfmoord beïnvloed.